Ena Murray Keur 3. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
want hy het geen bemanning nie. En hoe sal hy kan wegseil sonder dat die nagwag op die Seekat dit opmerk?
Nee. Dis ’n hopelose saak. Hy sit hier soos ’n rot in die ruim vasgekeer en al wat hy kan doen, is om geduldig te wag op die dagbreek – sy laaste. ’n Fyn, skraal gesiggie met blitsende oë verskyn voor sy geestesoog en hy kners hoorbaar op sy tande. Mam’selle Zonika, jy moet bid dat jou slagoffer nie lewend aan die ander kant uitkom nie. Hercule Cordier vergeet nooit ’n onreg wat hom aangedoen is nie. Nog minder vergeet hy ’n vernedering …
Dis ’n paar uur later. Daar heers ’n swygende, somber stilte op die dek van die Seekat. In die ooste is die dag aan ’t breek en die lug en waterkim word rooi gevlek – asof met bloed. Selfs die ruwe bemanning van die seerowerskip is stil.
Zonika staan langs Pierre op die platform by die voorkasteel en sien hoe Hercule Cordier se hemp uitgetrek en sy hande stewig agter sy rug vasgemaak word. Haar bleek gesiggie toon duidelik die spore van ’n slapelose nag. Niemand merk dit egter op nie, want elke oog is gerig op die ongelukkige persoon wat nou gereed is om oor die reling gegooi te word. Hy staan stil en regop met ’n uitdrukkinglose gesig en dis of sy naakte bors die rooi van die dagbreeklumier weerkaats na die twee mense op die platform.
Zonika kan haarself nie langer keer nie en hyg skor: “Kan dit nie gekeer word nie, Vader? U is tog die kaptein van die skip …”
“Dit kan nie en jy weet dit kan nie.” Vir oulaas kyk hy na die jong man wat ook op dié oomblik opkyk en sy blik ontmoet. Zonika deins effens terug toe die gevangene se blik vlugtig op haar rus. Dan gee kaptein Pierre die teken.
Daar is geen teëstribbeling toe sterk hande die slagoffer op die reling lig nie. Daar is geen gesmeek of gille van vrees soos gewoonlik die geval is met die ongelukkiges wat hierdie straf moet ondergaan nie. Daar is ook geen desperate geruk en gepluk aan die sterk tou wat om die middel span nie. Daar is net ’n doodse, yskoue kalmte op sy uitdrukkinglose gesig en die oë wat verby haar na die gesigseinder staar … asof hy vir oulaas afskeid neem.
Die volgende oomblik is daar die geluid van water wat spat toe sy liggaam die see tref en Zonika uiter ’n gedempte gil. Aan die kant waar hy afgeval het, laat die matrose die tou skiet terwyl ’n groep aan die ander kant met alle mag begin trek. Nog ’n oomblik staan Zonika en Pierre asof versteen. Dan beweeg albei gelyktydig in die rigting van die treetjies wat na onder lei. Hulle het heeltemal vergeet dat die kaptein en sy dogter volgens gebruik op die platform bly totdat die straf voltrek is.
Hulle baan ’n weg deur die saamdrommende bemanningslede totdat hulle eindelik die reling bereik.
“Trek! Trek vinniger!” verbreek kaptein Pierre se stem die gespanne stilte en hy gryp self ook die tou.
Maar dis of eeue verbyrol voordat daar aan die trek van die tou gevoel kan word dat die slagoffer die wateroppervlak aan die ander kant bereik het. Asof in ’n nagmerrie sien Zonika die slap liggaam op die see dryf. Gretige hande, waaronder ook dié van kaptein Pierre, strek uit om hom so vinnig as moontlik uit die water op te trek. Baie versigtig word die skynbaar lewelose liggaam van Hercule Cordier op die dek neergelê.
Spontaan kniel vader en dogter langs die stil liggaam onderwyl die bemanning nuuskierig om hulle kring. Het hierdie man die wreedste van alle strawwe op see oorlewe of … ?
Kaptein Pierre se vingerpunte bewe so erg dat hy eers nie die flou pols kan voel nie. Sy dogter se oë is angstig op hom gerig.
“Mon père …?” fluistervra sy.
“Hy lewe.”
Die verligting en vreugde wat op hierdie oomblik in Zonika ontspring, is oorweldigend. Sy moet al haar selfbeheersing inspan om nie voor die talle nuuskierige oë in trane uit te bars nie. Haar hart krimp toe haar blik stadig oor sy gemartelde liggaam dwaal. Daar is byna geen vel aan sy gesig en borskas nie. ’n Spyker het sy gesig aan die een kant van bo die oogbank tot byna in die een mondhoek oopgekloof. Verder is sy hele lyf vol haak -en snyplekke. Hy is nie by sy bewussyn nie, maar begin skielik vomeer en met elke pynlike ruk wat die verflenterde liggaam gee, trek vader en dogter se harte saam. Die byna versmoorde longe ruk met hortende asemteue vars lug na binne.
