Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
moontlik as alle burgeroffisiere en amptenare die bestaande bevele en voorgeskrewe prosedures streng gehoorsaam. En dit was juis wat Retief nie wou doen nie.
Maar die saak was kompleks. Die regering aan die Kaap, wat self nie in staat was om die veiligheid aan die grens te waarborg nie, het voortdurend ingemeng. Dit het heeltemal tereg nie die grensboere toegelaat om eie reg te gebruik soos in die ou dae nie. Maar dit het versuim om ’n behoorlike troepe- of polisiemag aan die grens te plaas en het voortdurend nuwe beperkings aan die burgers opgelê. In 1825 het dit die reg van koloniste om te vuur op mense wat daarvan verdink word dat hulle drosters, leeglêers of ontsnapte gevangenes is, streng omskryf. Die prokureur-generaal het geskryf: “In geen geval mag dodelike wapens gebruik word voordat alle ander middele eers misluk het nie. Geduld en verdraagsaamheid moet altyd beoefen word waar die lewe van ’n medemens op die spel is.” Terwyl die grensgebied al hoe onveiliger geraak het, was dit vir die boere al hoe onduideliker wát toelaatbaar is om lewe en eiendom te verdedig en wát nie.
“Streng en gelyke geregtigheid”: Stockenstrom se beginsel
Teenoor die standpunte wat Retief verkondig het, het die opvattings van Andries Stockenstrom gestaan. Stockenstrom het aan die hoof van kommando’s aktief deelgeneem aan die militêre operasies, maar oor die toestand aan die grens groot kommer gehad. Vir hom was een van die groot oorsake van die konflik die soort diskresie wat Retief wou hê om die grens oor te steek en by ’n Xhosa-kraal die beeste terug te eis. Hy het ook sterk getwyfel of die militêre ekspedisies deur troepe en burgers oorkant die grens enigsins die vrede bevorder. Hy was oortuig dat die inval van Ndlambe se krygers in 1819 daaraan toe te skryf was dat hulle honger gely het en desperaat was.
Stockenstrom het terselfdertyd ’n ferm beleid teenoor die Xhosas voorgestaan. Hy het aan die goewerneur geskryf dat dit absoluut noodsaaklik is dat Xhosa-veediewe gedwing word om hul gedrag te verander; daar moet nie met hulle gespeel word nie. ’n Bende “rowers en moordenaars” moet uitgewis word sodra hulle gewaar word ten einde te voorkom dat die kwaad wat hulle aanrig, versprei en honderde lewens eis. Militêre mag moet egter slegs gebruik word wanneer dit absoluut noodsaaklik is. Kommando’s kan gesteelde vee in die kolonie terugvat, maar moet nie toegelaat word om die grens oor te steek nie.
Die sogenaamde terugvatstelsel is hoofsaaklik uitgevoer deur klein patrollies wat die spoor van gesteelde vee moes volg en die vee terugkry. Hierdie patrollies het gewoonlik bestaan uit Britse soldate en burgers onder bevel van ’n Britse offisier. Hierdie stelsel het misluk. Die plase was nie omhein nie en daar was altyd te min mense wat die gevaarlike werk van veewagter wou doen. Veediefstal was aan die orde van die dag. Boere wat vee vermis het, kon eenvoudig na die naaste militêre pos gaan en aandring op ’n patrollie sonder dat hulle enige poging aangewend het om eers vas te stel of hul vee in werklikheid gesteel is. Die patrollies het krale dikwels nie eens die geleentheid gegee om hul onskuld te bewys nie.
Daar was ander probleme. Baie van die diefstalle is gepleeg deur bendes wat nie onder die beheer van ’n kaptein gestaan het nie. Sommige kapteins het die stelsel misbruik om wraak op hulle vyande te neem. ’n Patrollie gelei deur kolonel Henry Somerset, seun van die goewerneur, het twee keer die verkeerde kraal afgebrand met lewensverlies. Stockenstrom het later verklaar dat hy weet van vyftig gevalle waar patrollies die grens oorgesteek en onskuldige krale geplunder het. Dit het tot teenaanvalle gelei. Die Xhosas het dikwels teenoor Stockenstrom opgemerk: “Ons gee nie om hoeveel Xhosas julle skiet as hulle in jul land kom en julle hulle vang terwyl hulle steel nie, maar met elke bees wat julle uit ons land vat, skep julle ’n dief.”
Dit was die agtergrond van ’n debat wat in 1825 in die privaatheid van die drosdy op Graaff-Reinet gevoer is oor die vraag of die burgers aan die grens kon oorleef sonder dat alle morele waardes in die slag bly. Stockenstrom was die gasheer en sy gaste was twee sendelinge, dr. John Philip en dr. William Wright van die Londense Sendinggenootskap, en ’n Britse setlaar, Thomas Pringle, bekend vir sy liberale oortuigings.
