Wie met vuur speel. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
op die ry af gegaan. My vriendinne wou almal die een of ander tradisionele, aanvaarbare beroep volg ná skool. Tot in daardie stadium was ek so besig om met puberteit te worstel dat ek nie geweet het wat ek wil doen nie. Maar toe dit my beurt is, verras ek almal – myself ook. Ek het gesê ek wil my eie boekwinkel hê.”
Die kelner bedien die hoofgeregte. Dirk se nuuskierigheid is steeds nie bevredig nie. “Hoe het jy joune in die hande gekry?”
“Ek en my broer het goed geërf. Ek het alles belê. Maar toe ’n kafee in Langstraat se deure sluit, het ek van die geld losgemaak, die huurkontrak oorgeneem en my winkel oopgemaak. Niemand het gedink ek sou dit maak nie. Bibliotekaresses weet van boeke bêre, nie van sake doen nie. Maar ek het geleer, ook op die harde manier. En dit gaan nie sleg nie.”
“Die manier waarop jy my by die veiling verwoes het, dui daarop dat dit meer as net goed gaan.”
“ ’n Man wat ’n Porsche ry, koop sulke boeke uit sy agtersak.”
“Daar was iets in jou houding daardie dag. Ek het besef ek moes kies tussen die Du Toit en my lewe.”
Ragel lag. “Jy is heeltemal reg. En ek het nou definitief genoeg oor myself gepraat. Ek weet nie eens watse werk jy doen nie.”
“Ek gaan jou net verveel. Dit is hoegenaamd nie so opwindend soos joune nie.”
“Dirk Buchner, ek sal daaroor besluit.”
“Transaksiemakelaar.”
“As jy nie uit jou eie gaan verduidelik nie, verbied ek die kelner om vir jou nagereg te bring.”
Dirk se glimlag is warm en gemaklik, soos die atmosfeer tussen hulle. Sy wil haarself keer om dit te veel te geniet, om te veel van hom te hou. As hy net nie so aantreklik, so selfversekerd was nie. As hy net nie so rég was nie . . . Maar hy begin praat, en sy vergeet van haar vrese.
“Ek gee oor. Enigiets vir malvatert en room. My werk is baie soos joune. Jy is in ’n sekere sin die middelman tussen iemand wat ’n boek wil koop en iemand wat dit wil verkoop. Ek doen dieselfde, maar nie met boeke nie. Ek hoor byvoorbeeld van iemand wat ’n groot klomp geld in aandele wil belê. En ek ken die beste aandelemakelaars. Ek bring hulle bymekaar en kry geld daarvoor. Maar dit is nie altyd aandele nie – soms wil ’n maatskappy skuldbriewe vir buitelandse valuta verkoop, of ’n groot maatskappy wil ’n kleiner een oorneem om sy belange uit te brei . . .”
“Dit klink heerlik.”
“Dit is ’n lewe. Ek geniet die risiko, van nie weet wat môre gaan gebeur nie. En die bevrediging wanneer ek twee partye gehelp het om ’n winsgewende transaksie te beklink.”
“Kan enigiemand dit doen?”
“As ék kan, kan enigiemand.”
“Jy is te beskeie.”
“Inteendeel. Ek het nie eens my graad klaargemaak nie. Wou eers prokureur word. Ek was besig met my klerkskap by ’n firma in Johannesburg. En toe ek eendag ’n kliënt moes besig hou terwyl die baas met middagete was, het hy toevallig gesê hy wil ’n paar honderdduisend belê. ’n Klerk se salaris laat ’n mens kreatief dink oor jou geldsake.”
“Hoe lank is jy al in die Kaap?”
“Net meer as ’n maand. Ek kon dit nie vroeër bekostig nie. Die groot geld is ongelukkig nog steeds in die noorde. Maar my kontakte is nou goed genoeg. Ek hoef nie meer te gaan soek na sake nie.”
“En jou belangstelling in waardevolle boeke?”
“Ek is nuuskierig oor enigiets wat ’n belegging kan wees. Dit was my eerste boekeveiling, soos jy seker agtergekom het. Miskien moet jy maar die geheim met my deel. Wanneer hou ’n mens op met bie?”
