Spoor. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
Human & Rousseau
Ter nagedagtenis aan Madeleine van Biljon (1928 – 2010)
Boek 1: Milla
(Komplot)
Julie tot September 2009
… sommige dae laat geen spore nie.
Hulle gaan verby asof hulle nooit bestaan het nie, dadelik vergete in die waas van my roetine. Ander se spore is dalk vir ’n week of wat sigbaar, tot die geheuebank se winde dit toewaai met die vaal sand van nuwe ervarings.
– Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan, 27 September 2009
The U.S. Department of the Treasury today moved to designate two South African individuals, Farhad Ahmed Dockrat and Junaid Ismail Dockrat, and a related entity for financing and facilitating Al-Qaeda, pursuant to Executive Order 13224. This action freezes any assets the designees have under U.S. jurisdiction and prohibits transactions between U.S. persons and the designees.
– Persverklaring, VSA Departement van Finansies, 26 Januarie 2007 (verbatim)
1
(31 Julie 2009. Vrydag.)
Ismail Mohammed hardloop af teen die steil helling van Heiligerlaan. Die pante van sy wit Ali Galabiyya-rok met die byderwetse oop mandarynse kraag skop hoog met elke tree. Sy arms swaai wild, uit doodsangs en vir balans. Die gehekelde kufi val van sy kop af, op die keistene by die kruising, sy oë stip op die relatiewe veiligheid van die stad daar onder.
Agter hom, by die wit eenverdiepinggebou net langs die Schotschekloof-moskee in die Bo-Kaap, bars die deur ’n tweede keer oop. Ses mans, ook in tradisionele Islamitiese gewaad, storm die straat in, kyk almal onmiddellik en instinktief bultaf. Een het ’n pistool in die hand. Hy rig dit haastig op die figuur van Ismail Mohammed, reeds sestig meter weg, skiet twee wilde skote voor die agterste, ouer man sy arm na bo slaan en bulder: “Nee! Gaan vang hom!”
Die drie jonges sit Ismail agterna. Die gryskoppe bly staan, hul oë bekommerd op die agterstand.
“Jy moes dat hy geskiet het, Shaykh,” sê die een.
“Nee, Shahied. Hy’t gestaan en luister.”
“Juis. En toe hardloop hy. Dit sê genoeg.”
“Dit sê nie vir wie hy werk nie.”
“Hý? Ismail? Jy dink tog seker nie …”
“ ’n Mens weet nooit.”
“Nee. Hy’s te … lomp. Dalk net vir die locals. NIA.”
“Ek hoop jy’s reg.” Die Shaykh kyk na die agtervolgers wat oor Chiappinistraat se kruising voortsnel, oorweeg die implikasies. ’n Sirene wat skielik opklink, net hier onder, uit Buitengracht.
“Kom,” sê hy kalm. “Alles het verander.”
Hy loop voor, haastig, na die Volvo.
Nog ’n sirene begin loei, onder uit die buik van die stad uit.
* * *
Sy weet wat die geluid van die voetstappe beteken, vyfuur op ’n Vrydagmiddag, so doelgerig en haastig. Sy voel die verlamming van die voorkennis, die gewig, sy beur haar skanse met groot moeite daarteen op.
Barend kom in, ’n warrelwind wat ruik na sjampoe en te veel deodorant. Sy kyk nie vir hom nie, weet hy sal vars uitgedos wees vir die aand, die hare ’n nuwe, onsekere eksperiment. Hy gaan sit by die ontbyttoonbank. “So, hoe gaan dit met Ma? Wat maak Ma alles?” So joviaal.
“Kos,” sê Milla gelate.
“O. Ek gaan nie hier eet nie.”
Dit het sy geweet. Christo sal seker ook nie.
“Ma gaan mos nie vanaand Ma se kar gebruik nie.” Met die stemtoon wat hy vervolmaak het, die verstommende mengsel van voor-lopige gekwetsheid en verskuilde beskuldiging.
“Waarheen wil julle gaan?”
“Stad toe. Jacques is by. Hy het sy lisensie.”
