Эротические рассказы

Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.

Die Afrikaners - Hermann Giliomee


Скачать книгу
het president Paul Kruger 156 kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gehad.)

      Die gebied wat deur die Europeërs aan die Kaap beset is, het tussen 1703 en 1780 omtrent tien keer toegeneem. Toe die regering in 1798 vir die eerste keer die grense van die kolonie vasstel, het die nedersetting 110 000 vierkante myl (286 000 vierkante kilometer) beslaan. Dit het gestrek van die Buffelsrivier in die weste tot die Nuweveldberge in die noordooste en van daar af na die see langs die Tarka-, die Baviaans- en die Visrivier.

      Die leningsplase het groot nadele gehad, en was die grondslag van die onsistematiese kolonisasie van die binneland waardeur ’n klein klompie boere oor ’n groot gebied versprei geraak het. Wanneer ’n plaas oorbewei was, het die boer weggetrek of sy seuns gevra om die binneland in te trek op soek na nuwe grond. Polities het die Kompanjie egter met dié stap ’n belangrike veiligheidsklep geskep. Burgers kon na die binneland anderkant die eerste bergreekse trek en hulle daar vestig. Dit was veel beter as die lewe van ’n gewone blanke arbeider of kneg op ’n wyn- of koringplaas. Die “oortollige” burgerbevolking, waarvan Hendrik Biebouw ’n verteenwoordiger was, kon hier boer of bywoner word.

      Die regeringstelsel het gedurende die Kompanjiestyd omtrent onveranderd gebly. In Kaapstad het die Politieke Raad, bestaande uit die goewerneur en senior amptenare, die beleid uitgevoer en as Raad van Justisie reggespreek. Die Kompanjie het beperkte magsmiddele gehad om sy gesag op te dwing. In Kaapstad was daar ’n garnisoen van ongeveer 500 soldate, wat die Kaap teen aanvalle van die see beskerm het, maar selde binnelands aangewend is. Die staatsaanklaer, genoem die fiskaal, het onder hom ’n klein polisiemag van sogenaamde “kaffers” gehad, maar buite Kaapstad was daar feitlik nie sprake van polisiëring nie.

      In elke distrik het die regering ’n amptenaar, genaamd landdros, aangestel, wat die bestuur van die distrik moes behartig. Hy het slegs drie of vier amptenare tot sy beskikking gehad. Die landdros is bygestaan deur heemrade, wat vooraanstaande burgers was, en saam met hom ’n kollege van landdros en heemrade gevorm het. Die eerste heemrade is in 1682 in Stellenbosch aangewys en daarna het gevolg Swellendam (1743) en Graaff-Reinet (1786).

      Aansoeke om grond en waterregte het voor die kollege gedien. Dit het siviele geskille besleg en kleiner strafsake soos aanranding verhoor. Dit kon weerbarstige slawe tot lyfstraf vonnis. In ernstige gevalle, byvoorbeeld wanneer ’n slaaf ná ’n loesing gesterf het, het die kollege getuienis aangehoor en dit na die enigste werklike geregshof, die Raad van Justisie in Kaapstad, aangestuur.

      Die hoeksteen van die stelsel was die burgers. In elke wyk het ’n burger die amp van veldwagmeester (later veldkornet) beklee. Hy moes die regering se proklamasies aan die burgers bekend maak, misdade rapporteer en nadoodse ondersoeke hou. Van die begin af het burgers ’n sleutelrol gespeel in die kommando’s, wat die verdediging van die distrik behartig het.

      Die kommando het sy oorsprong gehad in die beleid van die Kompanjie om soldate en burgers saam uit te stuur op ekspedisies om gesteelde vee terug te vind. In 1715 het die eerste kommando wat heeltemal uit burgervrywilligers bestaan het, uitgetrek. Hierna het die Kompanjie die verdediging van die binneland aan die burgers oorgelaat. Van 1739 was dit verpligtend vir elke burger met ’n belang in die buitedistrikte om kommandodiens te doen. Die landdros en heemrade het vir elke wyk ’n invloedryke boer as veldwagmeester (later veldkornet) aangewys, wat nie vergoeding gekry het nie, maar van belasting vrygestel is. Elke distrik het ’n krygsraad onder die voorsitterskap van die landdros gehad. Hierin het een of twee veldkommandante gedien — burgers met baie krygservaring – heemrade en oudheemrade.

