13 uur. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
…”
“Dankie, Bennie.”
Griessel klim oor die muur. By die kerkterrein se hek sien hy ’n lang, somber man wat die slot oopsluit met ’n baie bekommerde frons. Die dominee het aangekom, dink hy, of noem hulle Lutherse predikante iets anders?
5
Die verkeer is nou onmoontlik. Net om van Langstraat tot in Buitengracht te kom, neem hom 15 minute. Teen Buitensingel se bult op staan hulle buffer teen buffer. Hy drink die laaste van die soet koffie. Dit sal hom hou tot hy iets te ete kry. Maar sy plan om Carla se e-pos gou te gaan aflaai, is nou daarmee heen. Dit sal seker moet wag tot vanaand toe. Hy is nou al ’n week van lyn af met die verdomde rekenaar; hy kan seker tot dan toe wag. Carla sal verstaan, want hy het van die begin af moeilikheid met die blikbrein gehad. Hoe moes hy weet jy kry skootrekenaars wat nie ingeboude modems het nie? Hy’t die ding op ’n polisieveiling van onopgeëisde gesteelde goedere gekoop vir ’n helse winskoop ’n week nadat sy dogter Londen toe vertrek het. Want hy wou weet hoe dit met haar gaan, sy Carla, wat “eers haar kop oorsee wil gaan skoon kry” voor sy besluit wat om met die res van haar lewe te doen.
Hoe kry jy jou kop skoon as jy vloere stofsuig in ’n hotel in Londen?
Dit het hom R500 gekos om die rekenaar aan die Internet gekoppel te kry, want hy moes ’n modem gaan koop en ’n Internet-diensverskaffer kry en drie uur lank met ’n mannetjie oor die telefoon praat net om die ding se konneksie reg te kry en toe wil Microsoft Outlook Express nie werk nie, nog ’n uur op die telefoon om dit opgelos te kry voor hy ’n e-pos vir Carla kan stuur om te sê Hier is ek, hoe gaan dit met jou? Ek verlang na jou en ek bekommer my oor jou. Daar was ’n artikel in Die Burger wat sê die Suid-Afrikaanse kinders in Londen drink baie en maak moeilikheid. Jy moet jou nie laat beinvloed nie …
Dis hoe hy uitgevind het dat om ’n kappie op ’n skootrekenaar se “e” te sit is net omtrent onmoontlik en hy het heeltemal moed opgegee met die deelteken in “beinvloed”.
Liewe Pappa
Ek het werk gekry in die Gloucester Terrace Hotel naby Marble Arch. Dit is ’n mooi deel van Londen, naby Hyde Park. Ek is ’n skoonmaker. Ek werk van tienuur in die oggend tot tienuur in die aand, ses dae per week, met Maandae af. Ek weet nie hoe lank ek dit sal kan doen nie, dit is nie baie lekker nie en die pay is maar min, maar dis darem iets. Die ander meisies is almal Pools. Die eerste ding wat hulle gesê het toe ek sê ek is van Suid-Afrika is “maar jy is dan wit”.
Pappa weet ek sal nooit drink nie …
Hy het dié woorde gelees en dit het regdeur hom gebrand, die wete, skielik weer nuutgemaak, van die skade wat hy aangerig het. Carla sal nooit drink nie, want haar pa is ’n alkoholis wat sy hele gesin opgefok het. Want jy kan vir eenhonderd-ses-en-vyftig dae al nugter wees, maar jy kan nie die verlede uitvee nie.
Toe weet hy nie wat om vir haar terug te skryf nie, sy woorde opgedroog deur sy onsensitiewe blaps. Eers twee dae later het hy haar lomp geantwoord, vir haar vertel van die fiets wat hy ry en sy oorplasing na die Provinsiale Taakspan. Sy het hom aangemoedig. Dit is so lekker om te weet wat in Pappa se lewe aangaan. Baie interessanter as myne. Ek werk en ek slaap en ek eet, maar ek was darem Maandag by Buckingham Palace …
En so het hulle korrespondensie ’n trant gekry waarmee hulle al twee gemaklik was, ’n ritme van twee e-posse per week, vier, vyf gemaklike paragrawe waarna hy al hoe meer begin uitsien het – die ontvang en die skryf. Sy antwoorde het hy bedags in sy kop beplan. Hy moet vir Carla hiervan of daarvan vertel. Die woorde wat sy klein lewe ’n sekere waarde gee.
