Ena Murray Keur 1. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
en Sandra ontwyk mekaar se oë. “Dink jy jy sal kan opstaan?” vra Gustaf.
“Natuurlik. Dit was maar seker net ’n effense duiseling.” Powell lag effens onnatuurlik. “ ’n Mens vergeet jy raak ouer, nie jonger nie.”
Maar toe hy wil opstaan, moet Gustaf en sy vriend hom ondersteun. Dis duidelik dat hy nog baie bewerig op sy bene is. Ingehaak aan albei kante haal hulle darem die gebou en hulle neem hom dadelik na sy kamer.
“Ek dink ons moet maar ’n dokter laat kom.”
Powell kyk bekommerd na die speurder.
“Maar ek voel nie siek nie!” protesteer hy. “Dink jy dis werklik nodig? Ek sal ’n rukkie rus. Ek is seker ek sal oor ’n uur weer perdfris wees. Dis seker maar sommer . . . niks nie.”
Gustaf se stem klink ongeërg, asof die hele aangeleentheid hom nie juis aangaan nie, en hy net as vreemdeling raad gee.
“Natuurlik is dit nie iets ernstigs nie, maar dit kan nie kwaad doen om net ’n dokter se mening te kry nie. Seker maar net ’n effense ongestadigheid van die bloeddruk of so iets. Maar terwyl jy op reis is, sal dit seker verstandiger wees om dit in die kiem te smoor. Anders kry jy dalk later op jou reis groter moeilikheid.”
Hy glimlag. “Soos jy gesê het – ’n mens raak nie jonger nie, of jy nou al die jare gesond was of nie.”
Dickens steun Gustaf se standpunt.
“Ja, John. Ek dink meneer Lenard het gelyk. Dit kan tog nie kwaad doen nie. Dis beter om te weet wat aangaan, al is dit ook net ’n kleinigheid.”
Powell kapituleer ergerlik. Hy is nie ’n man wat siekte ken nie. Om die waarheid te sê, voel hy eintlik skoon belaglik. Dat sy bene sommer net onder hom moes padgee!
“Nou ja, goed. Doen dan maar soos julle goeddink. Maar ons ken geen dokter nie.”
“Ek sal iemand kry. Ek sal sommer nou gaan bel.” Gustaf stap dadelik uit, gevolg deur Sandra, en eers toe die deur van die openbare telefoonhokkie stewig agter hulle toe is, gee hulle uiting aan hul bekommerde gedagtes.
“Gustaf, dink jy werklik . . .?” Dis of Sandra bang is om haar vraag volledig te stel.
Maar Gustaf se antwoord laat geen plek vir twyfel nie. “Powell is die volgende geval. Daarvoor kan ek my kop op ’n blok sit. Slaan dokter Johnson se nommer na.”
Toe hy die gehoorbuis terugsit, is sy stem grimmig. “Johnson kom dadelik.”
Hul oë ontmoet swyend en botsende emosies lê in Sandra se bruin kykers weerspieël. Verligting dat dit nie Gustaf is nie, maar dat die lot op iemand anders geval het, hoewel sy ook skuldig oor hierdie intense verligting voel. Bekommernis oor Powell, die groot, sterk man wat nog nooit een dag van siekte geken het nie. En dan . . . vrees. Vrees vir hierdie onbekende, vreemde iets wat weer in hul midde ingesluip het.
Kort voor etenstyd daag die distriksgeneesheer op, en Gustaf neem hom direk na Powell se kamer. Sandra dwaal rusteloos rond. Eindelik beland sy in die kombuis, op soek na ’n koppie tee . . . die hulpmiddel waarna sy altyd gryp wanneer sy bekommerd is of wanneer sy diep konsentreer op ’n probleem, en vandag is dit albei.
Tot haar verbasing tref sy Nina Andrews daar aan, besig om die finale afronding aan die middagete te doen. Wat meer sê, sy lyk heeltemal goed, asof daar niks vroeër die oggend gebeur het nie. Sy glimlag selfs en knoop ’n vriendelike gesprekkie met Sandra aan terwyl sy haar ’n koppie tee aanbied, en Sandra kan haar amper verbeel dat sy die oggend se gebeure gedroom het. Maar die blou plekke op Nina se boarms sit as duidelike bewys dat dit werklik gebeur het. Sandra bekommer haar egter nie nou te veel oor haar gasvrou se skielike tegemoetkomende vriendelikheid nie. Daarvoor is haar gedagtes te vol van ander dinge.
