Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
can attract … no more capital and the money sunk in the labour is about to be recovered by the colonist … through the justice and generosity of the mother country.”
Die Afrikaners het geen erkenning ontvang vir hul voorstelle om geleidelik van slawerny af te stap nie. Die proses wat tot afskaffing gelei het, het hulle nie baie gehelp om oor die kolonie se konstitusionele ontwikkeling te besin nie. Daar was geen wetgewende vergadering waarin hulle oor aangeleenthede soos vryheid en individuele regte kon debatteer nie. Londen het die hele proses alleen beheer en die eienaars moes in die onvermydelike berus.
Die bedrag van die kompensasie het groot ontsteltenis veroorsaak. Die regering het £34 per slaaf betaal, dus veel minder as die £73 wat voorgestel is deur die komitee wat die slawe se waarde moes bepaal. Die feit dat die vergoeding slegs in Londen betaal sou word en dat die eienaars verplig was om ’n aansienlike kommissie aan agente te betaal, het ook die gemoedere gaande gemaak.
Tog het die uitfasering van slawerny merkwaardig glad verloop. Die imperiale regering het bepaal dat die slawe tussen 1 Desember 1834 en 1 Desember 1838 as ingeboektes moes werk voordat hulle heeltemal vry sou wees. Die kolonie was ook nie heeltemal onvoorbereid nie. Die maatreëls wat in die voorafgaande tien jaar getref is om slawerny te versag, het reeds die meesters se gevoel van beheer ondermyn.
Meesters en slawe het die dag van bevryding met heeltemal verskillende verwagtinge tegemoetgegaan. Die slawe het lank om hierdie dag gebid, maar het geen benul gehad wat hul lot in die nuwe bedeling sou wees nie. Die meesters het gevrees dat die maatskaplike orde in duie sou stort.
Vryheidsdag, 1 Desember 1838, het almal verbaas. In plaas daarvan dat die hemel ingestort het, is die hemel se sluise geopen: drie dae lank het swaar reën uitgesak; riviere het hul walle oorstroom en sneeu het die bergtoppe versier. Alle gelowiges het gegis oor wat die hemelse boodskap is. Vir party slawe was die reën simbolies van die trane van slawe wat gesterf het voordat hulle vryheid kon smaak. (Op Stellenbosch verwys boere vandag nog na reën wat in die middel van die somer uitsak as ’n “slawereëntjie”.) Slawe-eienaars het besluit dat God met die reën ’n ramp gekeer het. Tulbagh se korrespondent van De Zuid-Afrikaan het geskryf dat die vrygestelde slawe “stil en vreedsaam is en hulle behoorlik gedra”. Die berig lui verder: “Ons het na die weer gekyk as ’n bestiering. Dit het verhoed dat groot getalle leeglêers bymekaarkom met al die gevolge wat daaruit sou spruit. Dit het ook gekeer dat daar onbehoorlike feesvierdery en dronkenskap is waaruit baie euwels sou voortspruit.” Op Stellenbosch was die kerkie van die Rynse Sendinggenootskap vol by die drie dienste wat op die dag gehou is.
Baie slawe het dit moeilik gevind om die bande van paternalisme onmiddellik te verbreek. Katie Jacobs het later onthou hoe sake verloop het met bevryding net om die draai: “My miesies het gehuil wanneer sy daaraan dink dat ek haar gaan verlaat. ‘Nee, jy moet bly,’ het sy uitgeroep. ‘Dink aan my seun wat jy gesoog en opgepas het en wat nou vir jou baie lief geraak het.’”
Hoewel haar man wou hê dat sy die plaas dadelik verlaat, het Katie nog drie of vier jaar aangebly.
Die koloniste het ’n massiewe arbeidstekort gevrees, maar soos ’n nugter waarnemer, H. Calderwood, in Desember 1838 opgemerk het, moes die vrygestelde slawe werk of honger ly. Baie het by hul meesters gebly, maar ewe veel het weggegaan. Dit wil voorkom of een- of tweeduisend gewese slawe hulle in krotte op staatsgrond aan die buitewyke van dorpe en Kaapstad gevestig het. Nog duisend het op sendingstasies gaan woon. Die ander het vir korter tydperke hul dienste uitgehuur. Aangesien die regering geen grond beskikbaar gestel het vir voormalige slawe om op klein skaal te boer nie, was die groot meerderheid verplig om plaaswerkers te bly.
Vryheid het wel subtiele veranderings meegebring. Die dae van volkome onderwerping was verby. A.J. Louw, ’n welvarende boer van die Koeberg, het gekla: “Hulle kom na die landerye nadat die son reeds op is en as ons suur daaroor is, gaan hulle weg sonder dat daar enige werk gedoen is.” Werkers het dit probeer vermy om langtermynkontrakte aan te gaan. ’n Korrespondent het aan De Zuid-Afrikaan verduidelik: “Hulle is so dikwels in die verlede wreed behandel en die mense het soveel onder slegte base gely dat hulle onwillig is om hulle self te verhuur voordat hulle vasgestel het watter soort baas hulle het.”
