Bruid uit die vreemde. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
beveel jou matrose, kaptein Goske. Maar ék ontvang van niemand bevele nie!”
“Maar, mademoiselle! Wees tog redelik en verstaan …” roep hy nou openlik ongeduldig uit.
Meteens begin die skip onrustig skommel, en sy hoor hoe die takelwerk kraak. Sy besef nou dat Isaac Goske gelyk het, maar haar kenmerkende koppigheid weerhou haar van inskiklikheid en sy steek haar ken beslis uit. “Ek weier,” sê sy.
Hy kyk haar met blitsende oë aan. “Dan laat u my geen ander keuse as om u daarheen te dra nie, mademoiselle De Savoye,” sê hy en buk vinnig af.
Sy het dit nie verwag nie, en die volgende oomblik gooi hy haar sonder meer oor sy skouer en begin aanstap. ’n Geskater uit baie kele styg op en sy kners op haar tande, maar besef dat sy magteloos is. Deur te spartel, sal sy haarself net meer verneder, maar toe Isaac Goske haar eindelik op haar voete terugplaas, is sy nie in staat om te praat nie. Haar vlammende groen oë vertel hom egter genoeg en hy besef met leedwese dat hy sy kanse by hierdie vurige Franse mademoiselle vir goed bederf het.
“Hoe durf jy!” kry sy dit eindelik stotterend uit, maar voor die kaptein nog sy mond kan oopmaak om homself te verweer, is daar ’n oorweldigende suising en die volgende oomblik gryp hulle wild in die lug toe die skip skerp oorhel. Sonder ’n verdere woord verlaat hy die kajuit, en Jacqueline is verplig om haar woede te vergeet en al haar aandag daaraan te gee om op haar voete te bly.
Die nag wat volg, sal Jacqueline nooit vergeet nie. Dis asof al die elemente meteens teen hulle gedraai het. Die wind loei en kerm en telkens kreun en kraak die geteisterde houtwerk teen die moorddadige aanslae van die hoë branders. Die see raas en grom soos ’n verwoede monster en die reën sak soos ’n digte kombers oor ’t Wapen van Alkmaar toe.
Dit voel vir haar asof sy van haar sinne wil raak in die verstikkende kajuit. Sy besef meteens hoe dit moet voel om vasgekeer te wees en die dood in die gesig te staar met die wete dat daar geen uitkomkans is nie. Op hande en knieë kruip sy na die deur, maar elke keer laat ’n hernude aanslag van die branders haar terugrol tot in die verste hoek. Later gee sy dit maar gewonne en laat toe dat die skip haar na willekeur heen en weer slinger. Hoe lank dit so aanhou, kan sy later nie sê nie, maar mettertyd bedaar die wilde rukke en skommeling en slaag sy daarin om moeisaam na haar slaapbank te kruip. Haar hele liggaam is pynlik gekneus, en haar kop raak skaars die kussing of sy sink in ’n uitgeputte slaap weg.
Gesellig, asof die storm van die vorige nag net ’n aaklige droom was, klots die brandertjies teen die skip aan. Deurstraal met asemrowende skakerings van pers, blou en ligroos skiet die strale van die opkomende son deur die enkele loshangende miswolke op die kim en kleur die rustig deinende see tot ’n diep blougroen. Soos ’n soldaat wat trots en oorwinnend uit die stryd getree het, met die seile wat bol in die ligte windjie, ploeg ’t Wapen van Alkmaar se voorstewe diep vore deur die ewig roerende waters.
Meteens klink daar ’n stem uit die kraaines op: “Ho … laaaaaa!”
Kaptein Isaac Goske kyk op en die wag in die kraaines wys met sy hand in ’n suidoostelike rigting.
“Skip op die gesigseinder!” roep hy weer deur bakgemaakte hande en die stuurman oorhandig die verkyker aan sy kaptein.
Swyend staar hy oor die see uit. Dan sê hy: “Hou maar reguit aan, Kasper. As ons eers nader is, sal ek besluit. Dit lyk soos ’n skip wat op ’n rif geloop het.”
“Goed, kaptein. Dit was darem ’n geweldige storm gewees,” laat die stuurman hoor, sy hande seker en vas op die groot wiel voor hom.
“Ja. Ons skip het hom mooi gedra.” Hy kyk Kasper goedkeurend aan. “En die stuurman ook.”
Kasper kyk dankbaar na hom. “Dankie, kaptein. Ek het maar net my plig gedoen,” laat hy ietwat verleë hoor.
Die kaptein bring weer die verkyker na sy oë. “Maar juis daarom het dieselfde lot as daardie skip ons nie getref nie. Omdat elkeen sy plig gedoen het! Ek voel trots op my skip en op my bemanning!”
