Ena Murray Omnibus 40. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
in die land betaal, my poppie. En almal hou van geld en soek die plek uit waar hulle die beste rente op spaargeld kan kry. Ons rentekoers is bokant die inflasiekoers. Dit laat mense na hierdie kans gryp, veral dié wat van hul rente moet lewe, soos afgetrede mense en pensioentrekkers. Ons gee hulle ’n hele paar persent meer as die banke en ander finansiële instellings. Die een wat nie nou in Rock Trust belê nie, is ’n gek.” Hy glimlag, stap nader, buk af en soen haar op die voorkop. “Maar dis nie dinge waaroor jy jou mooi koppie hoef te breek nie, my skat. Laat dit aan jou man oor. Sien jou ná die direksievergadering by die ete. Het jy met Alfred gereël dat hy jou bring?”
“Ja. Niel … Ek wil graag volgende week my ouers gaan besoek.” Sy sien sy vlugtige frons maar druk deur: “Sal jy nie dalk kan saamgaan nie? Ek weet nie wanneer laas jy by hulle was nie.”
Maar hy skud sy kop beslis. “Ongelukkig nie, my skat. Daar is vergaderings wat net nie uitgestel kan word nie. Maar gaan jy gerus. Sê groete vir hulle. Moet net nie te lank wegbly nie. Ek het jou hier nodig.”
Hy stap uit en sy kyk hom agterna. Ja, nodig om as sjarmante gasvrou op te tree wanneer potensiële beleggers genooi word. Om Niel Cloete eer aan te doen wanneer die openbare oog op hom rus. Op die grootbaas van Rock Trust, die nuwe wonderkind van die finansiële beleggingswêreld. Die man wat in miljoene rande dink. Sy sug, staan op van die kant van die bed. Sy moet haar seker ook begin aantrek … In Jan Hofmeyr se Sonneblomstraat is die lewenspatroon ook maar dieselfde as ’n jaar gelede. Met net een verskil. In die jaar wat verby is, het oom Jan Roos se rolstoel teruggegaan na die verhuringsagent. En almal mis hom. Hy het nooit gekla nie en het ook sonder klag uit hierdie wêreld vertrek. Smiddae wanneer tant Bes in die kombuisie van Sonneblomstraat 7 kos inskep vir die hongerlydendes van hierdie arm gemeenskap, soek haar hand al na oom Jan se bord. Maar daar is altyd iemand wat daardie ekstra bord kos goed kan benut.
Want jare lank al weet die mense van hierdie arm gemeenskap waar om ’n bord sop te kry as hulle dit nie self kan bekostig of bekom nie. By Sonneblomstraat 7, by tant Bes.
Maar tant Bes is veel meer as die kok vir meer as driehonderd hongerlydendes in Jan Bom. Sy is ook sieketrooster, maatskaplike werker, dokter. Sy ken elkeen by die naam en sy ken elkeen se geskiedenis. Sy ken die nood van elke hart en elke huis. Sy weet waar klere en komberse broodnodig is. Sy is ook die nieamptelike werkverskaffingsburo van die gemeenskap. Fabrieksbase en ander sakemanne weet van tant Bes. Wanneer periodieke tekorte onder die werkers voorkom, word tant Bes gebel, soms selfs in die nag. Dan staan sy op, vat die dofverligte strate van Jan Bom en gaan maak die werkloses wakker. Want ’n baas se nood beteken vir Jan Bom se mense brood.
Sy is die beskermengel vir Jan Bom … en sy regeer met ’n streng hand oor haar kudde. Sy verdra nie twak nie. Sy looi ’n afknouerige kind sommer gou; met ’n dronke praat sy ’n baie reguit taal. Sy stap by jou voordeur in met liefde en begrip, met ’n helpende hand, maar as jy gefouteer het, sal jy dit gou van tant Bes hoor. As jy hulp nodig het, sal tant Bes wel verskyn en met haar sterk geloof almal help dra aan hul probleme.
In die volle geloof dat daar kos sal wees, kom hulle smiddae aangestap na Sonneblomstraat 7. Net soos tant Bes, in die volle geloof dat daar kos sal wees om te kook, elke oggend halfvier opstaan. Tant Bes se kospotte word gevul deur donasies. Sy is nie ’n geregistreerde welsynorganisasie nie en sy kry dus geen staatshulp nie. Baiekeer het dit al gebeur dat sy en ’n bekommerde Nellie met gevoude hande in die kombuisie sit met niks om te skil of te kook nie. Dis dan wanneer daar innig gebid word: Here, help! Laat ’n wonderwerk gebeur! Tant Bes se vaste geloof in wonderwerke is nog nooit beskaam nie. Kos daag op uit alle oorde, dikwels onverwagte oorde. ’n Boer wat ’n klomp groente kom aflaai. ’n Vrou wat hoenders kom skenk. ’n Pakhuis wat ’n geskeurde sak rys aanbied. Êrens vandaan bring die rawe dit aan na die kombuisie in Sonneblomstraat.