Die korrespondent het bygevoeg dat die meesters te geneig was om hulle toevlug te neem tot die sweep, die kats en die sambok. Boere was dus verplig om arbeiders per dag te huur, iets waarvan hulle nie gehou het nie. Die kontantlone het baie laag gebly en die werkers is meesal betaal in kos, wyn (wat die dopstelsel voortgesit het), klere, en vee. Reeds onder slawerny het party slawe klein stukkies grond gekry om ’n tuin te maak en hul vee te laat wei. Ná emansipasie het dit op sommige plase ontwikkel in ’n vorm van huurpag. Die meesters het aangehou om ’n rondloperswet te eis wat aan hulle goedkoop arbeiders sou besorg, maar die regering het geweier.
Die vrees dat die landbousektor in duie sou stort, is nie bewaarheid nie. Tussen 1834 en 1842 het die koring- en hawerproduksie met omtrent ’n derde gedaal, maar daarna het dit weer tot die vorige vlakke gestyg. Die wynproduksie is nie baie geraak nie. Teen die middel-1840’s was die wyn- en koringplase terug op die vlakke van voor Vryheidsdag. Die vrees dat die kolonie nie sonder slawerny kon oorleef nie, was ongegrond.
Verteenwoordiging vir die “eenvoudigste boer en Hottentot”
Die afskaffing van slawerny het die grootste struikelblok in die weg van verteenwoordigende regering verwyder. Die burgers het nou alle aandag op die veldtog vir selfregering gevestig. Hulle het geweet dat die imperiale regering slegs ’n nierassige grondwet sou goedkeur, maar vir die burgers was dit nie onoorkomelik nie. In die Kompanjiestyd het die maatskaplike orde op nierassige statusverskille berus. Slawerny is nooit op rassegronde verdedig nie. In die kerk het die buitedistrikte skeidingsmaatreëls getref, maar dit was eers in 1825 dat die kerk in Stellenbosch onderskeid tussen wit en swart gemaak het. In 1828 het ordonnansie 50 die beginsel van nierassige regte ingevolge die wet in sowel die staat as die kerk stewig gevestig.
Selfregering, nie wit selfregering nie, was die enigste lewensvatbare grondwetlike opsie. Nierassige selfregering was geen bedreiging nie. Hollandssprekende koloniste het meer as driekwart van die wit bevolking verteenwoordig en selfs met lae stemkwalifikasies sou die meeste gekleurdes en swart mense nie kon stem nie. In die landelike gebiede was daar baie min swart of gekleurde mense buite die sendingstasies wat nie arbeiders was nie.
Selfs in Kaapstad was daar maar net ’n beperkte nierassigheid. Die NG Kerk in Kaapstad het nooit op grond van kleur onderskeid getref nie, maar die meeste mense wat nie wit was nie, het in die gemeentes van die verskillende sendinggenootskappe aanbid. Daar het ’n klassesamelewing ontstaan wat nie veel van die Kompanjie se statushiërargie verskil het nie: blankes was bo en swartes onder. Swart mense het ’n veel groter gevaar geloop om van misdade beskuldig te word as wit mense. Die howe was ook geneig om hulle swaarder te straf. Huwelike oor die kleurlyn heen het ook afgeneem.
Van die begin van die jare dertig het die Afrikaanse koloniste begin druk uitoefen om selfregering te verkry. Hulle het nou nie meer as oudburgers op politieke regte aangedring nie, maar dit opgeëis as die gemeenskaplike reg van alle Britse onderdane.
Die imperiale regering se minister van kolonies, lord Stanley, het selfregering vir die Kaap verwerp. Hy wou nie die mag in die hande laat kom van die Hollandssprekende koloniste nie, wat hy “in alle opsigte behalwe getalsterkte” as ondergeskik aan die Engelssprekendes beskou het.
Die liberale stem aan die Kaap was aanvanklik betreklik stil oor die kwessie van selfregering. Met slawerny uit die weg en die Khoi-Khois “bevry” het liberalisme begin taan. Die Commercial Advertiser het baie van sy hervormingsywer en besorgdheid oor die onderste klasse verloor. John Fairbairn het deel van die “Anglo-Hollandse” bourgeoisie in Kaapstad geword. Die meeste buitelandse sendelinge was gekant teen radikale inmenging om maatskaplike gelykheid te bereik. Aan die oosgrens was James Read, wat met ’n Khoi-Khoivrou getroud was, by sy kollegas in onguns. Hy het gedink dat hulle te bekommerd is oor die gevaar van gelykheid vir die Khoi-Khois. Hy het ook gesê: “I am not made to act with these white men, I am too much of a Hottentot.”
Alhoewel die Kaap wat betref sy rassesamestelling heeltemal uniek was, het die kolonie se grondwetlike ontwikkeling dieselfde paadjie geloop as dié van ander Britse kolonies. Die Raad