Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
was dit steeds die NG Kerk se beleid dat ras of kleur nie mag tel in die besluit om mense te doop of aan te neem nie. Swart lidmate het in die gemeentes in Kaapstad geen protes uitgelok nie, maar in die eerste dekades van die negentiende eeu het blankes in die binneland in verskeie gevalle teen die aanwesigheid van gekleurde mense in die kerk beswaar gemaak. Verskillende vorme van skeiding en onderskeid gegrond op afkoms het voorgekom.
In 1829 het die NG Kerk se tweede sinode besluit dat geen vorm van kleurskeiding in die kerk toegelaat sou word nie. By hierdie sinode was P.J. Truter aanwesig. Hy was ’n vooraanstaande kolonis en ook die regering se verteenwoordiger in ’n tyd toe die NG Kerk nog ’n semistaatskerk was. By die sinode het hy die kerk daaraan herinner dat ordonnansie 50 van 1828 ’n nuwe nierassige orde ingewy het, wat ook vir die kerk geld. Sommige burgers in die oostelike distrikte het beswaar aangeteken teen die kerk se nierassige beleid. J.N. Boshoff, ’n Graaff-Reinetse amptenaar, het gelykstelling in die kerk genoem as een van die oorsake van wat later die Groot Trek genoem sou word. Volgens hom is swartes toegelaat om hulle as “op gelyke voet met blankes te beskou in godsdiensoefeninge in die kerk, hoewel eersgenoemde heidens is en nie lede van so ’n gemeente nie”. Die NG Kerk het egter vas bly staan. In 1847 het die kerk sy beleid bevestig: “Alle klasse, wit of swart, moet toegelaat word om deel te neem.”
Sowel die Anglikaanse Kerk as die Rooms-Katolieke Kerk, die twee vernaamste Engelstalige kerke, het geweier om aparte kerke binne die koloniale grense vir die verskillende rassegemeenskappe te kondoneer, maar mense van verskillende kleure het in die algemeen in aparte gemeentes aanbid. In Kaapstad het die ZAZG ’n gemeente bedien wat omtrent uitsluitlik gekleurd was. In die NG Kerk was die situasie nog vloeibaar. Op party dorpe het individuele lede ’n geboutjie opgerig, gewoonlik ’n gestig genoem, waar gekleurde Christene kon aanbid.
Sendingwerk onder die vaandel van die NG Kerk het nie baie vooruitgang gemaak nie. Op sy sinode van 1847 het die kerk ’n spesiale komitee benoem om sendingwerk te bevorder, maar by die 1852-sinode is gerapporteer dat ’n gebrek aan geld sendingwerk kniehalter. In die vroeë jare vyftig het die kerk vyf sendelinge in sy diens gehad. In hierdie stadium het dit al hoe duideliker begin word dat die NG Kerk ver agter raak op die gebied van sendingwerk. Aartsdeken N.J. Merriman van die Anglikaanse kerk het in ’n boek wat in 1854 verskyn het verwys na die “onverklaarbare verwaarlosing” van die gekleurde mense deur die NG Kerk, wat hul taal en hul gewoontes die beste ken. Ds. Abraham Faure, ’n vooraanstaande NG predikant, was so ontsteld oor die aanklag dat die NG Kerk sy sendingplig versuim dat hy sy hele toespraak by die tweede eeufees in 1852 daaraan gewy het om die aanklag te weerlê. Sy argumente was egter nie baie oortuigend nie.
Op hierdie tydstip het een van die briljantste jong predikante van die NG Kerk, Nicolaas Hofmeyr, seun van ’n welgestelde en invloedryke Kaapse familie, in die Kaap aangekom ná sy teologiese studie in Utrecht. Saam met hom was Andrew Murray en John Murray, seuns van Andrew Murray, wat baie begeesterd was deur die Hollandse “Réveil”beweging, wat die liberale teologie verwerp en die waarde van geestelike ervaring beklemtoon het.
Die drie jong predikante het die NG Kerk se louheid teenoor sendingwerk as ’n groot verleentheid ervaar. Veral Hofmeyr het sterk daaroor gevoel dat die kerk nie langer sy verpligting tot sendingwerk kon ontduik nie. Hy het in 1851 predikant in die gemeente Calvinia geword en is geskok deur die intense teenstand teen sendingwerk. Hier het hy die eerste keer gehoor dat die Bybelse storie van die vloek van Gam gebruik word om die uitsluiting van gekleurdes uit kerkdienste te regverdig. Toe gekleurde mense begin om sy kerkdienste by te woon, het hy wit verset probeer paai deur aan hulle die agterste banke toe te wys. Daar was nietemin groot ontsteltenis toe hy die huweliksgebooie van ’n baster in ’n kerkdiens gelees het. Hofmeyr het die blankes aangemaan om hulle bediendes by huisgodsdiens te betrek. “Dit is in hul eie belang”, het hy gesê, aangesien “dit hul bediendes fermer aan hulle sal bind as enigiets anders.”
