Plekkie in die son. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
“Karen! Karen! My liefling, my liefling …” prewel hy oor en oor.
Karen sluit haar droë oë wat stram en seer voel van die strak staar, en haar arms gly krampagtig om sy nek. Sedert sy ’n paar uur gelede op hierdie bed kom sit het, het sy nie eens een keer beweeg nie. Alles het ver en vir altyd van haar verwyder gevoel. Maar nou skielik is Otto hier, haar man se arms om haar, en sy voel nie meer so eensaam en verlate nie. Haar man is by haar. Hy hou haar vas. Sy is nie alleen in hierdie afgryslike ding soos sy haar die afgelope ure verbeel het nie. ’n Ruk lank was sy afgesny van alles wat vir haar dierbaar is, maar nou het die dinge weer naby gekom. Sy is bewus van haar man se hartstogtelik gefluisterde liefdeswoorde, en elders in die huis hoor sy die baba huil.
Dis of sy skielik uit ’n vreemde dood ontwaak.
“Klein Otto huil …”
Maar hy hou haar net stywer vas.
“Sanna is by hom, Karen.” Hy skuif haar gesiggie terug teen sy skouer en sy oë brand met ’n gloed wat sy nog nie tevore gesien het nie. “My vroutjie, jy moet jou nie hierdie dinge so sterk aantrek nie. Alles sal regkom. Kyk, jy is nog nie ernstig nie, ek bedoel, dis nog nie ver gevorder nie. Dit kan nog gekeer word, natuurlik,” praat hy vinnig, hoewel hy nie weet of hy hierdie bemoedigende woorde durf uitspreek nie.
Dit tref hom dat hy nie eens weet of Karen gehelp kan word nie, of daar al iets deur die mediese wetenskap gevind is om ’n einde aan dié helse siekte te maak nie. Maar hy gaan dit nie sê nie. Ook aan homself wil hy nie die ontsettende moontlikheid dat Karen miskien ongeneesbaar is, erken nie. Natuurlik moet Karen gesond gemaak kan word, van hierdie monsterding bevry word. Sy kan tog nie die res van haar lewe melaats wees nie! Dis ondenkbaar! Dit … dit kan net nie gebeur nie!
Binne-in hom skrei dit toe hy die flikkerende vlammetjie van hoop en nuwe moed in Karen se oë sien ontbrand.
“O, Otto, my man, ek sien vir alles kans solank ek vir jou en Otto’tjie by my het. Solank julle net by my is, by my bly …”
Sy druk haar gesig hard teen sy keel vas en die eerste keer spoel die warm, vertroostende trane oor haar wange. Otto se een hand druk hard teen haar agterkop vas, en sy adamsappel werk krampagtig toe hy bokant haar kop belowe:
“Jy sal ons altyd by jou hê, my liefling. Ons sal altyd by jou wees.”
Hy besef nie dat hy die belofte in die grootste onkunde aflê nie, en dat dit nie in Otto Viljoen se mag is om hierdie belofte na te kom nie. Gelukkig weet Karen dit ook nie …
Dokter Jan Dekker word daardie aand deur Otto by die voordeur ingewag, en hulle stap dadelik deur sitkamer toe waar Karen wag.
Die kennersoog van die ou geneesheer bestudeer die twee jong gesigte voor hom besorg. Die spore van die afgelope paar uur lê reeds op hul gesigte. Dokter Jan besef nie dat ook hy in die helder elektriese lig ouer en moeër as gewoonlik lyk nie.
Hy val saaklik weg:
“Jul afspraak is môreoggend om elfuur by die kliniekafdeling van die inrigting. Dis in die buitewyke van die stad, en jy behoort die plek maklik te kry, Otto. Dokter Louw, die superintendent, sal julle daar te woord staan. As julle vroeg ry, behoort julle meer as genoeg tyd te hê.”
Hy sit ’n lang, wit koevert op die tafeltjie neer. “Hier is al die besonderhede, asook die verslag van die laboratorium. Gee dit ook aan hom, asseblief. Ek weet nie of daar nog iets is nie.” Hy kyk na Karen, en die saaklikheid verdwyn uit sy stem. “Is daar iets wat jy wil weet, my kind?”
“Wat … wat is die plek se naam … die inrigting se naam, oom Jan?”
“Hulle noem dit … Genadendal.”
