Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
onregverdige bestel. Geeneen het daaraan gedink om ’n omvattende beleid van maatskaplike gelykheid in te stel nie.
Hierdie Kaapsgebore amptenare het deeglik besef dat daar nie teen die denke van die Verligting oor die vryheid en waardigheid van mense ingegaan kon word nie. Hulle het die opvatting van sekere burgers verwerp dat die Khoi-Khois te agterlik en ontaard is om werklik dieselfde vryhede as burgers te geniet. Vir Stockenstrom het die ou stelsel waarin die werker aan die willekeur van sy baas onderwerp was “nie ’n enkele voordeel” ingehou nie. Dit het die werkers gedemoraliseer en die boere laat dink dat hulle te laag gesonke is om enige regte te geniet. ’n Nuwe stelsel gegrond op regte, vryheid en sekerheid oor eiendom sou ’n groot verbetering wees. Truter het geskryf: “Die Hottentotte is en bly mense en in die besonder vrye mense.”
Van Ryneveld het daarop aangedring dat die Khoi-Khois gelyke beskerming in die strafregstelsel verkry. Truter het veel verder gegaan deur aan die staat die taak toe te vertrou om die beskawing te bevorder en die samelewing grondig te verander. Bindende wetlike kontrakte was nodig as grondslag van alle arbeidsverhoudinge. Die reg was ’n belangrike instrument in die beskawingsproses. Hier kry ons die begin van denke oor ’n regstaat waarin die willekeurige gesag van die baas vervang is deur wette wat vir regte en vryhede voorsiening maak.
Twee jaar ná die slaweopstand, in 1810, het landdros Van der Riet ’n brief met ’n heeltemal ander strekking aan die regering geskryf as die een van 1797 toe hy gelykheid voor die gereg bepleit het. Hy was skepties oor die regering se pogings om die stelsel van gedwonge arbeid te hervorm. Een van die eerste teikens was die inboekstelsel waarvolgens Khoi-Khoi-kinders by hul ouers se werkgewer ingeboek is totdat hulle volwassenheid bereik het.
Landdros Van der Riet het hom teen die afskaffing van die inboekstelsel uitgespreek. Na sy mening was die Khoi-Khois van nature onbetroubaar en ledig. Die inboekstelsel was al manier waarop hulle van jongs af geleer kon word om nuttige burgers te word. Hy het die verskriklike gebeure in Saint-Domingue tien jaar tevore in herinnering geroep. Hy het gevra: “Wat sal van ons en die hele land word as die inboorlinge begin voel dat hulle vry is en van hul mag begin bewus word en begin saamspan om hul natuurlike vryheid te herwin as die mense wat die oorspronklike besitters van die land was? In feite, niks anders nie as ’n tweede Saint-Domingue.”
Vir die landdros, wat nog in 1797 die heemrade ’n les oor die beginsel van gelykheid voor die gereg geleer het, was die voorbeeld van Saint-Domingue genoeg om hom ’n beleid te laat voorstaan wat die “gevaarlike en idealistiese gevoelens van vryheid teengaan en aan bande lê”.
In 1809 het die Britse bewind die Hottentot-proklamasie uitgevaardig, wat geskrewe kontrakte met Khoi-Khoi-werkers verpligtend gemaak het. Terselfdertyd is alle Khoi-Khois ook verplig om passe te dra, en hulle kon ’n pas van hul baas kry slegs nadat hulle hul tyd uitgedien het.
Die instelling van ’n rondgaande hof in 1811 was ’n meer effektiewe stap. Die tweede rondgang van die hof, wat in 1812 plaasgevind het, het bekend geword as die Swart Omgang.
By hierdie geleentheid is baie van die klagte van Khoi-Khoi-mishandeling wat deur die sendelinge Van der Kemp en Read ingedien is, aangehoor. Vir die eerste keer het ’n aansienlike aantal burgers voor ’n hooggeregshof verskyn om hulle te verweer teen hul werkers se klagte. Die regters van die Swart Omgang het die meeste van die beskuldigdes onskuldig bevind. Daar kan min twyfel wees dat Van der Kemp en Read ook ongegronde aanklagte teen die boere of amptenare ingedien het, maar historici het te maklik aangeneem dat die burgers gelyk gegee is. Slegs misdade wat ná 1806 gepleeg is, is voor die hof gebring. Selfs landdros Cuyler van Uitenhage, wat dikwels met Bethelsdorp se sendelinge gebots het, het opgemerk dat in vroeër tye barbaarse wreedhede inderdaad gepleeg is.
Die werklike betekenis van die Swart Omgang was dat die sendelinge daarin geslaag het om die openbare mening in Kaapstad en Londen wakker te maak oor die kwessie van Khoi-Khoi-mishandeling.
Ten spyte van die druk wat opgebou het, het daar voor 1828 geen wesenlike verandering in die wetlike posisie van die Khoi-Khois gekom nie.
