Ena Murray Omnibus 22. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
ringe, swaai in die lug en dan gaan sit Madame weer. Die blou oë is nou skerp en deurdringend.
“Wat laat jou dink jy kan sing?”
Salome is eers stom. Dan lig sy haar kop op. “Ek wéét ek kan sing.”
Weer trek die strepieswenkbroue omhoog. “O? Baie seker van jou saak, nè? Jy is nog bloedjonk – wat weet jy?” Salome staan maar stil. Dan vervolg die krakerige stem. “Nou toe. Sing.” Salome kyk haar verward aan en die ou vroutjie met die vosrooi haartjies beduie weer ongeduldig met haar hand. “Ek sê sing. Dis wat jy hier kom maak het, nie waar nie? Sing dan.”
Salome aarsel onseker, kyk vlugtig na die vleuelklavier hier langs haar, kyk dan terug na die ou vroutjie wat haar stip aankyk. Die krakerige stem verbreek weer die stilte. “Sonder begeleiding. Ek weet hoe klink ’n klavier. Ek wil hoor hoe klink jý. Sing, kind.”
Salome trek haar asem in en skielik is Rosalie by haar, hoor sy haar sê: Maak jou oë toe en verbeel jou jy is by die rivier en sing soos jy altyd sing.
Toe die lied eindig, maak sy stadig, bang haar oë oop. Madame sit met toe oë, die vet handjies op haar maag gevou en dit lyk asof sy slaap. Maar sy slaap nie.
“Ek het nie gesê jy moet ophou nie. Jy sing tot ék sê jy moet ophou. Sing!”
Die een lied volg die ander op terwyl Madame Campagni oënskynlik aan die slaap in haar outydse stoel sit. Eindelik lig ’n handjie omhoog en Salome laat haar stem wegsterf. Die blou ogies gaan oop en as Salome hierdie groot dame van weleer goed genoeg geken het, sou sy die opgewondenheid en tevredenheid daarin gelees het. Maar al wat sy hoor is: “Jy weet nog niks nie, kind. Jy kan nie sing nie – maar jy sal kan sing wanneer Madame Campagni en die lewe met jou klaar is.” Die ringe glinster weer. “Gaan huis toe en kom oor twee maande terug.”
Só begin Salome se sangloopbaan. ’n Loopbaan wat mettertyd baie groot hoogtes sou bereik.
Toe sy twee maande later weer voor Madame Campagni staan, ontmoet sy ’n ander vrou. Haar vreemde uiterlike is nie meer so skokkend nie en Salome het nou te doen met die leermeester, die perfeksionis. Madame is net met die beste tevrede. Sy dryf jou soos ’n slawedrywer tot jy in trane uitbars van frustrasie en uitputting. Dan vra die krakerige stem, wat eens die mooiste tone voortgebring het, kortaf: “Wil jy sing? Ordentlik sing?” As jy dan knik, kom die bevel: “Wel, dan vee jy daardie trane af en staan op jou voete en jy sing soos ék vir jou sê!”
Daar is geen genade nie. Die onervare Salome weet nog nie dat Madame tiranniek optree teenoor húlle van wie sy die meeste verwag nie, en Salome is dié een onder haar uitgesoekte leerlinge wat die swaarste kry.
Behalwe vir die geweldige eise wat Madame stel, is dit die eerste keer dat Salome so ver van die huis af weg is en daardie eerste maande van haar lewe in die stad is vir die jong plaaskind ’n geweldige aanpassing. Sy leer wat eensaamheid beteken, want waar is ’n mens meer verstote as te midde van ’n onverskillige skare?
Baie dikwels kyk sy saans neer op die woelende menigte in die straat onder haar, die sterre bleek en dof, oorglans deur die helder ligte van die groot stad, en dan verlang sy so intens na die stilte van die Karoo en sy helder sterre dat sy wens dat sy iemand het om mee te praat, enigiemand. Sy besef in hierdie eensame ure ’n groot waarheid: hoe eenvoudig jou tuiste en jou mense ook al mag wees, dis joune en niks op hierdie aarde kan hul plek inneem nie. Arm en eenvoudig, maar daardie witgekalkte huisie met sy skoongeveegde werf is háár huis, haar tuiste en sy wens hoevele male met traangevulde oë om terug te wees daar. Sy verlang selfs na haar ma, want hier in die stad, hier in die eensaamheid, kry Bessie Truter se groot gestalte en haar growwe hande skielik ’n nuwe betekenis. Dit spel nou sekuriteit en veiligheid. Ja, noudat Salome weg is van die huis, besef sy eers dat sy nooit onveilig of bang gevoel het te midde van hul armoede nie.
Maar sy verlang veral na Rosalie, haar geestesmaat met wie sy alles kon deel. Haar briewe huis toe is lank, meestal opgeruimd, maar soms tog swartgallig, veral wanneer Madame die dag weer ekstra foutvinderig was. En gereeld kom Rosalie se briewe terug: bemoedigend en opbouend. Steeds bly sy, hoewel honderde kilometer ver, die dryfkrag.
