13 uur. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
stem van Tinkie Kellerman: “Fransman!”
Hy kom vinnig orent en loop deur toe.
“Fransman!”
“Hier,” roep hy. Hy sien vir Kellerman op die bopunt van die trap.
“Kom help,” sê sy. “Maak gou.”
* * *
Honderd meter anderkant die reservoir draai die paadjie links, bergaf, stad se kant toe, in ’n wye, vlak klofie. Rachel Anderson stap tussen dennebome deur, volg die roete om groot rotsblokke, sien die klipmuurtjie voor haar met die deurgang in die middel en daar voor regs, ’n byna voltooide huis agter ’n groot akkerboom. Die koelte is ’n diep skadukol, ’n plek vir rus, maar eers dink sy aan ’n kraan, haar dors is ’n vuurwarm koors.
Sy loop verby die motorhuis, haar oë soekend, straat se kant toe. ’n Opgesaagde denneboom lê die dubbelmotorhuis se deur vol, die stompe netjies gestapel. Sy sien die kraan langs die agterdeur van die huis, sy bid dat dit sal werk, sy loop vinniger, buk, draai dit oop. Die silwer water stroom daaruit, vir ’n paar sekondes warm, dan skielik koel. Sy gaan sit op een knie, draai die kraan effens toe en dan drink sy, só, direk uit die tuit uit.
* * *
Fransman Dekker het al genoeg deure oopgedwing om te weet jy gebruik nie jou skouer nie. Hy tree terug en hy skop. Dit splinter, maar bly toe. Hy skop weer, twee keer, voor dit breek en net veertig sentimeter oopswaai. Dit is genoeg om die bloed te sien.
“Ag, liewe Here,” sê Tinkie Kellerman agter hom.
“Wat?” sê Willie Mouton en probeer by haar verbykom.
“Meneer, jy kan nie …”
Dekker is in die badkamer. Hy sien vir Alexa Barnard lê. Hy trap in die bloed en draai haar kaal liggaam om. Haar oë is oop, maar sonder fokus.
“Ambulans,” roep hy vir Tinkie. “Nou.”
Hy buk en kyk na die skade. Haar linkerpols is diep gesny, minstens drie keer. Die bloed loop steeds daaruit. Hy gryp ’n kledingstuk wat op die vloer lê en begin dit om die wonde draai, so styf as wat hy kan.
Alexa sê vir hom iets, byna onhoorbaar.
“Mevrou …” sê hy.
“Die ander arm,” fluister sy.
“Ekskuus?”
“Sny die ander arm, asseblief,” en sy hou met ’n moeë hand die bottelskerf na hom toe uit.
* * *
Sy les haar dors en was die bloed van haar hande en arms en gesig af en dan staan sy op, draai die kraan toe en haal diep asem. Die stad is net hier onder …
Sy loop om die hoek van die huis, nou minder angstig, haar vrees deur die water getemper.
En dan sien sy hulle, net twintig tree weg, in die straat. Sy steek vas, skrik met ’n snak. Hulle staan met hul rûe na haar toe, langs mekaar. Sy ken hulle.
Sy staan versteen, sy hoor die oorverdowende klop van haar hart.
Hulle kyk in die straat af wat ondertoe loop. Die een draai sy kop, sê iets. Gaan hy haar sien?
Hy kyk weer vorentoe.
Sy gee ’n tree agteruit, nog een. Hulle kyk steeds bergaf. Die motorhuis. Met die boomstompe. Sy moet daar in. Vyf tree agter haar. Sy is te bang om van hulle weg te kyk, sy skuifel agteruit, doodbang sy sal op iets trap. As hulle net nie omkyk nie. Sy is langs die kant van die motorhuis, nog net een tree. En dan begin die een omdraai. Die een by wie alles begin het. Die een wat met die mes by Erin gebuk het.
10
In die ontbytkamer van die Cat & Moose Youth Hostel and Backpackers Inn sit die negentienjarige Oliver “Ollie” Sands met sy kop in sy hande. Hy is effens oorgewig, rooi hare, sy ligte vel het te veel son gehad en sy hoekige swartraambril lê voor hom op die tafel. Oorkant hom, naby die deur, sit inspekteurs Vusumuzi Ndabeni en Bennie Griessel.
“Mr Sands has identified the victim as Miss Erin Russel,” sê Vusi, met die foto van die slagoffer en sy notaboek voor hom.
“Geez,” sê Sands en skud sy kop agter sy hande.
“He’s been travelling through Africa with Miss Russel and her friend, Rachel Anderson. He does not know where Miss Anderson is. The last time he saw them, was last night in the Van Hunks, the nightclub. In Castle Street.” Vusi kyk na Sands vir bevestiging.
“Geez,” sê die jong man, laat sy hande sak en trek sy bril nader. Griessel kan sien sy oë is rooi.
“Mr Sands, you arrived in Cape Town yesterday?”
“Yes, sir. From Namibia,” die aksent onmiskenbaar Amerikaans, die stem, onvas, emosioneel. Sands sit die bril op sy neus en sy oë knip, asof hy Vusi vir die eerste keer sien.
“Just the three of you?” vra Griessel.
“No, sir, we were twenty-one. Twenty-three, actually, when we left Nairobi on the tour. But a guy and a girl from the Netherlands pulled out in Dar. They … didn’t like it.”
“A tour?” vra Griessel.
“The African Adventure tour. Overland, with a truck.”
“And you and the two girls were together?”
“No, sir, I met them in Nairobi. They’re from Indiana, I’m from Phoenix in Arizona.”
“But you were with the girls last night?” vra Vusi.
“A whole bunch of us went to the club.”
“How many?”
“I don’t … Maybe ten, I’m not sure.”
“But the two girls were part of the group?”
“Yes, sir.”
“What happened at the club?”
“We had a good time. You know …” Sands haal weer die bril af, vryf oor sy oë. “ … we had a few drinks, we danced a little …” Hy sit die bril terug.
Die gebaar maak Griessel agterdogtig.
“At what time did you leave?” vra Vusi.
“I … I was a little tired. I came back at about eleven.”
“And the girls?”
“I don’t know, sir.”
“They were still at the club when you left?”
“Yes, sir.”
“So the last time you saw Miss Russel alive, was at the club?”
Sands se gesig vertrek van emosie. Hy knik net, asof hy nie sy stem vertrou nie.
“And they were drinking and dancing.”
“Yes, sir.”
“They were still with the group?”
“Yes.”
“Could you give us the names of the people they were with?”
“ I guess … Jason was there. And Steven, Sven, Kathy …”
“Do you know the surnames?” Vusi trek sy notaboek nader.
“Not all of them. It’s Jason Dicklurk, and Steven Cheatsinger …”
“Could you spell that for us?
“Well, Jason, you know, J.A.S.O.N. and … I’m not sure about spelling his surname … Can I …
“Is Steven with a P.H. or a V?” Vusi se pen net bo die notaboek.
“I don’t know.”
“Steven’s surname?”
“Wait