Die kerstening van die slawe en Khoisan
Ná 1790 het sendelinge ook die orde wat in die Kompanjiestyd ontwikkel het, begin uitdaag. By die burgers het die probleem bly knaag hoe om die kerstening van hul slawe en bediendes, wat hulle as Christene op gelyke voet sou plaas, te versoen met hul vasbeslotenheid om alle vorme van maatskaplike gelykstelling te voorkom. Die sendeling Johannes van der Kemp het vertel van ’n vrome Graaff-Reinetse burger wat geweier het om sy slaaf te laat doop. Dit was nie omdat hy bevrees was dat hy haar dan nie sou mag verkoop nie, maar omdat sy “onuitstaanbaar trots” sou word as gevolg van haar toelating tot die Christene se geledere.
Selfs sekere sendelinge het probleme gehad. In 1792 het die Morawiese sendelinge na Baviaanskloof teruggekeer (nou genoem Genadendal), ongeveer 160 kilometer oos van Kaapstad, om die werk voort te sit wat Georg Schmidt tussen 1737 en 1744 daar aangevoor het. Hulle was nie aktivisties nie, maar die leer wat hulle verkondig het, het soms tot tragiese misverstande gelei. ’n Verslag lui: “’n Suster Martha het dronk geword en het gespog dat sy ten minste die gelyke van die koloniste is omdat sy gedoop is. Sy is uitgesluit.”
Die wêreld van die Kompanjie het baie paradokse bevat. Die gebrek aan regte vir slawe en Khoi-Khoi-werkers en die vrees vir gelykstelling het in skerp kontras gestaan met die aansienlike mate van maatskaplike integrasie in en om Kaapstad, waar wit mense van alle klasse en gedoopte nie-Europeërs dieselfde kerk bygewoon het. Kinders van alle kleure en klasse het in die paar skole gesit. In 1779 het agt onderwysers in Kaapstad klas gegee aan 696 leerlinge, van wie 80 slawe was. In Stellenbosch het 40 tot 50 kinders “van alle kleure” teen die vroeë 1790’s die openbare skool bygewoon.
Pogings om die slawe te kersten, is lank beduiwel deur die onsekerheid oor wat presies die Sinode van Dordrecht in 1618 bedoel het. In 1770 het die owerheid besluit dat dit die plig van Christene is om slawe in die Christelike godsdiens te onderrig. Dit het bygevoeg dat slawe wat aangeneem is, nie verkoop mag word nie en vrygestel moet word wanneer die eienaar sterf of die Kaap verlaat. As gevolg hiervan het die reeds baie lae koerse van doop en manumissie selfs verder gedaal.
Tot die tagtigerjare van die agtiende eeu is min formele sendingwerk gedoen. Die leiding is geneem deur die Nederlander Helperus Ritzema van Lier, wat in 1786 predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Kaapstad geword het. Teen 1788 het 60 vrywilligers in Kaapstad slawe, vryswartes en Khoi-Khois onderrig.
In 1793 het Michiel Christiaan Vos, wat aan die Kaap gebore is, predikant in die gemeente Roodezand (later Tulbagh) geword. Kort ná sy aankoms het hy aan die gemeente gesê dat hy die evangelie aan almal sal bring en meesters aangemoedig om hul slawe na hom te stuur. Dit het ’n opskudding veroorsaak. Eienaars het gevrees dat hulle nie in staat sou wees om opgevoede slawe te beheer nie. Vos het belowe dat die slawe wat hy onderrig het gehoorsamer en lojaler sou wees. Mettertyd het eienaars se verset afgeneem.
In Brittanje was daar ’n godsdienstige oplewing aan die gang, wat ’n nuwe belangstelling in sendingwerk laat ontstaan het. Dit sou verreikende reperkussies in die Kaapkolonie hê. In 1795 is die Londense Sendinggenootskap (LSG) gestig en twee jaar later het 40 Nederlanders, onder andere Johannes van der Kemp, die Nederlandse (of Rotterdamse) Sendinggenootskap gestig, wat gou by die LSG geaffilieer het. Johannes van der Kemp en James Read het in 1799 saam met twee ander LSG-sendelinge in Kaapstad aangekom. Van der Kemp en Vos het die leiding geneem in die stigting van ’n plaaslike sendinggenootskap, genaamd Het Zuid Africaansch Genootschap en later die Zuid-Afrikaansche Zending Genootschap (ZAZG), as ’n onafhanklike vereniging. Dit het die imposante Suid-Afrikaanse Sendinggestig in Kaapstad opgerig en in 1804 ingewy.
Die ZAZG het teenstand ondervind, onder meer ook omdat dit vroue toegelaat het om aktief aan die bepaling van beleid deel te neem. Onder hierdie vroue was die merkwaardige Machtelt Smit, wat onderrig gegee het. Sy word beskou as die eerste Kaapsgebore vrou wat in eie reg bekend geword het. Smit se prominente posisie het sommige laat vrees dat dit die oorheersing van die manlike lede van die Gereformeerde Kerk sou ondermyn. Die ZAZG se werk was nie net op slawe toegespits nie, want hy het klasse gegee aan alle agterlike mense, sowel wit as swart. Soortgelyke genootskappe is in Roodezand, Stellenbosch en Wagenmakersvallei (Wellington) gestig.
Die