Ena Murray Omnibus 30. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
die baie ure wat sy by my bed gesit het wanneer ek siek was …”
Bokant haar kop sluit hy sy oë asof hy in pyn verkeer, maar hy moedig haar met sagte stem aan: “Wat nog?”
“En die lang maande wat sy Pappa so getrou versorg het … dat sy hom so mooi opgepas het tot op die end … En ek wou dankie sê dat ek nooit nodig gehad het om my vir haar te skaam nie … en dat ek jammer is dat ek nie ’n beter dogter vir haar was nie … Jammer dat ek, toe haar hare al grys was, haar hart deurboor het … O, Here! Here! Bring haar net vyf minuutjies terug sodat ek haar net kan sê ek is jammer en dankie, dankie vir alles!”
5
Christian Basson is dankbaar toe ’n ou vroutjie se gesig skielik in sy gesigsveld verskyn.
“Nickeytjie, wat is aan die gang?”
“Tant Hessie …” Hy laat haar begaan sodat sy haar teen die ou vrou kan werp. “Sy’s dood, tant Hessie! Mamma is … dood!”
Tant Hessie blik vinnig opwaarts na die lang, vreemde man. Sy kry ’n kopknik terug en haar arms gly om Nickey se rukkende skouers, haar knopperige ou hande streel die jong meisie se rug.
“Ag, my kind … Ag, waar dan heen, tot U alleen … Ag, Nickey-kind …”
Eindelik kry tant Hessie ’n verwese Nickey in die bed. Dankbaar en uitgeput kondig sy aan teenoor die vreemde man wat in Marie se stoel in die voorhuisie sit: “Sy slaap nou. Toetentaal uitgeput. Maar ek sal maar vannag hier bly. Ons kan die arme kind nie alleen laat nie.”
“Natuurlik nie. Dit sal wonderlik wees as tante hier kan bly. Ek sal ook maar bly.”
“Hier is net twee slaapkamers, meneer.”
“Dis alles reg, tante. Ek sal nie slaap nie. Ek sal sommer hier sit. U is seker Nickey is veilig? Ek bedoel, dat die ontsteltenis nie kwaad gedoen het nie?”
“Dis alles reg. As sy net vannag kan rus, sal môre nie meer so donker wees nie. Arme kind. Nou is sy heel wees … sy en haar ou babatjie.”
“Nee, hulle is nie. Ek gaan vir hulle sorg.”
Tant Hessie beskou hom, knik tevrede. Hy hoef nie te sê wie hy is nie. Daar is ’n ooreenkoms. Dan is dit goed so. Die onrus in die ou hart bedaar. Dis ook net reg dat hy na hulle sal kyk. Bloed bind.
“Dan gaan ek my maar ook ter ruste begewe. Daar is koffie in die fles op die kombuistafel. Nag, meneer. Roep maar as dit nodig is.”
Hy vergewis hom eers dat Nickey regtig slaap. Lank staan hy en afkyk op die jong gesiggie, so weerloos in die slaap. Dan gaan sit hy maar weer in die stoel, luister hoe die outydse horlosie teen die muur die minute aftik.
Vyf minuutjies … sy vra net vyf minuutjies om te sê wat nog altyd ongesê gebly het … wat al lankal gesê moes gewees het …
Hoekom wag ons altyd tot dit te laat is? peins hy in die naguur. Hoekom stel ons altyd uit om dit wat móét gedoen word, dit wat móét gesê word, te doen en te sê … Dan, op ’n dag, wil ons dit so graag doen, wil ons dit so graag sê … en dis net altyd te laat: vyf minuutjies te laat. Ons wag op die regte geleentheid … en op ’n dag ontdek ons die geleentheid is vir altyd verby.
Soos die kind wat wil sê sy is jammer oor die trane wat oor moederwange gerol het. Jammer oor die swaard wat deur jeugdige voortvarendheid deur die moederhart gedruk is. Spyt omdat onnadenkendheid aan haar kant soveel kere die moederhart verwond het.
