Ena Murray Omnibus 40. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Ek ís dankbaar.”
“Nou goed.” Hy klim uit, maak vir haar die deur oop. “Die een wat eerste klaar is, wag vir die ander by hierdie ingang.” Hy sien die flits van verbasing in haar oë en glimlag skeef. “Ek is nie bang dat jy sal probeer ontsnap nie. Ek vertrou jou.”
Hy wag reeds op haar toe sy later haar verskyning maak. Hy het maar net drie items op sy inkopielys gehad.
“Is dit al wat jy nodig het?” vra hy verbaas toe hy sien dat sy net een winkelsak by haar het.
Sy glimlag. “Ja, dankie.” Dis verbasend met hoe min ’n mens kan klaarkom as jy moet. En sy moet. Haar fondse is baie beperk.
Terug in die woonstel sit hy ’n pakkie op die tafeltjie neer.
Sy kyk vraend op: “Wat is dit?”
“Jy gaan dit nodig kry. Is jy seker jy sal môreoggend regkom met die bus?”
Sy antwoord moedig: “Natuurlik. Tot siens, Roelof … en dankie.”
“Slaap gerus, Wanya.”
Toe die deur agter hom toegaan, stap sy dadelik na die pakkie. Twee geblomde oorrokke en ’n wekkertjie. Sy staan lank daarna en kyk, voel hoe haar oë weer wasig word … maar hierdie keer is dit nie trane van woede en ontnugtering of opstand nie. Dan vou sy Pikkie se prentjie oop en lê dit langsaan neer. ’n Klomp geskenke op haar eerste dag van vonnisuitdiening. Trane van dankbaarheid laat haar oë blink.
Wat Roelof Rossouw gehoop het, gebeur dan ook. Die volgende twee uur is sy baie bedrywig in die beknopte woonstelletjie. Sy maak nie kos nie. Tant Bes se bord kos vanmiddag was heeltemal voldoende. Sy krap in die tasse rond, kry die beddegoed, maak haar bed op. Maak planne. Net ’n paar rokke word in die kas opgehang, die heel deftiges word weer teruggepak. Sy sal later ’n plan met hulle maak. Dan gaan sy bad, klim daarna dadelik in die bed. Dit was ’n dag vol belewenisse, emosioneel uitputtend. Sy huiwer op die rand van slaap. Sy hoop Pikkie sal hou van sy geskenkie … Dié Roelof Rossouw … Hy is streng maar tog gaaf … en tant Bes is dierbaar.
Sy slaap soos ’n klip totdat die nuwe wekkertjie haar die volgende oggend waarsku dat sy nie meer die rykmansvrou van Sandton is nie, maar ’n werker wat betyds die vroeë bus moet haal … Sy spring dadelik op en vind dit nie vreemd dat sy nogal met verwagting na hierdie nuwe dag uitsien nie.
4
Maar in die weke wat volg, gaan dit nie altyd so maklik nie. Soms oorval die woede jeens Niel haar. Dan huil sy ontredderd oor die onmoontlike situasie waarin hy haar laat beland het. Meer dikwels is dit trane van vernedering wat sy met geweld moet terugsluk. En snags gee sy in swakke menslikheid toe aan die trane van selfbejammering en eensaamheid.
Stadig maar seker word sy egter aan hierdie nuwe wêreld gewoond, is dit nie meer so ’n skrikwekkende gedagte om soggens die bus te haal nie. Sy kan daardie eerste rit in die munisipale bus net nie vergeet nie. Sy, wat gewoond was om met haar Jaguar deur Johannesburg se strate te ry, moet nou meedoen aan die stormloop om ’n sitplek te kry, en as dit haar nie geluk nie, staande vasklou wanneer die bus rukkerig en met remme wat irriterend skree, voortskommel. Veral as sy op die tweede bus ook nie sitplek kry nie, ondervind sy ’n bitterheid jeens haar man wat haar bang maak. En eendag gaan Niel weer uit die tronk kom … Wat dan?
Wanneer sy hierdie punt bereik, skram sy doelbewus weg van die antwoord. Daardie dag lê nog ver in die toekoms. Intussen is daar elke dag genoeg, soms te veel, om te verwerk en te bemeester.
Maar tussen al die aanpassings en gesukkel deur, gebeur daar soms iets wat haar vertel dat daar ondanks al die swaarkry en ellende wat sy self beleef en daagliks om haar in Jan Hofmeyr sien, ook mooi dinge in die lewe verskuil lê. Kosbare oomblikke wat soos edelgesteentes in ’n donker spelonk blink en wat haar vreemde nuwe lewe tog die moeite werd maak. Soos die dag toe die bus weer stampvol was en ’n ou man opgestaan het om sy sitplek vir haar aan te bied; soos die vreugde in klein Pikkie se oë toe sy hom die tekenpapier en kleurpotlode gegee het; soos die dankbaarheid in die oë van mense wat nie weet waar die volgende stukkie kos vandaan moet kom as Sonneblomstraat 7 se deure die dag moet sluit nie.
