Onrus op Oshakati. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
ection>
Onrus op Oshakati
Jasmyn
1
Linda Maartens vee die sweet sommer met die rugkant van haar hand uit haar oë, terwyl sy intens bewus is van die algehele matheid van haar liggaam. Haar rug pyn van die ure lange sit agter die stuurwiel en haar ligte somerrokkie knel om haar lyf, papnat van die sweet, terwyl haar hare – kort, ligbruin, natuurlik krullend – in klam, taai slierte oor haar voorkop en in haar nek val.
Sal daar dan nooit ’n einde aan hierdie lang reis kom nie? wonder sy met ’n swymelende verstand, haar diepbruin oë agter die donkerbril moeg op die pad voor haar gerig.
Sy lek eers oor haar droë lippe voordat haar mond wrang trek. Blykbaar is dit nou maar eenmaal haar lot in die lewe om altyd te laat haar foute te besef. Die wrangheid om haar mond verdiep, sak weg tot binne-in haar en weer eens, soos honderde kere die afgelope maande, voel sy hoe haar hart saamtrek in ontnugtering en skok, terwyl ’n gevoel van bitterheid van haar besit neem. Al die gevaartekens was daar, maar sy het haar soos ’n stomonnosel dier sonder verstand en rede daarop blind gestaar, tot haar oë te laat oopgegaan het . . .
Sy ruk haar gedagtes terug asof sy ’n span verwilderde perde onder beheer moet kry. Nee. Nee, sy mag nie, sal nie weer aan die afgelope maande dink nie. Dis verby. Goddank, dis verby.
As sy haar sinne wil behou en op die een of ander manier weer ’n soort toekoms wil bou, moet sy vergeet van wat agter lê. Twee dae gelede, toe sy die oggend om drie-uur Kaapstad se liggies agter haar in die truspieëltjie sien vervaag, het sy haar voorgeneem dat sy nie net die stad agterlaat nie, maar ook alles wat die afgelope jaar gebeur het. Sy het vinnig gery, asof sy aan die wegvlug was van die plek waar sy grootgeword het, waar sy skoolgegaan het en later universiteit toe is, waar sy haar hospitaaljaar in die groot provinsiale hospitaal voltooi het en toe ’n eie praktyk begin opbou het.
En dit was presies wat sy besig was om te doen – weg te vlug van alles en almal, van Kaapstad wat sy so liefhet, van die lewe wat sy geken het, van dié mense wat sy gedink het haar liefhet en haar vriende was . . . ’n oorvloed van hulle, maar wat eensklaps so dun gesaai was.
Weer moet sy met alle mag die stang hard terugruk. Nee, laat sy daardie foute vergeet. Laat sy liewer dink aan haar jongste fout – om alleen die lang pad van Kaapstad na ’n afgesonderde sendinghospitaal in Ovamboland, bo in Suidwes*, byna op die grens van Angola, aan te durf. Sy is vooraf gewaarsku dat dit dwaasheid sou wees. Nou besef sy hulle was reg, soos altyd, en sy, soos altyd, dwaas. Want dit ís dwaasheid vir ’n jong meisie van ses en twintig om in ’n klein motortjie dié geweldige afstand alleen aan te durf. Maar op daardie tydstip het sy nie meer rasioneel gedink nie. Al waaraan sy kon dink, was om weg te kom . . .
Weer moet sy die sweet van haar voorkop afvee. Dan vee sy die rugkant van haar hand ongeërg aan haar rok af. Van die doos sneesdoekies is daar lankal nie meer een oor nie. Solank sy nog op die teer gery het, kon dit gaan. Sy het ten minste gevorder. Maar sedert sy die teerpad agtergelaat het, voel dit vir haar asof sy met ’n slakkegang voortbeweeg, en die son begin reeds na die weste oorhel. Oor ’n paar uur is dit donker en sal sy vroualleen in die hart van nêrens wees.
Wat het haar besiel om hierheen te kom? wonder sy vir die soveelste keer, terwyl sy die petrolpedaal wegtrap om elke druppel krag uit die klein motortjie te kry sodat hulle teen ’n sanderige opdraand kan uitkom. Hoekom juis ’n eensame sendinghospitaal uitsoek om in te gaan wegkruip?
Hoekom gaan wegkruip in die eerste plek? Sy is mos onskuldig. Die regter het self so gesê . . . Nee, hy het nie. Hy het gesê dat die getuienis teen haar onvoldoende is om haar skuldig te bevind. Dis heeltemal iets anders. Dit spreek haar vry, maar dit laat ’n stigma agter – en ’n stigma waarvan sy, veral as dokter, nooit weer ontslae sal raak nie. En daarom moes sy padgee, ver weg van die bekende dinge, na ’n eensame, afgesonderde plek waar mense nie die koerante so deeglik lees en so graag oor ’n ander se swakhede en foute en sondes praat nie. Dit moes ’n plek so ver van Kaapstad wees dat mense daar hulle nie steur aan wat in die Kaap aangaan nie, watter saak dié dag in die howe aandag geniet en hoofopskrifte in die dagkoerante haal nie. Dit moes ’n plek wees waar hulle nie in jou verlede belangstel nie, maar net in die diens wat jy kan lewer.
