Die uurglas loop leeg. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
’n natuurliefhebber en ’n vrou met die potensiaal om iemand eendag baie gelukkig te maak.”
Sy is dankbaar dat die kelnerin hul kos bring en so vir ’n onderbreking sorg. Terwyl sy haar mes en vurk optel, sê sy: “Ons het nie gekom om oor my te gesels nie, Arnold.”
Hy glimlag. “Maar laat ons maar eers van die goeie praat; van die ongeskonde. Dit is jy ook, is jy nie, Karien? Nog geheel en al ongeskonde.” Toe hy haar verleentheid sien, tel hy sy mes en vurk ook op, vervolg dan op ’n ernstiger stemtoon: “Ja, ons het seker oor my kom gesels. Wat moet ek jou vertel?”
Sy kyk vinnig op. “Daar is nie ’n moet nie. As jy nie voel om te gesels nie … ”
“Maar ek wil. Ek wil met jou gesels. Ek wil jou vertel in watter gemors my lewe ontaard het en dat ek nie weet hoe om daaruit te kom nie.”
Sy knik net en luister stil terwyl hy sy hart oopmaak … oor ’n man en vrou wat lankal weet dat ’n gelukkige huwelik nie vir hulle twee saam moontlik is nie. Van gedurige rusies, agterdog en frustrasie. Van een besondere rusie wat hom uit woede die petrolpedaal te diep laat intrap het en ’n draai in die pad teen ’n hoë snelheid laat aandurf het. Van ’n boom langs die pad, ’n slag en ’n gesplinter van glas … en die senutergende gekraak van metaal wat byna dubbel vou. Van ’n man wat tevergeefs langer as ’n uur die motorwrak met kaal hande probeer oopskeur om ’n vrou, sý vrou, uit daardie opgefrommelde hoop metaal te kan kry. Van noodoperasies en wag en kyk, nog operasies en weer wag en kyk. Dan die finale slotsom: verlamming van die nek af ondertoe. ’n Mooi, jong vrou in die fleur van haar lewe … Maar sterker as wat ’n egband kan bind, is die band van die gewete, die swart boeie van skuld. Hy hét te vinnig bestuur. Sy hét gesê hy moet stadiger ry. Hy hét ’n ongeluk gemaak. Dit wás sy skuld. En nou lê sy verlam en ’n huwelik in naam gaan voort waar daar oorspronklik geen huwelik meer oor was nie.
Jy gaan lê die daaglikse pligsbesoek in haar kamer af, voel die stroom van bitterheid en verwyt wanneer jy binnestap, lees die veroordeling en die haat in die vertroebelde oë. En jy stap na buite soos ’n dronk mens, bedwelm van die skuld en wanhoop oor jou toekoms.
Daar is trane op haar wange toe hy stilbly.
Haar hand gaan spontaan na hom uit en hy gryp dit met albei syne vas. “Moenie huil nie. Ek wil nie hê jy moet oor my lewe huil nie. Dis nie een traan van jou werd nie.”
“O, Arnold!”
“Maar kan jy nou verstaan dat ek soms met iemand moet praat?”
“Natuurlik. Natuurlik verstaan ek, Arnold. Ek waardeer dit dat jy my in jou vertroue geneem het. Ek wens net daar was iets wat ek kon doen om te help.”
“Daar is nie, maar jy sal nooit weet wat dit beteken om te weet daar is iemand wat verstaan nie. Dit maak dit soveel … draagliker.”
Dit is vanselfsprekend onmoontlik dat die vriendskap tussen suster Saayman en dokter Lutz onopgemerk by die hospitaalpersoneel sal verbygaan. Nóg Karien nóg Arnold is so naïef om te hoop dat dit nie skinderpraatjies tot gevolg sal hê nie. Dokter Lutz is egter sy glimlaggende self in die hospitaalgange en wanneer hy van ’n gefluister agter sy rug verneem, is hy horende doof.
Karien, hoewel sy weet daar word oor hul vriendskap gefluister, is egter tog naïef genoeg om te glo dat dit nie kwaadwillige praatjies is nie. Die hospitaalpersoneel ken haar immers goed genoeg om te weet sy sal haar nooit skuldig maak aan ’n ongeoorloofde verhouding nie. Sy glo vas dat almal wat hulle soms saam sien dit beskou soos wat dit werklik is – ’n mooi, platoniese vriendskap. Dat die mensdom net nie so ingestel is om altyd na die mooiste te soek nie en beslis baie skepties staan teenoor platoniese vriendskap – veral tussen so ’n aantreklike dokter en ’n ewe aantreklike verpleegsuster – kom in die eerste weke nie by haar op nie.
