Ena Murray Keur 2. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Jy het al die geleenthede in die wêreld gehad om Louw Hattingh vir jouself te wen, maar soos ’n onnosel kind het jy dit laat verbygaan sonder om ’n enkele vinger te lig. Te lank het jy jou blind gestaar teen professor Hattingh. Te laat het jy Louw, die man, ontdek.
Sy vee moeg oor haar oë en begin teësinnig aanstap na die eettent. Sy sou veel liewer nie vanoggend wou gaan eet nie, maar as sy die tweede agtereenvolgende keer nie vir ete opdaag nie, sal dit beslis aandag trek en dit wil sy vermy.
Nie eens die liewe professor Islinger mag weet dat Louw se vrou te laat wakker geskrik het nie. Sy sal sterf as sy begrip en jammerte in sy oë moet gewaar. Dit sal meer wees as wat sy kan verduur. Nog erger, hy kan dit dalk sy plig ag om met Louw daaroor te praat!
En veral Zelia mag niks agterkom nie. Want Pauli weet iets sal in haar losbreek as sy vanoggend ’n betekenisvolle, smalende glimlag om die doktor se lippe sien. As Zelia moet toon dat sy haar daarin verlekker dat ’n ongeslypte, ongeletterde eilandmeisie haar by haar man uitgesit het … Sy sal haar selfbeheersing heeltemal verloor.
Daarom vermy Pauli almal se oë toe sy stil en met ’n dowwe môregroet haar plek langs Louw by die tafel inneem. Al drie kyk ’n oomblik langer as gewoonlik na die merkbaar bleek gesiggie.
Dis professor Islinger wat die ys breek en onskuldig vra: “Wat makeer, Pauli? Jy lyk nie so gesond vanmôre nie. Voel jy siek?”
Sy dwing haar blik op na hom, intens bewus daarvan dat die ander twee se oë weer in haar rigting draai. Sy probeer dapper ’n glimlaggie optower.
“O, nee, dankie. Net ’n ligte hoofpyn. Ek … ek het nie so goed geslaap nie.”
“Maar voel jy siek? Is jou voorkop nie wa- …?” Louw se hand is halfpad opgelig toe sy terugtrek asof dit ’n slang is wat haar wil pik. Die blou oë blits na hom op. Sy kan nie verduur dat hy haar met ’n vingerpunt moet aanraak nie!
“Los my! Ek sê mos ek makeer niks nie!”
Sy hand val terug en die onheilspellende frons skiet terug na sy wenkbroue. Sy kan sien hoe sy oë al killer word. ’n Lang ruk gluur hulle mekaar aan. Dan, met ’n skaars gedempte snik, spring sy op en hardloop die tent uit. Louw sit ook dadelik sy mes neer en met ’n baie kortaf verskoning volg hy op haar hakke.
Pauli het net die tentklap laat val, toe dit weer oopgeruk word. Die volgende oomblik draai sterk hande haar om en die gesig wat oor hare troon, is soos ’n masker.
“Los my! Haal jou hande …”
“Wat de duiwel gaan deesdae met jou aan? Pauli, wat is dit met jou? Ek is sat van hierdie kinderagtigheid …”
“O! Kinderagtigheid! Is dit nie jý wat kinderagtig is om op ’n skynhuwelik tussen ons twee aan te dring, terwyl jy … jy …”
“Terwyl ek wat? Toe! Praat! Praat nou in hemelsnaam! Terwyl ek wat?”
“Terwyl jy van jou kant af niks doen om …” Sy sluk haar woorde terug en probeer uit sy greep loskom. “O, los dit! Loop hier uit! Loop liewer voordat …”
“Ek is nie van plan om ’n tree te versit voordat ek weet wat met jou aan die gang is nie, verstaan jy? Ons kan hier staan totdat die son sak en weer opkom, wat my betref! Pauli, ek is nie jou speelding nie. Ek waarsku jou. As jy dink jy kan my rond en bont stamp, begaan jy ’n groot fout. Nou … wat is dit?”
“Ek jóú rond en bont stamp! Moenie dat ek lag nie! Dis ek … ék wat rond en bont gestamp word deur ’n … ’n barbaar soos jy. Ja, dis wat jy is. Kastig so geleerd, so opgevoed, so ’n groot wetenskaplike! Jy lewe mos net vir jou werk, maar die eerste … eerste … goedkoop slet wat haar op ’n skinkbord vir jou aanbied, gryp jy met albei hande en dit terwyl jy ’n getroude man is! Ek is die speelding – nie jy nie!”
Hy staar haar ongelowig aan. Ook sy stem klink verslae, asof hy nie sy eie ore kan glo nie.
