Ena Murray Omnibus 33. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
ingaan nie.”
“Asseblief! Ek smeek jou! Bly …”
Sy hande gryp haar skouerknoppe vas. “Dis nie my wêreld hierdie nie. Ek is nie van hierdie gang nie. Gee my messe en my gun!”
Sy draai stil om en verdwyn by die deur uit om sy goed te gaan haal. Sy hou die wapens na hom uit.
Hy neem dit, sit dit terug waar hulle hoort. Dan sê hy teësinnig: “Dankie. Wat skuld ek?”
“Niks.”
Hy frons vererg, dog selfbewus, ongemaklik. “Ek wil betaal.” Sy hand gaan na sy broeksak. Die geld wat hy by hom gehad het, het netjies in ’n koevert bo-op sy klere gelê.
“Jy skuld ons niks, Vegter. Jy skuld net jouself iets: ’n kans …”
Hy pers sy seer lippe styf op mekaar. Hierdie gepreek … Dit ontsenu hom. En hy kry dit ook nie reg om haar af te jak sodat sy daarmee kan ophou nie. Sy bedoel dit goed. Maar dis nie vir hom nie. Sy mors haar asem.
“Dan gaan ek maar.” Sy staan woordeloos opsy sodat hy kan verbykom. Hy kom regoor haar tot stilstand, word deur die stil, sagte oë vol deernis daartoe gedwing. Dit lyk asof hy nog iets probeer sê, maar die woorde nie kan uitkry nie. Dan soen hy haar onverwags sag op die lippe, stap vinnig die gang af na die voordeur sonder om links of regs te kyk. Hy draai terug toe hy by die straat kom en kyk terug. ’n Sagte lig skyn na buite uit die dubbelverdiepinghuis; val in bane oor die grasperk en pragtige groot bome. Rus en vrede. Hy sal hierdie prentjie nooit vergeet nie. Dan draai hy om en verdwyn die nag in … en weet nie dat iets veel meer as dié prentjie saam met hom gaan nie – die gebed van ’n jong meisie: “O, God van genade, ek bid U … gaan saam met hom!”
Elske het nog nie bed toe gegaan toe die straatwerkers terugkeer nie. Die meeste van hulle is studente wat vrywillig hul tyd opoffer om die naglopers van Jesus en ’n nuwe lewe te vertel. Party maak dié groot taak egter hul lewensroeping. Ander, soos Elske, gee ’n jaar of twee van hul lewens om, sonder enige vergoeding, dié grootse werk vir hul Here te doen.
“Hy is weg. Hy wou nie bly nie.”
Sy sê dit stil en die leier kyk haar met deernis aan. Hy is nie verbaas nie.
Die trane blink op die wange. “As hy net wou bly! As hy my net ’n kans wou gee!”
Maar hy het nie. Pieter hou haar teen hom vas, sê met innige deernis: “God het sy eie manier van doen, Elske. Ons moet waak om nie aan Hom voor te skryf hoe Hy te werk moet gaan nie.” Dan, steeds met begrip maar sonder omhaal van woorde: “Wou jy gehad het hy moes bly sodat jy hom vir die koninkryk kan wen … of hom hier hou ter wille van jouself?” Sy kan hom net aanstaar en hy gaan voort: “Dis belangrik dat jy eerlik met jouself sal wees, meisie. Jy het darem dié troos, Elske: Hy is uit jou oog, maar nie uit Syne nie.”
“O, Pieter, ek is só bang hulle sal hom doodmaak!”
Hy skud sy kop. “Nie as dit nie Gods wil is nie. En dit kan jy vir hom doen: bid. Kom ons vra Hom saam om Vegter te bewaar en vir sy koninkryk te red.”
Hulle kniel. Die hoofde buig … en op daardie oomblik verander Vegter van rigting, koers ’n ander straat in – onbewus van die wagtende skaduwee in een van die nou stegies, wat later moed verloor en verdwyn. Hy sal later met Vegter afreken …
5
Die meisie lyk ontevrede toe sy die deur oopmaak en haar vroeë besoeker eien.
“Ek is moeg, Vegter. Ek wil gaan slaap. Wat is dit?”
Hy stap binne en sy kyk hom skerp aan. “Hel, maar jy lyk sleg. Wie’t jou onder hande gehad?”
Hy frons, sak ongenooid op ’n stoel neer. “Jy lyk self nie meer van die beste nie, ou sus. Wanneer laas het jy jouself goed in die spieël bekyk? Jou beroep staan dwarsoor jou gesig geskryf.”
