Ena Murray Omnibus 35. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
beter as gister.”
“Dis goed. Wat het jy heeldag gedoen?”
“Gelees, gesit, gelê. Lang Leentjie besoek . . .”
“Lang Leentjie?”
“Die kameelperd. Dit lyk of sy gesond gaan word.”
“Ja.”
Stilte. Hy hou haar onderlangs dop, sê dan kortaf: “Iets is nogtans verkeerd. Is dit omdat jy verveeld was? Daar is baie interessante leesstof in my kantoor as jy wil . . .”
“Ek was in jou kantoor, maar ek kon nie vind waarna ek soek nie.”
“Wat soek jy? Ek het nie vrouetydskrifte . . .”
“Maar jy het darem seker ’n fotoalbum?”
“ ’n Fotoalbum?”
“Ja. Ek het gesoek na ’n fotoalbum. Almal het tog foto’s van hul familie. Waar hou jy joune?”
Hy frons ontevrede. “Ek hou nie sulke goed aan nie. Ek is nie die sentimentele soort nie.”
Sy is openlik vererg. “Dis nie sentimenteel om familie-foto’s te hou nie. Dis onnatuurlik om dit nié te hê nie.”
Sy frons verdiep. “Wel, dan is ek seker onnatuurlik. Ek het nie prentjies nodig om die mense wat vir my iets beteken, te onthou nie. Ek onthou hulle in die hart.”
Sy is nou vies. Hy laat haar soos ’n gek voel, ’n sentimentele gek. “Jy het dus ook geen foto van my nie?”
“Nee. Hoekom sal ek hê? Ek het ’n foto van my ma en pa as jy dit wil sien.”
Sy sug, swaai haar hand gefrustreerd. “Aag, los maar . . .”
“Waaroor gaan dit alles, Anna?”
Hy noem haar Anna! Versigtig nou, Ansie, waarsku sy haarself. Hierdie neef is nou ook vies. Maar sy lig haar ken.
“Ek het maar net skielik daaraan gedink ek het geen bewys dat jy my neef is nie. Hoe is ons familie? Van watter kant af?”
Hy sit sy bierblik hard neer en sy grysblou oë neem weer dieselfde vreemde uitdrukking aan as toe hy gister gepraat het van die mense wat die natuur so verniel. Dis yskoud en kliphard.
“Jy dink dus ek het jou onder valse voorwendsels hierheen gebring. Om wat te maak, kan jy my sê?”
Sy voel sy sak al dieper in die modder weg. Sy het die saak totaal verkeerd benader. Maar die kwaad is klaar gedoen . . .
“Lochner, ek bedoel niks . . . Dis tog seker vanselfsprekend dat ek graag meer van myself sal wil weet. Ek . . .”
“Ek sal al jou vrae beantwoord as jy net eers hierdie een vraag van mý sal beantwoord: As ek en jy nie niggie en neef is nie, soos die duiwel jou nou blykbaar wysgemaak het, waar op aarde sou ek aan jou gekom het? Jy wat in Johannesburg in ’n kliniek bewusteloos lê en ek wat hier op ’n wildplaas in die Bosveld sit? Hoekom sou ek my met jou bemoei het, ’n maand lank in daardie afgryslike stad gaan sit en jou toe saam met my teruggebring het? Vir watter doel dink jy?”
Sy laat haar kop sak. Natuurlik het hy reg! “Ek is jammer. Ek . . . was verspot.”
Maar hy vergewe nie so maklik nie. “Meer as verspot. Ek hou jou nie terug nie, Anna. As jy voel jy wil liewer weg . . .”
“Nee! Nee, ek . . . bedoel dit nie so nie . . .” Hy mag haar nie nou wegjaag nie! “Asseblief, Lochner, ek is jammer. Ek weet nie waar my verstand was nie!”
Hy ontspan effens, maar die styfheid bly in sy stem. “Nou goed dan. Ons laat dit daar. Maar ek kan jou die versekering gee jy kan my ten volle vertrou. Ek sal nie ’n haar op jou hoof skaad nie, Ansie.”
Sy voel of sy kan huil van verligting. Hy het haar darem weer Ansie genoem! “Ek weet dit, Lochner. Ek sou nie saam met jou gekom het en ek sou nie hier gebly het as ek jou nie vertrou het nie.”
Die stilte wat hierop volg, word onuithoudbaar. Die saak is blykbaar afgehandel. Hy het niks verder te sê nie. Hy hou hom besig met sy bier en sy pyp, die oë doer êrens op niks gerig en sy voel by die sekonde slegter, voel sy moet nog iets sê, begin dan sukkelend: “Dis net . . . ek is so bang ek ontwrig jou lewe.” Die oë draai terug na haar en sy ploeter voort: “Jy het miskien . . . seker ander verpligtinge ook . . .”
