Spoor. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
die koerant só vou dat die advertensie duidelik sigbaar is, en die koppie rooibostee optel.
5
(11 Augustus 2009. Dinsdag.)
Om 12:55 stoot die bergie met sy linkerhand ’n winkeltrollie in Coronationstraat af, verby die ry motors voor die moskee. Hy slinger. In sy regterhand is ’n bottel, toegedraai in ’n bruinpapiersak.
Die straat is verlate, die eienaars van die motors is binne die moskee, vir die Dhuhr-biduur.
Langs ’n wit 1998 Hyundai Elantra struikel die bergie, en val. Hy hou die bottel omhoog, desperaat om dit nie te breek nie. Hy lê vir ’n oomblik, verdwaas. Hy probeer opstaan, maar kry dit nie reg nie. Hy skuif sy lyf, sodat sy kop onder die motor is, net langs die agterwiel, asof hy koelte soek. Dan trek hy die bottel ook onder die motor in, om ’n sluk te neem, maar sy hande is nie meer sigbaar nie. Hy lê ’n rukkie só, vroetelend, voor hy stadig weer uitskuif.
Hy sit die bottel eenkant op die teer, plaas sy hand op die soom van die wielvelling en probeer opstaan. Hy sukkel, sodat hy moet vervat aan die motor en met groot inspanning orent kom.
Hy vee denkbeeldige stof van sy gehawende klere af, tel die bottel op, steeds onvas op sy voete, reik na die trollie, en begin weer wankelend aanstap.
* * *
In die elektronika-kamer van die Presidensiële Intelligensie-agent-skap sit Rajhev Rajkumar by ’n rekenaaroperateur, terwyl Quinn, Stafhoof: Operasies, langs hulle staan. Al drie kyk stip na die rekenaarskerm wat ’n straatkaart van Kaapstad vertoon.
Quinn kyk vinnig na sy polshorlosie, dan weer terug na die skerm.
’n Skielike elektroniese geluid verbreek die stilte. ’n Klein rooi driehoek verskyn op die skerm.
“Zoom in,” sê Rajkumar.
Die operateur klik op die vergrootglas-ikoon, dan op die driehoekie, twee, drie keer, tot die naam van die straat duidelik daar staan: Coronation.
“I think we’re in play,” sê Rajkumar.
“I’ll wait for Terry’s report,” sê Quinn. “But so far, so good.”
* * *
Quinn rapporteer direk aan advokaat Tau Masilo, Adjunkdirekteur: Operasioneel en Strategie. In die laatmiddag, in sy baas se kantoor, sê Quinn vir Masilo die GPS-sender is suksesvol vasgeheg aan Baboo Rayan se wit Hyundai Elantra. En die monitering dui daarop dat die motor al vir langer as ’n uur voor ’n nuwe adres staan. Chamberlainstraat 15, in Bo-Woodstock.
“Let’s do a drive-by,” sê Masilo.
“The pharmacy motorcycle?”
“That should do.”
“I’m on it.”
* * *
Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan
Inskrywingsdatum: 11 Augustus 2009
Die Swing. One-Two-Three, One-Two-Three. Backstep.
Die Foxtrot. Slow. Slow. Quick, quick.
Die Wals. Een. Twee. Drie.
Die Tango. Slow … Slow … Slow … Quick, quick. Die morsekode van dans. “Skoolfigure”, noem Arthur Murray dit, babatreë wat ek moet inoefen. Hoe ver verwyder is dit nie van die vrou wat ek verlede Donderdag sien dans het nie. Maar tog, daar is iets gerusstellend daarin: As jy dáár wil kom, moet jy hiér begin. Onder. Een tree op ’n slag. Vreemd hoe dit die angs verlig, die onsekerheid.
* * *
(14 Augustus 2009. Vrydag.)
In haar kantoor, om die ronde tafel, vertel Janina Mentz vir Rajkumar en Masilo van die president se beweerde visie van ’n enkelvoudige intelligensiediens. Masilo reageer nie. Rajkumar kyk bekommerd na ’n stukkie vel langs sy duimnael.
“Ons loopbane is op die spel,” sê sy.
Rajkumar begin kou aan die vel.
“Is ons die enigste spelers in die Supreme Committee-verwikkelinge?” vra sy.
“Natuurlik,” sê Tau Masilo.
“Dan sal ons dit moet ontgin.”
“So you’re saying …”
“Yes, Raj, I’m saying this is our ace in the hole. Our last resort. Unless you know of something else we have exclusivity on …”
“No …”
“Then we had better make it work for us, or we will be running the back-office of the new super duper intelligence conglomerate the President is planning, wondering why we did not work a little harder and a little faster when we had the chance.”
“But what if we’re right? What if it isn’t local action, just Al-Qaeda in a last-gasp effort to send a few AK’s to Afghanistan?”
“Then we will have to find a way to make that little fact work in our favour, Raj.”
* * *
Milla Strachan sit en lees wanneer haar selfoon lui, halfvier in die middag.
UNKNOWN CALLER.
“Hallo?”
“Is that Milla Strachan?”
“Yes.”
“I am Mrs Nkosi. From the agency. I have good news. We would like you to come for a job interview.”
“Oh …” Want sy is verlig en verbaas en dankbaar.
“You are still interested?”
“Yes.”
“Could you come next week?”
“Yes. Yes, I can.”
“Wednesday?”
“Wednesday would be good.” Sy sê amper “great” en moet haarself dwing om nie té dankbaar en gretig te klink nie.
“Wonderful. Twelve o’clock?”
* * *
Vrees, vrees, vrees. Waarom is sy so bang vir alles? Sy was nie só nie – voor Christo, voor alles was sy dapper en avontuurlustig. Dit is amper twintig jaar gelede. Waar is dáárdie Milla? Te bang om na Arthur Murray se sosiale aand te gaan. Waarom? Vir wat?
Eindelik is dit haar belofte aan haar instrukteur wat haar dwing. Sy maak te haastig klaar, ry te vinnig, loop daar in met ’n hart wat te hard klop. Tot haar verligting is almal reeds op die dansvloer, is daar meer vroue as mans, is daar jonger vroue as sy, kom haar induksie-instrukteur haar dadelik vra vir ’n dans.
6
(18 Augustus 2009. Dinsdag.)
Tau Masilo maak ’n lêer op sy skoot oop, haal ’n foto uit en plaas dit voor Mentz op die lessenaar. “Laat gistermiddag, met die apteekmotorfiets afgeneem by Chamberlainstraat 15 in Woodstock …”
Die foto wys hoe die Shaykh, Suleiman Dolly, voorsitter van die Supreme Committee, om die voorkant van ’n motor stap.
“Sterk moontlikheid dat dit hulle nuwe vergaderplek is,” sê hy.
Sy bestudeer die foto’s. “Hulle het goed gekies.”
“Hulle het. En dit sê iets. Kyk na daardie foto. Dolly ry nie meer sy Volvo nie, wat beteken hy is skielik baie versigtig. Die nuwe vergaderplek, nou met inwonende sekuriteit, want vanoggend sien ons Baboo het aan die een kant van die skakelhuis ingetrek. En die keuse van die huis self. Middelklasbuurt, die meeste inwoners is bedags by die werk. Dus min nuuskierige oë, en stil strate. Vreemde voertuie gaan vinnig raakgesien word. Dubbelverdieping, van daardie boonste venster kan jy omtrent die hele straat dophou.”
“Groot moeite,” sê Mentz.
“Baie