Wat egter die diepste indruk op haar maak, is tant Bes se onbaatsugtige liefdesdiens. Die voorbeeld wat sy in hierdie vrou vind, vul haar met groot skaamte en skuld. Self ’n vrou wat dit aan aardse goed nie ruim het nie, self ’n bewoner van een van die baksteenhuisies van Jan Bom, self nie so gesond nie, weerhou dit haar nie om ’n helpende hand na haar medemens uit te steek nie. Ongeag haar eie lewensomstandighede, gaan tant Bes getrou voort om soos ’n Moeder Teresa in haar eie klein wêreld te toon wat en hoe ’n Christen behoort te wees.
Een middag word tant Bes sag maar beslis op ’n kombuisstoel neergedruk. “Nou gaan tant Bes sit. Ék sal die skottelgoed was.”
“Maar, hartjie, jy sal dit nooit alleen kan bemeester nie. Dis nou jammer dat Vitorie vandag kliniek toe moet gaan, juis toe hier ’n paar ekstra monde was. Ek sal Roelof van die nuwe intrekkers moet vertel.”
“Tannie sit doodstil daar en drink ’n koppie tee en laat daardie voete en bene rus. Ek weet nie hoe hou tannie dit nie. Van soggens halfvier so pal op die bene. En dis jaarin en jaaruit. Hoe lank nou al?”
Tant Bes glimlag, laat haar maar die bietjie bederf welgeval, ontvang dankbaar die koppie tee. “Ek weet nou self nie meer presies nie. Laat ek nou dink … Die ding het begin toe pastoor De Koker op ’n dag vir my gevra het of ek nie ’n sopkombuis vir die mense van Jan Bom sal begin nie. Ja, dit is nou net mooi twintig jaar gelede.”
Wanya kyk ongelowig van die wasbak af op. “Só lank? Twintig jaar!”
Tant Bes knik. “Ja. Maar dit voel nie so lank nie. Later het ek besef ’n sopkombuis is nie genoeg nie. Al meer mense van Jan Bom het begin honger ly.” Die oë staar ernstig voor haar uit. “Jy weet, kind, in die depressiejare het ons land met ’n groot armblankevraagstuk gesit. Die nood was groot onder die mense. Daar was nie werk nie en ook nie geld nie. Ek was toe nog baie klein, maar ek onthou die honger … daar was so selde iets om te eet.” Wanya luister verslae. “ ’n Mens vergeet dit nooit nie. Vandag sit ons land met baie vraagstukke en probleme … en een daarvan is dat daar weer ’n armblankevraagstuk is. Ek weet daar is baie mense wat honger ly vandag – bruin, swart én wit. En ek weet ook ek kan nie die hele wêreld se hongerlydendes kos gee nie, maar ek kan Jan Bom se armblankes help. Ek kan hulle kos gee, want ek weet self wat honger ly is.”
Sonder dat sy dit besef, vlieg Wanya se hande ervare deur die skottelgoedwater. “Maar ek weet nie hoe hóú tannie dit nie!”
Tant Bes glimlag. “ ’n Mens hou. Daar is altyd genade. En daar is altyd beloning. Jy werk nie verniet nie.”
“Maar Roelof het gesê tant Bes doen hierdie werk sonder vergoeding.”
“Ja. Ek kry nie ’n salaris nie. In ’n stadium wou die kerke so iets instel, maar ek het geweier. Nee, ek kry my betaling van die mense van Jan Bom self. Ek kry my beloning op beter maniere.” Sy stoot glimlaggend ’n beker vorentoe waarin ’n paar lusernblommetjies en rooi malvas staan. “Hetta het vandag hierdie vir my gebring. Ek wonder waar op aarde in Jan Bom sy die lusernblommetjies gekry het. Dís my beloning, Wanya. En die kinders wat hul rapporte vir my kom wys nog voordat hul ouers dit gesien het.”
Wanya kyk haar stil aan. “Of die prentjie wat Pikkie geteken het.”
Hulle glimlag teenoor mekaar en tant Bes knik. “Dis reg, my kind. Watter geldelike vergoeding kan daarmee vergelyk? Maar wag, ek moet nou eers vir Roelof gaan bel om hom te sê van die nuwe mense wat hier ingetrek het.”
Wanya vee met die rugkant van haar hand oor haar voorkop en gaan weer ywerig voort met haar taak. Tant Bes … ’n heilige in ’n grys rok en pienk pantoffels.
Toe tant Bes terugkeer van die telefoon, het sy ’n boodskap vir Wanya. “Roelof sê jy hoef nie vanmiddag die bus te haal nie. Hy kom sien die nuwe mense en dan sal hy jou sommer hier kom oplaai. Maar dit kan miskien eers ná ses wees.”
Wanya knik.