En die baie dankies wat wag vir die regte geleentheid, dié een wat nooit kom nie: dankie vir die groot dinge, die groot opofferings wat ter wille van jou gemaak is, maar ook ontelbare dankies vir die ontelbare klein dingetjies wat jou lewe gemaklik, gerus, sinvol gemaak het. Die begrip in moederoë wanneer jy nie oor iets wil praat nie. Die koppie tee wat stil hier langs jou elmboog inskuif wanneer jy die knop in jou keel nie meer afgesluk kry nie. Daardie ekstra kombers wat in die nag die koue van jou afgeweer het. Daardie ekstra skeppie wat uit Ma se bord verdwyn en in joune beland. Daardie naatjie wat gister nog los was en wat vanoggend skielik vas is. Daardie rok wat jy vanaand wil aantrek en wat netjies gestryk teen die kas op jou wag. Daardie veilige gevoel hier binne wanneer die weerlig slaan en sy is skielik daar om jou vas te hou. Daardie klein dingetjies …
Terence … As dit vir Nickey van enige troos sal wees, kan hy haar vertel dat dit nie net kinders is wat aan hul ouers so baie onuitgespreekte dankies verskuldig bly nie. Ook die ouer vergeet soms om vir die kind dankie te sê. Dankie, Terence, dat jy so mooi geleer het op skool. Dankie, Terence, dat my motor blink en skoon was toe ek vanmiddag vergadering toe moes ry. Dankie, Terence, dat jy daardie lekkende kraan reggemaak het. Dankie, Terence, dat jy by my kom bly het toe ek en jou moeder geskei is. Dankie, my seun, dat jy nie veroordeel het nie …
En daar is baie jammers ook. Jammer, Terence, dat ek nie genoeg tyd aan jou afstaan nie. Jammer, Terence, dat ek jou nie ’n gelukkige huis kon gee waarin jy kon opgroei nie. Jammer, my seun, dat ek dikwels ongeduldig met jou was toe ek geduld moes gehad het; dikwels van jou verwag het om dinge te doen waarin ek op jou ouderdom sou gefaal het. Jammer, Terence, dat ek jou net die waarde van geld geleer het, en nie die waarde van dié dinge wat geld nie kan koop nie. Pa is jammer, my seun, dat ek nie genoeg moeite gedoen het om jou vertroue só te win dat jy my met alles kon vertrou het nie, soos met die nooientjie van Bokmakieriestraat. Jammer, Terence, dat ek vir jou so ’n valse beeld voorgehou het dat jy dit nodig geag het om haar vir my weg te steek. Jammer …
Hy sug diep, en skielik wens hy dat dit moontlik was om ’n brief hemel toe te pos. Hoe wonderlik sou dit wees om al die onuitgespreekte dankies en jammers agterna in ’n brief daarheen te kon stuur. Net: sou die hemelpoort groot en wyd genoeg wees om al die ontelbare briewe te laat deurgaan?
Dis Christian Basson wat alles vir Marie Buys se teraardebestelling, soos tant Hessie verkies om dit te noem, reël en betaal. Dis ook sy arm wat Nickey ondersteun langs die oop graf terwyl Bokmakieriestraat se mense en die predikant toekyk. En die oë van Bokmakieriestraat se mense sien baie dinge raak. Mens skinder nie langs ’n oop graf nie, maar vanaand sal dit aan weerskante van hierdie straat gons. Want vandag daar by die graf is dit wat hulle vermoed het, bevestig. Nickey Buys is swanger.
En daardie motor waarmee sy aangery is graf toe, dié het hulle al tevore daar sien staan.
Ja, vandag daar by die graf het hulle verstaan hoekom Marie Buys se hart so skielik ingegee het, en hul harte het uitgegaan na haar in haar kis. Want een ding weet hulle: Marie Buys was ’n goeie, Godvresende vrou. Soos Hessie tereg kon sê, toe almal eindelik wegdraai: “Die aarde het ’n engel verloor.” En hoe waar toe die dominee uitwys: “Maar die hemel het een bygekry, tant Hessie.”
Terwyl Nickey in die kamer is om haar begrafnisklere uit te trek – nou sal daar éérs na die sente gekyk moet word – kyk tant Hessie die deftige vreemdeling bekommerd aan en sê reguit:
“Ek is bekommerd oor Nickey, meneer. Sy is ’n jong meisie en sy kan nie alleen hier bly nie. Ou vrouens soos ek is nie vandag se dae ons lewe seker nie. Wat nog te sê so ’n mooie kind soos sy. Die wêreld is boos.”
Christian Basson knik fronsend. Ja, hy worstel al sedert Marie Buys se dood met hierdie gedagtes. Noudat daar besluit is dat Nickey haar baba nie gaan laat aanneem nie maar hom gaan behou, is die probleem nog groter. As sy nie die kind wou behou nie, kon sy na ’n tehuis gegaan het. Dan sou sy ten minste veilige onderdak gehad het, en versorging. Dis buite die kwessie dat sy alleen in die huisie in Bokmakieriestraat sal aanbly. En hy het Marie Buys belowe hy sal na haar en haar kind omsien soos na sy kosbaarste besitting.
“Ek gaan haar hier wegneem, tante. Sy kom by my bly.”
Op daardie oomblik verskyn Nickey in die slaapkamerdeur en hy lees die uitdrukking in haar oë reg. “Jy kán nie hier aanbly nie, Nickey. Tant Hessie is reg, en ek sal nie toelaat dat jy aan gevaar blootgestel word nie.”
Haar stem is styf, en sy klink skielik so volwasse en so baie na haar ma dat ook tant Hessie vinnig na haar kyk. “Dis nie nodig dat u bekommerd oor my moet wees nie. Ek het gedink, as tant