Miskien sou sy lankal onraad gemerk het, die sydelingse en soms ongelowige, soms beskuldigende blikke na haar kant gouer opgemerk het, as sy nie in hierdie dae ’n kommer in haar begin ronddra het wat haar aandag na binne gerig het nie.
Dit het so ongemerk gebeur dat sy dit nie dadelik agtergekom het nie: dat hy haar hand soms spontaan vashou wanneer hulle gesels; dat hy haar dan en wan komplimenteer; dat hy soms vir haar ’n bos blomme stuur met net ’n dankie op die kaartjie; dat hy haar al meer opsoek, al meer haar vrye tyd opeis; dat sy behoefte om te gesels oor dié dinge wat so swaar op sy hart druk al meer afneem, sodat hy haar deesdae telkens wanneer sý daarna verwys, stilmaak en sê hy wil liewer nie daaroor praat nie.
Maar toe Arnold haar een aand voor die verpleegsterstehuis aflaai nadat hulle sommer net ’n ent gery het, besef sy dat iets skort, toe hy ietwat ongeduldig laat hoor: “Ek is moeg vir hierdie spul agies, Karien. Liewe land, ’n mens het geen privaatheid nie. Hoekom kry jy nie vir jou ’n woonstel nie?”
“ ’n Woonstel?”
“Ja. Ek weet van een wat dadelik beskikbaar is. Om die waarheid te sê, ek het reeds ’n opsie daarop geneem. Jy kan môre intrek as jy wil.”
“Maar, Arnold … ”
“Ek weier om jou langer hier by die verpleegsterstehuis te ontmoet, Karien. Jy is dit aan ons verskuldig dat ons darem meer privaatheid het. Ek is moeg daarvoor om in die veld met jou te gaan rondry wanneer ek alleen met jou wil wees.”
Net vlugtig flits ’n bekende waarskuwingsliggie weer. Toe stem sy in. Dit is hoog tyd dat sy haarself ’n bietjie weelde gun. Dit is soos Arnold sê: ’n mens het darem nie privaatheid in ’n verpleegsterstehuis nie. Al weet sy daar is niks om haar oor te skaam nie, kan sy die skuldgevoel nie afgeskud kry wanneer sy soms van die ander personeel by die ingang ontmoet nie.
Toe sy deur die sitkamer van die senior personeel stap, kom sy in haar spore tot stilstand, kyk verbaas na die man wat uit ’n leunstoel opstaan en met ’n grimmige gesig op haar afgestap kom.
“Hannes! Wat maak jy hier?”
“Vir jou gewag.”
“Maar … maar dis al baie laat! Skort daar iets? Het iets gebeur?” vra sy bekommerd en bestudeer hom ’n oomblik met ’n professionele oog.
“Ek weet dis laat. Ek sit en wag al hier van sewe-uur af en dit was nou pas middernag. Ja, Karien. Daar skort iets. Daar het iets gebeur – nie met my nie, maar met jou.”
“Ek … begryp nie.”
“My meisie wat nog altyd so vas op koers was se kompas het begin kantel. Sy is van koers af … en iemand moet dit vir haar sê, want sy stuur direk op die rotse van selfvernietiging af. Daardie persoon is ongelukkig ek. Kom.”
“Hannes, maar … ”
“Kom. Ons gaan in my motor gesels. Hier is geen privaatheid nie.”
Sy volg hom fronsend, klim gehoorsaam in, wag totdat hy langs haar inskuif en laat hoor: “Ja, ek gaan binnekort in ’n woonstel intrek. ’n Mens is nooit privaat hier nie.”
Sy gesig is ’n donker vlek, sy stem steeds vreemd grimmig toe hy sê: “En mag ek raai dat dit dokter Lutz is wat vir jou die woonstel gekry het?”
“Ja. Dis reg. Hoe het jy geweet?”
“Geraai, liewe Karien. Soos wat die res van die hospitaal ook môre sal raai dat Lutz jou al sover het dat jy in ’n woonstel van hom gaan bly.”
Dit is asof sy met ’n bak yswater reg in die gesig gegooi word. “Hannes … Hannes, ek hou nie van die manier waarop jy dit stel nie.”
“En ek hou nie van die manier waarop jy alles oorboord gooi vir daardie man nie.”
“Hannes!”
“Ek hou niks van die gedagte dat jy Lutz se houvrou is of gaan word nie.”
Doodse stilte heers skielik in die motor. Maar toe haar hand instinktief reik na die deurhandvatsel, word sy teruggehou. “Ek gaan nie verskoning vra vir wat ek gesê het nie, Karien. Weet jy hoe gons hierdie hospitaal en verpleegsterstehuis van stories oor jou en Lutz?”
Haar