Ena Murray Omnibus 30. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Sy het eers uit die kamer gekom toe sy haar ma se voetstappe hoor weggaan het. Sy het geweet haar ma is op pad na tant Hessie toe. Tant Hessie se kombuisie het vir haar ma ’n toevlugsoord geword, ’n plek waar sy krag en moed vir háár ses maande maal vier-en-twintig ure gaan put.
Nou staan en kyk Nickey na haar, soek na iets om te doen – en daar is niks. Soos sy hierdie huisie al die jare ken, is dit ook vanoggend: kraaknet. Snaaks hoe ’n mens ten spyte van die grootste omwenteling in jou lewe met jou daaglikse pligte kan voortgaan. Dis amper asof die vloere nog meer blink as voorheen, die kopergoedjies nog meer as voorheen flonker. Besig bly. So sal sy altyd haar ma onthou. Daar was al baie krisisse in hierdie huisie. Destyds met Pa se siekte en toe sy dood. Meestal krisisse wat met geldnood gepaardgegaan het. En hoe groter die probleem, hoe blinker die huisie. Dis of haar ma oplossings vir die probleme uit die vloere uitgevryf het, wonderbaarlike planne uit die outydse koperkonfoor opgetower het terwyl sy dit tot glimmende warmte poets.
Nickey gaan sit, vou haar hande. Al wat sy kan doen, is om te dink … te dink wat sy met hierdie lewetjie onder haar gevoude hande gaan doen wanneer hy die dag gebore word. Haar ma sê sy moet hom weggee.
Hulle het gisteraand weer daaroor gepraat. Haar ma het eerste die saak aangeroer.
“Nickey, het jy toe al gedink oor … oor waarvan ons nou die dag gepraat het? Van die kind. Wat jy daarmee gaan maak?”
Sy was nog nie gereed om die saak te bespreek nie. Tog …
“Ma, ek weet nie of ek dit gaan regkry nie.”
“Wat regkry nie?”
“Om hom weg te gee nie, Ma.”
“Nickey … jy kan dit nie hou nie.”
En toe, vir die eerste keer, het haar selfbeheersing geknak. “Dis nie ’n dít nie, Ma! Dis ’n kind! ’n Ménsie! My kind! Hy het armpies en beentjies en handjies en voetjies en … toontjies … en vingertjies en … ogies …” Met stromende oë het sy amper vyandig na haar ma gekyk. “Gee Ma dan nie om nie? Gee Ma dan niks vir hom om nie?”
Die moeder het vinnig weggedraai en haar verwonder oor hoeveel die menslike gees kan verduur.
“Jy kan dit nie hou nie,” het sy herhaal, amper soos iemand onder hipnose. Toe haar kind wegstorm na haar kamer, het sy omgedraai en na haar eie kamer gegaan, die deur toegemaak. Wat Nickey nie weet nie, hier waar sy nou na die blink vloere staar, is dat haar ma gisteraand, vir die eerste keer in haar lewe sedert sy leer bid het, nié gebid het nie. Marie Buys het haar uitgetrek, in die bed geklim, die lig afgeskakel en haar oë toegemaak. ’n Mens se hart kan nooit só voos raak dat dit nie nog ’n keer – en nóg ’n keer – kan seerkry nie. Maar ’n hart kan só voos raak van seerkry dat daar geen gebed meer kan uitkom nie. ’n Tong kan só lam raak van verdriet dat dit nie meer woorde wil vorm nie. En ’n verstand só suf van skok dat dit nie meer kan dink nie. Daarom het Marie Buys gaan lê sonder om haar knieë te buig. Sy kón nie bid nie.
Nickey het in haar bed gelê en bid. Asseblief, Here! Asseblief! Help my! Wat moet ek doen? Wat moet ek dóén!
En vandag sit sy blindweg voor haar uit en staar. Dis eers toe tant Hessie haar hand vasgryp dat sy van haar teenwoordigheid bewus word. Toe sy opkyk in die verrimpelde ou gesig, besef sy met ’n skok dat daar êrens groot fout is.
In hierdie dae beoefen Christian Basson onwetend die terapie waarna Marie Buys gryp wanneer probleme haar vasdruk. Hy is besig. Hy hou homself so besig dat sy verstand saans sing wanneer hy bed toe gaan en sy liggaam pyn van moegheid. En die snaar binnekant span al stywer.
“Geluk, ou maat. Dit was uitstekend. Die gehoor het behoorlik aan jou lippe gehang. Niemand het eens gewaag of blykbaar daaraan gedink om selfs net ’n tussenwerpsel te maak nie. Jou kop is deur.”
