Ena Murray Keur 3. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
tref Zonika soos ’n donderslag dat Hercule nooit in soveel woorde sy liefde aan haar verklaar het nie. Weliswaar was sy troetelnaampies vir haar volop, veral gedurende sy liefkosings, maar beteken dit werklik iets? Praat ’n man nie maar maklik en rol die liefdeswoordjies nie vanself van ’n man se lippe wanneer die bloed deur sy are bruis en alles in hom skree om vervulling, om bevrediging nie? Durf ’n vrou haar verlaat op wat in sulke oomblikke deur ’n man gefluister word?
Op die kaai van Marseille heers daar groot bedrywigheid. ’n Oomblik is al die donker vrae in Zonika se hart vergete onderwyl sy met groot oë na die geskarrel om haar heen kyk. Jac doen sy bes om vir hulle ’n koets in die hande te kry sodat hulle so gou moontlik na die landgoed kan vertrek, terwyl Hercule toesig hou oor die aflaai van hul bagasie.
“Parbleu! Is daar dan nie ’n enkele koets op hierdie plek nie?” roep Jac naderhand uit pure frustrasie uit. Op sy landgoed staan vier pragtige koetse, en hier moet hulle sukkel. Een van die hawelui wat hy genader het, probeer later help.
“Daar anderkant staan die koets van die gravin D’Arcy. Dit moet by die Dumont-kasteel verby. Vra die koetsier om ’n boodskap vir u af te lewer dat hulle u kom haal. Dis al raad wat ek vir u het, monsieur.”
Op daardie oomblik sluit Hercule hom by die groepie aan en sy kop ruk merkbaar omhoog. Ook Emile Pierre se oë het vernou.
“Die gravin D’Arcy?”
“Ja. Sy het ’n kis sy wat met die vorige skip gekom het, kom haal. Daar klim sy nou net uit. Sy sal seker nie omgee om ’n boodskap vir u af te lewer nie. Dis tog nie uit haar pad nie.”
’n Oomblik ontmoet die drie mans se oë en dan laat
Hercule peinsend hoor: “Gaan vra haar gerus, Jac. Of wag, ek stap saam.”
Zonika en haar vader staan woordeloos en toekyk hoe die twee mans na die pragtig geklede Franse vrou stap. Sy kyk toe hoe twee matrose ’n groot kis met sy uit die Verre Ooste agter op die koets laai.
Jac kug effens ongemaklik toe hulle agter haar tot stilstand kom. Sy draai om en kyk hom vraend, half gesteurd aan. Dan val haar blik op Hercule en dadelik verdwyn die ligte frons om plek te maak vir ’n aanvallige glimlag.
“Gravin D’Arcy?” sê-vra Jac met respek, maar die vrou se oë bly op Hercule gerig.
“Ja, monsieur. Is daar iets wat ek vir u kan doen?”
Hercule buig formeel en antwoord galant: “U moet ons ons voorbarigheid vergewe, madame, maar …”
“Mademoiselle,” lag sy guitig.
“Pardon, mademoiselle. Daar moet blykbaar fout wees met die oë van vandag se mans.”
Jac blik hom effens vererg aan. Dis nie nodig om ’n hele flirtasie met die vroumens op tou te sit net om haar oor te haal om ’n eenvoudige boodskap af te lewer nie! Hy tree nou doelbewus op die voorgrond en mademoiselle D’Arcy is verplig om haar blik ’n oomblik weg te skeur van die aantreklike man voor haar.
“Gravin, ek is graaf Dumont van die Dumont-landgoed. Ek is in ’n groot verleentheid …”
“O, die graaf Dumont! Hoe aangenaam! Dan het u eindelik besluit om terug te keer na ou Frankryk.” Haar blik dwaal weer na Hercule en sy lyk so openlik vraend dat Jac nie anders kan as om sy vriend voor te stel nie, hoewel hy dit met die grootste teësin doen – hoekom weet hy nie.
“Dis monsieur Cordier! Ons het so pas geland. Ek sal dit so waardeer as u op u terugpad net …”
“Monsieur Cordier! Aangenaam! Baie aangenaam!” Sy hou haar hand uit en Hercule buig onmiddellik daaroor.
“ ’n Voorreg, gravin,” prewel hy.
“U het gesê, graaf Dumont …?” vra sy dan terwyl sy haar hand baie stadig uit Hercule s’n terugtrek.
“Ek het gevra of u nie asseblief op u terugpad net by my kasteel sal aangaan en die mense daar aansê om onmiddellik ’n koets hierheen te stuur nie. Ek kry glad nie een gehuur nie.”
