Ena Murray Omnibus 39. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
gedurende die operasie oorlede.” Daardie verstomming, verstilling, verstywing, verstrakking in hom op daardie oomblik. Toe het hy omgedraai, uitgestap en daar buite het die tweeling nog soet in die motor gesit en wag soos hulle beveel is. Twee dogtertjies van ses jaar ... en hy moes hulle gaan vertel dat dié mamma wat altyd gelag het, wat altyd so vol liefde was, nooit weer sou terugkeer nie. Dat sy weg is ... vir ewig.
Hy vee nou oor sy oë, sy mond strak en bleek. God alleen, en hulle wat daardie selfde pad al gestap het, weet wat op daardie oomblik binne-in jou gebeur. Dis of jy wegsak in ’n diep, diep kuil wat geen bodem het nie. Jy sak maar net al dieper af en jy probeer nie eens om te spartel om na bo te kom nie. Jy wíl afsak.
Daardie eerste dae ná Marlene se afsterwe ... Vir ’n oomblik staan dit weer fel en helder voor hom. Die geweldige aanpassing by ’n moederlose huis, die soeke van sy kinders na daardie één persoon waarom ’n huis draai, en sy power pogings om die kinderhartseer te stil terwyl hyself binne vergruis was in eie, volwasse smart.
Aanvaarding het mettertyd gekom – baie gouer by sy kinders as by hom. Hoe dikwels het hy hulle dit beny; dat hulle, nog so klein, met kinderlike eenvoud geleer het om die finaliteit van die dood te aanvaar. Maar die Bybel sê mos dat jy soos ’n kind moet wees om die hemel te kan sien. Terwyl hy nog in die hel van smart en eensaamheid gedompel was, het die tweeling reeds weer die hemel begin sien. Hulle het Mamma nog onthou, maar daar was so baie dinge elke dag om hulle besig te hou, om die gemis al stiller te maak. Dit was nou hy wat saans na hul gebedjies geluister het, en met gemengde smart en verwondering na die kinderlike geloof geluister het.
“Pappa sê Mamma is in die hemel by Jesus. Sê vir haar groete, liewe Jesus, en sê vir haar ons was nie stout vandag nie.”
’n Ander keer was dit weer die ander een wat gebid het: “Liewe Jesus, sê vir Mamma ek het vandag uit die boom geval en my knieë is heeltemal stukkend, maar Pappa het salfies aangesmeer en dis nie meer so seer nie.”
So het hy dikwels gesit en luister na die boodskappies hemel toe; boodskappies vir Mamma.
Hy het hom ten volle aan sy nuwe taak toegewy, met die besef dat hy besig moet bly en dat hy hierdie taak nou alleen sal moet deurvoer. Marlene was nie meer daar om die stukrag agter hom te wees nie. En so het die jare ongemerk verbygerol – sewe jaar al.
En ongemerk ook het sy dogters grootgeword. Oor nog ’n paar kort jaartjies sal hulle uit die huis wees. Dan sal hy alleen wees ... as hy nie nou die verstandige ding doen soos wat sy verstand hom vertel nie.
7
Die ongewone opgeruimdheid van die tweeling bly voortduur, ook tot ergernis van sommige mense. Hul klasonderwyseres kan dit net nie heeltemal begryp nie en is sommer agterdogtig.
Maar hoewel die tweeling skielik nie meer die ietwat bot, stil kinders van die afgelope tyd is nie, is hul lewenslus ook van só ’n aard dat hulle nie op iets verkeerds betrap word nie. Inteendeel. Hulle is deesdae baie vriendeliker teenoor hul juffrou en baie hulpvaardig in die klas.
“Wat gaan skielik met julle twee aan?” vra sy op ’n dag geïrriteerd deur hierdie veranderde houding van die tweeling, terwyl sy aanvoel dat daar iets agter skuil. Nog meer, sy het die nare gevoel dat dit eintlik teen haar gemik is, hoewel sy nie kan verklaar hoe en hoekom nie.
“Hoe bedoel juffrou nou?” wil Tokkie onskuldig weet, ewe vriendelik.
Estelle frons skerp. Sy kan net nie die gevoel afgeskud kry dat dié kinders eintlik besig is om nie met haar te lag nie, maar vír haar.
“Julle hou net eenvoudig nooit meer op met glimlag nie,” antwoord sy vererg. “Dit lyk asof dit so vasgegroei het! Hier skuil iets agter, nè?”
Die tweeling het die gawe om soms regtig stokonnosel te lyk. Hul gesigte neem nou daardie uitdrukking aan wat hul klasonderwyseres al hardop wou laat uitgil.
“Hoe bedoel juffrou nou?” is dit weer Bokkie wat vra.