      Omdat dit dikwels nodig was om vinnig op te tree om gesteelde vee terug te kry, het die veldkornet die inisiatief geneem. Hy kon sy mense oproep sonder die landdros se verlof. Daar was selfs ’n verdere afwenteling van gesag. Die wyke was groot en die kommunikasie tussen burgers swak. Gevolglik is ’n burger toegelaat om ’n kommando’tjie uit te roep om veediewe te agtervolg op voorwaarde dat hy die veldkornet van sy wyk agterna inlig. Die meeste van die tyd het die Kompanjie sy oë gesluit vir die onvermydelike wanpraktyke wat hierdie stelsel meegebring het. Dit het die Kompanjie net die verskaffing van ammunisie gekos, wat op die ou end die swaarste geweeg het.

      ’n Komplekse samelewing

      Saam met die vryburgers het die slawebevolking ook vinnig gegroei. Maar terwyl natuurlike aanwas die vryburgerbevolking laat groei het, het die slawegemeenskap hoofsaaklik weens immigrasie vermeerder. Die aantal vryswartes het klein gebly weens die eenvoudige aard van die ekonomie. Daar was ook klein Bastergemeenskappies, hoofsaaklik in die buitedistrikte. Die term Baster het nie iemand aangedui wat buite die eg gebore is nie, maar iemand wie se vader gewoonlik ’n Europeër was en die moeder ’n Khoi-Khoi of ’n vryswarte. Die volgende syfers dui die bevolkingsgroei aan:

Kaapse bevolking in geselekteerde jare
Vryburgers Burgerslawe Vryswartes Khoi-Khois en Basters
1730 2 540 4 037 221 Nie beskikbaar
1770 7 736 8 200 349 Nie beskikbaar
1820 42 975 31 779 1 932 26 975

      Die burgergemeenskap kan as volg verdeel word: die mense in en om De Kaap (later genoem Kaapstad), die wyn- en koringboere van die Wes-Kaap en die veeboere anderkant die eerste bergreekse.

      Kaapstad was ’n kombinasie van ’n hoofstad, garnisoendorp, mark en hawe. Die lewe het gewentel rondom die Kasteel, waar die Kompanjie se hoofkwartier en garnisoen was, die talle kroeë, die hospitaal, die markplein en die losieshuise, wat sowel binnelandse besoekers as die bemanning van skepe gehuisves het. Daar was sterk bande tussen die senior regeringsamptenare en burgers wat suksesvolle sakeondernemings opgebou het. Dit was aan hulle dat die regering die belangrikste kontrakte, veral die wyn- en vleispag, toegeken het.

      Die Kaap was ’n veelrassige en veeltalige stadjie. Die meeste burgers het aan die handel en smokkelhandel deelgeneem en baie het losieshuise aangehou. Reisigers het opgemerk dat handel dryf en geldmaak amper ’n obsessie geword het. Robert Semple, wat in die eerste helfte van die 1790’s aan die Kaap vertoef het, het geskryf dat die inwoners se gedagtes feitlik volledig op die handel toegespits is. “Gesprekke gaan oor koop en verkoop, en beste vriende verkoop goed aan mekaar met die doel om ’n profyt te maak.”

      Die kultuurlewe was maar vlak. Teen die einde van die Kompanjiestyd was daar nie ’n hoërskool, teater, boekwinkel, of koerant nie. Die meeste mense het nie gelees nie en openbare vermaaklikhede was skaars. In die huise van die vooraanstaande mense is daar dikwels partytjies gehou, waar slawe die musiek verskaf het. Kommissaris J.A. de Mist het in 1802 geskryf: “Die jong mense is lui en dit lyk of hulle ’n intense afkeer het van geestelike inspanning.” Hulle het hul tyd verspeel met kaartspel, drink, rook en gedurige kuiery oor en weer. Hulle is maklik deur die modes van Europa en die Ooste beïnvloed en toe ’n Franse garnisoen in die eerste helfte van die 1780’s aan die Kaap gestasioneer was, het die ryker burgers hul ydelheid en eersug ten toon gestel.

      Die mense het lou teenoor godsdiens gestaan. Op Sondae is handewerk soos skrynwerk of bouery verbied, maar die talle kroeë was omtrent almal oop en is druk deur soldate, matrose en werkers besoek. Mense het kerk toe gegaan met hul gevolg van slawe, wat die psalmboek, die Bybel en die statussambreel van die dame gedra het – en soms die dame self, in haar stoel. Die slawe moes buite bly totdat die diens oor was. Die burgers was minder bekommerd oor die uitsluiting van die slawe as oor hul rumoerige gedrag buite die kerk.

      In die Wes-Kaap duskant die eerste bergreekse het die boere hoofsaaklik wyn en koring geproduseer op grond wat as vrypagplase uitgegee is. Die produksie het bestendig toegeneem. Tussen 1720 en 1790 het die getal wingerdstokke meer as vier keer vermeerder, die koringoes het verdriedubbel en die gemiddelde


Скачать книгу
Яндекс.Метрика