Die dae van ons nietigheid. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
ek vir jou, skaapkop! Lekker leer! Tatta!”
Die woorde van sy klasmaats daardie dag in die kafee het twee nagevolge gehad. Eerstens het dit hom in so ’n mate uit sy malverliefdheid op die pragtige Lizl geskok dat hy van nuuts af die ou ideaal in hom voel ontbrand het. Hy sál nog op ’n dag vir Lizl verbysteek. Hy sál aan sy klasmaats, homself én Lizl wys dat hy, al is hy dan nie haar meerdere nie, beslis haar gelyke is. Hy het soos ’n besetene verder gestudeer.
En ook het daar iets in sy hart bly vassteek, iets wat hy doelbewus probeer ignoreer het, maar waarvan hy telkens weer bewus geword het. Daardie iets het elke keer in hom geroer sedert daardie dag en elke keer het hy daarvan geweet wanneer die uitslae kom en die volgorde onveranderd was: Lizl eerste, hy tweede. Die ironie van die saak was: hoe meer tyd hy aan sy studie gewy het, hoe meer tyd het Lizl gehad om te swot, vandaar die onveranderde volgorde.
En tog het hulle mekaar liefgehad. Daaroor was daar geen twyfel nie. Wanneer hy haar teen hom vasgehou het, het dit stil geword in hom. Dan het hy geweet dat, al staan hy die res van sy lewe in haar skadu, sy die vrou bly wat hy liefhet. Wat dit nog moeiliker gemaak het om te verwerk, was dat Lizl blykbaar volkome onbewus was van sy obsessie met haar prestasies. Sy het haar punte nooit in sy keel afgedruk nie. Trouens, sy het dit so vanselfsprekend aanvaar soos wat die res van die studente dit teen die finale jaar al aanvaar het. Willem het soms in sy dagdromery gewonder hoe sy sou reageer as die bordjies verhang sou word. Dit sal vir haar seker ’n vreeslike skok wees, het hy bekommerd besef. Nie omdat sy hom die eerste plek sou misgun nie, maar omdat sy die gevoel van teleurstelling en mislukking moeilik sou kon verwerk. Dit is nou maar eenmaal soos Lizl is: om eerste te wees – en altyd reg.
Baiekeer doen welmenende vriende meer kwaad as goed. Dit is ook wat gebeur toe Derick besluit om, net voordat hulle aan die einde van hul finale jaar uitmekaarspat, Lizl ’n bietjie raad te gee. ’n Wenk wat hy eintlik te lank agterweë gelaat het. Net voor die finale eksamen keer hy Lizl op die kampus voor.
“Ek wil met jou praat. Dis oor Willem.”
Sy volg hom verbaas na die bank onder die boom. “Wat van Willem?”
“Lizl, jy moet ou Willem nou ’n kans gee. Dis nog net die finale eksamen wat voorlê. Dis sy laaste kans.”
Sy kan hom net verward aankyk. “Derick, waarvan praat jy? Van watter kans … ?”
“Verdomp, vroumens, jy weet goed waarvan ek praat! Dit gaan nou al vir jare so aan. Die arme man swoeg hom morsdood, maar hy kan net nie voor kom nie. Have a heart, girl! Gee die man darem één kans, asseblief … as jy hom regtig liefhet.”
Sy begin frons, steeds verward, maar skielik ook onrustig. “Sê liewer vir my in plat Afrikaans wat jy wil sê.”
“Goed dan. Al die jare moes Willem tweede viool speel. Hy leer hom nou morsdood in ’n laaste, desperate poging om hierdie finale eksamen daardie een treetjie voor jou te wees. Kry ’n paar glipse met van die vraestelle, magtie! Laat hy net een maal beter punte as jy kry. Dit sal niks aan jou doen nie. Jy sal nog speel-speel deurkom. Maar laat Willem tog net een keer voel hy is nie jou mindere nie.”
“Jy … ” Sy kon haar ore nie glo nie! “Jy vra my om doelbewus foute te maak sodat … sodat … Derick, dis die finale eksamen! Is jy gek?”
“Nee. Ek is nie gek nie. Maar jy, Lizl, jý is ’n dwaas.”
Sy spring op en die blou oë flits. “ ’n Dwaas om te weier om iets anders as net my bes te doen? Laat my dan een wees! Ek het nog nooit van so iets … so iets belagliks gehoor nie!”
“Maar dis waar, Lizl. Geen man, nie eens ou Willem nie, hou daarvan dat sy meisie altyd beter as hy presteer nie. Daar is so iets soos manlike trots, weet jy?”
