Ena Murray Omnibus 38. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
gesels?”
Die bruin gesig is strak, die donker oë hard. “Maria is ’n ordentlike kind.”
“Ek weet sy is, maar daar is soveel verkragtings deesdae. Oral loop leeglêers en boosdoeners rond wat haar kwaad kan aandoen. Sy is ’n mooi kind. Sy loop elke oggend die ses kilometers dorp toe en elke middag weer terug ná skool. Jy stuur haar alleen veld toe om hout te soek. En sy word nou ’n groot meisie. Sy is negentien. Ek en jy weet wat gebeur wanneer ’n mens jonk is en jy verloor jou hart. As jy jou oë uitvee, is die kwaad gedaan.”
“En is ’n baba nou werklik die ergste ding wat met haar kan gebeur?”
Miempie is stomgeslaan. “Martha, hoe kan jy so iets sê! Maria leer so mooi …”
“Klaas is glad nie tevrede met hierdie geleerdery van haar nie. Hy sê sy is geleerd genoeg. Sy moet ophou en ’n man vat wat vir haar kan sorg.”
“Om net maar dieselfde lewe te lei wat jý al die jare lei? Jy kan dit nie aan Maria doen nie! Daar wag vir haar ’n beter lewe as sy graad twaalf slaag en miskien selfs verder gaan leer.”
“Sy vra te veel geld. Daar is ander kinders ook.”
“Juis, Martha, daarom moet julle sorg dat daar nie méér kom wat vra nie. Maar kom ons los nou eers Maria se leerdery uit. Wat van haar veiligheid? Veronderstel sy word op pad skool toe verkrag of sy raak verlief op iemand? Sê nou daar is wel ’n baba? Dis nog ’n mond vir jou en Klaas om te voer.”
“Ons sal ’n plan maak.”
Miempie voel ’n magtelose woede van haar besit neem. “Bedoel jy jy sal nie omgee as jou dogter se toekoms, haar mooi drome, aan skerwe moet spat nie?” In die swye wat volg, lees sy haar antwoord en Miempie voel die drang in haar om net weg te stap. Maar dan verskyn die jong Maria se gesig voor haar. Die mooi meisie met die fynbesnede gelaatstrekke en steil hare … die enigste kind van Maria met reguit hare.
Sy soek na woorde. “Martha, as dit Klaas se houding is, kan ek dit verstaan. Maar ek kan dit nie van jóú glo nie. Jy dink nie dieselfde as Klaas nie. Ek weet dit. Jy is ’n vrou en ’n ma. Jy was eenmaal ook so oud soos Maria. Toe wou jy ook vorentoe, boontoe, nie waar nie? Jy het seker ook jou drome gehad, wou ook wegbreek na ’n beter lewe. Jy kon dit nie regkry nie, maar miskien kry Maria dit reg. Gun haar die kans!”
Martha Benjamin laat sak die wasgoed in haar hande, kyk Miempie vas aan en vir die eerste keer sien Miempie emosie op haar gesig.
“Ja, suster. Ek wou ook eenmaal wegbreek na ’n beter lewe. Maar dit werk nie uit nie. Dit sal nooit uitwerk nie. Daar is geen reënboog vir ons mense wat so arm is nie. God het dit net vir die ander mense gestuur – en die rykes kry die pot goud daarby. Maar vir ons, hier op die plase, het Hy vergeet. En Hy luister tog nie meer na ons nie. Maria probeer wegloop van die stroois af, maar sy sal uitvind sy kan nie. Hoe verder ons van die stroois af dwaal, hoe meer trane wag daar op ons. Ek weet. Suster is verkeerd. Ek dink saam met Klaas oor hierdie saak van Maria. Die geleerdheid is nie vir haar goed nie. Dit maak dat haar mense nie meer vir haar goed genoeg is nie. Sy moet ’n man vat en haar plek leer ken. Sy moet weet waar sy hoort. Haar pa wil haar uit die skool haal. Hy sê sy kan op die plaas kom werk saam met die ander vrouens. Dan bring sy geld in. Maar ek het gesê laat haar maar tot die end van die jaar aangaan. Daarna kom Maria huis toe.”
Die magtelose woede het Miempie verlaat. Die bitterheid in die bruin vrou se stem het haar soos ’n skoot yswater getref. Onwillekeurig lê sy haar hand op Martha se voorarm. “Martha, moenie so bitter wees nie. Moenie dink God het jou vergeet nie en moenie hierdie netjiese huisie van jou ’n stroois noem nie. Dis een van die skoonste huise wat ek nog gesien het en jy is een van die netjiesste en mees opregte vroue wat ek ken.”
“Regtig?” Martha trek haar arm onder Miempie se aanraking weg. “Ek weet nie, suster. Ek weet nie. Maar een ding weet ek. Ek wil nie hê my kind moet oorkom wat ék oorgekom het nie. Dan moet sy maar liewer net hier op die plaas bly. Dis beter vir haar.”
