Ondergang. Terri BlackstockЧитать онлайн книгу.
ge target="_blank" rel="nofollow" href="#fb3_img_img_7103ce70-bf0e-5e16-b434-ad462b7d72ec.jpeg" alt="cover.jpg"/>
Titelblad
Ondergang
Die Ingryping-reeks
TERRI BLACKSTOCK
New York Times-topverkoperskrywer
LUX VERBI
Opdrag
Hierdie boek word
in liefde opgedra
aan die Nasarener.
Hoofstuk 1
Hoofstuk 1
Drieuur die oggend is die woonbuurt doodstil. Insekte vlieg om en om in die geel gloed van die straatligte en die halwe maan werp ’n grys lig oor die gesogte huise langs die straat. Dit is die soort huise waarvan sy ma altyd gedroom het, die soort wat altyd buite haar bereik was.
Die lug is dik van gierigheid en ambisie. Die Wreker, soos hy homself noem na aanleiding van The Avengers-strokiesprenthelde, loop met sy vrag in ’n rugsak voor daardie huise verby en wonder of hy nie dalk moet teruggaan om ’n paar van die BMW’s op die opritte op te blaas nie. Sou dit nie opwindend wees om van iewers in die straat dop te hou hoe daardie sakemanne met hulle aktetasse uit die huise kom en in hulle motors klim nie? As die bomme almal gelyktydig kon ontplof met vuurbolle wat asof gechoreografeer oor elke huis swoesj …
Maar dis ’n fantasie vir ’n ander dag. Vandag gaan net een motor so opgeblaas word.
Die Wreker stap om die hoek na ’n straat met kleiner huise aan weerskante. Hoewel hulle nie so duur en oordadig soos dié langs die boulevard is nie, is hulle steeds buite sy ma se bereik. Al is dit haar lot om in ’n haglike rotnes te bly, beplak sy die muwwe mure van haar badkamer met prente uit Southern Living. Hierdie huise is nie so deftig nie, maar hulle is groot en nuut. Hy is seker daar groei nie muf teen daardie soldermure nie. Daar is nie krake in die woonkamers se vloere nie, daar is nie verf wat afdop nie, jy hoor nie rotte wat deur die mure probeer grawe nie. Die mense wat daar woon, is waarskynlik nie die eienaars van ondernemings nie. Hulle is die sotte wat daar werk, maar is nogtans neerbuigend en meerderwaardig.
Met elke asemhaling vorm ’n wasemwolkie voor die Wreker se gesig toe hy na die Covingtons se huis stap. ’n Lig brand in net een vertrek aan die sykant van die huis. Hy het die twintigjarige Emily ’n rukkie gelede ongesiens na haar huis gevolg. Nou lê sy waarskynlik warm in die bed onder ’n verekombers wat ’n fortuin gekos het, selftevrede in haar nugterheid. Niksvermoedend.
Soos gewoonlik het sy nie haar motor by haar ma s’n in die motorhuis getrek nie. Hare staan op die oprit.
Die Wreker sit sy goed langs die motor neer.
Net hier, onder die bakwerk bo die wiel … dis die beste plek. Hy haal die fles half vol petrol en ’n rol kleefband uit sy rugsak en skeur genoeg af om die bottel onder die motor vas te plak. Hy doen dit sonder om die elektriese draad te bedek wat uitkom by die gaatjie wat hy in die deksel gemaak het. Sy handskoene bemoeilik die werk, maar hy volhard. Toe die bottel in posisie is, kyk hy of dit nie lek nie. Dit lyk of die bietjie petrol veilig is. Die bottel is skuins genoeg sodat dit nie sal uitloop nie.
Nou moet hy net die regte plek vir die ander punt van die verbinding kry. Hy trek die koord onder die voorkant van die motor uit en maak die enjinkap versigtig oop. Dit maak ’n effense klikgeluid. Hy verstar en kyk oral om hom. Dié tyd van die nag is alles stil. Hy lig met sy flits op die plek waar hy die draad moet koppel.
Hy byt die klein flitsie tussen sy tande vas toe hy die plek in die bedrading kry wat die vonk vir sy bom sal voorsien.
Die Wreker grinnik toe hy die enjinkap so sag moontlik toedruk tot dit klik. Hy maak eers seker dat die draad wat van onder die motor na die enjin gaan, nie duidelik sigbaar is nie. As iemand daaraan sou dink om spesiaal te kyk, sal dit sigbaar wees. Hy glo egter nie Emily sal dit sien as sy aangestap kom nie.
