Dokter Julene. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
jy was, loop ek eerder weg as om met hom te trou!”
“Maar Kadri kan baie dierbaar ook wees, Ju-”
“Dierbaar se voet!” Julene se ego het ’n groot knou gekry en sy haal dit nou op die arme Oda uit. “Hy is die mees opgeblase chauvinis wat op die aarde rondloop! Al behoort die helfte van Turkye aan hom, het hy geen reg . . .”
“Dis darem nie só erg nie, Julene. Hy het net ’n paar groot teeplantasies en is ’n direkteur van ’n groot firma wat handgeknoopte Oosterse matte uitvoer en . . .”
“O, spaar my, asseblief! Dis gewoonlik mense wat so in die geld rol wat ook so vrek suinig is.”
“Dis nie waar van Kadri nie,” verdedig Oda lojaal. “Hy het my nog nooit iets geweier nie. Hy is baie vrygewig . . .”
“Ja. Veral met beledigings. Maar hy is geensins vrygewig teenoor ’n werklose dokter nie.”
Oda se oë val byna uit haar kop. “Kadri wil jou nie betaal nie?”
“Nee. Hy is seker bereid om vir my dienste te betaal. Hy is net nie seker hoevéél my dienste werd is nie.”
Oda sien sy sal nou moet wal gooi. Julene is hewig ontstig. “Jy moet dit nie so persoonlik opneem nie, asseblief, Julene. Kadri is ’n baie verstandige sakeman. As dit nie so was nie, sou hy nie op drie-en-dertig gestaan het waar hy vandag staan nie. Natuurlik sal hy jou na behore vergoed. Ek sal . . .”
“Jy sal niks nie. Ek het hom gesê hy kan net my reiskoste betaal. Vir die res kan hy sy stink geld en beledigings hou.”
“Julene! Jy het dit nie gesê nie!” kom dit geskok.
“Dit was nie my presiese woorde nie, maar hy het die boodskap gekry. Ek gaan môre terug.”
“Nee!” Oda spring op en dis sy wat nou hewig ontsteld is. “Nee, jy kan nie, asseblief! Jy kan my nie nou alleen laat nie! Ek het jou nodig!”
Maar Julene is vasberade. Nog een sessie met Kadri Murad en sy kan dalk vir moord in Turkye gehang word. “Oda, jy kan die behandeling hier in Istanboel ook kry. Jy het my nie werklik nodig nie. Ek sien nie kans . . .”
“Maar jy is vir my noodsaaklik!” roep die meisie dringend uit. “Ek het jou nodig! Ek is alleen! Ek het niemand om mee te praat nie; by wie ek raad kan kry nie. O, Julene, asseblief, moenie my alleen laat nie!” Die trane loop nou weer.
Teen wil en dank voel Julene hoe die meisie se woorde tref. Alleen. Sy weet wat dit is om alleen te wees. Tog probeer sy skerm: “Maar dis tog seker nie net jy en Kadri nie. Waar is die res van die familie dan?”
“Daar is nie juis veel van ’n familie nie. Sy twee broers is bestuurders op die teeplantasies en sy ouers is albei oorlede. Daar is eintlik net Ana.”
“Wie is Ana?”
“Ana beteken Ma. Haar naam is eintlik Nermin, maar almal noem haar Ana. Sy is Kadri se tante en sy het my grootgemaak. Sy bestuur sy huishouding al jare lank.”
“Dan is hierdie suite nie eintlik sy . . . julle woonplek nie?”
“Nee. Hy hou dit net aan vir wanneer hy Istanboel toe moet kom. Ons huis is by die Swart See aan die noordelike kus. Dis waar die teeplantasies is.”
En dan is daar nog ’n privaat eiland aan die suidelike kus . . . Julene voel lus om deur haar neus te blaas. Die man het seker rede om veel van homself te dink. ’n Suite in die Hilton, teeplantasies aan die Swart See, ’n eiland van sy eie aan die Middellandse See . . . Dit klink indrukwekkend. Maar dit gee hom nog nie die reg . . .
“Maar kan jy nie met Ana oor jou gevoelens en probleme gesels nie?”
“Nooit! Sy sal die stuipe kry as sy moet hoor ek wil nie meer met Kadri trou nie! Sy het my dan vir hom grootgemaak. Ek sal met niemand in die familie hieroor kan praat nie. Almal aanvaar net dat ek en Kadri sal trou.”
“Wat van jou vriendinne?”
“Hulle sal ook almal dink ek is mal.”
Julene voel misnoeg. Sy weet presies hoe Oda voel . . . om te weet jy is vir ’n spesifieke doel grootgemaak en omdat jy soveel verskuldig is, is jy magteloos om te protesteer. Maar sy wil nie betrek word nie!
