Ena Murray Keur 3. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
kom, besef hy skielik. Dit het dringend noodsaaklik geword. Hy moet hierdie vreemdeling, Hercule Cordier, wat ook êrens in die prentjie pas, aan ’n lyntjie hou. Hy moet tyd wen totdat hy die oplossing vir al die tergende geheime gevind het. Êrens … êrens tussen die grou mure van die ou kasteel in Frankryk sal hy die antwoord kry …
Hy kom nie agter dat die deur agter hom oopgegaan het nie en word eers van Hercule se teenwoordigheid bewus toe dié agter hom praat.
“Is jy nog vasbeslote om niks te sê nie, kaptein?”
Hy antwoord nie, maar kyk net die jonger man vierkant in die oë. Ná ’n oomblik trek Hercule sy skouers op. “Ek gee jou nog tot môreoggend tyd, kaptein Pierre. As jy dan nog nie wil sê waar die D’Arcy-skat weggesteek is nie, sal jou dogter gekielhaal word,” sê hy ongeërg.
5
Dis of die spanning wat in die kaptein se kajuit en in die besoekerskwartier heers ook tot die res van die skip se bemanning deurdring. Soos dit maar altyd gaan, weet die matrose gou van die vete tussen hul kaptein en sy gevangenes en hoor hulle selfs van sy dreigement dat die meisie die volgende dag teen sonop gekielhaal sal word indien haar vader nie sekere inligting verstrek nie. Watter inligting dit is wat hul kaptein so naarstiglik wil bekom, weet hulle nie, maar ’n rusteloosheid vat pos waarvan Hercule, sy gedagtes te verstrengel in die D’Arcy-knelvraag, niks agterkom nie.
Daardie nag slaap minstens vier mense op die Hercule glad nie. Sy kaptein bring die grootste deel van die nag by die reling van die bodek deur, turend oor die donker, golwende see voor hom. Dis teen middernag se kant dat Jac, sy getrouste offisier en op land sy grootste vriend, hom onopsigtelik by hom aansluit.
“Waarom slaap jy nie, Hercule?” vra hy sag en noem sy kaptein op die voornaam soos dit die gebruik is wanneer hulle alleen is.
Hercule sug sag en antwoord ontwykend: “Jy slaap ook nie. Dis nie jou beurt om nou wag te hou nie, nie waar nie?”
“Nee, maar … ek kon nie aan die slaap raak nie. Mon ami …” Aarselend begin hy, maar vervolg dan met meer moed: “Daar gaan ’n fluistering onder die matrose rond dat jy die meisie môreoggend gaan kielhaal.” Stilte. “Hercule, ek het my in die verlede nog altyd sonder teëspraak by jou besluite neergelê, maar hierdie keer … gaan jy te ver.”
Met ’n woeste gebaar swaai sy kaptein na hom om en in die flou lig van die wiegende skeepslantern lyk sy gesig strak en wreed.
“Waar kom die bemanning daaraan?”
Jac trek sy skouers op.
“Niemand weet nie. Jy weet mos, op die een of ander manier kom sulke dinge uit. Dan ís dit so! Jy gaan haar kielhaal!” Die skok is duidelik hoorbaar in sy stem.
’n Smalende trek plooi om die sterk mond van die kaptein.
“Só het ek kaptein Pierre laat verstaan – indien hy my nie die verlangde inligting gee nie.”
“Hercule!” Jac kyk sy vriend bekommerd aan. “Hierdie ding begin jou onderkry, mon ami. Staak dit, in hemelsnaam. Jare lank dwaal ons nou al oor die seë van die wêreld rond, doelloos.”
“Nie doelloos nie, Jac. Met ’n doel. En nou het ek daardie doel bereik – amper.”
Jac Dumont, in werklikheid graaf Dumont, staar voor hom uit. Hy is duidelik ongelukkig.
“As jy my net in jou vertroue wil neem, mon ami, as jy my net die doel agter al hierdie dinge, hierdie vreemde optrede, hierdie jare lange soektog, wil vertel, sal ek miskien beter verstaan waarom jy … dinge doen wat enige beskaafde mens teen die bors sal stuit, soos om ’n vrou te wil kielhaal. Dis tog iets … barbaars! Waarna soek ons al hierdie jare, Hercule?”
Die bitterheid lê vlak in Hercule Cordier se oë toe hy stil antwoord: “Hierdie ding kan ek selfs met jou nie deel nie, mon ami. Ek is jammer, maar … ek kan nie!” Die stem raak nog skerper. “Maar van een ding kan ek jou verseker: ek sal tot enige uiterste gaan om my doel te bereik. So belangrik is dit vir my. En, Jac, dis nie nodig dat jy by my móét bly nie. As jy liewer wil teruggaan na jou landgoed, moet jy net sê. Jy het vrywillig saamgekom. Jy wou nie agterbly toe ek met hierdie soektog begin het nie, hoewel jy die doel daarvan vandag nog nie weet nie.”
