Kobra. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
Deon Meyer
Kobra
Human & Rousseau
1
Die reën dawer op die sinkdak neer, tien oor agt in die oggend. Kaptein Bennie Griessel maak sy moordtas oop op die muurtjie van die hoë, breë stoep, haal eers die skoenbeskermers uit, dan die dun, deursigtige rubberhandskoene. Hy trek dit aan, vaagweg bewus van die eerbiedige oë op hom, die uniforms en twee stasiespeurders wat anderkant die slierte reën in die oop motorhuis skuil. Sy tamheid en kommer vervaag, sy fokus is op wat hier in die groot ou huis wag.
Die swaar voordeur staan oop. Hy stap tot op die drumpel. Die grou oggend gee ’n diep skemer aan die voorportaal sodat die tweede slagoffer ’n donker, vormlose massa daar binne is. Hy staan ’n oomblik lank met ingehoue asem, oordink Dok Barkhuizen se refrein: Moet dit nie internaliseer nie. Hou jou afstand.
Wat beteken dit nóú?
Hy soek ’n ligskakelaar, kry dit binne net langs die kosyn en sit dit aan. Hoog teen die barok-plafon skyn ’n kandelaar wit en helder. Dit verdryf nie die koue nie. Op die gloeiende eikehoutvloer lê die man uitgestrek, vier meter van die deur af. Swart skoene, swart broek, wit hemp, liggrys das, boonste knoop oop. Arms uitgestrek, in die regterhand ’n pistool vasgeklem. Middel dertigs. Lenig.
Griessel tree versigtig nader. Hy sien die skietwond in die voorkop, skuins bokant die linkeroog. ’n Dun straaltjie bloed wat na regs afloop, nou byna swart. Onder die kop wat na regs rus, is ’n plas, dikker, so groot soos ’n piering. Uitskietwond.
Hy voel verligting weens die eenvoud van dié dood, die snelheid daarvan.
Hy sug lank, ’n poging om die spanning uit sy lyf te kry.
Dit werk nie.
Hy betrag die voorportaal. Op ’n antieke tafel regs staan ’n ligblou vaas met ’n massa vars varkore in groen en wit. Oorkant, teen die linkermuur, is ’n hoedestaander langs ’n sambreelrak. Ses outydse portrette teen dié muur, in swart, ovaal rame. Statige mans en vroue staar uit elkeen.
En agter, na binne, maak ’n sitvertrek tussen die twee pilare oop.
Hy maak sy berekeninge oor die manier wat die lyk lê, die waarskynlike trajek van die skoot, sodat hy kan trap waar dit die onsigbare bloedsproei en -spatsels so min moontlik sal versteur. Hy loop om en gaan buk by die pistool, sien die Glock-logo op die loop, daarnaas 17 Gen 4 Austria 9x19.
Griessel ruik aan die loop. Dit is nie afgevuur nie. Hy kom regop.
Die skieter het bes moontlik in die deur gestaan, die slagoffer min of meer in die middel van die portaal. As die moordwapen ’n pistool was, sou sy doppie na regs uitgewerp het. Hy soek daarvoor, kry dit nie. Dalk het hy ’n rewolwer gebruik. Dalk het dit van die muur af teruggespring, lê dit onder die liggaam. Dalk het die skieter dit opgetel.
Die uitskietwond beteken die koeël sou iewers vasgeslaan het. Hy trek ’n denkbeeldige lyn wat hom lei na die sitvertrek.
Hy trap versigtig, loop wyd om die lyk, verby die pilare, kry die vae reuk van hout wat gebrand het. Die portaal se kandelaar verlig net ’n smal baan in die groot vertrek en dit gooi ’n lang Griessel-skaduwee, sodat hy weer vir ’n skakelaar soek. Hy sien drie in ’n ry, net agter die pilaar, druk hulle een vir een, en draai om. Sagte beligting. Dik balke teen die plafon. Rakke teen die mure, gevul met leergebinde boeke. Massiewe Oosterse tapyt, silwer en blou, groot sofas en gemakstoele in twee sitruimtes verdeel. Koffietafels, glimmende, goue hout. Te veel vase en lampies, saam met die besige muurpapier daarop gemik om ’n indruk van ouwêreldse elegansie te skep. In die middel, statig en indrukwekkend, is die groot kaggel, die vuur uitgebrand. En na regs, net sigbaar agter ’n diepblou stoel – die skoene en broekspype van die derde slagoffer. Daaragter, teen die spierwit muur van ’n gang, sien hy ’n helder waaier van bloedspatsels, soos ’n vrolike, surrealistiese kunswerk.
Griessel merk die ooreenkomste, en die onrus kom lê in sy bors.