Hul juffrou se oë begin blits op die kenmerkende manier wat hulle al goed leer ken het. “Kyk, ek is nie onnosel nie. Daar is iets aan die gang met julle twee. Ek weet dit!”
Nou lyk hulle regtig deur die mis en Estelle Huizeman moet op haar tande byt. Die frustrerendste van alles is dat hulle niks doen sodat sy ’n vat op hulle kan kry nie. Soos nou. Hulle staar haar net soos twee imbesiele aan, en dan skielik breek daardie allesomsluitende, vriendelike glimlaggies weer deur.
Sy swaai weg van hulle en sê op ’n hoë, skril stemtoon wat duidelik verraai dat haar senuwees nie meer te waffers is nie: “Los die boeke en gaan maar huis toe. Julle kan môre verder regpak. Kom net onder my oë uit!”
“Goed, juffrou. Middag, juffrou.”
“Tot siens, juffrou.”
Sy word byna verswelg deur die afskeidsglimlaggies en sy sak kreunend agter die tafel op die stoel neer. Sy het nog altyd gewonder hoekom sy ’n onderwyseres geword het, want sy is glad nie erg lief vir kinders nie. Meestal irriteer hulle haar. Maar wat haar besiel het om haar visier op ’n wewenaar met ’n onhebbelike tweeling te stel, weet sy nie. Tog ken sy die antwoord. Benewens die feit dat die jare begin aanstap en die kanse op ’n huwelik al skraler word, is die betrokke wewenaar ’n baie aantreklike man en sal dit vir haar ’n persoonlike oorwinning wees as sý die een is wat hom ná soveel jare aangekeer kry.
As hy net nie hierdie tweeling gehad het nie!
Aan die veilige kant van die klaskamerdeur glimlag die twee breed teenoor mekaar. So ver gaan dit goed!
Dit was weer Tokkie wat met die wyse raad gekom het nadat hulle verseker was dat hulle tant Lara gaan kom.
“Hiervandaan af moet ons niks doen wat ons in die moeilikheid kan laat beland nie, Bokkie. Veral nie by Pa en ou Snuffelpot nie. Ons moet so gaaf teenoor haar wees soos ons moontlik kan, want ek kry stuipe as ons planne deur die mat val.”
“Hoe kan dit deur die mat val? Tannie Lara het klaar laat weet dat sy daardie dag en datum hier sal aankom.”
“Ja, ek is nie bekommerd oor haar nie. Maar die duiwel begin my nou wysmaak Pa kan dit maklik in sy kop kry om ou Huizeman te vra om hier by ons te bly solank hy gaan jag en dan gaan ons almal saam na haar plaas toe. Ons moet sorg dat daar nie met ’n speld op ons gedruk kan word nie. Pa, en sy, moet gerus wees om ons hier alleen by tant An te los.”
Bokkie het hewig ontsteld gelyk by die gedagte aan die moontlikheid dat daar nou iets met hul planne skeef kan loop. “Ek kry meer as stuipe as ou Snuffelpot ons gaan oppas solank Pa gaan jag. Jy’s reg, Tokkie. Ons sal ons moet gedra.”
Van daardie oomblik af is daar nie twee voorbeeldiger, soeter, gawer, hulpvaardiger kinders in daardie skool as juis die skoolhoof se tweeling nie. Dis te goed om te glo, soos een van die personeellede opmerk, en hul klasonderwyseres stem stilswyend saam. Net ... sy glo dit nie! Hier is ’n slang in die gras. Daarvan is sy seker.
Henk Beukes het egter nie daardie negatiewe gevoel oor die tweeling se veranderde houding nie. Hy verklaar dit weer heeltemal anders. Die tweeling het eindelik besef en aanvaar dat hulle nou groot meisies is en hulle dienooreenkomstig behoort te gedra. Hulle het eindelik dametjies geword!
Tokkie was glad nie verkeerd in haar voorgevoel dat hul pa met die gedagte gespeel het om Estelle te vra om hier ’n ogie te hou solank hy weg is nie. Hy was bekommerd om die tweeling vir tien dae net in die sorg van tant An te los. Hy weet maar te goed hoe maklik kom hulle by haar verby. Maar noudat dit tog duidelik blyk dat sy dogters eindelik verstandig geword het en hulle soos welopgevoede, volgroeide kinders kan gedra, sien hy af van daardie gedagte. Die tweeling sou nooit weet watter naelskraapse ontkoming hulle werklik gehad het nie.
Dis met die grootste verligting dat hulle hul klasonderwyseres groet voordat sy met vakansie huis toe vertrek, en Bokkie klap met haar palms teen haar wange toe Estelle se rooi motortjie om die hoek verdwyn.
“O, gorrel, ek sal nooit weer my gesig op sy regte plek terugkry nie!”
“Wat bedoel jy?”
“My kiewe is stokstyf van al die