“Moenie twak praat nie,” laat Jac vinnig hoor. “Ek bly by jou. Jy kan dit nie bekostig om sonder my te wees nie. Ek is nog al een wat in ’n mate ’n beskawende invloed op jou uitoefen.” Hy pleit weer: “Hercule, jy kan nie daardie pragtige vroumens kielhaal nie! Dis ’n sonde om daardie volmaakte liggaam onder ’n skip deur te trek!”
Die haatlik smalende glimlag roer weer om Hercule se mondhoeke.
“Jy klink begogel, Jac! Moenie my vertel dat jy, wat kan kus en keur aan die Franse hof, deur ’n seerowermeisie betower is nie! Haar dood sal geen skade wees nie, mon ami. Of ken jy seerowermeisies so swak?”
’n Ligrooi gloed slaan teen die jonger man se wange op en ’n verergde frons verskyn tussen sy oë. Jac het ’n uiters onversteurbare humeur, maar die afgelope tyd kry Hercule dit reg om hom net ’n bietjie te ver te dryf.
Sy stem klink styf, uitdagend, toe hy antwoord: “Ek weet wat jy bedoel, maar ek en jy weet albei dat sy nie daardie soort meisie is nie. Of moet ek sê, was nie? As sy wel daardie soort is, dan het sy dit deur jou geraak, mon ami!”
Daar heers ’n ademlose stilte nadat die reguit beskuldiging weggeraak het in die gedruis van die oseaan om hulle. Dis of die gekraak van die takelwerk harder as gewoonlik in Hercule se ore vasslaan. ’n Blinde oomblik vergeet hy dat dit Jac Dumont is wat voor hom staan en sy vuis skiet moordend vorentoe.
Jac steier terug en val teen die touwerk aan, verbyster. Dan trek hy homself stadig orent. Sy stem is verbasend gelykmatig. “Ek weet nie wat dit is wat binne-in jou soos ’n kanker vreet nie, Hercule. Maar ek begin die vermoede kry dat dit beter sal wees as jy nooit daardie D’Arcy-skat in die hande kry nie – om jou eie ontwil sowel as om ons vriendskap.”
Toe Jac in sy kajuit kom, het die bitterheid hom verlaat. In sy hart is daar slegs weemoed. Hy en Hercule het soos twee broers saam grootgeword. Maar toe word die ou graaf Dumont baie siek en voordat hy gesterf het, het hy die jong vriend van sy seun ontbied. Jac het dit nie vreemd gevind nie, nie op daardie oomblik nie. Hy het geweet dat sy vader Hercule soos ’n eie seun beskou. Maar toe die deur weer oopgegaan en Hercule sy verskyning gemaak het, het Jac besef dat daar iets veel meer as ’n sterfbedgesprek tussen sy vader en sy vriend plaasgevind het. Hercule het in ’n oogwenk verander. Dit was ’n vreemde, stugge, bitter jong man wat by die ou graaf se kamer uitgestap het. Maar hy het nooit, selfs teenoor sy boesemvriend, laat blyk wat hierdie radikale verandering teweeggebring het nie. ’n Week later het die ou graaf gesterf.
’n Maand ná die begrafnis het Hercule skielik spoorloos van die Dumont-landgoed af verdwyn. Ná ’n week het hy teruggekeer, nog steeds die veranderde vreemdeling, maar met ’n nuwe gloed in sy oë, ’n gloed wat geïnspireer is deur ’n doel.
“Waar was jy, Hercule?” het Jac verwytend laat hoor. “Ek was mal van bekommernis oor jou. Jy verdwyn sommer skielik en niemand weet waar jy is nie!” Sy stem het die seer in sy hart verraai. In die verlede het hulle twee nog altyd alles saamgedoen. Daar was nooit geheime tussen hulle nie. Maar nou het sy vriend skielik so vreemd, so afsydig begin optree.
Hercule het op ’n stoel neergesak en met ’n moeë sug ’n glasie wyn uit die hand van sy vriend ontvang. Hy het daar sleg uitgesien. Dit het gelyk asof hy nagte lank nooit geslaap het nie. Daar was donker halfmane onder sy oë, sy klere was vuil en sy mond ’n dun wit lyn.
“Ek was die afgelope week die hele Frankryk deur, veral die hawestede. Ek het na iemand gaan soek.”
“Na wie?” het Jac met openlike verbasing gevra.
“Na ’n sekere Emile Pierre.”
“Emile Pierre?” Jac het sy kop fronsend geskud. “Ken hom nie. Nog nooit van hom gehoor nie. Wat het jy met dié man te doen?”
“Ek