Ena Murray Keur 1. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
draai na die bekommerde Dickens. “Ek begryp hoe jy voel, meneer Dickens. Maar ek verseker jou ek ag meneer Powell se welstand en lewe hoog, en ek en dokter Johnson sal soos arende daaroor waak. Ons sal nie onnodige risiko’s waag nie.”
Dickens sug en gee dan maar toe.
“Ek hoop net julle weet wat julle doen, kaptein. Ek glo nie daaraan om die dood uit te tart nie, en dit is wat julle nou doen. Maar as John dan kans sien daarvoor, het ek seker niks te sê nie. Maar as ek waarskuwingsligte sien flikker, vat ek hom hier weg.”
Gustaf knik geredelik, sy stem waarskuwend.
“Net nog een ding. Hierdie saak word met niemand bespreek nie. Ek en Johnson, Sandra en doktor Basson dra kennis daarvan . . . en nou ook julle twee. Maar niemand verder nie, verstaan? Beslis nie Phil en Nina Andrews nie. Ook nie Dianne Bougard nie. En jy moet asseblief so natuurlik moontlik optree. Dit mag nooit deurskemer dat jy meer van hierdie saak af weet, of vermoed, as dat meneer Powell onverwags siek geword het nie.”
Hulle knik instemmend en dan laat Sandra hoor.
“Ek kry nou lus vir koffie. Ek sal sommer julle ander s ’n ook hierheen bring. Wat van jou, meneer Powell? Koffie of ’n glas melk?”
Powell glimlag.
“Dankie, juffertjie, maar nee, nie nou iets nie. Ek sal maar wag vir daardie botterbroodjies!”
Die houding wat Powell inneem, is werklik te bewonder, dink Sandra op pad kombuis toe. As dit sy was, sou sy gevoel het soos Dickens – om so gou moontlik hier pad te gee.
Dan kondig sy aan toe sy vrymoedig die kombuis binnestap.
“Ons sit so ’n bietjie en gesels by meneer Powell om die tyd vir hom te help omkry. Maar ons kele is droog. Sal dit baie ekstra moeite wees as ons om drie koppies koffie bedel?”
“Natuurlik nie, kind. Daar staan die kan, as jy net self sal skink,” laat Nina dadelik hoor en Sandra sien sy is besig om die deeg vir die beloofde botterbroodjies vir Powell aan te maak.
“Baie dankie.” Sy hou haar ’n oomblik doenig met die koppies, en laat dan ongeërg hoor: “Ek is so bly om te sien jy voel beter, mevrou. Jy lyk vanoggend so goed.”
Nina gaan kalm voort met die mengery en knik.
“Ja, ek voel baie beter. Ek weet natuurlik dit sal nie lank so aanhou nie, maar ek is nietemin dankbaar dat ek darem dan en wan meer mens begin voel.”
“Kry jy inspuitings of iets dergeliks wat die opflikkerings aanhelp?” vra Sandra belangstellend en stap na die yskas om die melk te kry.
“Ja. Dis natuurlik geweldige sterk inspuitings en ek kan dit nie te dikwels neem nie. Maar sodra ek dit neem, voel ek baie beter. Die dokter se pille help darem ook, maar dit bring maar net ’n kort rukkie verligting. Die inspuiting se uitwerking hou langer.”
“Het jy darem ’n goeie dokter? En is hy naby as jy hom skielik nodig kry?”
“O ja. Hy’s knap. Hy is in Masvingo.” Sy trek die pannetjie nader.
Sandra kom by haar verby op pad na die stoof om die koffiekan te kry.
“Wat is dan presies die probleem, mevrou? Kan hulle nie iets blywends vir jou doen nie?”
“Nee, ongelukkig nie. Dis ongeneeslik.”
Sandra draai terug met die kan in haar hand en kyk die fyn vroutjie ernstig aan.
“Ag, nee! Is dit . . . kanker?”
Nina kyk op terwyl sy die pannetjie optel. Haar gesig is ’n oomblik somber, stil.
“Nee, nie kanker nie. ’n Seldsame siekte . . . maar een waarvoor daar geen genesing is nie.” Dan glimlag sy en weer is dit so pateties dat die jong meisie teen wil en dank haar hart in meegevoel voel saamtrek.