Die ’t Wapen van Alkmaar nader die ander skip nou vinnig, en toe hy regoor die gestrande skip kom, word die bevel gegee dat die anker neergelaat word.
“Ons kan nie waag om nader te gaan nie. Die kus is hierlangs baie rotsagtig,” verduidelik Goske en roep dan: “Laat sak ’n boot. Ek wil gaan kyk.” Hy bring weer die verkyker omhoog en sy liggaam ruk. “My magtig! Laat al die reddingsbote sak. En maak gou!” Hy draai weer na Kasper. “Dis ’n Nederlandse skip. Dit lyk amper na die Soetemeer.”
Dan hardloop hy vinnig na die reling en sak met die touleer af in een van die dobberende bootjies.
In haar kajuit word Jacqueline wakker. Sy slaak ’n sug van verligting toe sy die egalige skommeling van die skip aanvoel en die daglig by die patryspoort sien inspoel. Dan dring dit meteens tot haar deur dat die skip stil lê. Sy spring haastig op. Deur die patryspoort gewaar sy die klomp reddingsbootjies ’n paar honderd tree van die skip af, en sy draai ontsteld om. Is die ’t Wapen van Alkmaar besig om te sink? Maar toe sy haar kajuitdeur oopmaak, hoor sy die ware toedrag van sake. Verlig keer sy terug na haar slaapbank en sak daarop neer. Haar kop klop en pyn asof dit wil oopbars, en haar hele liggaam is teer van al die kneusplekke. Sy sluit weer haar oë.
’n Rukkie later word sy deur ’n ontstelde vrouestem gewek.
“O, wat sal ek doen? Wat sal van my word?” hoor sy die stem in Nederlands sê.
Jacqueline frons. Die stem kom uit die kajuit langs hare, en aangesien haar patryspoort oop is, kan sy elke woord duidelik hoor.
“Ag, mevrou Jansen,” hoor sy ’n ander stem antwoord, “moenie u so ontstel nie. U kan tog nie help dat … dat Marie …”
Die stem sterf weg en sy kan ’n sagte snik hoor.
“Jy kan maklik praat, Anna van den Bergh!” sê die eerste stem kwaai. “Dis nie jý wat die verantwoordelikheid dra nie. Dis ek! Dis ék wat by die goewerneur verslag sal moet doen hoekom daar net sewe meisies is en nie agt nie.”
“Maar, mevrou,” protesteer ’n ander stem, “die goewerneur kan u tog nie vir die storm verantwoordelik hou nie!”
“Nee, nie vir die storm nie, maar dat ek toegelaat het dat Marie van der Weyde verdrink, ja,” is die kermende antwoord. “O, wat sal ek doen?”
“Dalk kan u self haar plek inneem,” kom dit spottend van ’n derde persoon.
“Wat? Wat bedoel jy, Maria?”
“Hoekom gaan ú nie as die agtste bruid nie?”
“Wat! Jou onopgevoede weeshuiskind! Hoe durf jy so ’n voorbarige voorstel aan ’n respektabele weduwee maak?”
“Wel, u moet agt bruide aan die goewerneur lewer. Hier is net sewe. Waar gaan u die agtste een vandaan kry as u nie self …”
Jacqueline trek haar asem skerp in. ’n Wonderlike plan skiet haar by die aanhoor van hierdie woorde te binne. Hoekom nie? Sy kan mos altyd weer ’n plan maak as sy net eers in die Kaap is. Haar hande bewe van opwinding.
Sy hoor die deur langsaan oopgaan en maak hare op ’n skrefie oop. Ja. Dis mevrou Jansen. Net toe die dame by haar deur verbykom, maak sy dit heeltemal oop.
“Mevrou, sal u nie asseblief ’n oomblikkie binnekom nie? Ek het gehoor in watter penarie u is, en ek dink ek sal u kan help.”
Die ou dame knyp haar bril ’n bietjie vaster op haar neus terwyl sy die deftige jong meisie van kop tot tone beskou. “Wie is jy?” vra sy agterdogtig.
“Maak dit saak wie ek is? Ek kan u uit die moeilikheid help. Is dit nie genoeg nie?”
Die ou vrou stap onseker binne, en Jacqueline maak die deur en patryspoort versigtig toe.
“En hoe kan jy my help?” vra die ouer dame skepties, haar blik meewarig op Jacqueline se weelderige rok.
Jacqueline neem reg voor haar plaas en kyk haar vas in die oë. “Laat ons mekaar eers goed verstaan, mevrou. Soos ek kon