Ena Murray Omnibus 34. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Ena Murray
OMNIBUS 34
Appelbloeisels en jasmyn
Erf dan my drome
JASMYN
Appelbloeisels en jasmyn
1
Die eensame figuurtjie op die wye sandstrook se bewegings is stadig, een tree na die ander, sonder verandering van pas. Sy stap sommer net, die oë voor haar op die sand gerig, sonder om dit werklik raak te sien . . . ewe min as wat sy die ander rollende skuimsome van die inkomende gety opmerk.
Sy het gisteraand op die klein kusdorpie aangekom. Dit was donkermaan. Sy kon die see net ruik en hoor. Haar eerste nag by die see was baie donker . . . in meer as een opsig. Teen ligdag kon sy dit nie meer uithou in die vreemde kamer waarin sy so alleen tussen die vier mure die nagure lê en omtel het nie. Sy het na buite gevlug en begin stap . . . en stap . . . en stap asof sy van iets af wou wegstap . . . iets uit haar wou uitstap . . .
Die kop is vooroor gebuig. Die seebries speel met die kort, blinkbruin hare wat die skraal gesiggie omraam. Die kaal voete vind hul eie pad vorentoe asof hulle vanself weet dat hulle in die toekoms maar altyd die alleenpad sal moet stap, hul eie weg sal moet vind.
Dis eers toe die koue, nat skuimsome oor haar kaal tone spoel dat sy opkyk. Die see is nou teenaan haar, bo-oor haar voete. Die oë word gedwing om te fokus, om die grootsheid van die toneel voor haar waar te neem. Die see . . . Vir die eerste keer sien sy werklik die see . . . met oë wat dof kyk ná baie trane. Daar is ’n stem wat sy deur die druising van die branders herken.
“Was jy werklik nog nooit by die see nie? Het jy nog nooit die see gesien nie?”
“Nee. Net op prentjies en in flieks, natuurlik, maar nog nooit met die blote oog nie.”
“Dan gaan ons see toe vir ons wittebrood, my liefling. Daar is ’n idilliese klein plekkie aan die Suidkus, met ’n klein, intieme hotelletjie en ’n groot, wit strand met ’n wye, groot see daaragter. Ek sien jou al soos ’n kind in die branders baljaar.”
Sy kyk om haar rond, sien alles raak net soos dit vir haar beskryf is: die klein, intieme hotelletjie nou ’n spikkel daar ver teen die kranse, die ononderbroke sandstrook en die wye, grote see voor haar.
Iets soos ’n snik of ’n kreun versteur die lied van die branders en sy sak op haar hurke neer, voel hoe die water teen haar knieë vasspat, die helfte van haar romp deurweek laat.
Ek moet mal gewees het om hierheen te kom. Sy kyk om haar soos iemand wat skielik verbode terrein betree het. Wat het ek hier kom soek . . . alléén? Sy lig haar arms beskermend voor haar op toe ’n hoër brander as die vorige een teen haar aanstorm, bo-oor haar stort en die laaste stukkie droë klere aan haar lyf ook deurnat laat. Sy proe die sout smaak op haar lippe, vee die vog uit haar oë, weet nie of dit haar eie of die see se trane is nie. Sy voel die koue druppels van haar hare afdrup op haar skouers en bors, hoe dit hul pad vind verder af teen die ronding van haar borste.
Sy pers haar lippe opmekaar.
Ek sal nie huil nie. Ek het myself belowe ek sal nie huil nie! Die bietjie trots en selfrespek wat oor is, sal nie ook deur trane weggespoel word nie!
Toe spat die volgende brander teen haar vas en hierdie keer probeer sy nie sy nat geweld afkeer nie. Sy lig haar gesig liewer op sodat dit haar vol kan tref, want sy sal nie huil nie! Laat die see dan maar namens haar huil, dink sy toe die druppels oor haar stroom.
Sy knyp haar oë styf toe terwyl sy wag vir die volgende brander. Wat gaan ek doen? Wat hierna? Wat doen ’n meisie wanneer sy alleen van ’n kamma-wittebrood terugkeer? Gaan koop sy vir haar ’n trouring in ’n pandjieswinkel wanneer sy noodgedwonge moet terugkeer na haar ou werkkring, al die ou kantoorkennisse, die goed bedoelde geterg van die ander tiksters wat nuuskierig en onbeskaamd alle besonderhede oor die pas afgelope wittebrood uit haar wil trek? En gaan sy dan namiddae ná werk terug na daardie eensame woonstel, druk die deur agter haar op slot en weier om vir enige klop oop te maak, terwyl sy wonder of sy die paar trougeskenkies moet uitpak, in hul dose moet laat of, ter wille van die gewete, hulle moet teruggee? Maar as sy dit teruggee, sal sy moet sê hoekom . . .
