Hoe gemaak met my dikmond kind?. Suzette TruterЧитать онлайн книгу.
– ek moet klop voor ek mag inkom! Sy deel nie meer haar “geheime” met my nie. Moet ek bekommerd wees dat sy nie meer met my praat nie? Sy is elf.
ANTWOORD
Daardie eerste tekens dat ’n kind na haar eie private ruimte smag, is nie vir alle ouers ewe maklik om te hanteer nie. Dis menslik om selfs ’n bietjie verwerp te voel.
Maar kenners sê dis normaal – ’n kind se behoefte aan privaatheid is deel van ’n natuurlike proses om ’n onafhanklike, selfstandige individu te word. In kort, jou dogter is waarskynlik maar net besig om ’n tiener te word!
Erika verduidelik dat die pituïtêre klier en die eierstokke met puberteit skielik baie meer hormone as tevore produseer.(Puberteit strek gemiddeld van 7-jarige ouderdom tot en met 13 jaar, met die gemiddelde ouderdom 10,5.)
Die hormone verander nie net jou kind se liggaam nie, maar ook haar buie. Deel van hierdie proses is dat sy haar unieke identiteit vind. Daarom is dit baie algemeen dat kinders skielik meer privaatheid wil hê en meer begin dink oor allerhande dinge. Hulle is geneig tot buierigheid en onvoorspelbare gedrag, en dit verwar hulle ook, sodat hulle hulle soms onttrek. Hul portuurgroep se mening word elke dag al belangriker as pa en ma se “outydse manier” om na die wêreld te kyk. En natuurlik beteken dit dat hulle dus al meer hulle geheime eerder met ’n vriendin as met ’n ouer sal bespreek.
Dus: geen rede tot kommer nie. Jy moet wel bekommerd wees daaroor as haar gedrag baie skielik verander en as dit ’n groot, betekenisvolle afwyking van haar gewone optrede is. Jy behoort ook verder na probleme te soek as sy sleg slaap, huilerig is, haar eetpatroon aansienlik verander, as sy haar onttrek van dinge of lang tye depressief lyk.
Dis veral belangrik dat julle haar privaatheid respekteer, sê die kliniese sielkundige Elmarié du Plessis van Durbanville, Kaapstad. Klop byvoorbeeld voordat jy inkom, dit wys jy respekteer haar. Wees steeds beskikbaar wanneer sy wil praat – stel belang in haar lewe, maar respekteer haar as sy nie wil praat nie.
Erika stel ook voor dat jy doelbewus ’n moontlike geselskans skep, soos om vir haar elke middag met huiswerktyd tee en ’n koekie te vat. Deel met haar spesiale privaat inligting soos hoe jou eie puberteit gevoel het en wat die dinge was waaroor jy bekommerd was. Dit skep ’n aanknopingspunt. Julle kan dalk selfs saam daaroor lag en dit verseker dat julle aanhou praat oor die dinge wat jy as ouer graag wil hê jou kind heel eerste met jou moet bespreek.
DOENLYSIE
Doen ook gereelde lekker gesinsuitstappies en betrek haar daarby.
Moet nooit jou kind laat voel sy is onder polisiebewaking nie. Moenie in haar kamer gaan rondsnuffel as jy bekommerd is nie.
As jy voel jy moet inmeng, maak seker jy doen dit om die regte redes, en nie vir jou eie behoeftes nie. As jy werklik bekommerd is en jy het die feite, gaan na jou kind en gesels met haar daaroor.
Moet nooit ophou bou aan jul verhouding nie. Daar sal weer tye kom dat sy baie dinge met jou deel. Wees sensitief vir haar hunkering na privaatheid.
Die meeste kinders moet al hier om en by elf, twaalf ’n private ruimte hê – verkieslik ’n eie slaapplek of ten minste ’n eie private hoekie.
Lees ook vraag 87 oor depressie.
VRAAG 15
My kind sê ek luister nooit na haar nie, maar ek stem nie saam nie.
ANTWOORD
Tel jou woorde … Navorsing wys hoewel baie ma’s dikwels sê hulle luister, hoor hulle nie altyd wat hul kinders sê nie. Dis nie ’n aanklag nie, dis maar net ’n feit van ’n besige lewe.
Die kruks hier is eerlikheid, sê die Britse ouerskapsafrigter Lorraine Thomas. Sê vir jou kind as jy nie nou na haar kan luister nie. Dis beter as om te maak of jy luister, al doen jy dit ook met die beste bedoelings, soos dat jy regtig wil lyk asof jy belangstel. (Sy gáán dit anders interpreteer.)