Die koue oë vernou. “Los my beroep uit. Daar is niks mee verkeerd nie. Ek is ’n professional – nie ’n bendelid soos jy nie. Ek werk vir my geld; jy steel joune.”
Hy lag smalend. “Werk! Noem jy dit werk om in een nag by vyftien mans te slaap?”
“Vegter …”
“Jy sus jou gewete dat jy by ’n gesellinklub werk waar die vername here van die stad hul vuil behoeftes bevredig en jy besef nie jy is slegter as die slegste hawehoer of nagklubprostituut nie.”
“Vegter! Hoe durf jy …!”
“Die hoer én die prostituut het darem ’n keuse … jy nie. As jou beurt kom, moet jy gaan. Jy …
“Vegter, wat gaan aan met jou? Het jy skielik ’n heilige geword? Waar kom jy daaraan om my in my eie woonstel te beledig en …”
“Jou eie plek?” Sy blik dwaal deur die weelderige sitkamer. “Hoeveel mans het hiervoor betaal? Het jy jou dít al ooit afgevra, Zia? Jy was vyftien toe jy ’n prostituut geword het. Jy is nou vier-en-twintig. Dis nege jaar, Zia. Nege jaar maal driehonderd-vyf-en-sestig nagte maal ’n gemiddelde van vyftien mans per nag. By hoeveel kom jy uit? Dit bring my by sowat vyfduisend …”
“Trap! Trap hier uit! En jy sit jou voete …”
Maar hy kyk haar onversteurd aan. “Dan kan jy darem nog skrik?”
Die gesig lyk soos ’n masker. “Hoekom sal ek? Dis mý lewe en ek doen daarmee wat ek wil en dit het niks met …”
“Word jy nie moeg daarvan nie? Word jy nie soms bang nie?”
“Waarvoor?” Die vraag kom uitdagend en tog sien hy die sprankie van vertwyfeling in die oë: “Word jý? Die lewe wat jý lei, is net so smerig soos myne. Drank. Dwelms. Dieselfde hoere vir wie jy nou jou neus optrek. Steel. Moord.”
Hy is ’n oomblik stil, knik dan. “Ja, ek word bang, Zia.”
Sy frons. “Wat de duiwel is met jou aan die gang, Vegter? Is jy dalk in die moeilikheid … by jou bende? Het jy iewers drooggemaak?”
“Nee. Dis net … ek is moeg van hierdie soort lewe en … ek het net gewonder of jy nie dieselfde voel nie.”
Sy gaan sit, maak haar oë moeg toe. Is sy? Dis nie iets wat ’n vrou in hierdie soort bedryf ooit mag word nie. Jy mag nie moeg word nie. Jy is ’n masjien … wat aangeskakel word wanneer die knoppie gedruk word.
Haar ooglede knip en sy spring weer rusteloos op, trek haar kamerjas stywer vas, vang toevallig haar beeld in die lang spieël teen die muur en stap geskok nader.
Vegter is reg! Sy lyk nie meer so goed nie. Die styfgetrekte kamerjas verraai dat haar kurwes nie meer so vol is nie. Te veel hande het al oor hulle gegaan. Vegter praat van duisende. En die gesig … Hy is weer reg. Die lewe wat jy lei, se spore word tog op jou gesig afgeëts – veral dié van ’n hoer. En dit is wat sy is. Vegter is die derde keer reg. Hoe mooi jy dit ook al wil noem – daar bly net een woord daarvoor. En daardie woord word oor jou geskrywe …
Sy swaai na hom terug, sis in woede en ’n onverwagte vrees wat soos ’n seekat om en in haar vassuig: “Wat hét jy vanoggend hier kom soek? Wil jy geld hê?”
Een of twee keer in ses maande sal hy onverwags by haar woonstel opdaag – soos vanoggend. Gewoonlik net om ’n paar sent te bedel. Ná ’n stryery het sy maar ingegee en hom ’n paar rand in die hand gestop, dankbaar om hom te sien gaan en verlig omdat sy ’n paar maande lank van hom verlos sou wees.
“Nee. Ek wil nie geld hê nie.”
“Wat het jy dan hier kom soek?” Sy skreeu haar woede uit.
Hy kyk na die verwronge gesig, na die vrees wat nie meer in haar oë weggesteek kan word nie. Iemand met dieselfde angs as dié wat hy deesdae in hom ronddra. Iemand wat nes hy deur ’n onverklaarbare, onverstaanbare iets rondgejaag word.
Hy staan op. Eintlik wou hy sy suster vertel het van sy groot ontdekking. Midas Hammond is immers ook háár pa. Hy wou