13 uur. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
“Bingo,” sê Arnold.
“Ek het jou gesê hy gaan dit dadelik kry,” sê Jimmy.
“Ja,” sê Dekker. Hy klink teleurgesteld. “Dis ’n outomatiese pistool, drie rondtes afwesig uit die magasyn, maar hier’s nie doppies nie. Geen bloed op die vloer nie, daar’s nie skietgate in die mure of boekrakke nie, en die skoen makeer,” sê Fransman Dekker. “Ek het die hele huis deurgeloop. Jimmy-hulle het deur die tuin gekyk. Sy’t hom nie hier geblaas nie. Ons gaan die kar in die straat moet deurkyk …”
“Waar is sy?”
“In die sitkamer, by Tinkie Kellerman van Maatskaplik.”
“Klop, klop,” sê iemand van die deur af. Dit is die langhaar-fotograaf.
“Kom in,” sê Dekker. “Jy’s laat.”
“Omdat ek eers fokken prints moes maak vir …” Hy sien vir Griessel. Sy houding verander. “Vusi het sy foto’s, Bennie.”
“Dankie.”
“Jimmy, het julle haar al vir GSR getoets?” vra Dekker.
“Nog nie. Maar ek het haar hande in papier gesit. Sy’t dié nie ge-like nie.”
“Kan julle haar gou gaan doen? Ek kan nie met haar praat as sy papiersakke om haar hande het nie.”
“As sy aan die pistool gevat het, gaan sy GSR hê. Ek weet nie of jy veel daarmee sal kan doen nie.”
“Laat ék daaroor worry, Jimmy …”
“Ek sê maar net. Gunshot residue is nie meer wat dit was nie. Die advokate raak slim.” Jimmy haal ’n boksie uit sy tas. Daarop staan “SEM Examination”. Hy loop na die trappe toe, met die twee speurders agterna.
“Fransman, jy’t goeie werk gedoen,” sê Griessel.
“Ek weet,” sê Dekker.
* * *
Die Metro-polisie se CCTV-beheerkamer is ’n indrukwekkende vertrek; dit het twintig flonkerende televisieskerms, ’n hele bank video-opnemers en ’n beheerpaneel wat lyk soos ’n NASA-pendeltuig s’n. Speurder-inspekteur Vusi Ndabeni staan en kyk na ’n monitor: Die greinerige beeld van die klein, hardlopende figure in die straatligte van Langstraat. Nege sekondes van materiaal, nou in stadige aksie, sewe skaduagtige mense in ’n desperate wedloop van links na regs oor die skerm. Die meisie is voor, net uitkenbaar danksy die donker boggel van die rugsak. Hier, tussen Leeuwen- en Pepperstraat, is sy net drie tree voor die naaste aanvaller, arms en bene wat hoog lig in vlug. Nog vyf mense is sestien, sewentien meter terug. In die heel laaste raam voor sy van die skerm verdwyn, kan Ndabeni sien sy begin haar kop na agter draai, asof sy wil kyk hoe naby hulle is.
“Dis die beste wat julle het?”
Die operateur is wit, ’n uil van ’n mannetjie agter ’n groot, ronde Harry Potter-bril. Hy haal net sy skouers op.
“Kan jy dit vergroot?”
“Nie regtig nie,” antwoord hy in ’n nasale stem. “Ek kan ’n bietjie speel met die brightness en contrast, maar as jy inzoom, kry jy net grain. Die pixels word nie meer nie.”
“Kan ons probeer, asseblief?”
Die Uil skuif en draai aan die knoppe voor hom. “Moenie wonderwerke verwag nie.” Op die skerm hardloop die figure stadig agteruit en vries. Dan pik die man op ’n sleutelbord en histogramme en tabelle verskyn bo-op die beeld.
“Vir wie wil jy beter sien?”
“Die mense wat haar jaag.”
Die operateur gebruik ’n muis om twee van die vyf agterste figure te selekteer, wat skielik die hele skerm vul. Hy tik weer op die sleutelbord en die beeld verlig, die skaduwees vervlak. “Al wat ek kan probeer, is ’n high pass sharpen …” sê hy. Die fokus verskerp effens, maar nie een van die twee mense is herkenbaar nie.
“Jy kan darem sien dis ouens, en die voorste een is swart,” sê die Uil.