Die idealistiese Hofmeyr het vuriglik begeer dat die NG Kerk die vernaamste sendingkerk in die kolonie word. Maar hy het besef dat dit hoogs onwaarskynlik sou wees as groter ywer met sendingwerk tot ’n sterk toename van bruin en swart kerklidmate sou lei. In 1854 het Hofmeyr die saak van sendingwerk aangeraak in ’n reeks artikels in die kerk se tydskrif, De Gereformeerde Kerkbode. Hy het vanuit die diepte van sy sendingoortuigings geskryf. Hy wou nie verskille in rang of status versteur nie, soos die sosiale hiërargie genoem is. Sy prioriteit was om die evangelie aan siele te bring wat andersins verlore sou wees.
Hofmeyr het drie moontlike opsies vir ’n sendingbeleid onderskei. Ten eerste was daar “afskeiding”, naamlik heeltemal aparte sendingstasies of gemeentes vir kleurlinge. Hy het dit afgekeur omdat dit die band tussen wit en gekleurd sou verbreek en die invloed van die kerk in die samelewing sou laat taan. Ten tweede het hy ook die samesmelting van wit en gekleurde gelowiges en ’n identiese benadering teenoor die twee verwerp. Gekleurde mense was in sy woorde “op ’n laer vlak van ontwikkeling”; dus moes die evangelie aan hulle in ’n eenvoudiger en konkreter idioom gebring word. Dit is ook belangrik, het hy geoordeel, dat gekleurdes hul plek in die statushiërargie ken en nie hul eie stand vergeet nie.
Hofmeyr het hom ten gunste verklaar van die derde opsie, sy sogenaamde middeweg om die vrese vir gelykstelling te oorkom. Hiervolgens sou elke gemeente ’n sendeling en ’n predikant hê, en ’n gestig en ’n kerk. Die sendeling sou die gestig gebruik vir godsdiensonderwys om die evangelie te bring op ’n wyse wat by die behoeftes van gekleurdes pas. Die predikant sou die diens in die kerk waarneem, en dit moes vir die gekleurde lede altyd vrystaan om die diens by te woon. Die predikant sou ook die doop en die aanneming in die gestig waarneem en die Nagmaal bedien. As praktiese man wou Hofmeyr ’n werkbare beleid hê.
Hierdie debat is ’n paar jaar later op die spits gedryf deur twee gebeurtenisse. Die een geval was ’n versoek deur 45 wit lede van die gemeente Stockenstrom in die Katriviervallei, 120 km noordoos van Grahamstad. Dit was hoofsaaklik ’n gekleurde gemeente met ’n gekleurde kerkraad waarby hierdie blankes aangesluit het. Hulle het ’n paar jaar later verlof van die kerkraad gevra dat die Nagmaal apart aan hulle bedien word vóór of ná die diens (maar nie op ’n ander dag nie). Die kerkraad het hierdie versoek geweier.
Die ander brandpunt was ’n geskil in die NG gemeente Ceres in die Wes-Kaap. Mense wat moontlik beïnvloed is deur Hofmeyr se artikels in die Kerkbode het gevra dat die kerkraad ’n gestig oprig waar gekleurdes onderrig kon word en “al die voorregte van hul godsdiens” kon geniet. Die kerkraad het die versoek goedgekeur en ’n bedrag daarvoor afgestaan, maar ds. R. Shand het beswaar aangeteken. Na sy mening sou so ’n besluit bots met die sinode se vorige beslissings om geen onderskeid tussen lede te maak nie. Hierdie saak is na die sinode van 1857 verwys.
Die sinode van 1857 het teen die agtergrond van dringende vertoë oor die uitbreiding van die sendingwerk binne die NG Kerk plaasgevind. By die sinode is die ou orde verteenwoordig deur ’n spesiale kommissie wat gerapporteer het dat die tyd nog nie ryp is vir ’n gekoördineerde poging om die sendingwerk uit te brei nie. Die sinode het daarop ’n nuwe komitee aangestel waarin Hofmeyr, die broers Murray en P.K. Albertyn ook gedien het. Dié komitee het gerapporteer dat met die nodige ywer vooruitgang inderdaad gemaak kan word.
In die sinode van 1857 was daar slegs ’n kort verwysing na die geval Stockenstrom; die geval Ceres het die verrigtinge oorheers. In die debat oor hierdie saak het verskeie deelnemers sterk standpunt ingeneem teen die rassevooroordeel wat veral in party gemeentes in die grensgebied geheers het. Hulle het gevra dat die kerk sy beleid van niediskriminasie bevestig. Hofmeyr, wat een van die laaste twee sprekers was, het betoog dat daar ’n belangriker saak is, naamlik om die doeltreffendste manier te vind waarop die kerk sendingwerk kon bevorder.
Aan die einde is ’n kompromis voorgestel deur Andrew Murray senior van Graaff-Reinet, wat ook ’n prominente voorstander van sendingwerk was: “Die Sinode beskou dit wenslik en skriftuurlik dat ons lede uit die heidene in ons gemeente opneem en inlyf orals waar dit kan gebeur. Waar egter hierdie maatreël ten gevolge van die swakheid van sommige die bevordering van die saak van Christus belemmer, sal die heidene wat op hierdie manier bymekaargebring is hul Christelike voorregte in ’n afsonderlike gebou of gestig geniet.”1
Dié voorstel is aanvaar. Hofmeyr