Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
gedoop word.
Daar was aan die Kaap lank geen onafhanklike godsdienstige genootskap wat sendingwerk gedoen het, soos byvoorbeeld die Jesuïete, wat so ’n groot taak in die Katolieke Kerk verrig het nie. In 1799 het die koloniste in Kaapstad die eerste plaaslike sendinggenootskap gestig, maar dit was buitelandse sendinggenootskappe wat aan die spits sou staan van die groot sendingveldtog wat in die eerste dekades van die negentiende eeu van stapel gestuur is.
Die uitwerking van slawerny
In die Wes-Kaap was die basiese skeidslyn dié tussen slawe en vrye mense. Min Europeërs het handearbeid in diens van iemand anders gedoen. Baron Van Imhoff het in 1743 opgemerk: “As gevolg van die feit dat mense slawe ingevoer het, word elke gewone Europeër ’n heer wat verkies om bedien te word eerder as om te dien.” Selfs burgers wat te arm was om ’n slaaf te besit, het status gehad omdat hulle deel van die dominante gemeenskap was.
Slawe-eienaars oor die hele wêreld was gretig om lede van hulle rasgroep op te vorder om slawerny en die maatskaplike orde wat daarmee saam ontwikkel het, te verdedig. Hierdie orde het selfs ’n arm Europeër se aansien verdedig. ’n Proklamasie van 1794 het byvoorbeeld die volgende bepaal: Slawe is verbied “om een Europees van hoe geringe qualiteit die ook mogten weezen, moetwillig teegen het lijf te loopen of anderzints qualyk te bejeegen”. Regulasies het slawe se kleredrag bepaal sodat almal kon sien wie slawe is en kon sorg dat hulle hulle soos slawe gedra. In ’n nedersetting waar daar feitlik geen polisiebeamptes buitekant Kaapstad was nie, het die burgers die orde gehandhaaf deur die statusonderskeid sterk op te dwing. Burgers, slawe en bediendes het goed geweet wat hulle onderskeie plekke in die samelewing is en wat geoorloof is en wat nie.
Binne elke statuskategorie was daar informele onderafdelings. Daar was byvoorbeeld binne die burgergemeenskap ook wit knegte. Ook hulle was veronderstel om hulle op ’n manier te gedra wat by hul status pas. Daar was altyd burgers wat bereid was om iemand te straf of te vermaan wat nie ooreenkomstig sy status opgetree het nie.
Een van die mees opvallende kenmerke van slawerny aan die Kaap was die feit dat slawe-eienaarskap so algemeen was. In 1750 was die helfte van die manlike burgers slawe-eienaars, een van die hoogste persentasies in die wêreld. In Kaapstad het twee derdes van die burgers teen die einde van die agtiende eeu ten minste een slaaf elk gehad en in Stellenbosch en Drakenstein het 70% van die boere ten minste een slaaf besit. Kleinskaalse slawebesit was die norm. Teen die middel van die agtiende eeu het 57% van die eienaars slegs een tot vyf slawe elk gehad en 25% ses tot tien. Minder as 5% van die eienaars in die kolonie het meer as 26 slawe elk besit. Die enigste groot konsentrasie van slawe was die Kompanjie se slawelosie, waar teen 1795 meer as 500 aangehou is. ’n Baie groot wanbalans tussen die geslagte in die slawegemeenskap het beteken dat baie manlike slawe sonder ’n vrou op die geïsoleerde plase moes bly – ’n onbenydenswaardige lot.
Slawe was deel van bykans elke hoekie van die burgers se lewe in Kaapstad. Hulle het na hul meester se kinders gekyk, die kos op die mark aangekoop en in die huis voorberei, en hulle het dikwels hul eienaars vergesel op uitstappies. In Kaapstad was hulle hoogs sigbaar. In 1767 het omtrent 40% van die totale slawebevolking van meer as 8 000 in die stadjie gebly en ’n groot aantal was op straat te sien op pad na die plek waar hulle hul ambag beoefen het of na die mark. Vir een besoeker het dit gelyk asof daar omtrent twintig swartes vir elke Europeër op straat was. Teen 1821 was die gemiddelde grootte van ’n Kaapse huishouding 11, van wie omtrent die helfte slawe of vrygestelde slawe was.
Die etniese oorsprong van die slawe was uiteenlopend. Gedurende die tweede helfte van die agtiende eeu het die meeste van Madagaskar gekom, maar ander is gebring van Angola, Dahomey (Benin), verskeie Indonesiese eilande en die ooskus van Afrika. Slawe het hul eie taal gepraat, maar hoe langer hulle gebly het, hoe meer het hulle ’n lingua franca gebesig. Aanvanklik was dit dikwels Portugees of ’n gekreoliseerde vorm daarvan, maar teen die einde van die Kompanjiesbewind was ’n geradbraakte Hollands of Afrikaans die vernaamste omgangstaal.