Hoe sê ’n mens dit? Hier is jul geskenke terug, want ek is toe nooit getroud nie. Sommer net so? En dan die vrae wat op haar sal afstorm. Hoekom is jy toe nie getroud nie? Wat het dan gebeur? En sy sal moet erken, die wrede feit uitblaker vir ’n ieder en elk wat wil hoor: My aanstaande het my drie weke voor die troue in die steek gelaat ter wille van ’n ander meisie wat hom meer kan bied as ek. Net so. Blatant. Eerlik. Daar is nie ’n ander manier nie.
Maar waar was jy dan die afgelope tien dae? Ek was toe weg op my wittebrood . . . alleen. Die hotelbespreking was klaar gedoen, die deposito klaar betaal. Wat meer sê, dit was my vergoeding, die suiglekkertjie wat my gewese aanstaande my as vertroosting aangebied het: ’n vakansie by die see, want ek het mos nog nooit die see gesien nie. Sy kan selfs vir hulle uit die brief wat hy in die nuwe woonstel se posbus gelaat het, voorlees:
“ . . . en aangesien jy nog nooit by die see was nie en ek weet hoe jy na hierdie vakansie uitsien, raai ek jou aan om nogtans te gaan. Ek sluit die balans van die hotelrekening vir jou in. Gaan geniet ’n lekker vakansie by die see, en mag jy in daardie tyd insien dat ek jou eintlik vandag ’n guns bewys, en mag jy dit dan in jou hart vind om my eendag te vergewe.”
’n Lekker vakansie by die see in plaas van ’n wittebrood. ’n Suigstokkie vir die hartseer meisietjie, wat haar traantjies gou sal laat opdroog wanneer sy in die branders baljaar . . .
Wanneer sy in die branders baljaar . . . soos nou.
Weer is daar saam met die slag van die brander ’n ander geluid hoorbaar, maar of dit ’n lag of ’n snik is, sal nóg sy nóg die see ooit weet.
Die volgende oomblik word sy onderstebo in die branding getol toe die hoë brander haar tref. Instinktief gryp sy wild rond en verstil dan . . . en ’n vreeslike begeerte groei in haar dat die see haar in sy boesem sal terugtrek tot daar waar vergetelheid is, waar verguising en vernedering nie meer bestaan nie.
Maar nie alle begeertes word verwesenlik, nie alle wense vervul nie. Sy voel hoe haar liggaam die sand tref, hoe die brander van haar terugtrek om haar nat en koud agter te laat. En lewend. Sy het so gewens . . .
Dit moet wonderlik wees om dood te wees. Dan maak niks meer saak nie, niks maak meer seer nie. Wat ander voel, is nie meer van belang nie. Jy self kan niks meer voel nie. Jy hoef jou oor niks te bekommer nie, allermins oor wat die mense sal sê, of wat jy met trougeskenke moet maak as daar nie ’n troue was nie.
Sy sit eindelik sukkelend orent, swaai haar nat liggaam om sodat haar deurweekte klere om haar heupe wring, die dun bloesie aan haar bolyf kleef en haar twee koue tepeltjies styf staan, die hare in nat slierte oor haar gesig, die oë wasig soos dié van iemand wat vanuit ’n ver land teruggeruk is om weer die son teësinnig in die oë te kyk. ’n Bewende hand kom omhoog en beskut haar seer oë teen die skerp strale.
Daar is ’n blink straal wat haar haar oë ’n oomblik styf laat toeknyp. Maar die helder skittering is nog daar toe sy hulle oopmaak, en sy frons terwyl sy probeer uitmaak wat dit is wat die see saam met haar op die sand uitgespoeg het.
Die jong mondhoeke trek wrang toe sy orent sukkel. Ja, selfs die see wou haar nie gehad het nie! Sy buk en tel die leë drankbottel op. Die see wou jóú ook nie hê nie. Ons is ewe min werd!
Sy swaai haar arm om die bottel weer terug in die branders te gooi, maar bedink haar dan. Nee. Sy sal dit hou. ’n Mens bring altyd aandenkings van jou wittebrood saam. Sy kan gerus ook iets saamneem . . . ’n nuttelose, leë drankbottel waaraan mosselskulpe vasklou.
Sy kyk daarna, maar kan nie eens uitmaak watter soort drank vroeër daarin was nie. Dit moet leeg wees, want dit voel lig, hoewel die kurkprop stewig ingedruk is. Plek-plek het klein mosselskulpies daaraan vasgesuig. Sy neem dit versigtig aan die bopunt van die prop. Die mossels moet bly sit. Dis deel van die see, deel van haar eerste vakansie by die see, wat sy saam met haar wil terugneem wanneer sy na die werklikheid moet terugkeer.