En die klippe sal uitroep. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Dit gaan blykbaar om kos daar.” Hy lyk opreg ontsteld en sy verduidelik: “Jy kan self die sommetjie maak, Manie. Hulle het al die jare op die plaas gebly. Hulle het verniet gebly, hout en water was verniet, hulle het hul kosrantsoene gekry, nie waar nie? Soos meel en vleis en groente?”
“Natuurlik. Hulle het nooit honger gely nie.”
“Maar nou sit hulle op die dorp in ’n huis waarvoor hulle elke maand huur moet betaal. Die water en elektrisiteit kos ekstra. Daar is geen rantsoene meer nie. Intussen styg die lewenskoste elke dag en hulle moet dieselfde pryse in die winkel betaal as ek en jy. Jy weet hoe lyk die inflasiekoers. Mediese dienste kos wel die minimum, maar intussen moet hulle nog by die hospitaal, die kliniek of die dokter kom om dit te kry. Dit bring weer vervoerkoste mee. Ek sê jou eerlik, ek weet nie hoe party mense kop bo water hou nie.”
Hy knik peinsend. “Ek staan skuldig, suster … of kan ek jou maar Miempie noem?”
“Natuurlik kan jy.” Sy glimlag, hou al meer van dié man. “Ek bedoel dit nie as ’n beskuldiging nie, Manie. Ek noem maar net feite, en vra begrip.”
Ook sý oë vertel wat hy van die meisie dink. “Ek is baie dankbaar dat jy dit onder my aandag gebring het, Miempie. Ek glo nie my pa het doelbewus onsensitief of onsimpatiek opgetree nie. Ek glo hy het gedink hy bewys hulle ’n guns toe hy vir hulle plek op die dorp gekry het. Maar dit was nietemin onnadenkend.” Hy sug. “Jy weet, so word die kwade gevoelens in hierdie land dikwels gevoed. Daar word meestal nie doelbewus kwaad bedoel nie. Maar ons tree so dikwels onnadenkend teenoor mekaar op. Ek belowe jou ek sal onmiddellik hierop ingaan en wat oupa Piet en ouma Sanna betref, ek sal hulle vandag nog gerusstel. Hulle kan op Baardskeerderspoort bly tot die dag van hul dood. En hulle sal in hiérdie aarde ’n laaste rusplek kry.”
Sy staan op, voel die trane in haar oë. O, as almal maar hierdie gesindheid wil openbaar! “Dankie, Manie. Nou kan ek met ’n geruste hart gaan.”
Die warm gevoel om Miempie se hart vervaag toe sy met die volgende plaas se imposante rylaan opry. Grootfontein. Wilhelm en Ruda Visser se plaas. Maar sy gaan nie by die plaashuis aan nie. Met haar terugkeer sal sy by die agterdeur stilhou en uitklim om met die huishulp te gaan gesels en te hoor of sy enige kwale het. Nou gaan sy eers na die strooise. En strooise is dit. Sy dink weer aan Manie Bredenkamp se woorde en vra haar af: Is dit ook onnadenkendheid, of is dit siende blind wees? Wilhelm Visser is ’n ryk man. Hy kan sekerlik beter huise vir sy werkers bekostig. Of is dit maar net ’n geval van nie omgee nie?
Sy sug, klim uit en spreek haarself streng aan: Dis nie jou werk om jou oor Wilhelm Visser se werkers se omstandighede te bekommer nie. Dis sý gewetensaak, nie joune nie. Maar dit help nie. Toe sy ’n ruk later weer in die kombi klim, weet sy sy kan die saak nie daar laat nie. Hierdie mense se fisieke welsyn rus op háár gewete en sy durf die feit nie ignoreer nie.
Sy doen haar werk by die agterdeur waar Sarie en Siena hulle aanmeld, maar anders as gewoonlik vertrek sy nie sommer dadelik nie. Ook die Vissers ken sy nie. Ruda Visser het sy al op die dorp en in die kerk gesien, maar hierdie dame het haar nog nooit verwerdig om eens haar kop in haar rigting te knik nie, wat nog te sê haar te vra of sy ’n koppie tee sal geniet. Maar vandag moet sy die eienaars van aangesig tot aangesig spreek.
“Is meneer Visser hier?”
“Nee, suster. Hy’s dorp toe.”
“En mevrou Visser?”
“Sy drink tee op die voorstoep.”
“Dankie.” Miempie stap sommer deur die huis voorstoep toe, en die weelde ontgaan haar nie. Sy sien die vrou verbaas opkyk toe sy in die voordeur verskyn. “Goeiemôre, mevrou Visser. Ek is jammer om jou te steur, maar daar is ’n kwessie wat ek dringend met jou moet bespreek, asseblief.’
Die groet word nie erken nie en nog minder word sy genooi om te kom sit. Die vraag klink redelik kortaf: “Wat is die probleem?”
