Ena Murray Keur 1. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
tog nie maak asof niks gebeur het nie.”
“Ja, ons sal moet. As sy dan werklik so siek is, kan ons die saak nie daar laat nie. Ek was juis nou op pad om buite te begin soek toe julle hier aankom. In die gebou is sy beslis nie. Ek het dit al van hoek tot kant deursoek.”
“Nou goed dan. Elkeen kies ’n sekere rigting. Ons sal mooi moet soek. Dis reeds donker en as sy miskien êrens lê, kan ’n mens haar maklik miskyk.”
Gustaf klink saaklik en wys elkeen se rigting aan. “Doktor Basson, ek dink jy stap in die rantjie se rigting en dokter Johnson kan in die teenoorgestelde koers stap. Ek en Sandra sal in die rigting van die ruïnes soek. Dis jammer dat ons nie flitsligte het nie. Het jy nie miskien een nie, doktor Basson?”
“Nee, ongelukkig nie. Moontlik het die Engelse.”
“Nee. Ons laat staan maar. Dis beter dat hulle nie eens hiervan hoor nie. Dis darem nie te donker nie. As ’n mens se oë eers aan die donker gewoond is, kan jy redelik goed sien. Oor ’n uur kom ons weer hier bymekaar as ons nog niks gekry het nie. Kom, Sandra.”
Hulle stap saam tot by die ruïnes en dan skei hulle van mekaar. Versigtig stap Sandra voort, haar blik priemend om haar. Dis taamlik bebos hier en in die donker sal jy maklik bo-oor haar kyk. Waar kan die vrou so skielik heen verdwyn het? loop en wonder sy bekommerd. Sy kan net nie glo dat Nina op haar eie bene en krag kon weggeloop het nie. Sy beweeg onder ’n boom uit en kom in haar spore tot stilstand.
Groots en geheimsinnig rys die Zimbabwe-ruïnes voor haar op. Haar aandag was so toegespits op haar onmiddellike omgewing dat sy skaars bewus daarvan was dat die ruïnes voor en om haar lê. Maar nou dwaal haar blik oor die nagtelike toneel en kom sy diep onder die indruk van die grootsheid daarvan.
Die Zimbabwe-ruïnes . . . lewelose standbeeld van ’n eens hoogs beskaafde maar nou vergane ryk, tonglose wagte oor ’n eeue oue geheim, die laaste flarde van ’n vergete droom . . . ’n standbeeld vir die nietigheid van die mens en sy drome, ideale en menswees. Lank reeds, eeue gelede, het die hande wat hom gebou het, vergaan en tot stof verkrummel. Maar die dooie en siellose het bly staan.
Enkele oomblikke vergeet Sandra die rede hoekom sy haar in hierdie uur van die nag by die ruïnes bevind.
Daar is iets in hierdie nagtelike toneel wat haar verbeelding aangryp en vashou, amper magneties vasvang asof sy daardeur gehipnotiseer word.
Dood? Sielloos? Soos sy ’n oomblik asemloos daarna staan en kyk, kry sy skielik weer die eienaardige gevoel dat dit nie dooie, siellose, opeengestapelde klip is waarna sy kyk nie. Miskien is dit maar net die speling van die flou maanlig deur die blare van die reusagtige m’hoba-hoba, tussen klipskeure en swart ingange deur, oor ruwe torings wat skielik verwronge patrone aanneem in die spelende skaduwees . . .
Maar dis of die ruïnes skielik lewe voor haar kry, asof sy kan hoor hoe dit asemhaal, voor haar oë sien hoe dit lewe en oud word, elke verbygaande sekonde nog ’n bietjie ouer, nog ’n paar tikslae by die ontelbare wat reeds agter lê. Dis of sy na ’n stokou mens kyk op wie se gelaat die spore van eeue gegraveer is, ’n moeë, ou mens wat ná eeue van worstel om oorlewing teen die mag van die elemente swaar knoue weg het en moeisaam asemhaal . . . maar tog nog lewe. Die mat ou siel spartel rond vir rus, maar word geen rus gegun nie, soos ’n mens wat reeds afgetakel die dood tegemoetsien, maar dit tog nie kan omhels nie; soos ’n bloedlose lyk wat tog asemhaal.
’n Rilling skiet met haar ruggraat langs en in die soel someraand voel sy die hoendervel op haar liggaam uitslaan. Sy is nie iemand wat aan haar verbeelding ly nie, maar sy moet haar wilskrag inspan om nie in dolle vaart weg te vlug nie. Want dis of sy oë op haar voel, oë wat haar magneties vashou en wil terugtrek, dieper intrek in die ingewande van ’n verlore beskawing, intrek na die torings, die lang, eensame gange tot binne-in die half verrotte hart van hierdie dooie klipstapels wat skielik ’n siel in die nagtelike uur gekry het.
