Die Afrikaners. Hermann GiliomeeЧитать онлайн книгу.
sentiment verwoord in 1838 net nadat hy leier van die trekkers in Natal geword het. In ’n brief aan ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl, wat hy “’n ware Afrikaner” noem, het hy geskryf dat die trekkers op die oomblik rondswerf, maar eendag ’n volk sal word en tot Sy eer sal leef. Hier kry ons dus ’n manifestasie van die soort politieke bewustheid wat in die dekade voor die trek en selfs aan die vooraand van die trek nog afwesig was.
Dit is egter foutief om die trek te beskou as iets wat veroorsaak is deur die begeerte om as ’n volk of nasie ’n nuwe tuiste te gaan soek. Dit is eers nadat die trekkers aan die beweeg gekom het dat hierdie gedagte by die leiers begin posvat het.
Voorbereidings en ’n manifes
Die Groot Trek was nie ’n impulsiewe daad nie. Dit is voorafgegaan deur ’n noukeurige ondersoek na die bestaansvooruitsigte in die dieper binneland. Gedurende die 1830’s het drie verkenningsekspedisies, genaamd kommissietrekke, uitgegaan om die moontlikhede te ondersoek. Een so ’n trek het deur Damaraland in die huidige Namibië gereis; die ander na die huidige Mafikeng en Gaborone, en die derde na Natal. Laasgenoemde het geesdriftig oor die land met die oorvloedige weiveld gerapporteer. Weens die Mfecane was baie gebiede yl bevolk. Ná hul terugkoms het die lede van die kommissietrekke die idee van emigrasie gepropageer. Die Mfecane het die Voortrekkervestiging baie makliker gemaak omdat groot gebiede tydelik ontruim was. Begeerlike grond het gelyk of dit wag om beset te word.
Piet Retief het reeds teen die einde van 1836 besluit om te trek. Op 22 Januarie 1837 het hy sy manifes in die Grahamstown Journal gepubliseer. In die laaste week van Januarie was Retief in Grahamstad tuis by die joernalis Louis H. Meurant, wat 22 jaar later die eerste Afrikaanse politieke boek, Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar, oor die afskeiding van die oostelike van die westelike provinsie gepubliseer het. Dit is moontlik dat hy ’n belangrike rol in die opstel van die manifes gespeel het.
Die manifes was nie ’n welluidende verklaring van onafhanklikheid nie, maar ’n dokument wat veral die vermoede wou beveg dat die trekkers aan die beperkings van die wette wou ontsnap. Die hele strekking is dat wetsgehoorsame burgers net onder uiterste provokasie besluit het om te trek en geen opstandsgedagtes het nie. Retief se grootste prikkel was sy frustrasie dat hy as burgeroffisier magteloos was om op te tree teen rondlopers wat hy seker was sou steel. Sy hande was egter afgekap omdat hulle passe gehad het wat deur agente uitgereik is. Die eerste punt van sy manifes, soos vertaal deur sy biograaf J.L.M. Franken, begin dan ook met die punt.: “Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van daardie euwels wat dit bedreig vanweë die onruswekkende en roekelose gedrag van landlopers wat toegelaat word om die land in al sy dele te verontrus.” Dit kla verder oor die “aanhoudende plunderings [sic]” van die swart en gekleurde rasse, veral in die laaste grensoorlog. Ook teken dit beswaar aan oor verliese wat gely is deur die vrystelling van slawe en wette wat aangaande die verhouding tussen heer en slaaf uitgevaardig is. En dan is daar ’n verwysing na die getuienis wat Philip in Engeland oor die konflik aan die oosgrens afgelê het: “Ons kla oor die onregverdigbare blaam wat op ons gewerp is deur belanghebbende en trouelose persone wie se getuienis in Engeland geglo word met uitsluiting van alle getuienis ten gunste van ons …”
Die manifes beklemtoon dat die emigrante niemand wil verslaaf nie, maar die ou paternalistiese verhouding tussen meesters en bediendes wil herstel. Hulle sal niemand se eiendom neem nie, maar hulle sal hulle self beskerm teen aanvalle op hulle lewe en eiendom. Hulle sal wette maak om hulle self te regeer en hulle sal kopieë daarvan aan die kolonie ter inligting stuur. Hulle plan is om in vrede te leef met die swart stamme in wie se omgewing hulle gaan woon.
Die manifes sluit af met ’n geloofsbelydenis: “Ons verlaat nou ons vrugbare geboorteland waarin ons enorme verliese gely, en voortdurend onlydelikheid [sic] ondervind het; en ons gaan ’n woeste en gevaarlike gebied binne; maar ons gaan met ’n vaste vertroue op die Alsiende, Regverdige en Genadige Opperwese en dit sal immer ons strewe wees om Hom te vrees en nederig te gehoorsaam.”