“Waar in die stad?”
“Ons sal nog sien.”
“Ek moet weet, Barend.” So sagmoedig moontlik.
“Ja, Ma, ek sal vir Ma laat weet.” Met die eerste ergernis wat deurslaan.
“Hoe laat gaan julle terug wees?”
“Ma, ek is agttien. Pa was in die army toe hy só oud was.”
“Die army het reëls gehad.”
Hy sug geïrriteerd. “O.K., O.K. So … Ons sal twaalfuur ry.”
“Dit is wat jy verlede week ook gesê het. Toe kom jy eers ná twee in. Jy’s in matriek, die eindeksamen is …”
“Jissis, Ma, hoekom haal Ma altyd ou koeie uit? Gun Ma my niks nie?”
“Ek gun jou alles. Maar binne sekere grense.”
Hy gee ’n onderdrukte hoonlag, die een wat aandui dat sy ’n stommerik is, dat hy dit verduur. Sy dwing haarself om nie daarop te reageer nie.
“Ek sê mos. Ons sal twaalfuur ry.”
“Julle moet asseblief nie drink nie.”
“Vir wat worry Ma daaroor?”
Sy wil sê, ek worry daaroor want ek het die halwe bottel brandewyn in jou kas gekry, so lomp weggesteek agter jou onderbroeke, saam met die pakkie Marlboro’s. “Dis my werk om te worry. Jy is my kind.”
Stilte, asof hy dit aanvaar. Verligting kom oor haar. Dit is al wat hy wou hê. Hulle het tot hier gekom sonder ’n skermutseling. Dan hoor sy die tik-tik van sy springende been teen die toonbank, sy sien hoe hy die suikerpot se deksel afhaal en tussen sy vingers rol. Sy weet hy is nog nie klaar nie. Hy wil geld ook hê.
“Ma, ek kan nie dat Jacques-hulle vir my betaal nie.”
Hy is so slim met sy woordkeuses, met die volgorde van gunste gevra, met sy aanslag en strategie van beskuldiging en verwyt. Hy spin sy web met die vaardigheid van ’n volwassene, dink sy. Hy stel sy strikke, en sy trap so maklik daarin weens haar ewige drang om konflik te vermy. Die nederlaag slaan deur in haar stem. “Is jou sakgeld op?”
“Wil jy hê ek moet ’n parasiet wees?”
Die “jy” en die aggressie is die snellers, sy sien die bekende slagveld voor. Gee hom net die geld, gee vir hom die beursie en sê hy moet vat. Alles. Net wat hy wil hê.
Sy haal diep asem. “Ek wil hê jy moet uitkom met jou sakgeld. Agt-honderd rand per maand is …”
“Weet jy wat kry Jacques?”
“Dit maak nie saak nie, Barend. As jy meer wil hê, moet jy …”
“Wil jy hê ek moet al my vriende verloor? Jy gun my fokken niks.” Die vloekwoord laat haar ruk, saam met die gekletter van die suikerpot se deksel wat hy teen die kas smyt.
“Barend,” sê sy verstom. Hy het al ontplof, hande in die lug gegooi, uitgestorm, hy het al ge-“jissis” en ge-“Here”, hy het al binnensmonds en lafhartig net buite hoorafstand die onnoembare gemompel. Maar nie nou nie. Nou beur sy bolyf oor die toonbank, nou is sy gesig vol veragting vir haar. “Jy maak my siek,” sê hy.
Sy krimp ineen, ervaar die aanval fisiek, sodat sy vashouplek moet kry, haar hand na die kas uitreik. Sy wil nie huil nie, maar die trane kom daar voor die stoof, met ’n houtlepel in die hand en die reuk van warm olyfolie in haar neus. Sy sê weer haar seun se naam, paaiend en sag.
Met venyn, met minagting, met die doel om ernstig te beseer, met sy pa se stem en infleksie en magsmisbruik sak Barend terug op die stoel en hy sê: “Jissis, jy is pateties. Geen wonder jou man fok rond nie.”
* * *
Die