“Soos wat?”
“Soos . . .” Ag, liewe land, hoekom het sy nie liewer haar mond toegehou nie? “Soos ’n . . . vriendin of . . . verloofde miskien?”
Die ironiese lig in sy oë laat haar lippe toeklap. “Of dalk ’n vrou êrens en ’n halfdosyn kinders?”
Dis skone senuwees wat haar vererg laat sê: “Jy is nie snaaks nie!”
“Nee. Dis jý wat snaaks is. Wat wil jy regtig weet? Vra my direk en jy kry ’n reguit antwoord. Moenie draaie loop nie.”
“Ek wil niks . . .” Dan swyg sy weer vinnig. Sy jok nou en hy weet dit. Sy wil weet of hy ’n nooi of ’n wat ook al het. Hoekom weet sy nie, maar sy wil weet. Haar ken wip op. “Goed dan. Het jy ’n verloofde?”
Sy oë lag haar nou openlik uit. “Jy begin in die middel. Begin by die begin. Nee, ek het nie ’n vrou nie en het nog nooit een gehad nie. Nee, ek het nie ’n verloofde nie en was nog nooit verloof nie. Nee, ek het nie ’n vaste nooi nie.”
“Hoekom nie?” Sy weet sy raak nou parmantig en sy vinnige frons vertel haar dit ook. Maar terwyl hulle nou op die onderwerp is, gaan sy uitdagend voort: “Omdat jy te vol fiemies is?” Nee-a, hy kan darem nie altyd die beste daarvan afkom nie.
“Nee, Anna Maria Magdalena van der Merwe, bloot omdat ek nog nie ’n meisie raakgeloop het wat by my pas nie. Of ek moet liewer sê in my wêreld inpas nie. Friedesheim is my wêreld en my soort lewe. Maar die meisies wat tot dusver my pad gekruis het, is almal verslaaf aan die stad en sy skitterglans en sy klatergoud en sy valsheid en sy ydele gejaag na plesier en na niks. Verslaaf aan vertoon en verbygaande roem.”
Die bitterheid van sy woorde toon duidelik dat ’n teer saak aangeraak is. Was hy, of is hy, verlief op só ’n meisie, ’n meisie wat hy weet nooit deel van sý soort lewe kan word nie?
Sy staan sonder ’n verdere woord op en stap kombuis toe om te kyk hoe ver Liesbet met die ete is. In haar hart dink sy: ’n Meisie wat die stadslewe verkies bo die lewe wat jy haar hier kan bied, my liewe neef, moet baie onnosel wees. Sy is nie die moeite werd om oor te treur nie.
Sy sou verbaas gewees het om te weet waaroor Lochner op daardie oomblik sit en wonder. Dis ek wat oor jóú moet wonder, Ansie. Was daar ’n man of mans in jóú verlede?
Hoofstuk 3
3
In die week wat volg, verloop alles baie rustig. Ansie herwin by die dag haar kragte en elke dag is vol nuwe avonture en belewenisse wat sy ten volle geniet. Dis wonderlik om elke oggend wakker te word, teen Liesbet se moederlike glimlag vas te kyk waar sy voor die bed met oggendkoffie en een van haar lekker groot, lang boerbeskuite staan, en te weet die res van die dag gaan sy saam met Lochner in die veld tussen sy diere deurbring.
Die roetine op Friedesheim is heeltemal omgekeerd van dié van die stad. Saans word daar vroeg in die bed gekruip en wanneer die rooi son sy eerste straal oor die oosterkim werp, is die mense van Friedesheim al lankal op en gereed vir hul dagtaak.
Lochner het eerlik verras gelyk toe sy die oggend vroeg haar verskyning maak en aankondig dat sy vandag saam met hom veld toe gaan. Hy was skepties. Haar gewaarsku dis ’n lang, bloedige warm dag wat voorlê, maar sy het voet by stuk gehou. Sy gaan nie weer die hele dag in die huis omsit nie. Toe het hy kopgegee en sy is saam agter in die jeep met die getroue Salmon, geweer gereed, voor langs die baas van die plaas. Dis vir haar ’n nuwe, wonderlike belewenis om die diere in hul natuurlike staat te sien en dop te hou, en sy wonder stilweg of sy ooit weer by die stadslewe sal kan aanpas. Dit moet wonderlik wees om jou lewe só in die natuur tussen God se maaksels deur te bring.