“Oda, ek kan nie werklik vir jou tot hulp wees nie. Jy moet dit tog besef. Ek is ’n volslae vreemdeling, van ’n ander kultuur én jou Kadri bejeën my met agterdog. Ek kan niks aan jou penarie doen nie. Jy moet jouself help.”
Oda is ’n prentjie van wanhoop en mismoedigheid. “Ek weet, Julene. Maar met jou kan ek openlik praat . . . Jy sal verstaan en nie dink dat ek mal geword het ná die ongeluk nie . . . Asseblief, bly nog ’n rukkie!”
Nee, ek sal weer dink jy is stapelgek as jy met jou Kadri gaan trou, dink Julene en, vir die hoeveelste keer daardie dag, sug sy: “Goed, Oda. Ek sal nog ’n rukkie bly as dit moontlik is. Maar ek dink Kadri is op hierdie oomblik besig om my plek terug Switserland toe te bespreek.”
“Ek sal met hom praat. Moenie bekommerd wees nie. Kadri het my nog nooit iets geweier nie,” laat Oda selfversekerd hoor.
Daar is altyd ’n eerste keer, dink Julene by haarself. Ek dink nie Kadri Murad sal gou vergeet dat ’n deur – en nogal een waarvoor hy betaal – in sy gesig toegeslaan is nie.
Die twee meisies kry ’n briefie in die sitkamer toe hulle dit eindelik waag om uit die slaapkamer te voorskyn te kom. Dit verwittig hulle dat Kadri na ’n vergadering is en dat hulle hom eers laatnamiddag moet terugverwag. Oor hierdie nuus is veral Julene verheug. Dit gee haar ’n blaaskans voor die volgende ronde. Sy is nou nog nie heeltemal seker wie die eerste een gewen het nie.
Julene brand om die stad ’n bietjie te gaan verken, maar Oda lyk moeg. Sy ly duidelik aan geestelike uitputting. Die stryd tussen haar hart en haar gewete eis sy tol. Nadat Julene haar behandel het en sorg gedra het dat die noodsaaklike oefeninge gedoen is, beveel sy Oda om ’n rukkie te rus hoewel sy weet sy sal nie slaap nie. Uit verveling verken sy die res van die suite. Alles is luuks. Sy aanvaar die hotel is deel van die beroemde groep van Amerika. Sy onthou so vaagweg dat Elizabeth Taylor se eerste man een van dié Hiltons was. Sy glimlag skeef toe sy daaraan dink dat dié huwelik ook maar nie lank gehou het nie. Wys jou net. Geld beteken maar min as dit by geluk kom. Sy loer vinnig by die hoofslaapkamer in. ’n Kolossale dubbelbed trek onmiddellik haar oog en sy glimlag suur en spytig. Sy glo die meisies val oor hul voete om sy bed met hom te deel. Teësinnig, maar noodgedwonge eerlik, moet sy erken dat Kadri Murad glad nie onaardig is nie. Hy moet net nie sy mond oopmaak nie. Sy was eintlik verras toe sy die Turk die eerste keer sien, want sy het ’n baie donker man verwag. Kadri se hare is wel swart, maar die oë wat haar so opsommend en wantrouig aankyk, is blou. Teen sy ligte hemp vertoon sy vel wel donker, maar elke bruingebrande boerseun lyk ook maar donker in ligte klere. Hy is nie veel langer as sy nie; tog kry sy pal die gevoel dat sy na hom moet opkyk en dat die skeptiese blou oë uit die hoogte op haar neerbrand. Dis die man se arrogante houding wat haar so intimideer, besef sy. Vererg swaai sy haar weg van sy slaapkamer. Hy kan haar ’n hele teeplantasie én sy privaat eiland present gee, maar sy sal nooit verlei kan word om in dáárdie bed te klim nie.
Sy staan op die balkon toe hy later arriveer en sy maak spore kamer toe. “Opstaan! Opstaan!” kommandeer sy vir Oda. “Jou aanstaande is in aantog en hierdie keer is dit ék wat in die kamer bly en jý wat hom ontmoet. Ek het my beurt gehad.”
Sy kan duidelik sien Oda is skrikkerig vir die tête-à-tête. “Kom ons gaan albei . . .”
“O nee, Oda. Ek het jou vanoggend beskerm, dis nou jou beurt om my te beskerm.”
Oda kyk haar ongelukkig aan. “Jy praat asof Kadri die een of ander monster is! Ek kan nie gló dat hy onbeleef teenoor jou was nie. Hy is ’n welopgevoede, beskaafde . . .”
“O, ek weet, ek weet. Maar in elke mens sluimer daar ’n stukkie oerinstink wat geen beskawing of opvoeding uit jou kan kry nie . . . en jou aanstaande se oerinstinkte het in sy tong se punt gaan nesskop.”
“Hy