Mede-wete. Antjie KrogЧитать онлайн книгу.
die goue munte
as betaling
vir die plaas uitpak
breek
die tafeltjie
van J.H. Boshof
toe hy daarna
die koopkontrak teken
die pen neersit
weet
Paul Johannes Delport:
nóú is hy
’n Baas
4.
[grond] – tussen hakies onvertaalbaar
[ ] [ ] hulle sê dat oumagrootjie Helena Susanna Delport
al die grond tussen Kroonstad en Renosterspruit besit [ ] het
na haar man se dood bly sy agter met twee dogters
een van hulle my ouma Anna Elisabeth
hulle sê sy het oujongkêrel Hennie Geldenhuys getrou
[ ] dat die grond bewerk kon word [ ]
hulle sê sy was ’n diabeet [ ]
en het op ’n dag in ’n koma gegaan
haar twee dogters het onmiddellik van hulle onderskeie
huishoudings gekom [ ] om reg te maak vir die ergste
[ ] hulle sê binne ’n dag of twee het die eerste ampule insulien
in die spreekkamer van ou dokter Dykman opgedaag
hy het dadelik uitgejaag na die plaas op die Kroonstad/
Viljoenskroonpad om die nuwe kuur te toets
en op die stowwerige plaaspad by die plaaslike prokureur
op pad terug [ ] [ ] verbygery
hulle sê onmiddellik na die eerste inspuiting
het ouma Lena tekens getoon van herstel
toe sy bewerig water drink vra sy waar die ink
aan haar regtermiddelvinger vandaan kom
‘vra jou man’ sê hulle
het haar dogter, my ouma, gesê
die volgende oggend is sy dorp toe om die testament
wat al die grond aan stiefoupa Hennie bemaak te kanselleer
[ ] [ ] sestien jaar hierna is sy oorlede [ ]
oupa Hennie het vruggebruik gehad tot sy dood
na ’n jaar met sy nuwe vrou [ ] trek hy dorp toe [ ]
ouma Lenie kook snags seep op die werf sê hulle het hy gesê
5.
’n verhaal
ons het ewe grootgeword op die plaas, soos mekaar
in die oggend was dit nog donkernag dan sien ek:
dan wag hy by sulke garingbome dan wag hy
dan speel ons daar ons skiet voëltjies ons ry perd
so skuif ons af skuif ons af spruit toe tot die oumies
met die kappie uitkom en roep soos Matjama was
so was ek ons eet pap uit een skottel eenuur
dan eet Matjama sy bordjie dan eet ek my bordjie
dan eet hy nie mooi nie dan bring die oumies hom uit
dan sit hy by my dan eet ons saam ek ken Matjama
goed goed soos ek my ken as daar ’n witmenskind
kom en hy wil speel dan hoor ons nie wat hy praat nie
Matjama ook nie Matjama verstaan ook nie
witkindertaal nie totlat hy skool toe gaan
toe is ons uitmekaar tot dan toe was ons
gelyk-gelyk toe gaan hy my goed verby
toe sê ’n ander baas: baas Willem soek jou
daar op Senekal by die kafee toe wag ek vir hom
maar ek was bang ek onthou hom nie mooi nie
wat ek goed onthou het was die strepie
Matjama het so ’n strepie bokant sy oog
van die ongeluk toe ons klein was
toe sien ek ’n man staan en ek sê skielik hard hier agter hom:
‘hii, dumela Matjama!’ toe sien ek nee, die man se kop ruk
toe lag hy en toe sien ek die strepie
toe sê hy hy gaan drou op ’n plaas en ek moet saamkom
ons moet bymekaar bly ons moet vir altyd saam wees
toe kom ek so bly ons saam tot vandag se dag toe
ek ken hom soos ek my ken as hy by die huis uitkom
dan sien ek hy is dranerig of kwaad maar een ding
hy hou nie van rusie nie hy kyk weg van baklei
en as hy praat dan hang die drane aan jou gesig
by die werf ek kyk melkery siek kallers hoenders
elke jaar was die huisie vol kuikens wat moet miere kry
bome snoei druiwe dreins maak en oopgraaf
ek slag skaap, bees, vark sandklip kan ek bou
ysterklip baksteen ceiling sit ek in houtvloer
ek sit dak op dryf kan ek al die jare ry ek
julle skool toe gaan haal meel as ek nie weet nie
kyk-ek kyk-ek so so dan sien ek dan doen ek
een ding wat my ongelukkag maak
is dat die werk wat ek ken het nie papiere nie
ek kan al die dinge doen maar papiere wys dit nie
nou is ek nie die Hendrik Sengapane Nakedi wat ek is nie
grond sal ek wil hê klein ek wil kan weet: mýne hier bly ek
hier bou ek sit ek op my plek groente plant en bome appelkoos
perske en ’n skaduboom Matjama se ma het my geleer ’n mens
moet ’n skaduboom hê maar een ding net: Matjama los ek nie
Matjama los ek die dag wat hy doodgaan of ek
6.
leef die mite
hoe oneindig duisel die uiteinde van die grond-as-ons-s’n nie
bloekom- wilger- populier-monogramme as ons-is-hier
geplant die spruit lou saans van amandellig en ’n boorling
sterre tarentale en kiewiete wat eeue al uit die grasse tamp
plek wat nog altyd my gebeente kon breek tot taal
my tot stemme wrong my ingewande inbéúr
’n soort hoortheelheid uithang as my diepste tong
himnes en iets soos krakele uit my harsingkorse skeur
oor jou werf het ek safpotig intiem gesnuffel snags
ruig van begeertes afgodes en wraak – versaligd los-
gelaat uit die sandkliphuis se ligvol vuis vir die nag
maar altyd as geërfde keer jy my na jou toe terug
wat ook al verkeerd gedoen is hier, grond – nog