Dirk se vraag is só onskuldig dat sy nie eens besef hy het opgehou om oor homself te praat nie. Oor nagereg, koffie en likeurs is sý die een wat vertel van boeke, van haar jeugjare, haar drome vir die toekoms.
Terwyl die Porsche ná middernag weer terugdreun Kaap toe, is sy werklik spyt dat die aand amper verby is. By haar huis spring hy uit om vir haar die deur oop te maak. En dan die potensieel ongemaklike oomblik by die voordeur. Maar voor sy kan besluit hoe die afskeid behoort te verloop, leun hy nader en plant ’n soen op haar voorkop.
“Dit was heerlik. Baie dankie. Lekker slaap,” sê Dirk, en die Porsche is om die hoek voor sy tot verhaal kan kom.
4
“Ek dink ek is verlief,” sê Ragel.
Mignon van der Merwe skud haar kort blonde hare uit haar oë om Ragel beter te kan sien. “Net omdat hy jou nie by die deur vuriglik omhels het nie?” vra sy en val haar kabeljou met mening aan.
Ragel sug. “Ek het jou vir middagete genooi omdat ek raad nodig het . . .”
“Jy sal jou raad kry. Kry eers al die feite op die tafel.” Hulle sit in die buiteluggedeelte van ’n hawerestaurant, omring deur sakemanne in grys snyerspakke.
“Jy het al die feite. Luister, ek is oud genoeg om te weet na watter swak plekke in ’n man se mondering ek moet soek. En Dirk Buchner hét nie een nie.”
“Bog. Hy het net nie een waarvan jy al wéét nie. Hoe kan jy deur ’n waas van hormone en verliefdheid oordeel?”
“Jy is seker reg . . .”
“Moenie so afgehaal lyk nie. Dit beteken net dat jy versigtig moet wees.”
“En van só versigtig wees sal hy sy Porsche vat en ander weivelde gaan soek.”
Mignon lag dat haar wit tande blink in die son. ’n Paar sakemanne kan nie hul oë van haar afhou nie. “Luister, ek kan verstaan hoe jy voel. Dit is die soort man wat dalk net een keer in ’n leeftyd in mens belangstel. Jy kan amper nie waag om hom te verloor nie. Maar dit beteken nie dat jy alle versigtigheid oorboord moet gooi nie.”
“Hoe versigtig moet ’n mens wees met ’n man wat jou op jou voorkop soen? Gewoonlik moet ’n meisie baklei om alleen by haar voordeur in te gaan.”
“Nou wat wou jy gehad het moet hy doen?”
“E . . .”
“Jy is verlief, Ragel Bergh.”
“Jy is heeltemal reg, Mignon van der Merwe.”
“Eet jou kos, Ragel Bergh.”
“Ek is nie honger nie. Ek kan op liefde leef.”
“Die hemel behoede ons.”
“Sê nou net hy bel my nooit weer nie?”
Mignon slaan haar oë op na Tafelberg. “Jy is 28, Ragel Bergh. Die oudste bakvissie in menseheugenis.”
Sewe dae lank hoor sy niks van Dirk Buchner nie. Sy sien hom nie by die gimnasium nie en hy bel haar nie.
In die proses dryf sy feitlik vir Frikkie en Mignon van hul sinne af. In die winkel kan sy nie stilsit nie, en sy dring daarop aan dat Mignon elke aand by haar moet kom kuier, want “die eensaamheid is te veel”. Mignon kyk dikwels op na die berg.
Dan bel hy haar by die winkel. “Ek is vreeslik jammer. Ek was in Johannesburg. Nie eens tyd gehad vir slaap nie.”
Die verligting en verwyte spoel saam-saam deur haar gemoed, maar sy kan nie waag om dit te wys nie. Het hulle nie telefone in Johannesburg nie? “O, haai. Hoe gaan dit?” sê sy.
“Nou weer beter. Wat doen jy vanaand?”
Ragel oorweeg dit vir ’n oomblik om hardekwas te wees, maar dan is die begeerte om hom te sien net te sterk. “Niks besonders nie.”
“Hoe klink La Traviata?”
“Wonderlik.”
Toe Ragel die telefoon neersit en ’n danspassie tussen twee rye boekrakke uitvoer terwyl sy haar weergawe van een van die arias gee, val Frikkie se mond oop. En die frons agter sy bril is swaar en afkeurend.