In Verwonde jare spat Daniël Pohl se wêreld aan skerwe met die verskyning van ’n skokkende nuusberig: ’n middeljarige man in ’n silwergrys Mercedes het op straat ’n onwelvoeglike voorstel aan ’n vrou gedoen. Toe sy weier, het hy haar baba in sy stootwaentjie doodgery en weggejaag. Daniël het presies só ’n motor, en hy’s dieselfde middag opgemerk in die omgewing waar die voorval plaasgevind het . . . In Môre lê ver word die verwende rykmansdogter Tania Erasmus se gemaksugtige bestaan op sy kop gekeer toe ’n vreemdeling onverwags by haar verlowingspartytjie opdaag. Teen haar wil en sin word sy ’n baie belangrike lewensles geleer: dat ryk nie gelyk is aan beter nie. En dié les leer sy by Rocco Roux, haar pa se nuwe plaasbestuurder, wat sy verag om sy sosiale stand, maar onweerstaanbaar aantreklik vind as man . . . En in Die meisie van Klaradynstraat het prokureur Owen Kemp Elsa Brits van haar agterbuurtbestaan verlos, maar nie van probleme en pyn nie. Te midde van al die welvarendheid besef Elsa dat ongelukkigheid nie beperk is tot die agterstrate nie. Selfs in die mees vooraanstaande huise is daar geheime onderstrominge en hartseer. So het Isobel, Owen Kemp se dogter, alles wat haar hart begeer, en tog word sy deur erge mismoed geteister . . .