Ena Murray Omnibus 33. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
hulle soek nie? Alles draai om jou dierbare Babel!” Hy vleg sy vingers inmekaar en leun met sy elmboë op die tafel, kyk die ander vas in die oë. “Het iemand jou al gesê dat jy die selfsugtigste mens op aarde is?”
Midas Hammond kyk terug. “Ja. Al my vorige vrouens. Veroordeel my as jy wil, Vegter – maar ’n man kan nie ’n stad van goud bou en dit dan saam met jou tot stof laat vergaan nie. Dis iets wat moet agterbly, verder uitgebou moet word. Ek kan dit nie uit die graf doen nie. My seun moet … of my dogter.”
’n Grynslag laat sy gesig vertrek, sodat die sny op sy wang ’n potsierlike halfmaan vorm wat sy gelaat na ’n grynsende masker laat lyk. “Ek verstaan, meneer Hammond. Ek verstaan. Jy gaan jou kinders met ’n stad van goud troos omdat jy nooit ’n pa vir hulle was nie. Dan gaan jy met ’n hart vol vrede in jou graf rus. Nie sleg nie. Glad nie ’n slegte vergoeding nie, moet ek sê. Maar …”
“Maar?”
“Daar is dinge in die lewe wat jy met niks kan vergoed nie – nie eens met ’n stad van goud nie. Het jy al daaraan gedink dat jou kinders miskien nie in staat sal wees om jou kosbare Babel vir jou op te pas nie? Jy het nou al ’n vermoede wie en wat hulle is. Sal jy jou stad aan ’n prostituut en ’n tronkvoël gee?”
Midas sit peinsend terug. “Daaroor sal ek net kan besluit wanneer ek hulle kry. Dit sal alles van húlle afhang.”
“Hoe so?”
“Hulle is mý kinders. Iets van my moet in hulle wees. As ek so ’n eienskap vind … neem ek hulle saam na Babel.”
“En as jy dit nie kry nie?”
“Dan sal ek weer moet dink.”
“En veronderstel jy kry daardie eienskap, en hulle weier om saam te gaan?”
Midas frons. “Waarom sal hulle weier? Nie enige kind kan ’n Babel erf nie.”
Vegter se oë spot koud. “Nie enige pa vergeet sy kind nie.” Hul oë voer ’n stille tweestryd. “Hulle ken nie eens hul eie van nie. Hulle weet nie eens wie hul pa is nie.”
“Hoe weet jy dit?”
“As hulle geweet het Midas Hammond is hul eie bloedpa, sou hulle lankal met jou kontak gemaak het. Hoekom sal jy jou liggaam aan elke vuilgoed met ’n paar vuil note in sy hand verkoop as jou pa ’n stad van goud besit? En hoekom sal jy met dwelms smous en die gevaar trotseer om agter tralies te gaan sit as jou eie bloedpa die koning van Babel is?”
“Dan is dit regtig só erg?”
“Erg?” ’n Bitter laggie ontsnap uit sy keel. “Jy weet nie wat erg is nie, Midas Hammond. Jy dink jy ken skurke en die soort lewe wat hulle lei. Jy is immers self een. Anders sou jy nie gekom het waar jy vandag is nie. Maar daar is ’n verskil tussen jou soort vuilspel en dié van jou seun en dogter. Jy het nie die vaagste benul wat jou twee kinders moes deurmaak terwyl jy ’n Babel gebou en miljoene bymekaargemaak het nie. En nou verwag jy om net met die klap van ’n vinger, ’n swaai van ’n goue towerstaffie, hulle in waardige erfgename te verander. Jy verwag baie, nie waar nie?”
Midas knik sy kop afgetrokke. “Ja, ek sien wat jy bedoel. Jy het iets beet. Ek het natuurlik nie besef … dinge is só erg toe ek na hulle begin soek het nie. Ek het maar gedink hulle is doodgewone mense êrens; Zia miskien ’n huisvrou of ’n onderwyseres, ’n verpleegster … en Sean dalk ’n werktuigkundige of ’n ambagsman … ek het nooit kon droom my dogter is ’n … straatvrou en my seun …”
’n Smalende laggie sonder enige simpatie klink op. “En noudat jy weet? Gaan jy hulle nou weer vergeet wanneer jy teruggaan na Babel?”
“Nee. Ek móét hulle eers kry. Ek gaan nie hier weg voordat ek hulle nie ten minste gesien het nie …”
“… en jou gewete gesus het dat hulle nie werd is om Midas Hammond se kinders te wees nie, jou Babel nie verdien nie?”
