Die ongebore uur. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
>
Die ongebore uur
Jasmyn
1
“Ek wil graag met Pa en Ma gesels as julle ’n paar minute vir my het.”
Sy het onmiddellik haar ouers se volle aandag. “Natuurlik, Inge. Wat is dit?”
Maar sy kyk eers vraend na haar pa. “Dis tyd vir Pa se aandrondte. Dit kan wag tot ná aandete as Pa nie nou tyd het nie.”
“Ek het nog ’n paar minute as dit nie ’n te lang gesprek gaan wees nie,” antwoord haar pa. Hy frons liggies. Sy dogter lyk baie ernstig.
“Wel, ek noem dit net vinnig. Julle kan dan op julle tyd daaroor dink en ons kan dit later bespreek.”
Elke kyk haar dogter nuuskierig aan. “Liewe land, Inge, dit klink baie geheimsinnig. Uit daarmee!”
Die jong meisie glimlag maar haar oë is effens ontwykend – asof sy nie seker is of dit wat sy gaan kwytraak, byval sal vind nie. “Dis niks dramaties nie, Ma. Ek is net lus om my studie oorsee voort te sit en . . . en ek het gewonder of julle daarmee sal saamstem.”
Daar is ’n oomblik stilte terwyl haar ouers haar verbaas aankyk.
“Oorsee? Hoekom?” wil haar ma verward weet. Sover haar kennis strek, is haar dogter heel gelukkig by die Universiteit van Kaapstad.
“Sommer net. Ek . . . is sommer net lus om dit te doen.”
Haar pa se oë is ondersoekend. Verbeel hy hom of hou Inge iets terug? “Dis nie eintlik ’n antwoord nie, Inge. Dis dus net ’n skielike gier wat binne ’n paar dae weer kan oorwaai.”
“Nee, dit sal nie,” sê sy vinnig, miskien ’n bietjie te vinnig. “Ek speel al lank met die gedagte. Ek het ook intussen navraag gedoen.”
Haar pa se wenkbroue lig. “Dit kan dus gedoen word? Jy kan by ’n oorsese universiteit gaan klaarmaak?”
“Ja. Dis moontlik, hoewel hulle in Duitsland anders as hier by ons te werk gaan.”
“Duitsland? Dan het jy reeds op die land besluit?” Horst Buchner se frons is nou pertinent. Die gier, soos hy dit sien, het reeds verder gevorder as wat hy vermoed het.
“Ja. Ek wil graag Hamburg toe gaan.”
“Hoekom Hamburg? Hoekom nie München nie? München bied jou tog baie meer. Daar is ’n wonderlike kulturele lewe . . . teaters, operas . . .”
“Pa, ek gaan studeer, nie rinkink nie.”
“Maar as jy sulke byvoordele kan kry terwyl jy studeer . . .”
“Pa, maak dit regtig vir Pa saak by watter universiteit ek in Duitsland kwalifiseer?”
Hy kyk sy dogter aan, kry weer die gevoel dat hier meer agter steek as wat op die oog af sigbaar is.
Elke spring vinnig tussenbeide. “Hoe sal dit jou studie affekteer? Dit gaan ’n groot aanpassing van jou verg, my kind. Jy sal baie hard moet werk.”
“Ek gee nie om nie.”
Hulle kyk na haar, wetende dat sy hard kán werk. Oor haar studie is daar geen onsekerheid in die ouerharte nie. Al sou sy ná ’n jaar besef sy het ’n te groot hap afgebyt en terugkeer, sal die ervaring wat sy daar opgedoen het, haar net goed doen. Oor die skielikheid van haar besluit voel hulle egter nie gerus nie.
Inge kyk haar ouers pleitend aan. Hulle mág nie weier, nie! Sy het haar hart daarop gesit om te gaan. Maar hulle wil ’n rede hê . . . Sy weet dat wat sy nou gaan sê nie die rede is hoekom sy skielik ’n dringende behoefte het om haar mediese studie in Duitsland te voltooi nie. Maar dis die enigste aanneemlike rede wat sy nou kan aanvoer.
“Pa . . . Ma . . . asseblief, moenie seergemaak voel nie. Julle was nog altyd dierbare ouers vir my. Dis heerlik om by julle te wees en dis baie gerieflik vir my om uit my ouerhuis te studeer. Maar ek voel net ek wil ’n slag wegkom, op my eie bene staan . . . Ek is twee-en-twintig en ek was nog nooit weg uit die huis nie. Dis nie dat ek van julle wil wegkom nie . . .”
