Ena Murray Omnibus 39. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
’n interessante speletjie en tot die tweeling se verbystering het hierdie tannie van hulle inderdaad nie sommer net gepraat nie. Sy wys hulle elke keer reg uit, hoe hulle ook al omruil terwyl sy met haar rug na hulle staan. Hul bewondering bereik groot hoogtes. Hul nuwe ma is nie net mooi nie, sy is sommer baie slim ook, want net ’n baie slim mens kan hulle twee so dadelik van mekaar onderskei.
Dis die eerste ding wat tant An ook hoor toe hulle die kombuis binnekom om tee te drink. “Tant An, tannie Lara weet sowaar al wie is wie!”
“Ja, regtig, tant An. Ons het haar getoets!”
Tant An glimlag. “Kom sit, Lara. Jy kry meer reg as ek. Ek kon nog nooit heeltemal sê wie is wie nie.”
“Dis eintlik baie maklik, tante. Ek sal u later sê hoe om hulle maklik te onderskei,” sê sy tergend, maar daarmee is die tweeling nie tevrede nie.
“Ons wil ook weet. Ag, sê vir ons ook, asseblief!”
“Nou goed. Kom staan hier langs mekaar. Kyk, tante. Tokkie het ’n klein, fyn merkie bokant haar regteroog en Bokkie het nie. Sien, tante?”
“O, dis waar sy daardie tyd uit die boom geval het. ’n Stok het daar ingesteek,” laat Bokkie hoor, en tant An skud haar kop.
“Nee wat, kind, my oë is al te sleg. Ek sal elke keer eers my bril moet gaan haal. Maar solank jy hulle net kan onderskei ... Dit pas hulle soms baie goed dat niemand weet presies wie is wie nie.”
“Wel, ek weet beslis wie is wie en hulle moenie dink hulle sal vir my om die bos kan lei nie.”
Maar te oordeel na die tweeling se gelukkige gesiggies, gee hulle glad nie om nie.
Daardie aand spreek die tweeling hul bewondering telkens hardop uit terwyl hulle sit en toekyk hoe Lara haar klere uitpak en in die kas ophang.
“Dis baie mooier as ou Snuffelpot s’n,” laat Tokkie hoor.
Lara vra, geamuseer oor al die byname wat sy al vanaand gehoor het: “Wie is ou Snuffelpot?”
“Dis ... dis ons klasonderwyseres. Haar naam is eintlik Estelle Huizeman.”
Lara trek haar wenkbroue op. “Dis darem nie ’n mooi manier om van ’n mens se juffrou te praat nie, Bokkie.”
“Ja, maar tannie, sy ... sy snuffel oral rond. Daar is nie ’n plekkie waar sy nie al gekrap het nie. In ons kaste ...” Bokkie voel skielik Tokkie se waarskuwende blik op haar brand en sluk die res van die sin in.
“Ja? Wat van jul kaste?”
Tokkie dink vinnig. “Nee, sommer kaste in die klaskamer waar ons ou boeke bêre en so aan. Oe, tannie, dis darem ’n mooi rok daardie! Tannie moet eendag vir ons ook sulke mooi rokke koop.”
Lara draai terug van die kas, haar oë tergend. “Ek het dan gedink julle kan nie rokke verdra nie en is net lief vir klinknaelbroeke.”
Tokkie lag verleë. “Ja, maar as die rokke lyk soos tannie s’n ... En die klinknaelbroeke wat tannie koop, is mooi. Dit lyk anders as die seunsbroeke wat ons altyd gedra het.”
“En hoe kry tannie Lara tannie se hare so mooi? En waarmee was tannie hulle? Hulle blink soos ... soos opgevryfde goud,” vul Bokkie bewonderend aan, en Lara glimlag teer. Dis dingetjies wat meisies van hulle ouderdom al lankal by hul ma’s geleer het, maar ...
“Ons kan môre jul hare was, dan sal ek julle wys. Dis ’n spesiale soort sjampoe wat die hare voed en gesond hou. En dan blaasgolf ons jul hare nes myne.”
“Blaasgolf?”
“Ja. Jy kam dit met ’n borsel terwyl dit nat is en terselfdertyd maak jy dit ook droog met ’n haardroër. Dan hang die punte so netjies omgekrul na onder. Ons sal miskien net so ’n bietjie aan jul hare moet knip om dit vorm te gee.”
“O ja, tannie!”
Lara word byna ingesluk deur die twee glimlagte. “Oe, dis lekker om tannie hier te hê! Ag, tannie moet sommer laaaaank by ons kuier, toe, tannie?” word gesoebat.
Lara frons effens. Dis een van die dinge waaroor sy nie helderheid het nie. Hoe lank verwag hierdie kinders se pa moet sy hier kuier? Sy veronderstel totdat hy terugkom ... of sou hy verkies dat sy voordat hy hier aankom weer weg moet wees?
