Mede-wete. Antjie KrogЧитать онлайн книгу.
die ontmens gevoeg word
mens neem later bravado en vermyding
aan want hoe mens mens ook al draai
daardie Wit Oog kyk daardie Wit Oog
oordeel dat ’n mens so niks is, so niemand
se êrens in mens se diepst’ vertrapte self
beweeg net skramptes van mens se
hopelose wanbeseer en woedewydheid
onlesbaar dors mens ’n reinigingsdaad na:
iets koeëlskoon-vrysingends iets on-
aantasbaar-lossnydends iets so
verruklik geweldweldadig dat die Oog
klappertand inkakker van vrees
as mens met ’n ysterpyp slaan tot
die bloed teen die dak spat sal mens
self die polisie in kennis stel: kyk, die
Nommer Een Boer het ek self hanteer
3.
tussen Vrou Justitia en Vrou Justitia se historiese
blindheid speel die Manne van Groot Nasies
(korrup van kop gierig van hipofise vlam selfsug
en hebsug in magneuroses: op alles steek hulle
pornografies kleim af) om te behou wat hulle
gesteel het terwyl hulle opnuut onthou om waar
hulle reeds hulle dik gesteel het, wéér te steel
tussen Vrou Justitia en Vrou Justitia se swye roei
die Russiese kleptokrasie, die newe-wêreld van
die Oekraïne die sorgelose historiese virus van Duitse
korrupsie en ’n Amerikaanse President volkome on-
gekweld dat hy sy verkiesing knoei en die res van
ons vasboei met monopolieë uitbuiting koopwellus
oorloë plus ’n afluistersisteem vir die dag van wraak
4.
die gebrek aan morele verbeelding
veer voort in selfingenome eerste-
wêreldse waanhede: ons mág so
baie hê want ons wérk so voortreflik
hard. te midde van hul strukturele
geweld rig hulle howe in en voer
geskokte gesprekke oor die Suide
se luiheid, straffeloosheid, se Wet
en Wanorde; Profyt en Plundering
se Casino Kapitalisme
se Bogus Demokrasieë se Fetish
vir Etiket Vervalsings
Fantoomstate se Tiperende
Politiek van Puilende Pense
Diktators met hulle
koningin-Elizabeth-gekloonde
Drogdrome mans wat nog nooit
’n pit in die grond geplant het nie
jaag vrypostig rond met grofgeskut
ray-bans en vrot piele
5.
kom gebruik die voornaamwoord ‘ons’ ’n slag, word deel
van die wêreld se negerende woordeskat oor ons, want jy IS ook
ons, ons met die etniese testikels en werklose jeug wat trek soos
’n sprinkaanplaag dis ons verteenwoordigers wat verroeste treinspore
verkrummelende paaie en dorpsinfrastrukture agterlaat ja ons stem
vir hulle met die internasionale salarisse nasionale sindikate maar wat
nie ’n portaalpotplant korrek kan oudit of ’n balansstaat opdeel nie
6.
hoe asem mens te midde van al die geweld
doodmaak korrupsie verkragting die mens
se oop- en uitsweer van haat in hierdie land
die skroei en skeur van kinders – onmens-
lik die armoede die armoede die verontmens-
liking daarvan die oumas met hulle pensioene
en flonkering kinders die falankse jeugdiges
verveeld en skurfvellig gevoed op voorvader-
slagoffers wat dwaashede voorhou as deug
hoe leef mens hiertussen hoe leef mens in
eerbare balans hoe behou jy integriteit
tussen soveel daaglikse onterende situasies?
7.
tussen Vrou Justitia en Vrou Justitia Eerste Wêreld
word die aandag voortdurend afgetrek van
die ware lokus van ons wanstaltige wêreld:
Vrou Justitia fokus lankal nie meer op regverdigheid
nie, maar die wet terwyl armoede nie ’n gegewe
is nie maar die smet van doelbewuste ongelyk-
making deur ander stelselmatig te ontneem
die wet slaap nie graag op die armes se bed
nie. ons almal se broeke is oopgeknoop ons
almal se ereksies wys Vrou Geregtigheid lê
met haar lemige lokke op die mazista-vloer
dit pas ons dat sy ’n vrou is want nou is dit
haar woord teen ons s’n: versoening is die viering
van onreg, minderwaardighou dit wat haat beset
8.
akademici beweer die enkel vertikaal-
geïntegreerde oppermag van die Weste
word deesdae vervang met die senuweeagtige
ietwat xenofobiesgetinte begrip van
ongelyksoortigheid en onregsinnigheid
alles volgens Fanon se logiese patroon
dus kan die mens maar net post-koloniaal
sug, glimlag en die skouers ophaal
9.
maar hoe hou ons mekaar se bloed in bewaring anders
as om vurig mede-lug en die sakrosankte van alle liggame
te verinnig sodat die hartelose die barmhartigheidslose die
brutale die wrede die venyn nie al is wat ons het wanneer
ons teenoor mekaar staan nie. eindelik, waar jy ook al is, die
fondasies waarop alles rus bly korrupsie en aandadigheid
maar die gevaarlikste hiervan is die skoon hande
Gegrond op tekste van J.M. Coetzee, John en
Jean Comaroff, Frantz Fanon en Carl Jung.
junior
ek sien hom gistraand op skype in sy ma se arms
’n blonde klein harp ’n beek blou-oog lig wat kietel
en lier en in vriendelik-snaarplukkende geluidjies talm
ek voel hoe my hart sy flenniewange vlier en dan saamtrek:
wat