“Met graagte, monsieur, maar u is baie welkom – u en monsieur Cordier – om saam met my te ry. My koets is leeg.”
“Baie dankie, maar …”
“Ons neem u vriendelike aanbod met dank aan, gravin,” laat Hercule vinnig hoor. Dit ontlok ’n frons by sy vriend, maar bring ’n tevrede glimlaggie om die gravin se mondhoeke.
“Maar daar is nog twee persone in die geselskap en wat van ons baga- …?”
Hercule kyk hom koel aan.
“Ek is seker die gravin sal plek hê vir nog twee en die bagasie kan later gehaal word. Ons kan dadelik ’n koets stuur wanneer ons op die landgoed aankom.”
Hy hou sy arm na haar uit sodat sy by hom kan inhaak en begin haar in die rigting van kaptein Pierre en Zonika lei. “U red ons uit ’n groot penarie, gravin. Dit is uiters vriendelik van u om u koets so tot ons beskikking te stel.”
“Au contraire, monsieur! Inteendeel! Dis my voorreg,” laat sy met haar sagte, goed gemoduleerde stem hoor onderwyl sy met hom glimlag.
Dan is hulle by die wagtende kaptein Pierre en sy dogter en dis goed dat die gravin D’Arcy se aandag op daardie oomblik getrek word deur die meisie wat voor haar staan, anders sou sy die skerp, ondersoekende blik van Emile Pierre miskien onruswekkend gevind het.
’n Oomblik heers daar stilte waarin die twee meisies mekaar opsommend takseer. Die eerste keer in haar lewe sien Zonika ’n dame van die Franse adel voor haar staan. Maar sy merk skaars die pragtige rok of die hoë haarstyl, die kunstige grimering of duur juwele op. Sy sien net die fyn glimlaggie – veels te intiem na haar smaak – waarmee hierdie adellike vrou Hercule begunstig en sy is intens bewus van die spierwit handjie wat nog steeds op Hercule se arm rus.
Die gravin sien in ’n oogwink alles van belang by Zonika raak. Die rok, hoewel mooi en hoewel dit haar uitstekend pas, is ’n jaar of twee al uit die mode en die onversorgde, ongekrulde hare, hoewel pragtig, word eenvoudig nie meer só in Frankryk gedra nie. Wat haar ook tref, is die koel, donker oë wat haar vyandig beskou nadat haar blik ’n oomblik gerus het op die gravin se hand op die groot man se arm.
Jac se mond gaan oop om die bekendstelling te doen, maar dis Hercule wat hom voorspring.
“Gravin D’Arcy. Ek wil u graag voorstel aan my oom en my suster, kaptein Cordier en Zonika.”
’n Oomblik lank lyk die ander drie so verslae dat die gravin ’n absolute idioot moet wees as sy nie iets vreemds agtergekom het nie. Sy laat egter niks merk nie en glimlag doodnatuurlik onderwyl Hercule haastig vervolg, sy oë waarskuwend, bevelend: “Die gravin was so vriendelik om aan te bied dat ons saam met haar tot op die Dumont-landgoed kan ry.”
“U is baie welkom,” murmel die sagte stem vriendelik.
Dan, tot Zonika en Jac se verbasing, klap kaptein Pierre se hakke teen mekaar en buig hy asof hy al die jare aan die Franse hof was en nie op ’n seerowerskip nie. Sy glimlag is bewonderend en gul toe hy oor die gravin se hand buig.
“Excellent! U laat ons sommer weer tuis voel in Frankryk.” Die gravin knik en dwing Hercule, met haar hand nog steeds op sy arm, om om te draai. Oor haar skouer sê sy na agter: “Ons kan maar dadelik vertrek.”
Woordeloos, maar elkeen vasgevang in sy eie verwarde gedagtes, volg kaptein Pierre, Zonika en Jac die twee in die rigting van die wagtende koets. Dis Hercule wat die gravin by die koets inhelp en dis Jac wat Zonika se arm neem. Ook is dit Hercule wat langs die gasvrou op die een bankie plaasneem. Dit word as vanselfsprekend aanvaar dat die ander drie saam sal sit.
En wanneer die gravin D’Arcy se hand soms onopsigtelik, soos sy beduie, toevallig ’n oomblik op Hercule se arm of been rus, merk nie een van die mans dit blykbaar op nie – maar vir Zonika is dit net te opsigtelik, gebeur dit te dikwels om dit nie raak te sien nie. En skielik is die onrus terug in haar hart … ’n diepe onrus oor die toekoms en … oor Hercule.