Elke maand, klokslag, is Rosalie se tjek in die pos en dit is hierdie gereelde tjekkies wat Salome elke maand weer opnuut laat vasbyt. Sy kan, sy durf hierdie offervaardige vrou nooit teleurstel nie. Haar gevoel vir Rosalie groei tot ’n soort heilige dankbaarheid, iets wat byna aan aanbidding grens. Haar sang en haar skoonsuster is onafskeidbaar verbonde, ineengestrengel tot ’n geheel wat vir Salome die belangrikste faktor in haar lewe word.
So gaan drie jaar verby waarin Madame haar leerling stelselmatig vir roem voorberei, haar alles leer wat sý weet. Maar een ding ontbreek.
Op ’n dag kyk Madame haar leerling goedkeurend aan en glimlag. “Ek dink ons kan hier ophou. Kom sit hier langs my, kind.”
Salome gehoorsaam en kyk onseker op. “Is daar iets verkeerd, Madame?”
Die ou oë, swaar van grimering, kyk die jong meisie teer aan. Sy het lief geword vir hierdie dogter wat die afgelope jare ’n vuurproef deurstaan het sonder dat sy daarvan bewus was. Madame het haar een van die kosbaarste lesse van die lewe, maar veral van die vermaaklikheidswêreld geleer: Jy moet hare op jou tande hê. Jy moet kan vasbyt en deurbyt. Deursettingsvermoë is jou behoud. Maar Salome was ’n voortreflike leerling. Sy het haar leermeester nie teleurgestel nie. Nou het hulle die punt bereik waar Maria Campagni haar kwalik nog iets kan leer. Maar een ding ontbreek …
“Ja, kind. Daar skort iets. Wanneer raak jy dan verlief?”
Salome kyk haar verslae aan. In die verlede, hoevele kere, het Madame haar herhaaldelik verseker dat daar nie tyd is vir kêrels en verlief raak nie. Sy het ook gesórg dat daar nie tyd is nie. En nou vra sy so iets. “Madame …?”
Die ou dame lag en klap die een hand wat sy in hare geneem het, goedig. Hierdie kind is ’n leerling so na haar hart. Sy het haar hart en siel in haar opleiding gewerp. Daarbenewens het sy die regte persoonlikheid, bou en lengte om nie net ’n goeie sangeres te wees nie, maar om ook indruk op die verhoog te maak. Die ou dame glimlag skeef teenoor haarself: Sý het altyd ’n bietjie verspot op die verhoog gelyk. Sy het geen indrukwekkende persoonlikheid nie en haar té kort gestalte was maar altyd ’n probleem. Wanneer sy haar mond oopgemaak het, het die mense egter vergeet wat hulle sien en net geluister. Maar hierdie Salome-kind, die mense sal na haar kýk ook.
“Kind, jy sing pragtig en jy weet ek sê dit nie vir enigiemand nie. Maar jy sing … sonder siel. Jy sal nooit werklik sing soos wat ek weet jy kán sing voordat jy nie ook bemin het nie, my dogter – en voordat jy nie gely het omdat jy bemin nie.” Sy kyk na die jong meisie voor haar, sien dat die vrou in Salome nog sluimerend lê. “Ek het jou nou alles geleer wat ek kan. Al wat jy eintlik nou nog nodig het, is ’n man om jou in sy arms te neem en die betekenis van wat ek jou geleer het, te laat verstaan.”
Op daardie oomblik het Salome nie begryp wat die wyse ou dame bedoel nie. Maar ’n paar weke later sou sy presies weet waarvan sy gepraat het.
Dit is die eerste Kersfees wat sy alleen moet deurbring. Die vorige twee jaar het sy kon huis toe gaan, maar vanjaar is dit nie moontlik nie.
Die eensaamheid en verlange na haar eie mense dryf haar op Oukersaand na buite om met die ander eensames op die sypaadjie te meng. Eindelik gaan sit sy by ’n tafeltjie van ’n opelugkafee om na die bewegende mensdom te kyk, weer eens ’n intense verlatenheid in haar.
Toe staan hy meteens voor haar – ’n lang, maer man met ’n bleek gesig, en ewe bleek kuif. Dit is net die helderblou oë wat kleur aan sy gesig verleen.
“Mag ek hier sit, asseblief? Al die ander tafeltjies is beset.”
Sy knik instemmend en hy neem plaas. Saam sit hulle na die vrolike menigte voor hulle en kyk.
“Is jy alleen?” vra hy dan met ’n skuins blik van onder sy kuif.
“Ja, en jy?” sê sy spontaan.
Hy gee ’n skaam glimlag wat haar dadelik aan haar oorlede broer Karel laat dink. “Soos jy sien. Sal jy saam met my ’n koppie