Maak eerder ’n ander plan: Neem byvoorbeeld tien minute van jou dag om aktief na haar te luister. Maak ’n punt daarvan om minder te praat en meer te luister wat sy sê. Fokus net op haar – sonder enige onderbrekings. Gee haar baie positiewe en spesifieke terugvoering. (Moenie iets anders doen terwyl julle gesels nie, kort voor lank dwaal jou gedagtes dalk.)
Die Gautengse kommunikasiekenner Scott Dunlop sê jy moet ook let op nieverbale tekens. As sy eintlik deur haar lyftaal vir jou die teenoorgestelde sein as wat haar woorde is, vra haar daaroor deur byvoorbeeld te sê: “Ek kan sien jy lyk baie bekommerd, kan ek jou met iets help?” Wys altyd jy is ingestel op wat sy sê.
’n Ma se wenk
“Doen moeite om haar maats se name te onthou en insidente waarvan sy jou vertel het. Jou geloofwaardigheid as goeie gesprekvoerder duik na zero as sy jou eers moet herinner aan gebeure of maats se name.”
VRAAG 16
My kinders is baie lief vir hul grootouers, maar veral my ma begin oud raak, en ek is so bang sy kom iets oor. My twee kinders is nog glad nie voorbereid op die dood nie. Hoe benader ek die gesprek hieroor? Ek voel ons moet betyds hieroor gesels.
ANTWOORD
Die dood van ’n geliefde bly een van die moeilikste dinge om te hanteer – vir oud en jonk. Daarom is ’n mens dikwels maar geneig om weg te skram van gesprekke oor die dood, of jy voel ongemaklik om met jou kinders daaroor te praat of hul vrae eerlik te beantwoord. Maar om die onderwerp te vermy kan jou kinders net verwar en onseker maak.
Erika sê dis eerstens belangrik dat jy self gaan nadink oor wat jy oor doodgaan en die hiernamaals dink en glo, want ’n gesprek hieroor gaan waarskynlik baie en moeilike vrae by jou kind ontlok.
Praat doodgewoon en rustig oor die begrip dood, sommer so in ’n alledaagse gesprek om die etenstafel. Julle kan begin by iets in die natuur wat hulle reeds ken, soos die siklus van ’n sywurm, mot en papie, of die groei en veranderinge van ’n blaar deur die vier seisoene heen. Dis ’n praktiese en maklik verstaanbare manier om dit te verduidelik. Beklemtoon ook die positiewe van sulke veranderinge en dat dit ’n normale en logiese verloop van die lewe is. Daarna kan jy dit deurtrek na mense in die algemeen en later ook na mense vir wie julle lief is. Julle sal heel moontlik ’n paar keer hieroor gesels totdat die volle omvang daarvan vir jou kinders duideliker is.
Soms betrap kinders jou onverhoeds. Judith Ancer, ’n sielkundige van Johannesburg, sê jonger kinders kan dikwels uit die bloute na vore kom met vrae oor die dood, soos: “Wat gebeur as Mamma doodgaan?”
Judith sê agter hierdie vrae skuil nie soseer ’n sielkundige belangstelling of morbiede angstigheid oor die dood nie. Eintlik wil hulle maar net weet iemand sal daar wees om hulle te versorg as jy sterf. (Verseker hulle dan ook dat iemand wat na aan hulle is, daar sál wees.)
Erika beaam dit en sê vir jonger kinders is die abstrakte aard van die begrip dood dikwels nog baie moeilik om te verstaan. Hulle sal tipies verwag dat die persoon in ’n stadium moet terugkeer, en dis vir hulle moeilik om die finaliteit en onomkeerbaarheid van dood te begryp. Hulle kan ook wonder oor die behoeftes van die oorledene. Probeer prakties, omvattend en konkreet bly as jy vir hulle verduidelik. Lees ook vraag 17.
VRAAG 17
Watter slaggate moet ek vermy as ek met my kind oor die dood gesels?
ANTWOORD
Vermy eerder eufemistiese verduidelikings wat jou kinders die verkeerde idees gee. Dit is byvoorbeeld nie sinvol om te sê dat iemand “net slaap” nie, of dat God die persoon “geroep” het nie. Dit kan hulle onnodig bang maak, soos dat hulle nie wil gaan slaap nie, of dat hulle vrees God kan hulle ook wegroep uit hulle omgewing.
Hou dit op jou kind se ouderdomsvlak – moenie onnodig lang en ingewikkelde detail vir klein kindertjies probeer verduidelik nie. Ná die aanvanklike bekendstellingsgesprek oor die dood kan jy dalk net hulle vrae beantwoord en nie dadelik op al die ander inligting oor die dood ook fokus nie, sê Erika.
Moenie stoei met “moeilike antwoorde” nie. As dit vir jou makliker is, lees