Haar ma se oë verteder met begrip maar tog ook met ’n tikkie weemoed daarin. Het sy en Horst werklik geglo dat hierdie kind van hulle vir altyd en altyd onder hul vleuels sal skuil terwyl sy self vlerke het wat sy wil span? “Ons verstaan, Inge. En jy het ook die volste reg om dit te wil hê. Daar kom ’n tyd dat die klein voëltjie grootword en sy vlerke wil sprei en die nes verlaat,” sê sy met haar oë op haar man se fronsende gesig. “Ons mag haar nie terughou nie, Horst.”
Hy reageer nie hierop nie, sit net ’n arm om sy vrou se skouers, druk haar teen hom vas en soen haar voorkop vlugtig. “Ons praat later weer. Ek moet nou eers kliniek toe.”
Toe hy uit is, ontmoet ma en dogter se oë en haar skuldgevoel laat Inge die aanspreekvorm van haar kleindae gebruik: “Mamma verstaan mos?”
Elke glimlag dapper, lê haar handpalm teen die jong wang. “Mamma verstaan, skat. Moenie sleg voel nie. Eintlik moet ek en jou pa baie dankbaar wees dat ons jou twee-en-twintig jaar lank in die huis kon hê. Dis ’n voorreg wat min ouers beskore is. En jy was so ’n wonderlike dogter vir ons . . . en so ’n groot troos. Natuurlik gun ons jou ’n lewe van jou eie. Dis een van die dinge wat ’n ouer in die lewe moet aanvaar – dat jou kind grootword en sy eie pad gaan stap. En geen ouer het die reg om ’n kind daarvan te weerhou nie.”
“Ma!” Inge sluk. O, dié dierbare ma van haar! As sy net weet . . . “Ma praat asof ek vir ewig weggaan en nooit weer huis toe kom nie! Maar niks het eintlik verander nie. Die twee of drie jaar wat ek weg sal wees van die huis is maar net ’n tussenspel. Ek kom terug sodra my studie voltooi is en ek kom in die Meissner-kliniek werk saam met Ma en Pa soos ek van kleins af gesê het ek gaan. Dááraan hoef Ma nooit te twyfel nie.”
Maar terwyl Elke in die kombuis doenig raak met die aandete, is daar onrus in haar hart. Want sy dra eerstehandse kennis van die feit dat die mens sy planne maak en doodseker is dat dit sal uitwerk . . . totdat al daardie planne en sekerheid skielik op ’n dag aan skerwe lê.
Wat as haar enigste kind die man van haar hart daar oorkant ontmoet en nooit weer terugkom nie? Nie dat sy rede het om haar in daardie rigting te bekommer nie. Inge het reeds gewys dat sy ’n koelkop is wat haar aandag aan haar studie wy. Maar dit kan gebeur. Sy is ’n pragtige meisie. Met haar pa se lenige gestalte en haar ma se kopergeel hare en blou oë, is sy ’n imponerende vrou wat beslis ’n aanwins sal wees in die Meissner-kliniek se gange.
O, maar sy gaan haar mis! Sy voel die branding van trane agter haar ooglede en sluk hard. Maar sy durf nie selfsugtig wees nie.
Hulle het Inge lank genoeg in die huis gehad, miskien te styf vasgehou, dink sy skuldig. Veral ná klein Albert se dood was sy die spil waarom die hele huis gedraai het. Inge was die middelpunt van haar en Horst se bestaan, afgesien van hul toewyding aan oupa Albert se kliniek. Miskien is dit juis die rede hoekom Inge skielik hierdie gier ontwikkel het. Sy het gesê sy tob al lank daaroor. Miskien voel hul dogter lankal sy word doodgesmoor en doodgewurg deur haar ouers, veral ná haar boetie se dood. Miskien het dit werklik vir haar noodsaaklik geword om ’n bietjie weg te breek.
Ook haar man tob oor dieselfde kwessie op pad terug huis toe nadat hy sy kliniekrondtes afgehandel het. Hoewel hy en Elke probeer het om Inge nie totaal op te slurp nie, moet hy erken dat hulle drie ’n baie nou sirkel gevorm het ná klein Albert se dood. Toe die twaalfjarige Albert, sy oupagrootjie se oogappel en die vanselfsprekende erfgenaam van die Meissner-kliniek, ná ’n stryd teen klierkanker sterf, het net die sewejarige Inge oorgebly op wie hulle hul liefde en drome kon uitstort. Vir Elke en Horst Buchner sou daar nie weer ’n kind gebore word nie, want Elke is gesteriliseer ná komplikasies met Inge se geboorte. Al die drome en ideale en liefde wat vir klein Albert gekoester was, is na Inge oorgeplaas. Miskien het hulle haar onwetend daaronder versmoor.
Hy tref sy vrou in die kombuis aan en toe hy in haar oë kyk, weet hy presies hoe sy voel.
“Horst, ons mag haar nie terughou nie.”
Hy