“Jy klink baie bitter. Hoekom?”
“Die pad wat jou kinders ken, meneer Hammond, stap ek nog my hele lewe lank. En as jy dink ek is verbitter – wag totdat jy Sean ontmoet het of voor jou dogter staan en sy moet uitvind dat sy haar liggaam verniet verkoop het, want haar pa is die rykste man in die land. As jy mý pa was, sou ek jou kon … vermoor.”
Midas laat sy oë skuldig sak. “Ek was nie altyd só ryk nie, Vegter.” Nou is dit hy wat ’n vreemde, harde laggie laat hoor. “Toe ek vanmiddag hier ingestap het, om my gekyk het … het ek ver teruggedink. My begin was ’n soortgelyke plek. ’n Derderangse hotelletjie. Ek het nie die soort lewe gelei wat jy ken nie, maar dit was wild genoeg, glo my. Toe is my pa dood en ek het met die hotel gesit. Ek het uitgespring en begin werk. As jy dink dit was maklik, maak jy ’n fout. En as jy dink alles het sommer van die begin af in my skoot geval, moet jy weer dink. ’n Midas Hammond word nie oornag gemaak nie. En as jy eers ’n geldmagnaat is, werk jy dag en nag. My werkdag is twintig uur lank. En die woord vakansie bestaan nie meer vir my nie. Waar ek is, staan my telefone langs my. Selfs al ontspan my liggaam, werk my brein. En ek kan nooit my rug draai of my waaksaamheid verslap nie, want daar is vele wat jou wil besteel. Jy dink ek het ’n wonderlike lewe gehad in vergelyking met dié van my kinders. Ek wonder … ek wonder …”
Vegter staan op. “Ek sal jou skakel by jou hotel sodra ek meer weet. Dit sal seker môre wees. Is daar iemand by wie ek ’n boodskap kan laat as jy uit is?”
“Nee. Ek sal hier wees. Jy kan my hier skakel.”
“Hier? In dié plek?”
Midas Hammond glimlag. “Ja. Ek het besluit om oor te trek hierheen. Dit gaan nogal iets anders wees, dink ek. Onthou, ek kén ’n derderangse hotel!”
Vegter kyk hom fronsend aan. “Maar wat van jou telefone en … dinge? Jy het pas gesê jy is gedurig aan die werk, moet …”
“Ja, ek weet.” Nou glimlag die magnaat breed. “Maar ek het skielik besluit een keer in my lewe gaan ek ook ’n vakansie neem. Ek wil van geen telefoon, kontrak of onderhandeling weet nie. Ek gaan ’n paar dae lank net Grant Hammond wees.”
“Grant Hammond.”
Midas lag saggies. “Ja. Dis my regte naam. Ook dit het ek al amper vergeet!” Dan raak hy ernstig. “Ek wil saam met jou kom, Vegter.”
“Jy is mal. Hulle is throat cutters. Hulle sal jou doodmaak.”
“Maar as jy by is? Jy het tog seker invloed? Sal jy my nie kan beskerm nie?”
“Nie goed genoeg nie. Ek kan niks waarborg nie. Ek is nie nou so gewild nie.”
“ ’n Bendegeveg?”
“ ’n Twis binne die bende. Ek verwag self enige oomblik ’n mes tussen my blaaie. Ek kan nie nog softies ook beskerm nie.”
“Hierdie een verras jou dalk. Twee paar oë is beter as een. Een paar kan vorentoe kyk, die ander agtertoe.”
“Vergeet dit, Hammond. Ek neem jou nie saam met my nie.”
“Ek wil bitter graag gaan. Asseblief.”
“Hoekom?” Vegter klink geïrriteerd en ongeduldig. “Dis nie ’n plek vir nuuskieriges nie.”
“Ek weet. Maar ek wil graag kennis maak met die wêreld waarin my kinders lewe.”
Die mondhoeke smaal weer. “Dis nie ’n mooi wêreld nie, Hammond. Dis nie ’n Babel nie.”
“Wat laat jou dink Babel is altyd mooi?”
Vegter trek sy wenkbroue op, dan sy skouers. “Ons kan môre verder daaroor besluit. Laat ek eers hul spoor vannag kry.”
Hy stap aan en Midas se stem dwing hom tot stilstand. “Jy het iets vergeet.” Hy draai terug, kyk vraend op en volg dan Midas se blik na die tafelblad waar die twee wit koeverte nog lê.
Vegter skud sy kop. “Ek het altyd geld nodig, maar ek sal nie weet wat om met daardie spul te maak nie.”