Kaptein Pierre haal die dolk uit sy skede en sny die hande los. Dan, sonder om na links of regs te kyk, staan hy op en beveel van die bemanningslede om Hercule na sy kajuit te neem. Hercule word op die kaptein se slaapbank neergelê. Enkele oomblikke later kom Zonika met verbande en salf binne.
Dis Zonika en kaptein Pierre wat in die daaropvolgende weke die klein vlammetjie van lewe vertroetel wat in Hercule Cordier oor is. Die leeueaandeel in die verpleging neem Zonika op háár skouers. Sy is self onbewus van haar veranderde houding, maar haar vader merk dit op en hou haar verbaas dop. Sy word baie selde op dek gesien. Die grootste deel van die dag bring sy in die kaptein se kajuit deur; ook ’n groot deel van die nag, veral in die eerste week toe Hercule voortdurend bewusteloos en ylend is. Gelukkig vir hierdie jong man het hy ’n sterk, gesonde gestel en is dit eintlik grotendeels aan die geweldige bloedverlies te wyte dat hy die eerste paar dae so swak is. Tog is hy besig om stadigaan te herstel en die oomblik breek aan dat hy een nag kort ná middernag sy oë die eerste keer sedert sy foltering oopmaak.
Hy staar na die skraal gestaltetjie wat weggedommel in die groot stoel voor die slaapbank sit en ’n ligte frons pluk aan sy wenkbroue. Net ’n oomblik lank herken hy haar en sy omgewing nie, maar dan spoel herinnering hom te binne en sy gesig raak strak.
Zonika roer in haar slaap asof sy bewus raak van die oë wat op haar gerig is. Toe haar ooglede swaar lig, kyk sy reg in die oë wat met openlike vyandigheid op haar gerig is. Maar sy merk dit nie dadelik op nie. Wat sy wel opmerk, is dat sy blik die eerste keer helder is en dat daar herkenning in sy oë blink. Sy leun vinnig nader en raak liggies aan sy voorkop. Hy is ook beslis nie meer so koorsig as wat hy was nie.
“Hercule …”
Sy spreek sy naam sag, versigtig uit asof sy bang is dat hy sal skrik. Daar kom ’n roering om sy lippe, wrang en pynlik weens die diep sny oor die helfte van sy gesig wat nog lelik rou en opgehewe is.
“Dan is jou gebede nie verhoor nie, mam’selle. Ek het die paal gehaal,” sê hy skaars hoorbaar.
“Wat … wat bedoel jy?” fluistervra sy verward.
Hy beantwoord nie haar vraag nie, maar vra kortaf: “Wat soek jy … hier voor my bed? Dit lyk na nag.”
“Ja. Dis omstreeks middernag. Ek … ek verpleeg jou …”
Hy uiter ’n bitter laggie wat stomp afbreek en sy hand skiet op na die rou wond waar die pyn klop en skeur.
“Jý my verpleeg? Mam’selle, jy het die mees verwronge humorsin wat ek nog teëgekom het.”
“Waarom … waarom sê jy so?” vra sy onseker, skielik bewus daarvan dat sy oë soos twee stukke klipharde ys in die lanternlig glinster.
“Eers red jy my lewe tydens die geveg. Dan sorg jy dat ek gekielhaal word. Nou is jy weer besig om my lewe te red, as dit waar is wat jy my vertel. Watter van die vele soorte dode wat ’n mens kan sterf, het jy volgende op die lys vir my?”
“Jy … Jy bedoel tog nie … Dis nie so nie!”
“Daar is net een woord wat mense soos jy kan beskryf, mam’selle. Jy is ’n sadis.”
Zonika spring uit die stoel op. Sy is uitgeput van die nagte lange waak voor hierdie man se bed. Die afgelope week was sy elke uur van die dag getrou op haar pos, het sy haarself geen moeite gespaar om dit vir hom so gemaklik moontlik te maak nie. En is dit nou die dank wat sy daarvoor kry – om uitgeskel te word vir ’n sadis?
“Hoe durf jy –?” begin sy, maar hy knip haar kort.
“Gaan jy my weer laat kielhaal oor wat ek pas gesê het? Niemand durf jou mos selfs met ’n woord te na kom nie – al is dit die waarheid! Jy is ’n volmaakte godinnetjie, onaantasbaar, bo-op ’n troon.”
Zonika draai weg van hom. Sy moet liewer gaan voordat sy vergeet dat hy eintlik nog baie siek is en nie verantwoordelik gehou kan word vir wat hy kwytraak