Vusi kyk stip na die skerm. Dit gaan hom nie veel help nie.
“En jy kan sien dis nie ou mans nie.”
“Kan jy dit uitdruk?”
“O.K.”
“Hulle is net op die een kamera?”
“My shift is agtuur klaar. Dan sal ek kyk of daar nie iewers nog iets is nie. Hulle moes van Groentemark of Kerkstraat se kant af gekom het, maar dit gaan tyd vat. Daar’s sestien kameras in daai sektor. Maar nie almal werk meer nie.”
“Dankie,” sê Vusi Ndabeni. Maar een ding verstaan hy nie: As een van die aanvallers hier, by Pepperstraat, net drie tree agter haar was, hoekom het hy haar nie gevang voor die kerk nie? Dis vyfhonderd meter, dalk meer. Het hy gegly? Geval? Of doelbewus net gewag vir ’n stiller plek?
“Nog een ding, as jy nie omgee nie …”
“Hei, dis my werk …”
“Kan jy vir my die twee vergroot wat voor hardloop?”
* * *
Griessel loop agter Dekker by die sitkamer in. Dit is ’n ruim vertrek, met groot banke en stoele om ’n tamaai koffietafel, smaakvol, oud, goed gerestoureer. Klein en tenger Tinkie Kellerman van die SAPS se Maatskaplike Dienste sit regop in ’n gemakstoel wat haar verdwerg. Sy’s die een wat laat haal word wanneer die slagoffer of verdagte ’n vrou is, want sy is vol deernis en empatie, maar daar is nou ’n frons van ongemak op haar gesig.
“Mevrou, kom ek haal die sakke van jou hande af,” sê Jimmy joviaal vir Alexandra Barnard, ’n geboë figuur in ’n te groot wit kamerjas. Sy sit vooroor op die punt van ’n groot viersitplekbank, haar elmboë op haar knieë, haar kop hang, ongewaste grys en blonde hare verberg haar gesig. Sy steek haar hande uit sonder om op te kyk. Jimmy maak die bruin papiersakke los.
“Ek moet net gou dié diskette op jou hande druk. Hulle is klewerig, maar dis al …” Hy breek die seël op die SEM-kissie en haal die ronde metaalskyfies uit. Griessel sien Alexandra Barnard se hande bewe, haar gesig nog steeds agter die lang hare bedek.
Hy en Dekker kies elkeen ’n stoel. Dekker maak sy notaboek oop.
Jimmy werk vinnig en sekuur, eers die regterhand, dan die linker. “Daar’s hy, dankie, mevrou.” Hy gee vir die speurders ’n kyk wat sê “hier’s ’n interessante een”, en dan pak hy op.
“Mevrou Barnard …” sê Dekker.
Tinkie Kellerman skud haar kop effens, asof sy wil sê die verdagte is nie kommunikatief nie. Jimmy loop uit terwyl hy sy oë rol.
“Mevrou Barnard,” sê Dekker, sy stem harder, saakliker.
“Ek het dit nie gedoen nie,” sê sy sonder om te beweeg, haar stem verrassend diep.
“Mevrou Barnard, u het die reg tot ’n regsverteenwoordiger. U het die reg om geen vrae te beantwoord nie. Maar as u sou kies om ons vrae te beantwoord, moet ek u meedeel dat u verklaring in die hof gebruik kan word.”
“Ek het dit nie gedoen nie.”
“Wil u ’n regsverteenwoordiger kontak?”
“Nee,” en dan lig sy haar kop stadig en druk haar hare weerskante weg van haar gesig af. Bloedbelope blou oë, vel het ’n ongesonde kleur. Griessel sien die eweredige gelaatstrekke, die skimpe van vergange skoonheid onder die spore van misbruik, en hy weet hy ken haar, hy ken ’n weergawe van hierdie gesig, maar hy kan haar op dié oomblik hoegenaamd nie plaas nie. Sy kyk vir Dekker, dan vir Griessel; haar enigste uitdrukking is een van volslae moegheid. Sy reik ’n hand na ’n tafeltjie langs haar uit en tel ’n pakkie sigarette en ’n aansteker op. Sy sukkel om die pakkie oop te kry en ’n sigaret uit te haal.
“Mevrou Barnard, ek is inspekteur Fransman Dekker. Dit is inspekteur Bennie