Sy draai om. Niks op hierdie aarde, nie eens haar jammerte vir en haar bekommernis oor Nina Andrews wat in so ’n ongelyke stryd met die lewe en dood gewikkel is, sal haar beweeg om dieper in die ruïnes na haar te gaan soek nie. Met ’n ruggraat wat hol trek van spanning, gee sy vinnig pad en toe sy die ruïnes agter haar het, roep sy beangs na Gustaf. Sy is byna in trane toe hy skielik uit die donkerte voor haar opduik. Sonder voorbehoud gooi sy haar arms om sy nek.
“Wat is dit? Sandra, wat is dit?” vra hy bekommerd terwyl sy arms beskermend om haar gaan.
Sy veg om haar selfbeheer terug te kry, maar hy kan die bewing van haar tenger gestalte teen syne voel. Sy byt hard op haar onderlip. “Jy gaan my uitlag, maar Gustaf, hierdie plek . . . Dit gee my koue rillings. Dit lewe! Dit voel of dit lewe!” fluister sy verleë. Hy sit sy hand vertroostend teen haar agterkop en druk haar gesig teen sy skouer vas. Maar bokant haar kop staar sy oë stip en ernstig na die ruïnes en daar is geen glimlag om sy lippe nie. Hy weet wat sy bedoel. Hy voel dit ook aan. Ook vir hom voel dit asof daar diep op ’n verskuilde plek ’n bose ou hart klop.
“Kom ons gaan terug. Dis in elk geval te donker in die ruïnes. Ons sal teen haar verbyloop en haar nie sien nie. Miskien het die ander iets uitgerig.”
Met sy arm beskermend om haar stap hulle terug. Eers toe die helder voordeurlig van die vakansieplaas die onmiddellike omgewing verlig, begin Sandra ontspan. Streep-streep kom die ander twee ook aan, maar almal skud die kop. Niks is gevind nie. Hulle staan nog so en beraadslaag wat hulle nou moet doen, toe ’n motor inswaai en nader kom. Sekondes later klim Phil Andrews uit en stap nader met verbasing op sy gesig. Daar is geen spoor van Dianne Bougard nie.
“Skort iets?” vra hy kalm, en daar is net so ’n effense sleep in sy stem. Phil Andrews het beslis ’n hele paar drankies agter die blad, maar hy is nog heeltemal in beheer van homself.
Gustaf en die ander kyk hom speurend aan. As hy iets te doen het met sy vrou se verdwyning, is sy toneelspel onverbeterlik.
“Ja,” antwoord Gustaf. “Hier was mense wat kamers vir die nag wou gehad het, maar ons kon jou . . . en mevrou Andrews nêrens opspoor nie. Hulle is toe maar na die naaste hotel.”
Phil Andrews trek sy skouers ongeërg op en laat doodluiters hoor terwyl hy begin aanstap voordeur toe: “In daardie geval is dit tot daarnatoe. Goeienag.”
“Meneer Andrews!” Gustaf se stem klink so bevelend dat die man verplig is om weer tot stilstand te kom.
“Ja.”
“Het jy gehoor wat ek gesê het? Mevrou – jou vrou – is weg. Ons kan haar nêrens opspoor nie. En toe ons haar laas gesien het, was sy ook nog baie siek.”
Maar Phil Andrews se kalmte – en ongeërgdheid – is onversteurbaar. “Ek het julle gehoor, meneer Lenard. Maar julle hoef julle nie oor my vrou te bekommer nie. Sy gaan stap dikwels wanneer sy . . . e . . . erg pyn verduur. Ek is al so gewoond daaraan dat ek my nie meer daaroor bekommer nie.”
Hy wil weer omdraai, maar Sandra se stem keer hom.
“Maar, meneer, sy was uiters siek, in ’n beswyming ’n paar uur gelede. Sy kon iets oorgekom het!” protesteer die jong meisie ontsteld, maar weer skud hy sy kop.
“Juffrou, ek sal jou wed dat sy oor ’n paar minute heeltemal veilig hier aangestap sal kom. Sy ken die wêreld hier soos die palm van haar hand en sy het nog nooit iets oorgekom nie. Hoekom sal sy vannag nou juis iets oorkom?”
“Omdat sy siek is!” kap Sandra woedend terug. O, aan hierdie man sal sy haar nog te buite gaan . . . die ongevoelige bees!
Die eerste keer lyk dit asof Phil Andrews hom wil vererg.
“En ek het jou reeds gesê dis ’n gewoonte van my vrou om te gaan stap wanneer sy siek is! Dis of die oefening help – dit draaglik maak, sê sy. Julle is begaan oor niks nie.”
Dis Basson se stem wat skielik vererg opklink.
“Maar my sekretaresse is ook weg, meneer Andrews. Ek kan haar ook nêrens kry nie.”
Vier paar speurende oë hou intens elke trek op sy gesig dop, maar hy kyk die argeoloog vas in die oë terug.