Sy sluk haastig haar laaste bietjie tee en vra verskoning toe sy die mans se voetstappe die gang hoor afkom. Johnson se ondersoek is klaar. Die twee mans stap egter aan tot by Johnson se motor waar hulle veilig kan gesels sonder die gevaar dat hul gesprek afgeluister kan word. Sandra brand om nader te stap, maar doktor Basson, terug van die ruïnes vir middagete, daag ook net op en voeg hom by haar op die stoep.
“Jy lyk bekommerd?” merk hy vraend op.
“Ja, Powell, die Engelsman, het vanoggend skielik . . . e . . . swak geraak. Daardie man by Gustaf is dokter Johnson, die distriksgeneesheer. Hy het hom dadelik ontbied,” verduidelik Sandra fluisterend.
Basson frons bekommerd.
“Bedoel jy dat hier weer so ’n . . . e . . . geval is? Dat Powell die volgende een is wat . . .?”
Sy knik en Basson frons.
“En dis weer ’n man, ’n blakend gesonde man, soos hy nou daar uitsien.”
“Presies.” Sandra sug dankbaar toe die dokter in sy motor klim en vertrek. Gustaf kom stadig nader gestap na die ander twee, sy oë fronsend op die grond voor hom gerig. Hy knik toe hy hulle bereik.
“Dit is so. Weer ’n soortgelyke geval. Maar hierdie keer gaan ons hom onder baie fyn waarneming hou. Daar lui die klokkie vir ete. Een ding. Tree asseblief normaal op. Moet asseblief niemand laat agterkom, veral nie Powell nie, dat hier iets meer agter skuil nie. Kom ons stap in.”
Hoewel die ander drie optree asof daar niks gebeur het nie, is dit vir elkeen duidelik dat Dickens baie bekommerd is. Eers teen die einde van die ete stap die gasvrou en gasheer die vertrek binne en Nina merk op: “Maar waar is meneer Powell dan? Het hy nie ook teruggekom vir ete nie, meneer Dickens?”
Dickens verduidelik wat gebeur het en Nina lyk bekommerd.
“Ag, maar ek is jammer om dit te hoor. Ek sal sommer vir hom ’n skinkbord kos inneem. Jy moes my daarvan kom sê het.”
Sy draai dadelik om en ’n rukkie later hoor hulle voetstappe in die gang af in die rigting van Powell se kamer. Sandra se blik rus op Phil Andrews waar hy met sy rug na hulle aan sy tafel sit. Dis vreemd dat hy geen belangstelling getoon het toe Dickens van Powell se ongesteldheid vertel het nie. Al gaan dit hom nie werklik aan nie, sou dit net goeie maniere gewees het om darem ’n mate van belangstelling te toon.
Maar dan, dink Sandra veragtend, Phil Andrews is nie ’n man met goeie maniere nie. Inteendeel. Sy sien weer die blou plekke voor haar wat so duidelik op Nina se sagte boarmvleis vertoon, wat haar man se vingers vanoggend wreed ingeboor het toe hy haar teen die kombuiskas geslinger het. Sy hou haar kop doelbewus oor haar bord gebuig toe hy skielik opstaan en die vertrek verlaat sonder dat hy veel geëet het. Dis Gustaf wat opmerk dat hul gasheer bleek lyk, dat sy gesig strak is en dat sy hande merkbaar bewe toe hy by hul tafel verbykom en na buite verdwyn.
Ná ete stap hulle almal saam na Powell se kamer om te hoor hoe dit nou gaan. Daar tref hulle hom sittend aan met ’n groot skinkbord vol kos op sy skoot, terwyl sy gasvrou eenkant langs die bed sit en gemoedelik gesels terwyl hy eet.
Sy glimlag toe die ander binnekom.
“Ek sit hier om toe te sien dat hy al sy kos eet!”
Powell lag.
“Nie dat dit nodig is nie! Daar skort beslis niks met my eetlus nie, en die kos is heerlik. Maar ek waardeer jou vriendelikheid en besorgdheid, mevrou. Dis ’n rariteit vir ’n oujongkêrel soos ek om ’n slag deur ’n vrou bederf te word!”
Nina staan op en neem die skinkbord by hom toe hy sy mes en vurk neersit en behaaglik agteroor leun teen die kussings.
“Kan ek nie nog iets vir jou bring nie?” vra sy besorg.
“Ek kan regtig nie meer nie. Dit was baie lekker, dankie.”
Gustaf tree vorentoe.
“Laat ek die skinkbord vir jou terugdra, mevrou.”
“Ag, dankie, maar ek sal regkom. Ek sal sommer jul koffie hiernatoe stuur as julle dit so verkies.”
Hulle knik en sy stap uit. Sandra kyk vraend na die jong man wat ’n oomblik sy gasvrou die gang af agternastaar. Maar toe hy haar blik ontmoet,