Эротические рассказы

Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.

Die Afrikaners - Hermann Giliomee


Скачать книгу
versleg: “Op party plase begin die Xhosas in groot groepe versamel met wapens in hul hande. Hulle stel allerhande eise oor alles wat hulle wil hê. Dit is baie moeilik om hulle dit te weier. En hulle wend hulle tot geweld op plase waar die burgers nie tuis is nie. Hulle vat wat hulle wil en neem die wet in eie hande wat betref die plaas, die huis en goedere.” ’n Boer in die omgewing het uitgeroep: “Dit is swaar om op ons eie plase deur heidene onderdruk te word.”

      Die stryd tussen die grensboere en die Xhosas wat in die Suurveld gewoon het, was maar net een van die konflikte in die breë strook tussen die Boesmans- en Keirivier. ’n Ander konflik het gespruit uit ’n skeuring in die stam van die Xhosa-opperhoof kort voor die trekboere in die 1770’s in die gebied opgedaag het. Een van die faksies, die Gcaleka, het oos van die Keiskamma gebly, terwyl die Rharhabe-kaptein en sy mense verder weswaarts gevestig het in die gebied tussen die Keiskamma- en die Visrivier.

      Hierdie konflikte het op mekaar begin inwerk en die grensgebied se stabiliteit verder versteur. Die Rharhabe-kaptein het die Suurveld-Xhosas as afvallige onderdane beskou wat teen hom gerebelleer het, maar hierdie Xhosas het lojaliteit aan die Gcaleka-kaptein gesweer. Toe Rharhabe in die vroeë 1780’s sterf, het die regent, Ndlambe, ook geprobeer om hierdie Xhosas oor die Visrivier te laat terugtrek, maar tevergeefs. Ndlambe en die grensboere het albei ’n belang daarby gehad om die Suurveld-Xhosas ooswaarts te verdryf.

      In 1792 het Barend Lindeque, ’n veldkornet in die Suurveld, sonder die landdros se magtiging gereed gemaak om die Xhosa-stamme in die Suurveld oor die Visrivier te dryf. Alleen was Lindeque en sy manne nie daartoe in staat nie, en daar is sterk aanduidings dat hy ’n bondgenootskap met Ndlambe gesluit het. Op die kritieke punt het die hulp van Ndlambe nie opgedaag nie, en het sake vir Lindeque se kommando erg skeef geloop. Daarop het die Suurveld-Xhosas saam met Khoi-Khoi-bondgenote ’n teenaanval geloods. Volgens die gewoonlik oordrewe skattings van die grensboere het die Xhosa-Khoi-Khoi-mag meer as 50 000 beeste, 11 000 skape en 2 000 perde geroof. Hulle het al die plaashuise in die Suurveld afgebrand met die uitsondering van vier.

      Die burgers het in aller yl van hul plase in die Suurveld gevlug en baie het in laers saamgetrek. Die laer was saam met die kommando ’n noodsaaklike oorlewingstegniek. Dit was ’n militêre vesting waar vyftig of meer swaar waens in ’n kring getrek is, met doringboomtakke tussen die wawiele ingesteek. In die middel was daar vier waens in ’n vierkant waaroor planke en diervelle gegooi is as skuiling vir vroue, bejaardes en kinders.

      In 1793 het ’n kommando van Graaff-Reinet en Swellendam se burgers teruggeslaan, ongeveer 8 000 beeste gebuit en ’n aansienlike aantal Xhosas gedwing om oor die Visrivier terug te val. Maar ’n groot aantal koloniale beeste het in Xhosabesit gebly en baie Xhosas het in die Suurveld aangebly. Baie boere in die suidoostelike wyke was nou gegrief oor die groot verliese wat hulle gely het en omdat hulle nie al hul vee teruggekry het nie. Die fokus van hul ontevredenheid was Honoratus Maynier, wat een van die bevelvoerders van die 1793-kommando was. Maynier, wat Woeke as landdros opgevolg het, het grootgeword in die kringe van die mees senior Kompanjiesdienaars. Hy kon vlot Hollands, Frans en Engels praat en was besonder goed opgevoed. Hy het egter geen militêre ervaring gehad nie en van die begin af het party burgers geweier om onder hom in ’n kommando te dien.

      In die geskiedskrywing word hy dikwels uitgebeeld as ’n negrofiel en dit is inderdaad waar dat hy veel meer as ander landdroste die Khoi-Khois aangemoedig het om klagtes in te dien teen burgers wat hulle verontreg het. Maar dit is sinvoller om Maynier te sien as ’n tipiese Kompanjiesdienaar wie se grootste prioriteit was om geld vir die Kompanjie te bespaar en wat derhalwe oorlog teen die Xhosas wou vermy.

      Hy was egter glad nie die geskikste man om ruwe grensboere te beheer soos Andries Stockenstrom later so voortreflik sou doen nie. Hy het gou oorhoops gelê met sommige van die vernaamste burgers in die distrik. Terwyl die Kompanjie se gesag aan die verkrummel was, het hy ongenaakbaar daarop aangedring dat die boere op plase moet aanbly, alhoewel daar ’n wesenlike vrees vir Xhosa-aanvalle was.