Sy het begin soek na so ’n plek . . . en dit gekry. Oshakati. ’n Vreemdklinkende naam, ’n kolletjie op die landkaart van suidelike Afrika, daar bo op die grens, so te sê uit die beskawing, want vir baie Suid-Afrikaners hou die beskawing by die Etoshapan op. Anderkant Etosha lê Ovamboland en die Kaokoveld, die noordelike grens van Suidwes, waar die magtige Kunene die aarde oopbreek en lig van donker skei.
En daarheen is sy op pad . . . Duisende kilometers agter haar rug lê Kaapstad en haar verlede. Voor haar lê die wildernis, donker Afrika en die toekoms . . .
Dan, meteens, lê haar bestemming voor haar. Linda bring haar motortjie onwillekeurig tot stilstand.
Haar blik dwaal moeg oor die toneel voor haar en bekyk die laaste vesting van die beskawing soos sy dit ken. Benewens die hospitaal, wat van vooraf vervaardigde materiaal gebou is en wat sy dadelik eien as haar nuwe tuiste en werkplek, is daar ook ’n paar ander huise en dan stellasies en sementgeboue wat sy nie kan plaas nie. Voor haar is die groot bord wat haar vertel die Ovamboland-kanaalskema is hier gesetel.
En dan sien sy hulle – die mense onder wie sy gaan werk, aan wie sy dié talent en verstand en kragte gaan gee wat haar eie mense nie meer wil hê nie: die Ovambo’s.
Hulle is oral. Hulle stap in die stofpaadjies, sit gehurk onder ’n bos, party ooglopend verwesters, ander nog klouend aan die gewoontes en tradisies van ’n verlede wat vinnig deur ’n snel toenemende beskawing verdring en ingesluk word. Hulle stap by haar klein motortjie verby met die swaaiende ritme van die mens wat nog na aan die natuur lewe, die wit tande glinsterend in die moorddadige somerson, die voorhoofde blink en sonder ’n teken van sweet in die snikhete dag.
Stadig, baie stadig ry sy met die stofpaadjie langs, swenk regs, kom dan voor een van die geboue tot stilstand. Anders as in die stad waar ruimte ’n probleem is, is hierdie hospitaal met sy paar honderd pasiënte nie in een soliede, massiewe blok gebou nie. Dis ’n kompleks van vierkante en losstaande afdelings, want in hierdie deel van die wêreld is ruimte die een ding waarvan daar ’n oorvloed is, waarmee jy kan mors en speel asof dit jou eie skepping is.
Alte bewus van die bedremmelde figuur wat sy moet slaan, stap Linda die hoofingang binne, kyk hulpeloos om haar rond asof dit die eerste keer in haar lewe is dat haar voete die ingangsportaal van ’n hospitaal betree en dit algeheel vreemde terrein vir haar is. Dan kry sy die bekende reuk van ’n hospitaal en haal ’n paar keer diep asem, en dis asof sy meteens minder hulpeloos voel. Iets is darem bekend hier, al is dit ook net die reuk van eter en ontsmettingsmiddels.
Meteens is daar ’n glimlaggende swart gesig voor haar dowwe oë en sy vra sonder veel geesdrif: “Kan ek asseblief die dokter in bevel spreek?”
Sy word met ’n gang langs gelei tot by die deur waarop staan: Superintendent. Onderaan is ’n wit kaartjie vasgeplak: Dr. Louw Hoffmann. Sy hoor skaars toe die Ovambo-suster haar beleef vra om ’n oomblik te wag dat sy kan vasstel of die dokter beskikbaar is. Sy knik net vaag, haar oë verbaas op die kwalifikasies wat onder die van aangebring is. Die superintendent van die hospitaal op Oshakati is ’n uiters goed gekwalifiseerde dokter, ’n man wat benewens sy gewone mediese graad ook ’n meestersgraad in die snykunde het. Wat soek so ’n man hiér?
Hy is ook ’n Afrikaner, dink sy met ’n bietjie meer belangstelling, haar nuuskierigheid onwillekeurig geprikkel deur die man se kwalifikasies. Of miskien ’n Duitser. Van watter nasionaliteit hy ook al mag wees, ’n man met ’n meestersgraad in snykunde hoort tuis in een van die groot stedelike hospitale – nie in ’n afgesonderde sendinghospitaal êrens in die gramadoelas nie. Of miskien is hy ook ’n soort Albert Schweitzer, ’n man wat sy lewe opoffer vir sy medemens. Of dalk ’n eksentrieke ou mens wat nie met die beskawing kan klaarkom nie, ’n man bedeel met ’n geniale verstand, maar