Terug na Eden. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Terug na Eden
Ena Murray
Jasmyn
1
“Daar’s hy, ou grootman.” Die vrou in die wit verpleegstersuniform krap die reeds deurmekaar kuif nog ’n bietjie meer deurmekaar en tel dan die klein seuntjie van die tafel af. “Nou kan jy nog ’n doel of twee gaan aanteken voordat die klok lui.”
“Dankie, tannie suster,” en hy storm deur toe sodat die man wat verskyn het, vinnig moet systap om nie uit die aarde geloop te word nie. Hy kyk die kleintjie ’n oomblik glimlaggend agterna, draai dan weer na die vrou in wit geklee wat besig is om op te ruim en weg te pak noudat die dag se werk afgehandel is. Hopelik altans, want by ’n kinderhuis weet jy nooit wanneer jy weer naald en gare en ontsmettingsmiddel en verbande moet uithaal nie, veral nie met ’n klomp vasberade voetbalspelers van klein Petie se kaliber nie.
Hoe onregverdig lyk die lewe soms, dink sy somber. Hier is ’n klein seuntjie, welgeskape, blakend gesond, besonder intelligent, maar hy is nêrens welkom nie. Hóé onwelkom, het die littekens aan sy klein lyfie bewys dié dag toe hy eindelik ’n veilige hawe in die kinderhuis gevind het. En vanmiddag was sy by ’n ander seuntjie. Vanmiddag het sy afgekyk op die erfgenaam van ’n spogplaas terwyl sy geweet het hy sal nooit lewe om dit eendag in besit te neem nie. ’n Seuntjie wat in die vier kort jaartjies van sy bestaan, behalwe deur die genade van Bo, ook bloot gedra en aan die lewe gehou is deur die liefde en sorg van al die mense van Paradys. Hier in die kinderhuis is Petie maar net een van baie seuntjies uit die groot en onverstaanbare hartseer wêreld waar kinders verwaarloos en mishandel word. En op Paradys is die ongeneeslik siek klein Helgard die middelpunt om wie so baie se lewens die afgelope jare draai – en hy weet dit nie eens nie.
Die man het ongemerk nader gekom en sy skrik merkbaar toe sy hom skielik langs haar gewaar.
“O, Helmut!”
“Ek is jammer. Ek wou jou nie laat skrik nie.”
Sy skud haar kop, probeer glimlag. “Dis nie jou skuld nie. Ek was … ’n bietjie ingedagte.” Dan dwing sy haarself om opgewek te klink. “So ja, nou is elke ding op sy plek tot die volgende voetbalheld aangedraf kom met ’n nerfaf skeen of ’n sny, as die klok hulle nie betyds red nie!”
“En baiekeer is daar sommer ’n onsigbare skeet net om ’n bietjie aandag van hulle tannie suster te kry. Ek weet.”
Sy glimlag half skuldig, klink amper verskonend. “Ek piep hulle nie, regtig nie, Helmut, maar … ag, wat is verkeerd met ’n bietjie liefde en aandag?”
Sy kan die sagtheid in sy oë ontwyk deur anderpad te kyk, maar haar ore kan die teer klank in sy stem nie ignoreer nie. “Daar kan nooit iets mee verkeerd wees nie, en jy weet ek bedoel dit nie so nie. Dis net …”
“Ja?”
“Ek het al begin dink ek moet ook soms middae saam met Petie-hulle kom voetbal speel. Dalk kry ek ook ’n nerfaf skeen of ’n verstuite vinger wat tannie suster, indien nie met verbande nie, dan miskien met ’n soentjie kan gesond maak?”
Sy draai vinnig weg van hom, en al glimlag sy, is daar iets afwerends in haar stem: “Nou is jy verspot.”
“Verspot desperaat, ja. Ek gaan tog een middag die voetbal probeer …”
Sy stap met besliste tred deur toe. “Jy is al gans te oud vir voetbal speel, dominee Weich. Jy sal ’n hospitaalgeval wees as jy so iets durf waag.”
As sy gehoop het dit sal hom op sy plek sit, het sy dit mis.
“Jy is reg. Ek is al gans te oud vir voetbal speel. En ook te oud om nog te lank te wag. Wat moet ek doen?”
“Dit … hang af waarvoor jy wag,” trap sy oop oë in die slaggat.
Sy antwoord kom vinnig: “Ek wag vir ’n vrou wie se hart só oorloop van liefde dat ek nie kan glo daar is nie ook ’n bietjie vir my te spaar nie. Is daar glad nie, Isabé?”
“Ek … Helmut, ek het jou gesê ons moet stadig gaan. Ek is … onseker … nog nie gereed vir ’n vaste verhouding nie. Ek het jou gesê jy moet elders ’n moeder vir jou pastorie gaan soek. Ek … is nie die regte vrou daarvoor nie.”