Retief het moontlik op 1 Februarie 1837 persoonlik van Stockenstrom afskeid geneem, maar teen hierdie tyd was die verhouding heeltemal versteur, soos blyk uit die finale briefwisseling. Stockenstrom het Retief die skuld gegee omdat die trekkers die beskerming van die Britse regering versaak vir dié van twee “Kafferhoofde” (Dingane en Mzilikasi). Retief het geantwoord dat die trekkers op God alleen vertrou om behoed te word teen “ongelukkige lotgevalle”. Op 2 Februarie 1837 het Retief uit Grahamstad op sy noodlottige tog vertrek. Retief het sy dagboek aan Meurant gegee. Daarin is die boere se griewe sedert die Slagtersnekrebellie opgeteken. Van Meurant het Retief as geskenk ’n groot werk in kwartoformaat oor die Romeins-Hollandse reg ontvang.
Stockenstrom se oplossing: ’n verdragstelsel
Stockenstrom het in die laaste maande van 1836 sy gedagtes oor ’n verdragstelsel waarmee hy al sedert die jare twintig besig was, in die praktyk probeer verwesenlik. In November 1836 het hy geskryf dat die kolonie óf die Xhosas moet uitwis, waarmee hy bedoel het verdryf uit die grensgebied, óf versoening en geregtigheid nastreef. Elke beleid tussenin sou rampspoedig wees. Ten einde kwessies soos veediefstal op te los, moet verdrae tussen die kolonie en die kapteins in die neutrale gebied gesluit word. Verdrae was niks nuuts in die grenspolitiek nie, maar vir Stockenstrom was dit allermins ooreenkomste tussen ’n meerderwaardige en ’n minderwaardige gesag. Vir hom was die verdrae tussen die kapteins en die koloniale regering op ’n vlak van verdrae tussen onafhanklike state.
Stockenstrom het geweet hoe sterk die verset teen sy plan was. Hy het opgemerk dat mense dink dit is absurd om die reëls van die verkeer tussen beskaafde nasies toe te pas op die kolonie se optrede teenoor “barbare”. Maar hy het by sy standpunt gebly: Hy het geglo dat die beginsels van waarheid en geregtigheid universeel en ewig is tussen nasies en ook tussen individue. “Ek glo dat die magtigste moondheid sowel as die mees onbenullige gemeenskap deur beginsels gebind word.” Hy was daarvan oortuig dat die koloniste hulle misgis as hulle dink dat die Xhosas slegs “’n bende diewe” is. Hy het verklaar: “Ons is sowel in die veld as in die kabinet verslaan deur ’n bende diewe.” Dit was ’n verwysing na die herroeping van D’Urban se beleid.
Stockenstrom het min geloof gehad in John Philip se visie van imperialistiese uitbreiding met die doel om die swart mense onder Britse gesag te bring en kultureel te assimileer. Na sy mening was dit onverstandig om in te meng in die wyse waarop inheemse mense hulle lewens en konflikte reël. Hy het nie geglo dat die invoer van Engelse wette hoegenaamd prakties sou wees nie. Die vooroordele van ’n nasie lyk miskien belaglik, maar hulle kan nie maklik uit die weg geruim of geïgnoreer word nie.
Stockenstrom wou eerder sy stelsel rondom die kapteins se gesag bou. Hy het geglo dat sonder die kapteins geen vrede moontlik sou wees nie. Volgens sy stelsel is aan die kapteins spesifieke gebiede in die neutrale gebied toegewys. Hulle moes raadslede aanstel om toesig te hou oor hul betrokke gebiede. As vee gesteel is, kon boere dit slegs met die hulp van hierdie raadslede anderkant die grens gaan soek. Geen patrollie kon net by ’n kraal opdaag en kompensasie eis soos volgens die ou terugvatstelsel nie.
Verder wou hy by die wortel van die diefstalprobleem uitkom, naamlik op die plase. Die boere moet hul vee ordentlik oppas en hul werksmense behoorlik betaal. Die boere, het hy geskryf, moet onthou dat hulle goeie grond goedkoop gekry het en moet dus nie kla as hul kuddes nie behoorlik beskerm word nie. Die koloniste moet toegelaat word om hul eiendom en lewens teen die rowers te beskerm, indien nodig met wapens. As vee gesteel is, moet die diewe gevang en gestraf word, maar alles moet volgens die wet geskied. Daar kan nie die risiko van ’n bloedige oorlog geloop word vir elke koei wat wegraak nie.
Onder sowel tydgenote as historici is daar geen konsensus oor hoe goed die verdragstelsel daarin geslaag het om stabiliteit te bewaar nie. Een ingeligte grensboer het later verklaar dat die beleid ’n ramp was en dat moord en plunder aan die orde van die dag was. Maar hierdie oordeel is gevel lank ná die gebeure. Sommige van die agente aan wie die taak toevertrou is om die beleid uit te voer, het ’n sukses daarvan gemaak. Een van hulle was C.L. Stretch, wat gerapporteer het dat hy al sy sake vreedsaam met die hulp van die Xhosa-kapteins kon oplos.
Maar daar was ook ernstige probleme rondom die uitvoering van die beleid. Die regering was nie bereid om groot onkoste aan te gaan vir militêre poste of om ’n sterk staande militêre