Hy hou voor sy vriend se huis stil. As ’n mens maar alles kon reg praat.
“Kom ’n oomblik binne vir ’n drankie. Jy verdien dit.”
“Nee, dankie.”
“Dan ’n koffie en likeurtjie. Dis nog nie só laat nie.”
“Nee, dankie, Ken. Ek is hondmoeg.”
“Ja, dit kan ek sien.” Kenneth Frazer druk die motordeur oop, kyk sy vriend ondersoekend aan in die flou lig van die dakliggie. “Jou probleem toe opgelos?”
Hy skud sy kop ontkennend. “Nee.”
Toe hy wegry, besef hy dat ’n mens nie vir ewig wegkruipertjie kan speel nie. Dis wat hy die laaste tyd gedoen het. Wegkruipertjie gespeel deur homself so te dryf dat hy saans hondmoeg is. Deur sy aandag aan alles onder die son te gee behalwe aan dié ding wat elke uur op die voorgrond van sy gedagtes is, dié saak wat onmiddellik aandag vereis. Deur weg te kruip, sal hy nie sy probleem oplos of laat verdwyn nie. Inteendeel. Namate die dae verbygaan, groei dit aan, word dit groter, word dit meer onoorkomelik.
Môre … net môre sal hy ’n besluit móét neem. Môre …
Maar môre het ’n manier om sy eie gang te gaan, ongeag die rooster wat jy klaar daarvoor opgestel het.
Die oproep kom net voordat hy kantoor toe wil vertrek. Toe hy die telefoon ná ’n ruk neersit, bly hy roerloos sit ten spyte van die horlosie wat aan die muur oorkant hom die sekondes onverbiddelik aftik. Christian Basson ervaar op hierdie oomblik dieselfde gevoel wat Marie Buys enkele weke gelede ervaar het, daardie dag toe haar dogter haar vertel het dat sy swanger is. Dis ’n gevoel van onwerklikheid wat jou vasgryp. Want dit kan tog nie wees nie. Sy het verkeerd gehoor. Hy het verkeerd gehoor. Nickey is nog maar net agtien … en sy verwag? Terence is nog maar net agtien … en hy word vermis?
Kan nie wees nie … Onwerklik. Onmoontlik.
Toe die telefoon ’n ruk later skril langs hom skel, gaan daar ’n merkbare skok deur hom. Hy is te bang om dit op te tel.
“Christian? Ek het kantoor toe gebel en jou sekretaresse sê toe jy is nie vandag op kantoor nie. Is daar fout?”
“Nee … Ja. Ek … nie met my nie …”
“Nie met jou nie? Maar jy klink nie reg nie. Luister, ek is binne tien minute by jou.”
Toe Kenneth binnestap, kan hy nie meer sy kommer verberg nie. “Luister, my vriend, uit nou daarmee. Jy kan nie só aangaan nie. Jy is aan die een kant besig om soos ’n besetene te werk, en aan die ander kant is jy mal van kommer. As jou vriend eis ek nou om te weet wat gaande is.”
“Terence word vermis.”
Kenneth staar hom aan, sluk eers. “Hel, ek is jammer om dit te hoor, Christian. Van wanneer af?”
“Hulle het my vanoggend gebel.”
Kenneth kyk op sy hande af. Dié nuus het Christian eers vanoggend bereik. Dan is dit nie dit wat hom die laaste tyd so rondgejaag het nie. Maar hy laat dit daar. Die man se enigste kind word vermis. Hy het self ’n knaap wat oor twee jaar grens toe sal moet gaan.
“Christian, as daar enigiets is wat ons kan doen, waarmee ons kan help …”
Christian sug. “Daar is niks. Ken, niks wat ek of jy kan doen nie. Ons kan net wag … vir verdere nuus.”
“Ja. Ja, natuurlik. Ou Chris-man, ai, dis jammer. Laat my dadelik weet as jy weer iets gehoor het, maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit is nie.”
“Natuurlik, ja. Ek verwag nie te gou weer nuus nie. Maar ek sal bel.”
“Het jy Annemarie al laat weet?”
“Nee. Om die waarheid te sê, ek het nog nie daaraan gedink nie.”
“Ek sal. Ek sal sommer by hulle huis aanry. Tot siens dan.”
Toe sy sekretaresse ’n rukkie later verskyn, kyk hy suf op. Sy stap vinnig nader, lê haar hand op sy skouer.
“O, Christian, ek was so jammer om van jou slegte tyding te verneem. Kenneth het kantoor toe gebel. Is daar iets wat ek vir jou kan doen?”