Die liggaam in die gang het dieselfde militêre haarstyl, dieselfde bou van breë skouers en fikse slankheid as die een in die voorportaal. Ook die swart skoene, swart broek en wit hemp. En ’n Glock wat bebloed langs ’n vergruisde hand lê. Net die das is afwesig.
Nog ’n kopwond, tussen die slaap en die regteroog. Maar die eerste koeël moes die hand getref het − twee litte van ’n vinger lê aangerol teen die witgeverfde vloerlys.
En dan sien hy die twee doppies wat dof lê en blink, op die soom van die tapyt in die sitkamer. Die skieter s’n, moet wees, as hulle dáár lê, binne tien sentimeter van mekaar.
Sy kop wat dan met hom neuk, hy sien en hoor en ruik hoe dit alles gebeur. Die moordenaar is ’n skaduwee wat deur dié ruimte sweef, pistool voor hom uitgestrek, hy sien die man in die gang, twee skote, die hand is ’n klein, rooi ontploffing, intense pyn, kortstondig, voor die dood kom, daar was nie tyd vir vrees nie, net die kort, klanklose gil die ewigheid in.
Griessel maak ’n geluid, doelbewus en hard bo die dreuning van die reën, om alles te onderdruk. Dis die min slaap. Die fokken stres van die laaste weke. Hy sal homself moet regruk.
Hy loop versigtig na die liggaam, gaan buk weer by die pistool. Presies dieselfde as die ander een. Glock 17 Gen 4. Hy ruik. Geen kordietreuk nie.
Hy staan op, soek met sy oë, en kry dieper die gang af die twee kolle teen die regtermuur.
Hy moet mooi trap, want die liggaam, die vinger, die pistool en die bloed lê die breedte van die gang vol. Hy hop van die een voet na die ander tot hy deur is. Buk af na die kolle toe. Al twee die koeëls sit daar, diep in die pleister ingebed. Dit sal help.
Dan gaan soek hy na die vierde slagoffer.
Die eerste kamer, links bo in die gang, se deur is oop, die gordyne toe. Hy sit die lig aan. Daar is ’n tas op die dubbelbed, oopgemaak. ’n Grysblou das en swart, leë skouerholster lê op die spieëlkas. In die en-suite-badkamer is skeergoed en tandeborsel netjies uitgestal. Verder niks.
Hy loop na die tweede kamer. Ordelik. Twee enkelbeddens. ’n Klein reistas by die een se voet. ’n Baadjie aan ’n hanger, ingehaak aan die donkerbruin klerekas se deurhandvatsel. ’n Toiletsakkie hang aan ’n reling in die aangrensende badkamer.
Hy loop weer uit in die gang, maak ’n deur na regs oop. Dit is ’n groot badkamer, spierwit, ’n bad op bal-en-klou-pote, ’n wasbak op ’n marmerblad, ’n bidet en ’n toilet.
Die volgende twee slaapkamers is leeg, met geen teken dat daar mense was nie. Die laaste een is heel onder, links. Die deur is oop, die vertrek byna heeltemal donker. Hy sit die lig aan.
Buite hou die reën meteens op, die stilte onheilspellend.
Dit is ’n groot vertrek. En chaoties. Die los tapyt lê golwend eenkant geskop. Die dubbelbed staan skeef, die matras en beddegoed afgegooi. Die stoel voor ’n mooi, stokou lessenaar lê op sy rug, die staanlamp op die blad het omgeval, al die laaie is oop. En die massiewe jonkmanskas se deure is oop, klere op die grond. ’n Groot reistas in die hoek, omgekeer.
“Benna!” Skerp in die sag-druppende stilte, van die voordeur af, en hy ruk van die skrik.
Kaptein Vaughn Cupido het aangekom.
“Ek kom,” roep hy terug. Sy stem eggo hees deur die leë kasarm.
* * *
Cupido staan op die drumpel, in sy lang swart jas, sy nuwe gewaad wat hy selferkend opgetel het “by ’n factory shop in Soutrivier, vir ’n bargain, pappie; classic detective style, the Hawk in Winter, ek sê jou”.
En soos Griessel versigtig deur die portaal navigeer, is hy skielik bewus van sy eie gekreukelde broek. Die dik blou trui en baadjie verberg darem die hemp. Gister se klere. En Cupido sal dit nie miskyk nie.
“Hoesit, Benna. Hoeveel is daar?”
Griessel loop uit op die stoep, begin die handskoene aftrek. Die donker wolkmassa is weg, die son wil deurkom, sodat hy sy oë moet knip. Die uitsig is skielik asemrowend, die Franschhoek-vallei ontsluier voor hom.
“Een