Tant An kan nie anders as om op te merk hoe die tweeling die kuiergas aanhang en elke woord van haar indrink en elke beweging van haar bewonderend dophou nie. Die bietjie ontsteltenis wat nog in haar oorgebly het oor hierdie geheimsinnige vriendin van Henk, verlaat haar heeltemal. Daar bestaan geen twyfel nie. Die tweeling dink die son skyn uit haar uit, en hoe meer tant An haar sien en na haar luister, haar self ook dophou en sien hoe sy die tweeling beheer en heeltemal verower, weet sy dat sy nou maar met ’n geruste hart haar plek in die ouetehuis kan gaan bespreek.
Henk het hier ’n vrou uit een stuk. Enkele ure ná kennismaking weet sy dat Henk en die tweeling drie baie gelukkige mense is om Lara Kirsten deel van die gesin te kan maak. Nou kan tant An ook begryp hoekom Estelle Huizeman geen hond haaraf met hulle kon maak nie. Daar is net geen vergelyking tussen die twee vroue nie.
Toe die tweeling eindelik daardie aand oorreed word om te gaan bad en slaap – nadat die godin van volmaaktheid, in hul oë, van haar lekkerruikgoed in hul badwater gegooi en die tweeling vir die eerste keer die luuksheid van ’n borrelbad gesmaak het – sit tant An en die gas nog ’n kort rukkie en gesels.
Natuurlik kan tant An sterf van nuuskierigheid om die hele verhaal agter alles te hoor, maar sy voel darem ook aardig om sommer die vrou trompop te vra. Sy vis maar so verlangs uit en Lara dink eers goed na voordat sy antwoord, want sy wil onder geen omstandighede die baas van die huis in verleentheid bring nie. Daarom omseil sy baie vragies en wat sy wel vertel, laat tant An nie veel wyser word nie. Teen die end van die aand weet sy ook maar nog net soveel as wat sy aan die begin geweet het – dat hulle ’n paar maande gelede by vriende aan huis ontmoet het; dat hulle sedertdien korrespondeer en ... dis al.
Natuurlik verwys tant An glad nie na die tweeling se praatjies dat daar al trouplanne in die vooruitsig is nie. Lara en Henk sal self die nuus aankondig wanneer hulle so voel. Maar tant An se hart is warm en gelukkig daardie aand toe sy gaan slaap. Lara Kirsten is ’n waardige opvolger vir Marlene. Henk is ’n baie gelukkige man om vir ’n tweede keer in sy lewe ’n vrou van daardie gehalte te kry.
En, foei tog, dink tant An met medelye. Sy is nog jonk, maar het ook al deur diep waters gegaan. Tant An het stil gesit en luister toe Lara haar van die ongeluk vertel het en al meer oortuig geraak dat Henk nie ’n pasliker lewensmaat vir hom kon uitsoek as hierdie vrou nie. Sy moes, nes hy, al ’n lewensmaat aan die dood afstaan. Dis ’n soort smart wat hulle albei ken, ’n paadjie wat albei al gestap het. En Lara het self ook tweelingdogters gehad. Die tweeling sal dus ’n ma kry wat tweelinge verstaan. Dat sy beslis weet hoe om hulle te hanteer, is ook seker. Nee. Die ou tannie het geen vrese hoegenaamd meer oor Henk en die tweeling se toekomsgeluk nie. Dis veilig in Lara Kirsten se hande.
In haar kamer lê Lara nog lank wakker en luister na die stilte om haar. Dis amper met verwondering dat sy terugdink aan haar gesprek met tant An. Dis die eerste keer dat sy so kalm oor die ongeluk en haar groot verlies kon praat. En terwyl sy daarvan vertel het, was dit met getemperde smart. Ook nou, terwyl sy haar dierbares weer in herinnering roep, is dit nie met daardie allesoorheersende, verskeurende pyn in haar nie. Ook nie met daardie wanhopige gevoel dat die lewe niks meer verder vir haar inhou of ooit sal kan inhou nie.
Nee. Weliswaar blink die trane in haar oë weer soos netnou toe sy tant An daarvan vertel het. Maar dis trane wat nie rol nie; trane wat opstoot uit ’n getemperde hartseer en ’n hart wat eindelik aanvaar en berus het. Hulle sal nooit vergeet word nie, en hulle sal altyd deel van haar bly – ’n mooi, soet, volmaakte herinnering in ’n spesiale hoekie van haar hart. En sy sal haar liewer nie meer in die toekoms blind staar teen die verlies van hulle nie, maar veel eerder met waardering en groot dankbaarheid die paar jaar koester wat sy bevoorreg was om hulle te kon hê.
Daar waar hulle nou is, het hulle haar nie meer nodig nie. Maar daar is ander wat haar nodig het, ander