Slawe het die lewe vir burgers makliker gemaak, maar ook gevaarliker. Daar was in 1760 drie keer meer slawe as manlike burgers. Dit was ’n bron van kommer, aangesien daar geen gewapende mag buite Kaapstad was nie. Omdat die burgers en die slawe oor so ’n groot gebied versprei was, het die slawe-eienaar op elke plaas die taak gehad om te sorg dat sy gesag oor die slawe stewig gevestig is. Hierdie daaglikse kontak tussen die meester en sy slawe het ’n soort skisofrenie in die hand gewerk. Aan die een kant was daar ’n groot mate van familiariteit tussen slawe (veral huisslawe) en die huisgesin; aan die ander kant wou die eienaars naarstig hul eksklusiwiteit behou, en veral voorkom dat slawe of slawekinders die gesin of die kerk binnedring.
Familiariteit kon baie maklik daartoe lei dat slawe hulle te groot vryhede aanmatig, wat tot straf kon lei. In die agtiende eeu is verskriklike vorme van straf toegedien, in Europa en in al die kolonies. Die mense wat uit Engeland se tronke na Australië gestuur is, is soms op sadistiese maniere gestraf, selfs weens klein oortredings. Op die eiland Norfolk naby die Australiese kus was ’n straf van tweehonderd houe nie ongewoon nie. En teen die begin van die negentiende eeu is ’n bepaalde gevangene so dikwels gestraf – ongeveer tweeduisend houe in drie jaar – dat sy rug gestroop was van vleis en sy sleutelbene uitgesteek het soos twee ivoorhorings.
Aan die Kaap het burgers ook baie swaar strawwe ontvang, veral wanneer hulle ’n slaaf of ’n Khoi-Khoi-bediende vermoor het. Slawe wat gevonnis is weens ernstige oortredings is uiters wreed gestraf. Dit het gebeur nie slegs wanneer ’n slaaf sy meester aanval nie, maar ook wanneer hy sy huis aan die brand steek of ’n Europese vrou aanrand of selfs net te vrypostig met haar is. Die uiterste straf was die doodstraf voorafgegaan deur marteling. Slawe se rûe is op die wiel gebreek, hulle vleis is uitgetrek met vuurwarm tange, hulle is vermink of stadig doodgewurg. Die lyke van die tereggesteldes is ’n tyd lank in die openbaar laat hang. Teen 1727 was so baie slawe op straat op die gesig gebrandmerk dat die regering besluit het om slawe op die rug te brandmerk, ten einde veral swanger Europese vrouens nie te ontstel nie.
Die korrekte prosedure vir ’n meester wat sy slaaf wou straf, was om hom na die owerheid te stuur. Die staatsaanklaer se assistente sou die taak onder toesig verrig. Om egter die owerheid werk te bespaar, het die Kompanjie gereël dat meesters toegelaat word om straf toe te dien wat van ’n huishoudelike aard was. Daarmee het dit bedoel dat dit nie erger mag wees as die soort straf wat ’n vader aan sy kinders sou toedien nie. Geen slawe-eienaar is toegelaat om ’n slaaf in ysters te slaan of om hom te martel nie.
Mense in gesagsposisies het dit as in die gemeenskap se belang beskou om perke aan strawwe vir slawe te stel. Die grootste vrees was dat slawe wat verder as breekpunt gestraf is tot opstand sou oorgaan. In 1776 het die Stellenbosse kollege van landdros en heemrade opgemerk dat mishandeling van slawe rampspoedig kan wees. Die reg is dus gebruik nie net om slawe te bestraf nie, maar ook om hulle te beskerm. Terwyl daar geen wetlike gelykheid tussen meesters en slawe was nie, kon slawe hul meesters aankla en in die hof teen hulle getuig. Meesters kon nie op die Kompanjie se ondersteuning reken as hulle ’n slaaf vermoor of op buitensporige wyse gestraf het nie. ’n Studie merk op: “The overwhelming significance of Roman law in eighteenth century Cape society was its apparent universality, that is, it was made applicable to all … The slave in Roman law was not only property or Res (object of rights), but also persona, by which the Roman lawyers meant human being.”
Maar die wet is nie sonder aansien des persoons toegepas nie. Wanneer ’n slaaf die meester aangekla het, was dit nie soseer die wet nie maar die slawe-eienaar se reputasie wat beslissend was. Die opvattings van die hereboere was deurslaggewend. Terwyl dit hoogs onwaarskynlik was dat die gemeenskap teen ’n hereboer met ’n goeie reputasie sou optree, kon die openbare mening baie streng wees teenoor arm of agterlike eienaars met ’n reputasie dat hulle hul slawe mishandel.
Ondanks aaklige strawwe wat moes afskrik, het meesters bly vrees dat hul slawe teen hulle in opstand sou kom. Hulle het op steeds groter beheer oor hul slawe aangedring. In 1779 het burgers in ’n versoekskrif die reg gevra om meer as bloot “huishoudelike” strawwe toe te dien, sonder om egter soos “tiranne” oor hul slawe baas te speel.
Die boere was bang genoeg vir slawe wat in opstand sou kom om dit as verskoning te gebruik wanneer hulle vir diens opgeroep is. In 1782 het 78 boere van Drakenstein die regering gevra om