Miempie voel haar hart saamkrimp. Sy aarsel, waag dit dan tog: “Maria is nie Klaas se kind nie, is sy?”
Die donker oë swaai afwaarts. “Maak dit saak? Sy is mý kind.”
“En jy weier dat ek oor die voorbehoed-inspuiting met haar praat?”
“Ja.”
“Sy is al negentien, Martha. Sy mag self oor hierdie dinge besluit. Eintlik het sy nie eens meer jou toestemming nodig nie. Maar ek respekteer dit dat jy haar ma is … En jy self?” Sy sien die aarseling. “Klaas sal nie weet nie. Hy is op die land. Ek weet ek kan jou nie dwing nie, en dit is jou eie besluit, maar … asseblief, Martha! Ek probeer jou net help.”
“Hy sê hy wil nog ’n kind hê. Dis sy rykdom.”
“En jou swaar kry.”
“Dan moet dit maar so wees, suster. Dis maar so uitgelê.”
Miempie stap terug kombi toe. Sy weet sy het haar teen ’n muur vasgeloop. Vandag sal Martha nie die inspuiting vat nie … en wanneer sy oor ’n maand weer kom, sal Martha waarskynlik swanger wees met haar agtste kind. Ag, as sy maar net meer oorredingskrag gehad het!
Sy skakel nie dadelik die kombi aan nie. Haar blik dwaal oor die huisies. Die strooise, soos Martha dit genoem het. Die netjiese huisies wat Giel de Jongh vir sy werkers gebou het, is allesbehalwe strooise. Maar sy weet dit het maar onlangs gekom, en op baie plase is die tradisionele stroois maar nog die enigste huis wat die werker ken. Martha het verseker in so ’n stroois grootgeword … en die merk van die stroois kon sy ná al die jare nog nie afgeskud kry nie. Die stroois het vir haar ’n beskutting geword teen die seerkry van drome wat nooit waar kan word nie … Daarom wil sy haar dogter ook maar liewer in die skadu van die stroois hou …
Die bekende ou magteloosheid vat Miempie Rust weer opnuut vas in hierdie oomblik. Elke dag ry sy in hierdie distrik rond, verby die soms oordadig luukse opstalle, want dit is ’n ryk distrik, na die plaaswerkers se huise. En so dikwels, só dikwels, kom dit in haar op wanneer haar blik op die strooise val: Hoe kan enigiemand verwag dat daar uit sulke krotte mense moet kom met selftrots en menswaardigheid? Tog, dit word verwag. En daar is wel mense met ruggraat wat hier grootword en elders ’n pad na ’n beter toekoms probeer uitkap. Die mense van die opstal verwag hulle moet dink en voel en optree en hulle gedra soos húlle “die voorbeeld stel”. En dan stel so baie nog ’n skewe voorbeeld ook, dink sy wrang.
Môreoggend moet die Marthas wat in daardie luukse huise werk, kraaknet en skoon by die kombuis instap. Miempie het al baie gewonder hoe hulle dit tog regkry. Dikwels is daar nie eens ’n kraan naby nie, moet water ’n ver ent in emmers en konkas aangedra word vanaf ’n rivier of ’n gronddam. Daar is nie elektrisiteit nie, maar die uniforms wat deur die boer se vrou verskaf word, moet netjies gestryk wees. En haar kinders moet skoon en netjies wees, al werk sy soms tot baie laat. So ook haar man se oorpak wanneer hy môre sy bevele ontvang.
Miempie laat sak haar ken in haar hand waar haar elmboog op die stuurwiel druk … en vir die soveelste keer wonder sy watter soort mens sý sou gewees het as God haar vel anders geverf het. Opnuut vul haar hart met deernis. Arme Martha … en arme Maria … Sy bid byna hardop dat die Vader sal verhoed dat Martha swanger word voordat sy weer hierlangs kom. Miskien sal sy haar volgende keer kan oorreed om die inspuiting te neem.
Sy skakel die kombi aan, voel nie daarna om vandag die gebruiklike koppie tee by Laura de Jongh te gaan drink nie. Eers het daardie man haar ontstig, toe het Martha haar ontstel en nou kan sy die jonge Maria nie uit haar gedagtes kry nie. Nie dat Maria veel jonger is as sy nie. Sy is vier-en-twintig en Maria negentien. Maar van die eerste oomblik af dat sy Maria gesien het, het ’n beskermingsdrang in haar posgevat. Maria se steil hare is nie die enigste eienskap wat haar uitsonder nie. Daar is iets in haar oë en in haar houding wat Miempie onmiddellik getref het.
Ook Maria se deursettingsvermoë verstom Miempie. Twaalf kilometers per skooldag loop sy heen en weer skool toe, in alle weersomstandighede. In die winter moet sy reeds donker in die pad val om betyds te wees, en namiddae is daar ’n kort ligdag oor wanneer sy die huis