Miempie het so ’n soort ontvangs verwag en sy bly styf voor die vrou staan, maar met ’n reguit blik en ’n uitdagende ken. “Ek vermoed tuberkulose by sommige van julle werkers. Ek sal reël dat hulle getoets word. So gou moontlik, natuurlik.”
Ruda Visser frons. Sy is ’n mooi vrou, maar sy het ’n onvergenoegde uitdrukking op haar gesig. “Ons kan nie sommer ’n klomp werkers gelyktydig dorp toe laat gaan nie. Hoeveel het dit, en hoekom vermoed jy dit?”
“Die tekens is duidelik sigbaar by die vroue en kinders wat ek vanoggend gesien het. Siena, julle kok, het ook ’n kenmerkende teringhoes. Die mans het ek nie nou te siene gekry nie. Dáár sal waarskynlik ook ’n paar gevalle wees.”
Mevrou Visser is duidelik geïrriteerd: “Van die werkers rook enige gemors, suster. Van dagga tot gras. Wat verwag jy? Natuurlik sal hulle hoes. Dis …”
Miempie val haar in die rede: “En hulle bly in strooise wat kwalik bydra tot ’n gesonde leefruimte.”
Die ongeërgdheid verdwyn uit die vrou se oë. “Ekskuus?” vra sy kil.
Maar Miempie staan haar man. “Behuising – waar die mense bly en hoeveel hulle saam in een huis is – dra baie by tot tuberkulose, mevrou. Die vroue sê vir my dat die strooise veral in die winter erg klam is. Die vlei stoot so hoog op dat die mure klam deurslaan. Daar is een stroois waarin tot twaalf mense snags slaap … ’n eenvertrekhuis. En in die winter word die gate wat as vensters moet dien, toegestop. ’n Ideale broeiplek vir allerhande siektes, veral vir tuberkulose.” Ruda Visser se mond gaan oop, maar Miempie spring haar voor: “Ek is jammer, mevrou, maar ek moet hierdie dinge onder jou aandag bring. Dit sal weinig help om die mense vir tuberkulose te behandel terwyl hul lewensomstandighede bly soos dit is.”
Die stem is ysig. “Verstaan ek jou reg, suster? My man moet ander huise vir die werkers bou omdat jý so sê?”
“Jy verstaan my heeltemal reg, mevrou. Tensy jy nie omgee om jouself en jou gesin in gevaar te stel nie. Hulle sal jou van die kliniek af laat weet wanneer die mense moet inkom vir die toetse en ek sal aanbeveel dat die mans ook getoets word. Goeiemiddag, mevrou Visser.”
Hoewel sy so koel soos ’n komkommer voorkom terwyl sy wegstap en oomblikke later die werf uitry, is Miempie glad nie so seker van haarself nie. Inteendeel. Sy raas al weer met haarself, hoewel sy weet die koeël is reeds deur die kerk: Jy met jou groot mond! En die woordjie takt het jy seker nog nooit van gehoor nie!
Maar van die oomblik dat sy in Ruda Visser se koel oë gekyk het, was alle mooipraat en diplomasie na die maan. Dank die Vader sy is nie een van hierdie vrou se werknemers nie! Maar daar is ’n ongemaklike gevoel in haar dat sy vorentoe wel die vrugte van haar optrede gaan pluk … en dit gaan nie soet smaak nie.
Vir die tweede keer daardie dag moet Miempie haar gedagtes vinnig terugruk na die hede en nog vinniger die rem vasskop. ’n Motorfiets het skielik om ’n draai voor haar in die plaaspad verskyn. Die persoon op die motorfiets skrik ewe groot en koers sommer wild die bosse in. Ontsteld sien Miempie hoe die motorfiets omval.
Haar bene dra haar vinnig na die ongelukstoneel en sy slaak ’n sug van verligting toe sy sien hoe die persoon stadig orent kom. Die volgende oomblik is sy by haar.
“Ek is jammer. Ek kon jou nie sien aankom nie. Het jy seergekry?”
“Nee.” Die valhelm word afgehaal en Miempie kyk teen ’n jong meisie van sowat vyftien se gesig vas. Natuurlik Yolande Visser. Haar maag maak ’n draai. As sy darem vandag die enigste kind van die Vissers doodgery het …
“Is jy seker? Kom ons kyk of alles nog werk …”
“Ek makeer niks nie.” Die stem is opstandig.
Miempie vererg haar effens. So ’n klein snip … “Jy weet, jy het ’n bietjie vinnig om daardie draai gekom. Jy kon lelik seergekry het.” Geen reaksie nie. Die meisie begin die motorfiets optel en ná ’n oomblik van aarseling sê Miempie: “Nou ja, as jy dan niks oorgekom het nie … Tot siens.”
“Wag eers.” Toe Miempie terugkyk, kom die vraag: “Wie is jy?”
“Die