Onsigbaar. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
Deon Meyer
Onsigbaar
Human & Rousseau
1
Op Dinsdag 25 Desember, net ná twaalfuur in die middag, swaai ek die swaar voorhamer met ’n langsame ritme. Die muur is dik en hard. Dit breek teësinnig in splinters van sement en steen wat met elke dowwe slag soos skrapnel oor die houtvloer skiet. Ek voel die sweet wat in lang strepe oor die stof op my gesig en bolyf loop; dit is ’n bakoond hier binne, ondanks die oop vensters.
Tussen hamerhoue deur hoor ek die selfoon lui. Ek is onwillig om die reëlmaat te verbreek – dit is ’n masjien wat in dié hitte traag gaan wees om weer aan die gang te kom. Ek sit die langsteel stadig neer en loop sitkamer toe, die brokstukke skerp onder my kaal voete. Op die foon se skermpie staan JEANETTE. Ek vee my vuil hand aan my kortbroek af en tel die instrument op.
“Jis.”
“Geseënde Kersfees.” Jeanette Louw se rasperstem, soos altyd gelaai met ’n onverklaarbare ironie.
“Dankie. Vir jou ook.”
“Seker lekker warm daar …”
“Agt-en-dertig buite.”
In die winter sê sy: “Seker lekker koud daar …” Haar onversluierde verwyt oor my keuse van tuisdorp. “Loxton,” sê sy nou, asof dit ’n faux pas is. “Dan moet jy maar sweet. Wat doen julle vir Kersfees in daardie geweste?”
“Breek die muur tussen die kombuis en die badkamer.”
“Die kombuis en die badkamer?”
“Dis hoe hulle gebou het in die ou dae.”
“En dis hoe jy Krismis hou? Ou plattelandse tradisie?” Sy blaf haar lag in ’n enkele, harde “ha”.
Ek weet sy het nie gebel omdat dit Kersfees is nie. “Jy’t werk vir my.”
“Ek het.”
“Toeris?”
“Nee. Kaapse vrou, nogal. Sê sy is gister aangeval. Sy soek jou vir ’n week of wat, die deposito klaar betaal.”
Ek dink aan die geld wat ek nodig het. “O.”
“Sy’s op Hermanus. Ek SMS vir jou die adres en die selfoonnommer. Ek sal haar sê jy’s op pad. Bel my as jy moeilikheid het.”
* * *
Ek ontmoet Emma le Roux vir die eerste keer in ’n strandhuis wat uitkyk op die Ou Hawe van Hermanus. Die woning is indrukwekkend: drie nuwe Toskaanse verdiepings van rykmanspeelplek met ’n hand-gekerfde houtvoordeur en ’n metaalklopper in die vorm van ’n leeu se kop.
Om kwart voor sewe op Kersaand maak ’n jong man met lang krulhare en ’n staalraambril vir my die deur oop. Hy sê hy is Henk en dat hulle my verwag. Hy is duidelik nuuskierig, maar hy onderdruk dit goed. Hy nooi my in en vra my om in die sitkamer te wag terwyl hy vir “juffrou le Roux” gaan roep. Formele man. Daar is geluide dieper in die huis – klassieke musiek, mense wat gesels. Kosreuke.
Hy verdwyn. Ek sit nie. Ná ses ure deur die Karoo in die Isuzu wil ek staan. Daar is ’n Kersboom in die vertrek, ’n groot nagemaakte een van plastiekdennenaalde en fopsneeu. Veelkleurige liggies flits aan en af. Op die hoogste punt is ’n engel met lang blonde hare, haar vlerke wydgesprei soos dié van ’n roofvoël. Agter haar is die gordyne voor die groot vensters oop. Buite is die baai mooi in die laatmiddag, die see kalm en stil.
“Mnr. Lemmer?”
Ek draai om.
Sy is klein en skraal. Haar swart hare is baie kort geknip, byna soos ’n man s’n. Haar oë is groot en donker, haar oorskulpe effens gespits na bo. Sy lyk soos ’n nimf uit ’n kinderboek. Daar is ’n oomblik waar sy my inneem, die onwillekeurige op en af kyk om my teen haar verwagting te meet.