Die antieke staanhorlosie in die een hoek voer ’n paar lang, lang oomblikke ’n alleengesprek. Toe herhaal Karen die naam skor:
“Genadendal.” En weer langsaam, uitgerek: “Genadendal …”
3
Dis twee swyende mense wat met die lang rylaan tussen amper bloeiende jakarandas afry tot waar Otto eindelik stilhou. Nog steeds woordeloos sit en kyk hulle na die twee siersteenpilare aan weerskante van die hek met die boog wat bo-oor span. Genadendal.
Die veiligheidsbeampte in ’n netjiese kakie-uniform kom hulpvaardig nader. Otto se stem klink kortaf, amper bot toe hy die nodige verduideliking gee.
“Ons het ’n afspraak met dokter Louw.”
“Meneer kan maar deurgaan,” sê die man dadelik, en lig die knip van die hek op.
“Weet jy miskien waar ons dokter Louw sal kry? Waar is die kliniekgebou?” vra Otto toe hy langs hom verbykom.
“Meneer ry net met hierdie laning bome saam totdat meneer by ’n klein gebou kom. Voor op die deur staan Navrae. Hulle sal daar vir meneer sê waarheen om te gaan.”
Otto knik en trek stadig weg, sy oë strak voor hom gerig, maar intens bewus van die stil mensie langs hom.
En langs hom maak Karen haar oë toe. ’n Veiligheidsbeampte voor die hek! Hier is geen vrye deurgang van binne na buite of van buite na binne nie, want dis Genadendal dié – die woonplek van melaatses! ’n Ligte siddering trek deur haar terwyl sy weer die episode van ’n rukkie gelede beleef. Otto het ’n jong verkeerskonstabel in die middestad nader gewink om die pad verder te vra.
“Ons soek die pad uit na Genadendal. Kan jy my sê …?”
“Genadendal? O, die plek van die melaatses?”
“Ja.”
“Hemel, wat wil jy dáár gaan maak, meneer?” Die seun, want hy was nog maar ’n blote kind, het Otto eers verbaas, toe nuuskierig aangekyk. Sy blik het na Karen gedraai en sy het ineengekrimp in haar hoekie. Dit het vir haar gevoel asof sy hardop kan uitskreeu: Kan jy dan nie sién wat ek dáár wil gaan maak nie?
Otto se stem het bitsig opgeklink:
“Ek dink nie dit gaan jou aan nie, meneer. Ek wil net die pad daarheen weet.”
“O ja, natuurlik, meneer. Ekskuus, meneer.” Hy het sy verbasing bedwing en die pad beduie.
Karen voel nou weer hoe dit in haar saamtrek. Hoe kan sy Otto kwalik neem dat hy skaam is om aan ’n onbekende bloedjong man te erken dat hy sy vróú na Genadendal neem? Hul koms hierheen is tot dusver ’n groot geheim. Selfs Sanna, wat vandag vir klein Otto moet versorg, weet maar net dat haar werkgewers die dag stad toe is. Dis net dokter Jan en sy jong vennoot wat weet dat Otto Viljoen en sy vrou vandag soos twee skelms by die hekke van ’n melaatse-inrigting gaan insluip en in hul harte sal bid dat die wêreld nie so klein moet word dat hulle hier of in die omtrek ’n bekende raakloop nie.
Otto slaak amper hoorbaar ’n sug van verligting toe die man in die navraekantoor hom kalm vra waarmee hy kan help. Hy het half verwag om ook hier die nuuskierigheid en verbasing, en ja, bejammering in die ander se oë te lees. Die man se stem klink egter so doodnormaal dat dit amper as ’n skok tot hom kom, so asof hy elke dag van sy lewe mense van buite in hierdie kantoor sien instap.
’n Rukkie later hou hulle stil op ’n parkeerterrein wat heerlik koel beskadu word deur jakaranda- en ander bome. Nóg man nóg vrou sien egter iets raak van hierdie goed beplande kompleks. Al waarna hul oë soek, is die kliniekgeboutjie, omring deur ’n paar ander losstaande geboue. Hulle is vaag bewus van heelwat voetgangers op en langs die nou teerstraatjies; dat mense in wit jasse en uniforms heen en weer by deure in- en uitbeweeg.
Eers toe hulle voor die toe gaasdeur van die kliniek kom, kyk hulle van die grond af op.
Op daardie oomblik druk ’n Engelssprekende verpleegster die deur van binne oop en vra:
“Kan ek u help?”
“Ons het ’n afspraak met dokter Louw,” herhaal Otto.
“Hy is in sy kantoor. Dis in die gebou langsaan. Die dame daar sal u verder help.”
Otto draai ongeduldig weg, maar