Hy stap weg en sy kyk hom agterna, vol ongeloof, maar ook met onrus in haar hart. Vir geen oomblik wil sy glo Willem sit agter hierdie ontnugterende gesprek met Derick nie. En tog … Sy onthou nou daardie keer toe hy so eienaardig opgetree het; toe hy gesê het hy is maar net ’n doodgewone mens en nie ’n genie soos sy nie … Sy gaan sit weer op die bank, haar bene skielik lam onder haar. Nog nooit het dit by haar opgekom dat dit Willem kan hinder dat sy altyd eerste is en hy tweede nie. ’n Man met sy intellek – en vir Willem s’n het sy die grootste respek – is sekerlik verhewe bo sulke kleinlikheid … of hoe?
Sy kry eers daardie aand, toe hy vinnig by haar kom kuier, kans om met hom daaroor te praat. Deesdae is sy kuiertjies altyd baie vlugtig en sy het gemeen sy begryp dit. Die finale eksamen is immers voor die deur. Elke oomblik word nou tot die uiterste toe benut. Vanaand bekyk sy hom met verskerpte aandag, soek fout en vind dit ook. Almal leer nou hard. Almal is maar ’n bietjie moeg, voel tam, lyk tam. Maar Willem lyk erger – uitgemergel. Sou hy regtig só toegewyd studeer net om haar een enkele maal te klop? Maar dis belaglik!
Sy kry dit egter reg om haar stem egalig te hou. “Derick sê my jy swot baie hard.”
Sy mis nie die vinnige blik na haar kant toe nie. Hy klink bot: “Almal swot nou maar. Jy ook.”
“Ja, maar … ” Sy breek haar sin stomp af. Sy wou hom sê dat sy wel hard studeer, maar nie om iemand anders te klop nie, bloot net omdat sy haar eksamen wil slaag so goed as sy kan, haar doel in die lewe wil bereik en ’n goeie dokter wil word. Dis bloot net omdat sy Lizl is en Lizl lewer net haar beste, niks minder nie.
“Maar wat?” Sy oë flits agterdogtig.
“Dit sal alles niks help as jy die dag wanneer jy skryf te suf is om te dink nie.”
“Dis die eerste keer dat jy vir my wil preek, Lizl.”
Sy trek haar asem in. “Ek bedoel nie om … ”
“Wat het Derick vir jou gesê?”
“Net dat jy jou gedaan leer. Ek kan nie begryp hoekom nie. Jou simbole was nog altyd puik. Ek kan nie verstaan nie … ”
“En joune was nog altyd briljant.” Tot haar verdere skok en verbystering het sy oë hare vyandig ontmoet. “Is jy dalk bang ek sal jou een keer die loef afsteek?”
“Ek … ek verstaan nie … ” Dit kan nie wees nie! Hulle is aan die baklei, en dit oor só iets!
“Is dit hoekom jy my ontmoedig om alles uit te haal? Bang dat ek beter as jy sal vaar?”
Die roomwit vel word nog bleker. Die blou oë nog blouer. Dis waar! Derick het nie gejok nie! Dit maak saak! Dit maak verskriklik saak vir Willem!
“Maak dit werklik soveel saak dat jy voor kom, Willem?”
“Dit is blykbaar vir jóú baie belangrik, my skat. Toemaar, wees gerus. So iets sal nooit gebeur nie, want jy is ’n genie, en ek ’n doodgewone … ”
“Ek is nie ’n genie nie!” Dis diepe ontsteltenis wat haar laat uitroep. “Watse sotlikheid is dit hierdie, Willem? Ek is ’n doodgewone mens met … ”
Hy glimlag skeef, neem haar ken tussen sy vingers. “Nee, jy is nie, Lizl. Nie met jou verstand, met jou ambisie nie … en ook nie met jou voorkoms nie. Jy is ’n baie spesiale, uitsonderlike vrou, uitermate begaaf en geseën op alle terreine, en ek … ek weet nie of daar ’n man bestaan wat sal weet hoe om dit te verwerk nie.”
“Daar is niks om te verwerk nie, Willem!” Sy gryp hom voor die bors vas, kyk dringend op in sy vreemde, half treurige oë wat sy nog nooit tevore só gesien het nie. “Al wat ek wil wees, is ’n goeie dokter, en daarna net jou vrou.”
Maar sy skewe glimlaggie verdiep, los ’n ontsierende keep wat bitter vertoon aan die een kant van sy gesig. “Nee, Lizl. Jy kan nooit ’n goeie dokter wees nie, al wil jy ook hoe graag net dit wees. Jy, my skat, kan niks anders as ’n buitengewoon uitstekende dokter wees nie.”
Sy sluk swaar. “Kan ons nie maar ’n oomblik net die dokter agterweë laat nie, Willem? Kyk na my. Ek is ook ’n vrou … en ek is lief vir jou. Moenie jou liefde van my wegvat nie, asseblief!”
Hy sluk, die adamsappel beweeg swaar op en af. Dan lê sy haar kop teen