Sy steek haar teleurstelling goed weg. Gewoonlik verwag hulle iemand groter, indrukwekkender – nie dié gemiddeldheid van lengte en voorkoms nie.
Sy kom tot by my en steek haar hand uit. “Ek is Emma le Roux.” Haar hand is warm.
“Hallo.”
“Kom sit gerus,” beduie sy na die meubels in die sitkamer. “Kan ek u iets aanbied om te drink?” Haar stem het ’n eienaardige diepte, asof dit aan ’n groter vrou behoort.
“Nee dankie.”
Ek gaan sit. Die vloei van haar klein liggaam is glad, asof sy volkome gemaklik is daarin. Sy gaan sit oorkant my, trek haar bene op, tuis hier. Ek wonder of dit haar plek is, waar die geld vandaan kom.
“Ek …” Sy maak ’n handgebaar. “Dit is ’n eerste vir my, om ’n lyfwag te hê …”
Ek is nie seker hoe ek daarop moet antwoord nie. Die liggies van die Kersboom flikker hul kleure oor haar met eentonige reëlmaat.
“As u dalk kan verduidelik hoe dit werk,” sê Emma le Roux sonder verleentheid. “In die praktyk, bedoel ek.”
Ek wil vir haar sê as jy dié diens bestel, behoort jy te weet hoe dit werk. Daar is nie ’n handleiding nie.
“Dit is redelik eenvoudig. Om u te kan beskerm, sal dit help as ek weet wat u bewegings elke dag gaan wees …”
“Natuurlik.”
“En die aard van die risiko …”
Sy knik. “Dit … ek is nie seker wat die risiko is nie. Daar het ’n paar vreemde goed gebeur … En Carel het my oortuig … Jy sal hom netnou ontmoet, hy het julle dienste al gebruik. Ek … daar was ’n aanval, gisteroggend …”
“Op u?”
“Ja. Wel, soort van … Hulle het my huis se deur oopgebreek en ingekom.”
“Hulle?”
“Drie mans.”
“Was hulle gewapen?”
“Nee. Ja. Hulle … dit het baie vinnig gebeur … Ek … ek het hulle skaars gesien.”
Ek onderdruk ’n impuls om my wenkbroue te lig.
“Dit klink seker … snaaks,” sê sy.
Ek sê niks.
“Dit was … eienaardig, meneer Lemmer. Half … onwerklik.” Ek knik, ’n aanmoediging.
Sy kyk vir ’n oomblik stip na my en leun dan oor om ’n tafellamp langs haar aan te klik.
“Ek het ’n huis in Oranjezicht …”
“U bly dus nie permanent hier nie?”
“Nee … dis Carel se plek. Ek kuier net. Vir Kersfees.”
“Ek verstaan.”
“Gisteroggend … Ek wou eers my werk klaarmaak voor ek begin inpak vir die naweek … My kantoor … ek werk van die huis af. En toe het ek so halftien gaan stort …”
Haar storie vloei nie van die begin af nie, asof sy ’n sekere teësin het aan die herleef daarvan. Haar sinne is onvoltooid, haar hande stil, haar stem ’n hoflike, onbetrokke monotoon wat meer detail verskaf as waarvoor die situasie vra. Miskien dink sy dit sal meer geloofwaardigheid daaraan verleen.
Sy sê sy het pas klaar gestort en was in haar slaapkamer, besig om aan te trek, een been by die denim ingesteek, so effens van balans. Sy hoor die tuinhekkie oopgaan en sien deur die kantgordyn hoe drie mans haastig, doelgerig in die klein voortuin beweeg. Voor hulle buite haar gesigsveld deur toe storm, registreer sy dat hul gesigte met balaklawas bedek is. Dat hulle stomp voorwerpe in hul hande het.
Sy is ’n stedelike vrou. Alleen. Sy het die moontlikheid van misdaadslagoffer wees al dikwels deurdink tot noodmaatreëls van optrede, sou die ergste gebeur. Daarom druk sy die ander been deur sy broekspyp en trek dit met groot haas oor haar heupe. Sy is nou halfgeklee, net ’n bra en ’n broekie en die denim, maar die belangrikste is om by die alarm se noodknop uit te kom, om gereed te staan, maar dit nog nie te druk nie, want daar is ’n veiligheidshek en diefwering en die verleentheid van