Ena Murray Omnibus 40. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
jy haar wil vergoed, moet jy minstens vier van haar pannekoeke opeet!”
“Dis maklike betaling!” Hy kyk op haar af. “Wanya, ek is so skaam oor my gedrag teenoor jou daardie eerste dag.”
Sy gee sy arm ’n drukkie, trek die deur agter hulle toe. “Dis alles vergete. Ek het verstaan.”
“Jy is ’n wonderlike mens.”
“Ek? Dan moet jy die res van Jan Bom leer ken. Veral tant Bes. Dan sal jy sien wat wonderlik is. Kom, daar toet Annatjie al.”
Dit word ’n genoeglike aand en Annatjie dring daarop aan om pa en dogter terug te neem met haar motor toe die laaste pannekoek laataand verslind is.
Toe sy hulle aflaai, kyk sy hom onseker aan. “Moet dit asseblief nie verkeerd opneem nie, maar gee my die broek en hemp wat jy môre gaan aantrek vir die onderhoud, dan stryk ek dit vir jou.”
Maar Johan le Roux het die afgelope paar dae sy lesse geleer en Wanya se goeie raad ter harte geneem. Hy sluk sy trots en sê dankbaar: “Dis dierbaar en gaaf van jou, Annatjie. Ek sal dit vreeslik waardeer. Êrens met die trekkery het my strykyster voete gekry.”
En jy sal eerder sterf voordat jy een sal leen, dink Annatjie, en glimlag. “Nou toe. Gaan haal dit gou.”
Terug by die huis wil Wanya weet: “Wat het jy daar?” Annatjie verduidelik en Wanya lyk verbaas. “En hy gee dit vir jou sonder dat jy eers moet baklei?”
“Ja.”
In haar slaapkamer gaan staan Wanya voor die venster en kyk op. Sal die mense aan die ander kant van die stad ooit weet watter kosbare mense aan hierdie kant bly? Dankie, Here, dat ek die voorreg gehad het om hulle te kon leer ken.
Die volgende dag kry sy egter byna ’n oorval toe Johan ontkennend op haar opgewonde vrae antwoord.
“Ek kon die werk nie aanvaar nie.”
“Hoekom nie?” Wanya kan huil van teleurstelling.
“Hy kan my as vragmotorryer vir lang ritte gebruik. Maar ek het ’n kind, ek kan nie dae lank van die huis af weggaan nie. Wat moet van Lala word?”
“Sy kom bly by my,” kom dit bedaard van Annatjie.
Maar Johan skud sy kop. “Baie dankie, Annatjie, maar dit sal nie uitwerk nie. Jy werk bedags.”
Maar Annatjie het skielik ’n antwoord op alles. “Sy kan bedags by tant Bes en Wanya gaan bly. Hulle sal nie omgee om … ”
“Ek kan nie toelaat dat julle … ”
Maar Annatjie staan vas. “Afgespreek. Wanneer jy op lang ritte is, kom bly Lala by my en ek en Wanya kyk na haar. Johan, jy kan nie hierdie kans deur jou vingers laat glip nie!”
Hy knik. “Ja, die geld is goed. Maar … ”
“Maar niks. Dis afgespreek.”
Roelof luister stilswyend terwyl Wanya hom van die jongste verwikkelinge vertel. “Tant Bes gee glad nie om nie. Lala is ’n soet meisietjie. Volgende jaar gaan sy skool toe en dan is sy net smiddae hier. Saans slaap sy by my en Annatjie en Johan kan met ’n geruste hart sy werk doen.”
Hy glimlag vir haar. “En julle het dit alles klaar gereël?”
“Ja. Skort daar iets daarmee?”
“Nee. Dis maar net … ” Dis maar net dat jy al verder wegdryf. “Dis maar net weer Jan Bom se mense wat my nooit teleurstel nie. Ek het Johan netnou in die straat raakgeloop. Hy is baie dankbaar, veral teenoor jou, Wanya. Hy sê jy is die een wat weer sy voete op vaste grond geplaas het.” En hy dink die son skyn uit jou uit, voeg hy woordeloos by. Hy verander die gesprek vinnig. “Julle sê alles is agtermekaar vir Oukersaand se partytjie?”
“O ja! Ons kort nog net ’n Kersvader. Maar ek het een in gedagte. Ek dink Johan is net die regte man.”
Tant Bes kyk vinnig op. “Maar … ”
Roelof skud sy kop skaars merkbaar. “Gaaf. Dit gaan ’n suksesvolle aand wees. Ek wens julle alles van die beste toe.”