“Maar ’n mens leer om met alles saam te lewe, ook selfs met iets wat ongeneeslik is. En terwyl dit nou vandag soveel beter gaan, wil ek nie graag daaroor praat nie.”
“Natuurlik. Ek . . . ek is jammer.”
“Dis alles reg. Nou moet jy my verskoon. Ek moet hierdie pannetjie in die oond kry, anders kry meneer Powell nie sy beloofde botterbroodjies nie. Ek wil ook nog ’n vaas met ’n paar blommetjies in die sitkamer gaan sit. Het jy alles? Melk? Suiker?”
“Ja, dankie.”
Toe Sandra die kamer binnestap met die koffie, druk sy die deur weer agter haar toe.
“Kyk, as Nina Andrews iets te doen het met al hierdie geheimsinnighede, is sy die duiwel self.”
Gustaf kyk haar vinnig, fronsend aan.
“Hoekom?”
“Omdat daardie vrou soos ’n engel van onskuld is, of dit eg is of nie. Maar as dit nie eg is nie, dan hoort sy in Hollywood, nie in Zimbabwe nie.”
Sy herhaal hul gesprek in die kombuis en sluit af: “Nou wonder ek of dokter Johnson se navrae onvolledig was, en of Nina vir my gelieg het. Maar sy het uitdruklik gesê sy het ’n dokter en dié is in Masvingo. Al aanneemlike verklaring waaraan ek kan dink, is dat sy hom dan onder ’n skuilnaam besoek.”
“Hoekom sal sy so iets doen?” wil Gustaf weet, en sy antwoord terwyl sy haar koffie heftig roer.
“Nee, moenie vir my vra nie. Ek weet nie. Ek verstaan geen kop of stert meer nie. Ek dink maar net so.”
“In daardie geval moet ons ’n foto van haar in die hande kry. Sal jy een kan neem sonder dat dit opsigtelik is?”
Sandra knik en drink haar koffie vinnig.
“Ja, en sommer nou, op die daad. Sy is in die tuin om blomme vir die sitkamer te pluk. Ek doen dit sommer nou dadelik, dan is dit afgehandel.”
’n Paar minute later protesteer Nina toe Sandra haar kamera lig.
“Ek weet nie hoekom jy nie net die gebou afneem nie. Jy wil tog net ’n foto van die vakansieplaas hê, nie van my nie.”
“A nee a! Ek wil van my gawe gasvrou ook ’n foto hê. En jy lyk dan nou so pragtig met die bos blomme in jou arms . . . Ag, toe, mevrou, laat ek jou nou saam met die gebou afneem, asseblief!”
Nina glimlag maar toegewend en ’n rukkie later oorhandig Sandra die film aan Gustaf.
“Ek hoop dit sal duidelik genoeg wees. Ek kon nie van te naby neem nie, want ek het voorgegee ek wil eintlik die gebou afneem om vir my vriende tuis te gaan wys hoe die vakansieplaas lyk.”
“Dit sal reg wees, dankie, Sandra. Ons laat maak net ’n vergroting van die gesig. Ek sal dit vanaand vir Johnson gee. Hy moet dit onmiddellik laat ontwikkel en dit moet aan elke dokter in Masvingo getoon word.”
Sandra frons.
“Jy weet, Gustaf, ek voel half gemeen. Die vrou is so gaaf en soms lyk sy so pateties, soos vanoggend in die kombuis, en . . . Ag, ek kry haar soms so vreeslik jammer.”
“Ek weet. Maar ek kry Powell ook jammer.”
Sy knik en sug.
“Ja. Dis waar. Wel, wat doen ons die res van die dag?”
“Doktor Basson wag op ons. Hy moet ons wys waar die vlermuise boer.”
Sy gril en trek ’n suur gesig.
“Moenie van daardie aaklige goed praat nie. Ek wil hulle nooit weer sien nie.”
“Dan gaan jy nie saam nie?”
“Natuurlik gaan ek saam!”
Hy lag, slaan sy arm om haar en druk haar ’n oomblik teen hom vas. “Jy sal ’n ideale speurdersvrou uitmaak, weet jy?”
“Nee, ek weet nie. Dink jy werklik so?” Sy kyk gemaak onskuldig in sy oë op. “Dan sal ek nou moet begin uitkyk vir ’n loslopende speurder. Ken jy een?”
“Ja.