As alles volgens plan verloop, sal die bom ontplof sodra Emily die motor aanskakel. Sy sal waarskynlik kan uitkom, maar hopelik sal sy seerkry of brandwonde opdoen. Sy en haar gesin sal egter geterroriseer wees. Hy sal hulle haweloos maak deur hulle bang te maak vir hulle huis, en dit sal maar die begin wees.
Hy lag effens terwyl hy sy goed bymekaar maak. Toe sit hy sy handskoene in die rugsak en stap stadig met die straat langs na waar hy sy motor gelos het. Hy verlustig hom in die gevoel van mag wat sy optrede hom gegee het. Hy sal nooit weer magteloos wees nie.
Net jammer niemand kon sien wat hy vannag gedoen het nie. ’n Waarderende toeskouer sou dit soveel beter gemaak het. Maar dis amper net so lekker om slagoffers soos skaakstukke te manipuleer.
Dis koud, maar die gloed van oorwinning verwarm hom. Hy dink aan die dwelms in sy paneelkissie, sy beloning omdat hy sy plan uitgevoer het. Hy sal wag totdat hy in die privaatheid van sy kelderkamer is en wanneer hy high is, sal hy teruggaan en die res van sy plan deurvoer. ’n Waarlik geniale plan.
Kopligte kom om ’n draai en verlig hom soos ’n verhoogkunstenaar. Hy trek sy kap oor sy kop en kyk af na die sypaadjie toe die motor stadig verbyry. Toe dit weer donker is, draf hy terug na sy motor.
Daar is nog so baie om te doen. Hy moet nog vir Devon gaan regsien, die rewolwer teen haar kop druk, kyk hoe sy bloei. Hy beplan dit al weke lank en het net gewag vir die regte mengsel van moed en astrantheid. Vannag is hy reg daarvoor. Een doelbewuste optrede het hom bevry. Nou kan hy alles regstel. Hy sal voortgaan om wraak te neem op almal wat met hom gesukkel het. Soveel newe-effekte. Soveel gevolge.
Hy is die groot Wreker.
Hoofstuk 2
Hoofstuk 2
Emily Covington kry dit reg om saggies in die huis te kom en met die gang af na haar kamer te gaan sonder dat haar ma wakker word. Dis ’n prestasie, want haar ma slaap baie lig as Emily nie tuis is nie. Sy was nie van plan om vanaand so laat uit te bly sonder om te bel nie, maar die een ding het na die ander gelei en uiteindelik was dit twee-uur voor sy by die huis kon insluip soos ’n skoolmeisie wat te laat uitgebly het.
Nou moet sy nog vir ’n toets leer voor sy kan gaan slaap. Hoekom het sy dit tot op die nippertjie uitgestel?
“Emily? Is jy terug?”
Toe sy omkyk, staan haar ma met deurmekaar hare in die kamerdeur. “Ek is jammer, ek wou jou nie wakker maak nie.”
“Het jy nou eers ingekom?’
“’n Rukkie gelede. Ek is jammer ek het nie gebel nie. Ek was by die kooruitvoering by die universiteit en daarna het ’n paar van ons gaan fliek. Toe het ons nog ’n ruk in Ree se koshuiskamer sit en gesels.”
“Emily, dis drieuur en jy moet môre klas toe gaan.”
“Ek weet, maar dis nie ’n probleem nie.”
“Moet jy nie toets skryf nie?”
“Ja, maar dis oukei. Gaan slaap maar weer.”
Haar ma bly staan ’n rukkie. “Nou goed. Kom gee my ’n soen.”
Emily grinnik. Dis haar ma se manier om aan haar asem en hare te ruik of sy gerook of gedrink het. Emily gaan soen haar ma op die wang en gee haar ’n druk. “Ruik gerus,” sê sy. “Jy sal niks anders as springmielies en koffie ruik nie.”
Haar ma staan weg en kyk in haar oë asof sy wil seker maak die pupille is normaal. “Nou goed, maar jy gaan my vroeg graf toe stuur met hierdie laat nagte.”
“Ma, as ek in ’n koshuis was, sou jy nie eens geweet het wanneer ek inkom nie.”
“Maar nou is jy nie in ’n koshuis nie. Jy bly hier en ek bekommer my oor jou. Gaan slaap nou gou, oukei?”
“Oukei.” Emily gaan klim weer in haar bed tussen die uitgespreide boeke en wens sy het nie haar ma juis vannag laat wakker lê nie. Môre het haar ma ’n belangrike voorlegging by die werk en sy wil hê haar ma moet goed vaar. Haar ma was verheug oor hierdie betrekking in Atlanta ná al hulle swaarkry in Jefferson City. Emily hoop haar optrede vanaand het nie alles beduiwel nie.
Sy