“En ek is weer so seker dat jy só perfek in my pastorie sal inpas dat ek nie eens die moeite gaan doen om verder te soek nie.”
Sy kyk hom met ongelukkige oë aan. “Jy maak dit baie moeilik, Helmut. Jy laat my voel dat ek onder ’n verpligting staan …”
“Wat nie waar is nie, en jy weet dit. Nee, Isabé, daar is hoegenaamd geen verpligting nie, behalwe net teenoor jou eie hart.”
Sy laat haar ooglede vinnig sak. My eie hart … As jy maar weet wat alles in hierdie hart gelê het en nog lê. As sy net die antwoord op hierdie vraag kon kry. Maar hoe? Hoe weet ’n mens met sekerheid dat ’n bepaalde gevoel in jou finaal gesterf het? En hoe kon dit gesterf het as herinnering soms so onverwags en wreed op die onmoontlikste tye skielik weer in jou herlewe, herinnering aan dinge wat jy liefs wil vergeet, dinge wat jy weet jy móét vergeet as daar vorentoe ooit geluk vir jou moet wag.
Maar hoe keer ’n mens ’n herinnering? wonder sy byna wanhopig. Vier jaar … vier jaar lank probeer sy al so hard om wat vir haar gister se mooiste en dierbaarste was, onder die sand van tyd toe te krap. Want tyd, sê hulle, heel alle wonde. Tyd laat oor alles gras groei. Maar voordat daar nog ’n teken van ’n sprietjie gras oor haar gister te sien is, kom die winde van herinnering en waai die sandjies wat sy met sulke biddende hande daaroor gestrooi het weer weg – lê alles weer kaal en helder voor haar oop asof dit maar net pas gebeur het.
’n Hand onder haar ken dwing haar kop omhoog en toe sy na hom opkyk, besef sy sy sal versigtiger moet wees. Hierdie man se oë kyk diep …
“Wat is dit? Wat lê daar binne-in jou waarteen jy so baklei? Wil jy my nie maar daarmee vertrou nie? Asseblief?”
“Dis …” Sy soek desperaat na ’n antwoord, een wat hom van die waarheid sal weglei. Want hoe kan sy hom ooit vertel?
“Dis maar net … Ek was vanmiddag vir ’n heen-en-weertjie Paradys toe. Daar is nou finaal besluit op klein Helgard se operasie en Hantie het gevra of ek haar nie sal vergesel nie. Sy sien nie kans om alleen te gaan nie.”
Erns vervang die vertedering op sy gesig. “Dan gaan die leweroorplanting nou gedoen word? Hier te lande?”
“Ja. Deur dieselfde span wat vroeër reeds ’n leweroorplanting gedoen het. Die kind het net dertig dae daarna geleef, maar daar kom glo ’n dokter van oorsee wat hierdie keer sal opereer. Hy het blykbaar in Amerika en Engeland reeds deeglike kennis oor orgaanoorplantings opgedoen.” Sy skud haar kop, haar eie gedagtes nou ten volle by klein Helgard en die groot beproewing wat in die volgende weke op hom en die mense van Paradys wag.
“O, Helmut, my hart wou breek toe ek vanmiddag op die klein, weerlose liggaampie afkyk en besef wat daar vir hom voorlê. Maar dis al wat sy lewe kan red.” Haar oë kyk pleitend op in syne. “Ek kon nie vir Hantie nee sê nie. Sal jy as voorsitter van die kinderhuisraad asseblief vir my ’n goeie woordjie doen dat ek kan gaan? Ek is seker suster Meyer sal nie omgee om vir ’n tydjie hier waar te neem nie.”
“Natuurlik. Natuurlik, Isabé. Ek sal sorg dat jy die toestemming kry. Wanneer wil hulle opereer?”
“Noudat daar finaal besluit is, so gou moontlik. Jy weet self hulle wou dit nie vroeër waag nie, omdat Helgardjie so swak was. Maar met die genade van Bo en Hantie se onbeskryflike geduld en toewyding is hy nou só dat hulle tog die operasie wil probeer. Moontlik moet ons al volgende week vertrek.”
Hy knik, trek die deur agter hulle op slot en begin saam met haar aanstap na haar woonstelletjie langs die kinderhuiskliniek. “Ek sal dadelik met die ander lede van die raad in aanraking kom en die nodige reëlings tref. Moet jou nie bekommer nie.”
“Dankie. Dís nie my bekommernis nie.” Sy sug, stap haar klein woonstelletjie binne en draai dan weer na hom. “Nog nie een kindjie op wie ’n leweroorplanting gedoen is, het lank gelewe nie. Nie een het nog grootgeword nie.”
Hy knik. “Dit is so, Isabé, maar jy vergeet dat God nie alle