En toe, ’n week gelede, wil sy Internet-konneksie nie meer werk nie. Onverklaarbaar, skielik, onoplosbaar deur die mannetjie op die telefoon wat hom dinge aan die rekenaar laat doen het wat hy nie geweet het moontlik is nie. “You will have to take it to your dealer,” was die finale diagnose. Maar hy het nie ’n fokken dealer nie; dis gesteelde goedere.
Vrydagmiddag ná werk het hy vir Charmaine Watson-Smith raakgeloop op pad na sy woonsteldeur. Charmaine is diep in die sewentig en sy bly in nommer 106. Almal se gryskop-ouma-met-’n-bolla, uitgeslape, gulhartig, lewenslustig, sy ken die hele woonstelblok, weet van alles.
“How’s your daughter?” het Charmaine gevra.
Toe vertel hy haar van sy rekenaarprobleme.
“Oh, I might just know someone who can help.”
“Who?”
“Just give me a day or so.”
Gister, Maandagaand halfsewe, het hy in sy kombuis gestaan en klere stryk, die woonsteldeur oop, toe Bella kom klop het.
“Tannie Charmaine sê ek moet na jou PC kom kyk.”
Hy het haar al voorheen gesien, die jong vrou wat saans in ’n bonkige, onaantreklike soort grys uniform na haar woonstel aan die ander kant van die gebou stap. Kort blonde hare, ’n bril en ’n moegheid aan die einde van die dag, met ’n tassie in haar hand.
Gisteraand het hy haar amper nie herken nie; sy’t mooi gelyk. Dit was net die tassie wat hom gered het, want sy het dit by haar gehad.
“O … kom in.” Hy het die strykyster neergesit.
“Bella van Breda. Ek is in nommer 64.” Net so ongemaklik soos hy.
Hy het haar hand vlugtig geskud. Dit was sag en klein. “Bennie Griessel.” Sy het ’n denim en ’n rooi bloes en rooi lipstiffie aangehad. Haar oë was skaam agter die bril, maar hy was van die begin af bewus van haar breë, vol mond.
“Tannie Charmaine is …” Hy het na die regte woord gesoek. “ … besig …”
“Ek weet. Maar sy’s great.” Bella het na die skootrekenaar gekyk wat hy in die oopplankombuis hou, sy enigste werkoppervlakte. “Is dit … ?”
“O … ja.” Hy het die rekenaar aangeskakel. “My Internet-konneksie wil … dit werk net skielik nie meer nie. Ken jy rekenaars?”
Hulle het saam na die skerm gestaan en kyk terwyl dit aan die gang kom. “Ek’s ’n PC technician,” het sy geantwoord en haar tassie eenkant neergesit.
“O.”
“Ek weet, die meeste mense dink dis ’n man se werk.”
“Nee, nee, ek … enigiemand wat rekenaars verstaan …”
“Dis omtrent al wat ek verstaan. Kan ek maar …” Sy het na die rekenaar beduie.
“Asseblief.” Hy het vir haar een van sy hoë stoeltjies nader getrek. Sy het voor die blikbrein gaan sit.
Hy’t besef sy is skraler as wat hy vroeër gedink het. Miskien was dit haar oorpak-uniform wat hom die wanpersepsie gegee het. Of haar gesig. Dit is rond, soos dié van ’n molliger vrou.
Sy is in haar laat twintigs. Hy kon amper haar pa gewees het.
“Is dit jou konneksie?” Sy het ’n spyskaart oopgehad, die muisloper op ’n ikoontjie.
“Ja.”
“Kan ek vir jou ’n short cut op jou desktop sit?”
Dit het hom ’n rukkie geneem om daardie een uit te werk.
“Asseblief.”
Sy’t geklik en gekyk en gedink en gesê: “Dit lyk my jy’t per ongeluk die dial-up se telefoonnommer verander. Hier’s ’n syfer te min.”
“O.”
“Het jy die nommer iewers?”
“Ek dink so …” Hy’t die pakkie dokumente en boekies en handleidings uit die kas gehaal wat hy daar in ’n plastieksak hou en daardeur begin soek.
“Hier …” het hy met sy vinger gewys.
“O.K. Sien jy, die agt is weg, jy’t dit seker ge-delete, dit gebeur nogal …” Sy het die syfer ingetik en geklik en skielik het die modem gebel