Philip was vinnig besig om bekend te raak as die Afrikanergrensboere se felste kritikus. Hy het Stockenstrom beskou as ’n gawe kêrel, maar in sy oë was selfs Stockenstrom verdag as iemand van Afrikaanse afkoms wat “natuurlik” ten gunste sou wees van die ou stelsel van verdrukking. Philip was aan die werk aan sy Researches in South Africa, waarin hy die boere se wrede onderwerping van die Khoi-Khois beskryf. Na sy mening was dieselfde met die Xhosas aan die gebeur. Vir hom was die Xhosas vredeliewend, betroubaar, eerlik en geloofwaardig; die koloniste daarenteen was vervul met “insatiable avarice and rapacity”. Hy het die boere daarvan beskuldig dat hulle die Xhosas in die harnas jaag deur hul vee te steel, onwettig handel te dryf en hul grond af te vat. Die Xhosas het toenemend beheer oor hul grond en vee verloor en het geen alternatief gehad nie behalwe om te steel en te plunder. Vir Philip het sendingwerk nie net oor die verkondiging van die Christelike boodskap gegaan nie. Deur sendingwerk wou hy ook Britse markte en Britse waardes bevorder.
In die debat op Graaff-Reinet was die sendelinge, soos Stockenstrom dit gestel het, hewig ontsteld oor die onreg en verdrukking waarvan hulle gehoor of wat hulle self gesien het. Stockenstrom het gemeen dat Philip die Xhosas en Khoi-Khois se verantwoordelikheid vir veediefstal heeltemal oor die hoof sien en ook onregverdig is deur die burgers uit te sonder as skuldiges in die patrollies wat gruweldade gepleeg het, terwyl hy die wandade van Britse soldate of Britse setlaars aan die grens ignoreer.
Stockenstrom het geen illusie gekoester dat die burgers altyd reg optree nie. Hy het ruiterlik erken dat die boere in die verlede wreedhede teen die inboorlinge gepleeg het. Hy het verder opgemerk dat elke verantwoordelike burger hierdie feite erken en dit betreur. Die wreedhede het egter tot die verlede behoort. Stockenstrom het beklemtoon dat die burgers regte het, veral die reg op sekuriteit van hul lewe en eiendom, en op billike behandeling deur die regering. Stockenstrom se eerste vraag was dus nie wie in die stryd aan die grens moreel reg was nie, maar hoe die burgers hulle self kon handhaaf op die grens sonder dat dit ten koste van die swartes is.
In die gesprek het Stockenstrom drie opsies onderskei wat vir die grensboere bestaan: “Ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet verdedig wat ons het.” Vir hom was weghardloop nie ’n aanvaarbare opsie nie en tien jaar later sou hy die uittog wat bekend geraak het as die Groot Trek veroordeel. Hy het die opvatting verwerp dat die burgers nie die reg het om hulle self te verdedig nie. Die beste opsie was om “te verdedig wat ons het en om die beginsels te bepaal waarop daardie verdediging moet berus”.
Wat was daardie beginsels? In sy loopbaan as grensadministrateur het Stockenstrom altyd waarheid en geregtigheid beklemtoon. Vir hom moes hierdie twee kernwaardes die grondslag van die stelsel vorm wat hy aan die grens wou vestig. Om soos Philip die feite te ontken, was oneerlik.
Saam met die soeke na onpartydige waarheid het Stockenstrom ook geregtigheid nagestreef. Vir hom was dit onaanvaarbaar dat burgers en soldate, nadat ’n klag oor veediefstal by ’n grenspos ingekom het, self ’n oordeel vel en wraak neem, soos die terugvatstelsel hulle toegelaat het om te doen. Elke militêre operasie, ook klein patrollies of kommando’s, moet slegs binne ’n raamwerk van ondubbelsinnige bevele en onder betroubare bevelvoerders plaasvind. Hy het teenoor sy gaste opgemerk dat hy sy bes doen om die wit man te laat hang wat ’n swarte vermoor, maar ook alles in die werk stel om rower- en moordbendes uit te roei met wie daar nie op ’n ander manier afgereken kan word nie.
Oor die belangrikheid van die waardes van waarheid en geregtigheid was daar dus nie werklike meningsverskil tussen Stockenstrom en sy gaste nie. Hulle kon ook saamstem oor wat in die verlede gebeur het. Oor die beleid vir die hede en veral oor streng optrede teen bendes kon hulle mekaar egter nie vind nie. Stockenstrom het geskryf dat hulle sy geduld tot die uiterste beproef het met die venyn waarmee hulle die huidige geslag van koloniste veroordeel het en geweier het om die werklike toestand en die noodsaak van selfverdediging enigsins in ag te neem.
’n Skaakmat het in hul argument ontstaan en die gaste het Stockenstrom tot stilswye probeer dwing deur op te merk dat die koloniste geen reg het om in die grensgebied te wees nie. Hierop het Stockenstrom geantwoord dat die Britte hierdie beginsel meer as elke ander nasie in die wêreld verontagsaam het.
Tussen die middel van die twintigerjare en die