En as die rawe die dag regtig rus, is daar nog altyd die klein bedraggie in die spesiale rekening waaroor tant Bes soos ’n arend waak. Die tien rande, twintig rande en soms selfs ook ’n honderd rand wat van plaaslike gemeentes en private skenkers inkom, word baie streng geadministreer en daar word net daaraan geraak as die wolf reeds by die voordeur huil. Dan word daar oordeelkundig gekoop by ’n supermark waar die bestuurder haar ken en van haar bedrywighede weet. Maar nog nooit het Jan Bom se mense honger van haar af weggedraai nie.
Ook in die jaar wat verby is, het tant Bes se daaglikse patroon nie verander nie. Ook nie Annatjie of Kruppel Nellie s’n nie. Kruppel Nellie is steeds tant Bes se getroue skiller en kerwer. En Annatjie maak steeds elke dag ná werk by tant Bes ’n draai om oor die dag se gebeure verslag te lewer.
Nee, niks het eintlik verander in die jaar wat verby is nie, ook nie by Wanya se ouerhuis op die dorpie ’n entjie buite Johannesburg nie. Die Du Toits is doodgewone middelklasmense wat rustig op die dorpie kom aftree het nadat oom Piet al sy jare vir die Spoorweë gewerk het. Hulle leef eenvoudig en tevrede.
Toe hulle hul enigste dogter en laatlam die tuinpaadjie opgestap sien kom, voel hulle ongerus. Eintlik behoort hulle nie ’n greintjie bekommernis oor hierdie kind van hulle te hê nie. Sy is met ’n skatryk man getroud en sy kla nooit oor enigiets nie. Maar die ouerharte voel aan dat hul kind nie so gelukkig is as wat sy behoort te wees nie. En sy kom al weer sonder haar man kuier … Geredelik aanvaar hulle die gewone verskonings: “Niel is baie besig. Vergaderings, die een op die ander. Pa weet mos?” En eintlik is hulle heimlik verlig dat hy so “besig” is. Hulle kon nog nooit gemaklik voel in hul skoonseun se teenwoordigheid nie. Ná hul eerste en enigste besoek aan die luukse huis van hul dogter en skoonseun in Sandton, het hulle erg minderwaardig gevoel. Dis nie die lewe wat hulle ken nie. Ook nie wat hulle verkies nie – hulle het hulself trouens altyd maar tekort gedoen om hul pragtige dogter elke gerief en geleentheid te probeer gee. Maar hulle is dankbaar dat dit so goed met haar gaan … Maar toe hulle daardie middag van hul dogter afskeid neem, wonder hulle stilswyend of dit werklik so goed met hul kind gaan. Wanya kan ongelukkig nie oorslaap nie. Sy ontvang môreaand baie spesiale gaste tuis. Mynmagnate, kabinetslede, vername manne in die kapitalistiese wêreld. ’n Baie belangrike ete. Nie dat sy self veel te doen het nie. ’n Ekstra sjef word gehuur om Thomas in die kombuis by te staan. Alfred ken al die kuns om ’n formele tafel te dek. Sy moet net ’n lae rangskikking vir die tafel maak. Maar sy moet darem daar wees … Dus groet sy maar.
“Sê groete vir Niel. ’n Agent was nou die dag hier en vertel ons toe van Rock Trust. Hy sê Niel is een van die direkteure.”
“Ja, Pa. Dis eintlik sý geesteskind en dit gaan glo baie goed.”
“So het die agent gesê. En hulle betaal werklik goeie rente. Ek het toe ook maar ’n paar rand belê.” Hy glimlag. “Ek moet darem my skoonseun ondersteun!”
Sy glimlag terug. “Dankie, Pa. Ek sal vir Niel sê.”
Maar die boodskap word nooit oorgedra nie, want toe sy ná donker by die huis kom, is Niel nog nie tuis nie. Sy is reeds in die bed, die lig al later afgeskakel, toe hy inkom. Sy groet is vlugtig en ongeërg, sy gedagtes duidelik met ander dinge besig. Die frons tussen sy oë moedig haar ook nie aan om vrae te stel nie. Sy draai haar dus maar op die ander sy. Hy het nie eens daaraan gedink om te vra hoe dit met haar ouers gaan nie, daarom bly die groete wat gestuur is ook ongesê.
Die volgende aand, glimlaggend tussen haar gaste, kom die besef tot haar dat sy werklik nie hier nodig is nie. Sy kon maar by haar ouers oorgebly het. Sy kon ’n bloemiste gebel het om ’n rangskikking vir die eettafel te stuur. Die twee sjefs se kos is onverbeterlik; Alfred se tafel onberispelik korrek gedek. Háár bydrae is ’n nuwe silwerarmband wat bewondering en afguns by haar vrouegaste wek, en die mans laat besluit dat Niel Cloete darem ’n gelukkige derduiwel is om met só ’n voortreflike vrou te kan spog.
Maar in die weke wat volg, lyk Niel Cloete al minder na ’n gelukkige derduiwel. Altans, so lyk dit vir sy vrou wat hom deesdae byna net by sosiale okkasies sien. Ná so ’n okkasie val hy vermoeid op die bed neer en slaap soos ’n dooie tot die volgende oggend wanneer hy hom weer inderhaas vir die dag se bedrywighede regmaak en verdwyn.
“Jy kan nie so voortgaan nie, Niel,” sê sy een oggend besorg.
Maar sy stem is ongeduldig soos dit dikwels deesdae die geval is: “Ek kan