“Wat … het jy gesê? Pauli, wat sê jy daar? Sal jy asseblief herhaal wat jy so pas gesê het, Pauli!”
“Jy … jy het gehoor …”
Die eerste keer in haar lewe is Pauli bang vir Louw Hattingh. Sy staar gefassineer na die wit kring om sy mond.
“Ek sê jy moet dit herhaal. Herhaal dit!” bulder hy dit meteens so hard uit dat sy ruk van die skrik. Toe sy hom net wesenloos aanstaar, word sy hardhandig nader geruk en kan sy die ontstelde deining van sy bors teen haar voel. “Soek jy ’n maat, Pauli?”
Sy ruk haar asem in, en nou is dit haar beurt om verbyster te staar.
“Wat … wat bedoel jy?”
Sy lippe is vasberade, sy blik skroei genadeloos op haar.
“Is dit omdat jy self agter die deur staan dat jy my ook nou wil brandmerk?”
“Louw … Louw, waarvan praat jy?”
“Van dokter Inaki, natuurlik. Wie anders?”
“Jy … jy is besete!”
Buite op sy perd, sy gesig soos dié van ’n sfinks, sit die goewerneur roerloos na die woedende stemme en luister. Langs hom staan Zelia, haar oë op sy gesig gerig. Dis nie moeilik om die gesprek te volg nie.
“Wat gaan aan?” vra dokter Inaki sag op Engels vir Zelia.
Sy draai na hom en begin met ’n snedige trek om haar mondhoeke die bitsige Afrikaans op Engels weergee …
7
Toe Pauli en Louw so vinnig van die ontbyttafel af padgee, is dit of die ander twee ook alle lus vir hul kos verloor en professor Islinger stoot sy bord met ’n bekommerde frons opsy.
Ook Zelia peusel net nog twee keer aan haar kos en vra dan die kok om vir haar ’n koppie tee te bring. Hulle praat nie en ontwyk mekaar se oë. Dan staan hulle op en stap in die teenoorgestelde rigting – die professor na die kantoortent en Zelia in die rigting van die slaaptente. Sy maak eers seker dat die professor in die kantoortent verdwyn het voordat sy weer uit haar tent te voorskyn kom en versigtig nader tree na Pauli se tent waar heftige woorde duidelik hoorbaar is. Aandagtig luister sy en skrik merkbaar toe ’n skaduwee meteens oor haar val. Sy ontmoet dokter Inaki se koel blou oë waar hy ongemerk op sy perd nader gekom het. ’n Oomblik lyk sy skuldig. Dan verkoel haar oë ook en kyk sy uitdagend terug.
Terwyl haar ore elke woord gretig opvang, hou sy die gesig voor haar soos ’n arend dop. Toe hy vraend na haar draai, is sy reg vir hom – terwyl hulle saam wegstap, speel sy rustig tolk. Inaki se gesig verstrak algaande, sy oë word yskoud.
En binne-in die tent het Louw Hattingh, gewoonlik ’n man van min woorde, baie te sê …
Ook sy oë is kliphard terwyl hy op sy vrou afkyk.
“Dink jy ek is blind, Pauli? Dink jy ek weet nie hoeveel keer jy en Inaki mekaar ‘toevallig’ raakloop nie? Maar ek wil jou waarsku, my vrou. Daar gaan ’n dag kom – en hy lê nie meer so ver in die toekoms nie – dat jy my net een keer te ver gaan dryf. Die Vader bewaar jou daardie dag as ek my selfbeheersing met jou verloor, want dan moet jy geen genade van my verwag nie. Dan gaan ek vat wat my toekom – met of sonder jou toestemming. Jy dink jy ken my, Pauli. Jy dink jy ken my so goed dat jy weet hoe ver jy my kan dryf, waartoe ek in staat is en waartoe nie. O, nee! Jy ken my nie! Jy ken Louw Hattingh glad nie! Ek was nog altyd ’n soort vaderfiguur vir jou. Ek was nog nooit ’n man vir jou nie, was ek? Maar jy gaan hom nog leer ken. Voordat ons van Paaseiland af anker lig, gaan jy jou man leer ken, Pauli. Jy sal jou egskeiding kry wanneer ons in Suid-Afrika terug is. Ek bly nog steeds ’n man van my woord. Maar voor dit … Voordat ek toekyk dat ’n vreemdeling wegloop met wat wetlik myne is, vat ek dit self! Verstaan jy my?”
Pauli se stem is skor, byna onverstaanbaar toe sy sê: “Hoe durf jy? Hoe durf jy my van sulke dinge …?”
“Dis waarvan jy mý beskuldig, is dit nie? Maar jy verwag dat ek dit gelate moet aanhoor. Verwag natuurlik nog boonop dat ek dit moet erken en jou