      In Februarie 1795 het ’n groep gewapende burgers by die drosdy van Graaff-Reinet opgedaag en Maynier opdrag gegee om die dorpie te verlaat. Hulle het beweer dat hulle namens die “volkstem” optree. Hierdie sogenaamde “volksverteenwoordigers” het nou saam met sekere heemrade en krygsoffisiere die distrik oorgeneem. Hulle het die driekleur van die Franse revolusie vertoon en die vorm van plaaslike regering wat hulle ingevoer het ’n “nasionale konvensie” genoem. Hulle het ook geweier om verder belasting aan die Kompanjie te betaal of sy wette te gehoorsaam. Die rebelle was hoofsaaklik mense van die suidoostelike distrikte wat gretig was om grond en vee te herwin wat die Xhosas van hulle afgeneem het.

      In Junie 1795 het ’n groep burgers ook die Swellendamse distrik oorgeneem. Hulle het hulle die “nasionales” genoem en landdros A.A. Faure, wat saam met Maynier die onsuksesvolle 1793-kommando gelei het, afgesit. Hulle het nou hulle eie “nasionale landdros” en nuwe gesagsliggaam, ook genoem die “nasionale konvensie”, gestig. Hulle het teen die belastings geprotesteer en gevra dat dit moontlik moet wees om Khoi-Khoi-kinders op plase in te boek. Hulle het selfs die eis gestel om Boesmangevangenes as hul eiendom aan te hou, wat beteken het dat hulle die Boesmans wou koop en verkoop soos slawe. Hierdie Swellendamse rebellie het egter gou verkrummel.

      Die konstitusionele idees van die rebelle was duister. Hulle het nie republieke uitgeroep soos wat dikwels aangeneem word nie, maar het eerder die begeerte uitgespreek om direk onder die nuwe republiek in Nederland te val. Maar hulle was afgesny van Nederland. Niemand kon dink aan ’n manier waarop hulle met die republikeinse regering in Den Haag in verbinding kon bly nie. Al hulle planne is in die war gestuur toe die Britte in September 1795 die Kaap beset. Die rebelle het slegs ’n soort skynmag gehad. Ná die opstand vroeër in 1795 het die Kaapse regering die verskaffing van ammunisie aan Graaff-Reinet gestaak. Dit het hulle weerloos gelaat teen aanvalle van die Xhosas.

      Die vroeëre Afrikaanse historici het gesukkel om die betekenis van die opstand aan die oosgrens te ontleed. Sommige het dit beskou as die eerste uitings van republikanisme en selfs Afrikanernasionalisme. Dit kan wel beskou word as ’n uiting van individualisme en die verwerping van arbitrêre gesag wat tipies is van pioniers in ’n grensgebied wat die regering nie behoorlik beheer nie. Dit kan egter ook beskou word as ’n teken van die ineenstorting van die Kompanjie se gesag en die opkoms van anargistiese neigings, wat die kolonie se beheer oor die grensgebied ernstig ondermyn het.

      Teen die einde van die agtiende eeu het die suksesvolste boere hul lewensomstandighede begin verbeter. Die welvarende Graaff-Reinetse burgers het die volgende begin aanskaf: spieëls, gordyne, tafeldoeke, porseleinware, koperkandelare en selfs hemelbeddens. Toenemend het ’n verdeling in rykdom in die grensdistrikte sigbaar geraak. Die lewe het die boere op die onderste sporte van die leer begin druk namate grond en arbeiders al hoe skaarser geword het.

      Die Kompanjie self was besig om roemloos in duie te stort. In 1792 het kommissarisse Nederburgh en Frykenius aan die burgers verlof gegee om met hul eie skepe produkte uit te voer en aan die slawehandel deel te neem. Maar die toegewings was te min en te laat. Die Kompanjie se gesag is oral bevraagteken. Die twee kommissarisse het gepraat van die “verwarring en opstandigheid teenoor alle gesag sonder onderskeid”, en J.F. Kirsten, ’n vooraanstaande Wes-Kaapse burger, het opgemerk dat “almal hier wil beveel en niemand wil gehoorsaam nie”.

      Die Franse revolusie wat in 1789 uitgebreek het, het groot onsekerhede ook in Nederland oor die oorlewing van die sosiopolitieke stelsel laat ontstaan. In Januarie 1795 het Franse magte die land binnegeval en die Oranjeparty verslaan. Die Nederlandse revolusionêre het die Bataafse Republiek uitgeroep. Op 31 Januarie het die “Professionele Representante van die volk van Holland” mense- en burgerregte geproklameer. Hulle het al die rade, korporasies en kolleges van die ou konstitusie omvergewerp en saam daarmee baie van die voorregte van die adel.

      Die Prins van Oranje het net ná die Franse inval na Engeland gevlug, waar hy die Britse regering gevra het om ’n gewapende mag na die Kaap en alle ander Hollandse besittings oorsee te stuur. Brittanje was gretig om aan die versoek te voldoen en het in September 1795 die Kaap beset. Die Britse mag onder generaal James Craig het ’n diep verdeelde


Скачать книгу
Яндекс.Метрика