“Maar gaan jy dan nie ook hier wees nie? Jy was nog altyd … ”
“O, ek is nie seker van vanjaar nie, tant Bes. Ek is moontlik daardie aand op ’n ander plek betrokke. Maar julle sal dit kan hanteer, ek weet.”
Toe Annatjie ná ses instap, lyk sy verbaas toe sy hoor daar is ’n moontlikheid dat Roelof nie Oukersaand daar sal kan wees nie. “Dis snaaks. Hy was nog elke jaar ons Kersvader.”
Wanya kyk vinnig op. “Was hy? Ek het nie geweet nie.” Sy kyk ongemaklik na tant Bes. “Hoekom het tannie my nie reggehelp nie?”
Tant Bes hou haar doenig met haar handwerkie. “Maar hy het mos gesê hy sal moontlik nie vanjaar hier kan wees nie. Dan vra ons maar liewer vir Johan.”
Johan le Roux neem eensklaps ’n baie prominente plek in in die gemeenskap van Jan Bom, veral in Sonneblomstraat. Met behulp van Wanya en Annatjie trek hy net voor Kersfees uit die buitekamer na die huis nadat die Ferreiras dit ontruim het. Annatjie maak gordyne en trek verweerde stoelkussings oor en Wanya poleer die meubels. Saam rangskik hulle alles en die twee vroue is heel in hul skik met die eindproduk. Johan se dankbaarheid is ontroerend toe hy ná sy eerste rit, wat hom drie dae van die huis af geneem het, terugkeer.
Hy loop trots deur sy huis en neem Wanya aan die skouers. Sag sê hy: “Hoe kan ek jou óóit bedank?”
Sy skud glimlaggend haar kop. “Die meeste is Annatjie se werk. Jy moet háár eintlik bedank.”
“Ek praat nie net van die huis nie. Ek praat van alles wat jy vir my gedoen en beteken het. Vir my en my kind.”
“Ag, dis niks nie, Johan.”
“Nee, dis nie niks nie. Jy het my weer selfrespek gegee. Jy het my weer moed vir die lewe gegee. Dankie dat jy daardie dag hier ingestap en volhard het, ten spyte van die houding wat ek ingeneem het.”
Sy laat toe dat sy kop nader kom vir ’n soen. Sy kan begryp dat hy dankbaar is en wil dankie sê. Maar dit is nie net ’n ligte soen soos sy verwag het nie. Sy word vasgevat en deeglik gesoen … en in die gangdeur kyk Lala grootogig toe. Dan breek ’n breë glimlag oor haar lippe en sy laat spaander Sonneblomstraat toe. Hierdie wonderlike nuus moet sy met tannie Annatjie deel.
Wanya voel verleë en selfbewus, selfs ongemaklik. Sy trek haar terug uit sy omhelsing, gryp na die eerste ding wat in haar gedagtes kom. “Is jy nou seker jy sal Oukersaand ons Kersvader kan wees?”
“Ja. Meneer Barkhuizen sê ek is Kersnaweek af. Maar ek werk Nuwejaarsnaweek. Hy ruil dit elke jaar so uit dat die helfte van die manne Kersfees af is en die ander Nuwejaar.”
“Dan is dit gaaf. Ek sal nou regtig moet gaan. Tot siens, Johan.”
Hy kyk haar met ’n tevrede glimlaggie agterna. Hy het nou weer soveel hoop en moed vir die toekoms. Hy droom selfs drome daaroor. Met ’n vrou soos Wanya … Tant Bes lyk nie juis baie ingenome met die nuus wat Annatjie, met ’n ongeërgde stem en te breë glimlag, haar vertel nie.
“Ek twyfel of dit die waarheid is. Ek dink dis sommer wensdenkery aan Lala se kant.”
“Hoekom? Johan en Wanya kom goed klaar. Hulle het eintlik groot maats geword.”
“ ’n Mens trou nie met elkeen met wie jy goed klaarkom en met wie jy groot maats is nie. Jy en Johan is ook goeie maats.”
“Maar nie so groot soos hy en Wanya nie. Daar kan ’n verhouding tussen hulle ontwikkel.”
“Annatjie, Wanya is ’n getroude vrou.”
“Dit keer nie altyd dat jy verlief raak nie,” hou Annatjie koppig vol, voel hoe sy haar eie hart kasty. Watter hoop het sy in elk geval teen ’n vrou soos Wanya? “Johan is beslis verlief op haar. Tant Bes moet net sy oë sien wanneer hy haar gewaar.”
Tant Bes